Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
...en Ek sal onder hulle stuur die swaard, die hongersnood en die pes, totdat hulle omgekom het uit die land wat Ek aan hulle en hulle vaders gegee het – Jeremia 24:10
STRYD TEEN SONDE
Hannes Ollewagen
Ps. 38:1-23
“Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde.” (:19).
Daar is deesdae soveel dinge waaroor die mens hom bekommer – ekonomiese probleme, politieke probleme, misdaad, grondgrype, absurde wetgewing van regererings en so kan ons die lys aanhou uitbrei. Een van die belangrikste sake waaroor die mens homself behoort te kwel, sal egter op hierdie lys ontbreek. Hierdie bekommernis wat swaar op die hart van koning Dawid gedruk het en ook swaar op die hart van elke mens behoort te druk, naamlik die kommer oor ons sonde. “Wat klaag 'n mens in sy lewe? Laat elkeen klaag oor sy sondes.” (Klaag. 3:39).
Dit is baie hartseer dat ons in ‘n tyd leef waarin ons bekommerd is oor dinge wat nie so baie saakmaak nie en oor die dinge wat regtig belangrik is nie baie bekommerd is nie. Dink byvoorbeeld daaraan dat ons in ‘n tyd leef waarin daar mense is wat letterlik meer tyd daaraan spandeer om hul te bekommer of hul sportspan die week se wedstryd sal wen as wat hulle sal spandeer om met hul sondes te worstel. Die gemiddelde mens sal baie meer tyd aan nuttelose vermaak op televisie en die internet spandeer as om hulle oor hul sondes te kwel. Mense sal vandag meer tyd by hul dokters en rekenmeesters deurbring om hul bekommernisse oor gesondheid en finansies aan te spreek as wat hulle by hul predikante sal spandeer om die bekommernisse oor hul sondes te hanteer. Tewens, menig predikante bekommer hul ook nie oor hul lidmate se sondes nie; daarom dat daar nie teen sonde gepreek word en mense nie meer vermaan word nie – selfs hierdie predikante is tevrede met sonde in hul eie lewens en in die lewe van ander.
Dit is tog ironies dat ons in groot vrede met die sonde in ons tyd leef, maar tog wil ons mor en kla oor die gevolge van hierdie sonde in ons samelewing. Ons is vinnig om verdraagsaamheid en liefde te predik, maar ewe vinnig om te kla oor die slegte gevolge van mense se wangedrag.
Daar is nie in hierdie lewe ‘n groter verlies as om van jou Skepper vervreem te raak nie. Daar is nie ‘n groter verlies as om beroof te word van ‘n lewe met Hom nie. En dit is juis wat die gevolg van sonde is – dat ons gemeenskap met Hom ontneem word en van Hom vervreemd raak. Waarom sou ons ons nie hieroor bekommer nie? ‘n Mens bekommer jou nie oor iets as dit nie vir jou veel waarde het en jy nie omgee om dit te verloor nie. As ons ons dus nie oor ons sonde bekommer nie het ons rede tot baie, baie ernstige selfondersoek na hoe belangrik ‘n gesonde verhouding met God werklik vir ons is. As ‘n gesonde verhouding met Hom vir ons belangrik is, sal ons mos daaroor besorg wees en wil verseker dat dit nie skade ly nie?
Die Woord van God is duidelik daaroor dat ons nie in vrede met sonde kan leef nie. Ons kan daarmee nie gerus wees nie. Ons moet teen die sonde stryd voer en hierdie stryd moet ons met mening voer. “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.” (Heb. 12:4). En Christus self was vir ons hierin ‘n voorbeeld. Hy het die sonde weerstaan en daarteen gestry. En in sy grootste uur van beproewing was hierdie geen klein stryd nie. Hy was swaar versoek om aan die versoeking toe te gee om Homself te help en nie tot die vernederende dood van ‘n vloekhout oorgegee te word nie. Maar dit sou teenstrydig met God se Wil wees en daarom sou dit sonde wees. En Hy moes met mening daarteen stry om nie sy eie wil bo die wil van God die Vader te stel nie. “En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi, en neergekniel en gebid en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.” (Luk. 22:41-44).
Mag ek en u vandag opnuut tot die besef gebring word van die verskriklikheid van sonde. Die verskriklikheid en afskuwelikheid daarvan is vir ons in die lyding van Christus aan die vloekhout ten toon gestel. En mag hierdie lyding van Hom nie by ons ‘n valse vrede van gerustheid wek nie, maar ‘n absolute walging aan sonde en ‘n bekommernis dat ons enige deel daarmee sal hê. Laat ons dit met krag en mening beveg met die swaard van God se Woord.
“Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” (Ps. 119:11).