Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Afrikaanse uitdrukking lui: Woorde wek maar voorbeelde trek. Dit is belangriker om die Here wat jou hart sien te behaag as om mense te probeer beïndruk maar mense moet kan sien dat jy opreg met die Here verkeer. Sorg dat jou getuienis deur jou lewe bevestig word want diegene wat deur jou toedoen verlore gaan se bloed sal aan jou hande wees.
DIE BOEK VAN DIE LEWE
Ds A.E. van den Berg
“En as dit bevind is dat iemand se naam nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Open 20:15)
Min dinge is so onaangenaam as 'n nare ervaring, veral as jy dood kon gewees het soos bv. 'n motorongeluk, amperse verdrinking, motor-kaping ens. Wat is egter die naarste wat 'n mens kan oorkom? Om te sterf en jou naam staan nie in die boek van die lewe opgeteken nie. Dis sonder twyfel die heel slegste!
Wie leef, kan van nare lewenservarings herstel, al neem dit ook jare want jy het tyd aan jou kant. Sonder tyd, is daar geen herstel moontlik nie. Dan is herstel vir ewig te laat. Tyd is soos 'n skip wat net eenmaal anker laat sak en moet diegene aan boord die regte ding doen voordat dit in die hawe van die ewigheid vasmeer.
Dis byna ondenkbaar om te dink dat tyd eendag tot stilstand gaan kom en die aarde ophou bestaan. Maar dit gaan, en dis nie meer baie ver nie. Alhoewel ons nie die datum van hierdie stilstand weet nie, gee Jesus sekere tekens as 'n aanduiding dat die tyd van hierdie ewige stilstand naby is. Tydens sy hemelvaart sê die engele vir die verbaasde omstanders: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom sien wegvaar het” (Hand.1:11). Gelowiges moet weet dat as Jesus kom, die horlosie van die wêreld vir ewig gaan staan.
Maar, in watter hoedanigheid kom Jesus? As 'n Regter. Met sy eerste koms het Hy as 'n nederige dienskneg gekom. Met sy tweede kom Hy as Regter. Dit gaan 'n verskriklike gebeure wees! “En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het....” (Open.20:11).
Wanneer dit gebeur, sal alles wat op die aarde is, ophou bestaan. Tyd het nie bloot soos 'n horlosie gaan staan nie, maar omdat die ewigheid aangebreek het, het tyd vir altyd ophou bestaan. Almal wat reg van die begin af op die aarde geleef het, staan voor 'n wit troon en wag soos verhoorafwagtendes op die oordeel van die hemelse Regter. En dis nie 'n dominee-maak-die-gemeente-bang storie nie, maar 'n werklikheid. Dis iets wat ons almal gaan beleef.
By hierdie geleentheid neem Jesus sekere boeke ter hand – die boeke van die oordeel. Dan neem Hy ook 'n ander boek wat ingrypend van die ander boeke verskil, ter hand – die boek van die lewe. Die boeke van die oordeel is die klagstaat. Daarteenoor is die boek van die lewe 'n vryspraak. Let op die enkelvoud teenoor die meervoud.
Wat sê dit? Dat meer mense in die hel as in die heerlikheid gaan wees. Jesus sê dit in sy Bergrede: “Gaan in deur die nou poort want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mat.7:13,14).
Hierdie lewe is die ewige, geluksalige lewe. Daarom word die boek ook die boek van die lewe genoem. Dit gee op die oordeelsdag aan almal wat wedergebore is die nodige toegang tot die Nuwe Jerusalem.
Hierdie dag kom beslis: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10). Verlorenes word kragtens hul werke geoordeel: “En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke” (:12).
In die Gelykenis van die Talente keer die huisheer na 'n lang tyd terug om rekenskap van sy gawes te eis. So gaan God ook van elkeen wat geleef het, rekenskap eis. Die vraag wat die hemelse Regter sal vra, is: “Wat het jy met jou lewe gedoen?” Ons sal eerlik hierop moet antwoord omdat ons voor Een staan wat dwarsdeur ons sien. Dawid skryf: “Here, U deurgrond en ken my” (Ps.139:1). God word nooit 'n rat voor die oë gedraai nie!
Die lewe is bitter broos. Miljoene mens het dit al onverwags verloor. Daarom is die uitstel van die bekering die grootste fout wat 'n mens kan maak. Niks is groter nie! Meer mense sterf sonder 'n verhouding met Jesus as met Hom. Dit is in baie gevalle goeie mense wat net nooit 'n geestelike verhouding met Jesus gehad het nie sonder om te besef hoe min tyd hulle werklik oorgehad het. Jesaja gee die beste raad: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jes.55:6).
Mense is vandag baie meer veiligheidsbewus as ooit tevore. Polisse, versekering en aftree-skemas is aan die orde van die dag. Voorsorg is beter as nasorg. Desondanks tref min mense voorsorg vir die hiernamaals. Waarom? Omdat baie mense nie aan 'n lewe na die dood glo nie. Hulle sê wel so, maar glo dit in werklikheid nie.
Jare gelede sterf 'n omie waarna die tannie vir lank nie berusting kon vind nie, Toe ek later weer met haar praat en haar verseker dat sy haar man weer sal sien, vra sy vir my of dit regtig so is? Ja, baie mense twyfel daaraan al sê hulle dit nie reguit nie!
Maar, terug by die groot wit troon. Word almal geoordeel? Ja, maar nie almal word veroordeel nie. Slegs diegene wat sonder die bekering gesterf het, word veroordeel. Oor die klagstaat van hulle wat wel tot bekering gekom het, is die bloed van Jesus gestort: “.... En die bloed van Christus reinig ons van alle sonde” (1 Joh.1:7). Jesus se bloed is God se uitveër van genade.
Die sekerheid dat jou naam in die boek van die lewe opgeteken is, is die grootste gerusstelling denkbaar. Dit bring rus vir die siel – dit waarvan die Hebreër briefskrywer praat. Hierdie geestelike rustigheid gaan hand aan hand met die vrede van Jesus in die hart: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” (Joh.14:27). Wie se naam in die boek van die lewe opgeskryf is, leef in vrede.
Jesus sê dat ons by Hom rus vind. Ongelowiges is onrustige mense; en met goeie rede. As ek weet dat daar 'n oordeel op my wag, sal ek geen rus vir my siel hê nie want die hel is 'n verskrikking! Hoor wat sê iemand wat daarin is: “Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water kan steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur” (Luk.19:24).
Hierdie jongman het onnodig in die ewige verderf beland. Hy kon die straf deur 'n bekering afgewend het en soos die verlore seun uit sy sonde opgestaan en na sy vader teruggegaan het. Hy kon die reddende U-draai gemaak het, maar het nie!
Jesus het alles gedoen om mense se name in die boek van die lewe opgeteken te kry; selfs 'n wrede kruisdood gesterf. Die tekens van die Nagmaal herinner ons aan sy liefde. Met elke Nagmaal sê Hy: “Kyk waardeur is Ek om jou naam uit die boeke van die oordeel uit te vee en in die boek van die lewe in te skryf!”
Geen mens beërwe die ewige geluksaligheid omdat hy goed is nie, maar slegs as sy naam in die boek van die lewe geskryf staan. En dit geskied slegs deur die bekering en op geen ander manier nie. Daarom is die oordeel van die teksvers hard en baie duidelik: “En as dit bevind is dat iemand se naam nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” Wees wys en bekeer jou terwyl jy iets belangriks aan jou kant het – tyd!