Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde is nie bly oor die ongeregtigheid nie...
HY ALLEEN IS WAARDIG
Hannes Ollewagen
Open. 4:1-11
“U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.” (:11)
Die herinnering aan hierdie waarheid onderstreep weer vir ons die veragtelikheid van hoogmoed, eiesinnigheid en trots. Laasgenoemde natuurlik alles dinge waarna die mens in sy vleeslike gesindheid aangetrokke is, maar ook alles dinge wat ons deur die werking van die Heilige Gees in ons lewens moet oorwin. Dit is ongelukkig ’n hartseer werklikheid dat die mens van ons tyd heeltemal te dikwels hoor hoe oulik en belangrik hy is en heeltemal te min aan God se grootheid en heerlikheid herinner word. En dan sukkel ons om te verstaan waarom dit lyk asof die Satan self aan stuur van sake hier op aarde is. Is ons werklik verbaas dat hierdie gees van opstandigheid, trots en eiewaan oor die mens begin seëvier in ’n samelewing waarin daar oor God se grootheid en heerlikheid geswyg word en daar nie genoeg ophef van die mens se “regte” en belangrikheid gemaak kan word nie?
Geseënd is ons wat gevoed word met die brood van die lewe uit God se Woord! Geseënd is ons om vandag die woorde van Openbaring 4 te kan aanhoor wat ons opnuut ons eie nietigheid laat besef en terselfdertyd weer laat besin oor die grootheid en verhewenheid van God! Hoe heerlik is hierdie Woord nie wat ons – sonder enige direkte vermaning of berisping tot nederigheid – stig en ootmoed by ons wek deur eenvoudig die herinnering aan die grootheid en lofwaardigheid van God. Hoe wonderlik was hierdie gesig wat Johannes gesien het met die vier-en-twintig ouderlinge wat voor Hom wat op die troon sit, neerval en Hom aanbid en dan tydens hierdie betuiging van lof aan Hom ook vir ons motiveer waarom Hy waardig is om die lof en aanbidding en eer te ontvang. En die motivering is dat Hy die bron van alle lewe is! Is daar enige ander wese in die heelal wat hierop kan aanspraak maak? Natuurlik nie! En hierdeur word ons herinner waarom ons as sy skepsels alle lof, eer en dank aan Hom alleen verskuldig is.
Ons behoort dalk vandag ook weer herinner te word wat die rede is waarom die Satan uit die hemel gewerp is. Was dit nie omdat hy hierdie waarheid vergeet of doodeenvoudig geminag het nie? Wat ookal die antwoord op laasgenoemde vraag – die resultaat was dat hy nie by hierdie waarheid berus het nie. En dit het daartoe gelei dat God hom uit die hemel gewerp het. Dit onderstreep vir ons die belangrikheid van God se eer. Daar is eenvoudig geen wese in hierdie heelal wat met Hom vergelyk nie – maak nie saak wat die maatstaf is wat gebruik word nie. Hy is die enigste wese in die heelal wat van niks in die heelal vir sy voortbestaan afhanklik is nie. En terselfdertyd is daar niks in die ganse heelal wat nie alleen hulle bestaan aan Hom te danke het nie, maar ook nie vir ’n oomblik sonder Hom kan bly bestaan nie. Luister hoe mooi dit vir ons in Job 34 beskryf word. “As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek, dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer.” (:14&15). Paulus het ook hierdie saak in sy brief aan die Romeine baie mooi uitgedruk. “Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Rom. 11:34-36).
Geliefdes, dit is ook vir ons duidelik uit God se Woord dat hierdie saak oor sy eer wat Hom toekom vir Hom geen geringe saak is nie. “So sê God, die HERE, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel:” (Jes. 42:5). “EK is die HERE, dit is my Naam, en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie. Sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af – julle wat op die see vaar, en alles wat daarin is, eilande en bewoners daarvan. Laat die woestyn en sy stede uitroep, die dorpe waar Kedar woon! Laat die rotsbewoners jubel, van die top van die berge af skreeu! Laat hulle aan die HERE die eer gee en sy lof in die eilande verkondig!” (Jes. 42:8, 10-12). Ewe duidelik is Psalm 50 oor hierdie saak. “Hoor, my volk, dat Ek kan spreek; Israel, dat ek jou dit kan inskerp: Ek is God, jou God! Oor jou offers bestraf Ek jou nie, en jou brandoffers is altyddeur voor My. Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; want al die diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende. Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My. As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid. Sou Ek vleis van stiere eet of bloed van bokke drink? Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste; en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Ps. 50:7-15).
Die gebeure uit die lewe van Dawid bied ook vir ons ’n duidelike onderwysing in hierdie saak. Dawid het in ’n oomblik van swakheid vergeet van die grootheid en heerlikheid van God en die eer wat hy aan Hom verskuldig is. En die gevolg was dat hy sy eie vleeslike begeertes bo God se eer geplaas het – natuurlik met baie rampspoedige en hartseer gevolge. Ongeag die feit dat hy ’n liefling van God was, was dit totaal onaanvaarbaar dat hy God se Naam oneer aandoen. “Maar omdat u die vyande van die HERE deur hierdie saak aanleiding gegee het om grootliks te laster, sal die kind wat vir u gebore is, ook sekerlik sterwe.” (2 Sam. 12:14). En ewe duidelik is God oor hierdie saak wanneer Moses – die man van God – nie sy Naam voor die volk by Mériba heilig nie. Hierdie man, Moses, het van aangesig-tot-aangesig met God gespreek en was ’n besonderse mens deur God geroep en tog word nie eers hy vir hierdie oortreding oorgesien nie. “Toe sê die HERE vir Moses en Aäron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie. Dit is die water van Mériba waar die kinders van Israel met die HERE getwis het en Hy Hom onder hulle as die Heilige laat ken het.” (Núm. 20:12&13).
Dit bring my en u vandag by die vraag of ons in ons lewens die eer aan Hom gee wat Hom toekom? Verheerlik en eer ons Hom werklik bo alles in ons lewens? Onthou, daar is niks, maar niks wat waardig is om bo Hom in ons lewens die eer te ontvang nie – nie ons gesin, besittings, verstand, vaardigheid, onderneming, kerk, familie, volk of enige ander denkbare ding nie – hoe kosbaar dit ookal vir ons mag wees. Al hierdie dinge is gawes uit die Hand van Hom aan Wie alleen al die eer, lof en dank tot ewigheid toekom.
“Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.” (1 Tim. 1:17).