Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons Afrikanervolkie kan vandag ook soos in Psalm 80 by ons hemelse Vader pleit: "U het aan ons trane vir kos gegee en ons 'n beker vol verdriet laat drink. Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding!"
VALSE PROFESIE
Hannes Ollewagen
Deut. 13:1-18
“AS ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ’n teken of wonder aankondig, en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop – wat jy nie geken het nie – en hulle dien, dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang. Maar dié profeet of dié man wat as dromer optree, moet gedood word, want hy het afval verkondig van die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei en jou uit die slawehuis verlos het, deur jou af te drywe van die weg wat die HERE jou God jou beveel het om daarop te wandel. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.” (:1-5).
Daar is in die afgelope dae weer baie opskudding veroorsaak deur mense se voorspellings. So het Danie Botha en sy mense dan met stelligheid verklaar dat die wegraping hierdie afgelope week sou plaasvind. Dit het natuurlik nie gebeur nie en daardeur het God self teen hierdie man getuig dat hy uit homself eerder as uit God gespreek het. En God beskou dit as vermetel. “Maar die profeet wat so vermetel is om ’n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe. En as jy in jou hart sê: Hoe sal ons die woord weet wat die HERE nie gespreek het nie? – as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie.” (Deut. 18:20 – 22).
God stel dit duidelik dat die uur van sy koms verborge is – iets waarvan die Vader alleen weet. “MAAR van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” (Matt. 24:36). En daarom vermaan Hy ons om altyd vir sy koms gereed te wees. “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie. Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie. Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.” (Matt. 24:42-44). Sy koms is nie iets waaroor iemand ons net betyds kan waarsku sodat ons gou op nommer nege-en-negentig by die agterdeur van die hemel kan inglip nie.
’n Mens behoort jouself noodwendig die vraag te stel waarom iemand hulle daarmee sou bemoei om iets te probeer bepaal of voorspel wat God se Woord duidelik aan ons stel as iets wat vir die mens verborge is. Probeer mense vir hulself eer inpalm? Indien nie, waarom met mag en krag vir jou eie eer veg nadat God self teen jou getuienis gelewer het dat dit nie Hy was wat gespreek het nie? Hierdie optrede impliseer verder dat God ’n leuenaar is eerder as die een wat uit sy eie hart opgetree het. Ek glo ons almal sien duidelik waarom God hierdie tipe optrede as vermetel beskryf. Die eerbare ding sou eerder wees om te erken dat jy deur die vader van die leuen mislei is en deur ’n belydenis van jou verkeerdheid, aan God die eer te gee. Een van die mees effektiewe maniere waarop die Satan mense mislei, is deur woorde in God se mond te probeer lê. “...En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?...”(Gén. 3:1). Ja, so kragtig is hierdie taktiese wapen dat hy dit ook gebruik toe hy Christus self versoek het! “...en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp nie.” (Matt. 4:6). En waarmee het Christus hierdie versoekings afgeweer? Hy het elke liewe aanslag met die swaard van God se Woord stukkend geslaan. Die swaard van die Gees is die Woord van God en nie een of ander vreemde of bonatuurlike openbaring nie. “En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God – “ (Efés. 6:17).
Hierdie gebeure het ook egter vir ons veel meer blootgelê as die verkeerde optrede van een man. God stel dit duidelik in Deut. 13 dat Hy die opregtheid van ons liefde vir Hom op die proef stel. “...want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel.” (Deut. 13:3). Is God se opdrag nie dat ons in Hom tevrede en vergenoegd moet wees nie? Is daar werklik enige terkortkoming in Hom dat ons rondom Hom nog moet soek na tekens, wonders, openbaringe en dergelike dinge? Is sy Woord nie vir ons genoegsaam nie? “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2 Tim. 3:16&17). Christus self stel dat ’n slegte en ongelowige geslag, ’n geslag wat nie in God vergenoegd is nie, maar rondom Hom na nog iets soek, na ’n teken soek. “TOE spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ’n teken van U sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.” (Matt. 12:38&39). En daarenteen spreek Christus sy bewondering uit teenoor diegene wat opreg glo in die waarheid, egtheid, suiwerheid, krag, volmaaktheid en volkomenheid van sy Woord. Luister na die man wat in Matt. 8 stel dat hy nie begeer om tekens en wonders te sien nie – hy glo dat die Woord van God genoegsaam is. En hoeveel eer bewys hy nie hierdeur aan God nie! “EN nadat Jesus in Kapérnaüm ingegaan het, kom daar 'n hoofman oor honderd na Hom toe en smeek Hom en sê: Here, my kneg lê tuis verlam en hy ly hewige pyne.Daarop sê Jesus vir hom: Ek sal kom en hom gesond maak. En die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; maar spreek net 'n woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is ook 'n man onder gesag, en ek het soldate onder my. En vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir 'n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit. Toe Jesus dit hoor, het Hy Hom verwonder en aan sy volgelinge gesê: Voorwaar Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so 'n groot geloof nie gevind nie.” (Matt. 8:5-10).
Mag hierdie gebeure ons elkeen opnuut herinner dat ons God met ons hele hart en siel moet liefhê. En mag ons Hom eer deur nie die waarheid van sy Woord te bevraagteken of as ongenoegsaam te hanteer nie, maar Hom eer deur ’n vaste en egte geloof in sy Woord wat die ewige en volkome waarheid is. “Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.” (Ps. 119:160).