Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Slegte honde blaf graag vir ‘n dooie leeu. Eerlose volksleiers kan dit wat eerbare voorgangers oor baie jare opgebou het, in ‘n oogwink vernietig en voorgee dat geregtigheid oor sg. geskiedkundige onreg geseëvier het. Bose volksleiers skuil dikwels agter die masker van gewaande onreg en mislei hul volksgenote met leuens. ‘n Jakkals sal altyd dom ganse vind om na sy gepreek te luister.
DIE GRUWEL VAN GESLAGSOMMEKEER
Ds A.E. van den Berg
“As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh 14:15).
Die Bybel is die gesaghebbende bron van waarheid en God se aanwysings hoe om Hom lief te hê en tot sy verheerliking te leef: Paulus skryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim.3:16).
Daar is vir 'n mens niks belangriker as om tot God se eer te leef nie: “Laat alles wat asem het, die Here loof! Halleluja!” (Ps.150:6). Om tot sy eer te leef, moet ons sy wil ken en sy opdragte gehoorsaam. “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh.14:15). Ongehoorsaamheid verbreek die geestelike liefdesverhouding.
Om God se gebooie te bewaar, moet ons die Bybel ken want dit leer ons om tussen reg en verkeerd te onderskei; ook op sedelike gebied en baie belangrik. God het op die sesde skeppingsdag man en vrou as sy beelddraers geskep (Gen.1-2). Hulle is die enigste van sy skeppings wat onderskeidelik as man en vrou sy Beeld dra. Selfs nie 'n liggaamsgebrek kan dit verander nie.
Dawid sê in Ps.139:13-16 dat God die mens se bestaan vooraf beplan het. Hy het lank voor die geboorte van 'n kind besluit of dit manlik of vroulik sou wees om tot die dood so te bly. Wie dus seksueel met sy eie geslag verkeer, is bewustelik in opstand teen God. Paulus skryf: “ .... want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe...” (Rom.1:26,27).
Vandag word genetika dikwels die skuld vir karakter-skandes gegee. Nee, elke mens word met 'n bepaalde chromosoom-patroon onderskeidelik as man of vrou gebore. En dis alreeds met bevrugting vasgelê. Niks kan daaraan verander word nie. Daarom kan ’n man nie kinders baar of ’n vrou prostaatkanker opdoen nie.
Wie sy geslag probeer omkeer, wil God teregwys en sondig hy. Die ergste is dat sulke mense nie die ewige geluksaligheid sal beërwe nie: “Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen” .(Openb 22:14,15)
Vandag se pogings tot omgekeerde geslagsgedrag is niks nuuts nie maar algemeen in Ou Oosterse afgodskulture. Vandaar God se opdrag:“ 'n Vrou mag geen mansklere dra nie, en 'n man mag geen vrouensklere aantrek nie; want almal wat dit doen, is vir die Here jou God 'n gruwel” (Deut.5:22).
Soos so baie van die ander Deuteronomium reinheidswette, was omgekeerde geslagsgedrag 'n gruwel. Israel moes vir God heilig leef en sy skeppingsordening in hul voorkoms en optrede vertoon. Mans en vrouens moes duidelik onderskei kon word.
Paulus skryf: “Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat 'n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie:julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik” (1 Kor 6:18-20).
'n Volk se geestelike gesondheid word veral aan sy sedelike peil gemeet. Van al die 22 beskawings wat al tot 'n val gekom en van die wêreldtoneel verdwyn het, het 19 weens sedelike verval ten gronde gegaan.
Ongelukkig leer mense nie uit die Bybel asook die geskiedenis nie. God se sedelike norme word goedsmoeds afgeskiet en laat die gat in ons volk se morele osoonlaag al hoe groter word. Mense en ontspoorde kerke wil skynbaar nie aan sedelose mense aanstoot gee nie, kyk 'n ander pad en draai 'n dowe oor na God se verbod.
Sedelike verval hou altyd met 'n minagting van Bybelse voorskrifte verband. Let op ons eie volkslewe – 'n opmerklike wegbeweeg van die Bybelse sedeleer. Hoofstroomkerke ontsondig gruwels soos homoseksualisme en swyg oor geslagsommekeer. Hulle kan ook nie anders nie want wie een gruwel goedpraat, kan nie 'n ander gruwel veroordeel nie. Dis twee kante van dieselfde muntstuk!
Mense wat 'n geslagsommekeer wil maak, gebruik soms hormoonbehandeling en kosmetiese snykunde – alles om hul geskape geslagseienskappe te probeer verander en hul uiterlike voorkoms in lyn met hul skandelike lewensgedrag te bring. Sulke mense gehoorsaam hul drange soos slawe hul meesters.
Wie glo dat hulle in ’n verkeerde liggaam gebore is, sê daarmee vir God dat Hy 'n fout gemaak het. Nee, God is volmaak en sonder foute. Sulke mense word nie verkeerd gebore nie, maar eerder verkeerd grootgemaak. By mans is dit verkeerde moeder- en by vroue verkeerde vader-bindinge.
Die huidige aftakeling van sedelike norme is 'n herlewing van 'n ou Griekse dwaling nl. Gnostisisme. Die Gnostici het die liggaam as onbelangrik en die rede as die belangrikste beskou. Hulle het geglo dat die rede en nie die liggaam nie, die geslag bepaal en dit het homoseksualisme hoogty onder hulle laat vier.
Vandag gee talle kerke voor dat sekere Bybelse sienings uitgedien is en derhalwe vernuwe moet word ten einde liefdevoller optredes te verkry. Nuwe teologiese inligting moet kwansuis ou geloofsoortuigings omkeer. Van hierdie teoloë gebruik selfs die gelykenisse van die skaap wat afgedwaal het asook dié van die verlore seun in Luk.15 om te bewys dat God alle sondaars, ook geslagsomgekeerde mense, liefhet en aanvaar. Dis glad nie wat hierdie gelykenisse sê nie – die ware betekenis word hier omseil!
Onsedelike mense glo dat hulle volle seggenskap oor hul eie liggaam het. God het niks daaroor te sê nie. Die ironie is dat hulle nie baas oor hul eie lewe word nie, maar eerder slawe van die Satan. Hulle verwar slawerny met vryheid. Daarbenewens hou hulle ook nie baie van gelowiges nie omdat die Heilige Gees wat in gelowiges werk, die demone in hul Godsonterende lewens hinder.
Geslagveranderingsoperasies los glad nie die geestelike ontwrigting wat daarmee gepaard gaan op nie. So 'n persoon leef met 'n lewenslange wroeging in sy siel wat met geen uiterlike liggaamlike verandering verdwyn nie. Sulke mense moet vir almal 'n duidelike waarskuwing wees. Salomo skryf: “Die sonde is 'n dwase voorneme, en die spotter is 'n gruwel vir die mensdom. (Spr.24:9).
Om mooi name aan sedelose optredes te gee, laat nooit 'n gruwel goed lyk nie. 'n Godsonterende lewe is soos 'n gebuigde sleutel – dit sluit nie die slot van vreugde oop nie maar is eerder die doodskis van 'n siel.