Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Christene is nie volmaak nie, hulle is in die proses van ontwikkeling
OORLOG EN VREDE
Ds. A.E van den Berg
Die Russiese skrywer Tolstoy se War and Peace (1869) is een van die bekendste romans van alle tye. Die verhaal speel teen die agtergrond van 'n Russiese volksgemeenskap af wie se samelewingsomstandighede na die inval van Napoleon se magte in 1812 ontwrig is. Hul geesteskrag, liefde vir hul volk en volharding het hulle mettertyd vrede laat vind.
Is oorlogvoering geregverdig of sonde? Nee, dis as sulks nie sonde nie. Die Bybel regverdig oorlogvoering indien dit defensief en nie offensief is nie. Met defensiewe oorlogvoering verdedig 'n volk die dinge wat vir hul kosbaar is. Daarenteen is offensiewe oorlogvoering gekunstelde roof wat verskeie vorms soos bv. ongeoorloofde gebiedsuitbreiding en selfverryking aanneem. Die ou Britse ryk is 'n verfoeilike voorbeeld hiervan. Emily Hobhouse het gesê dat daar nie oorlogsugtige mense is nie, maar eerder oorlogsugtige leiers.
Oorlog is lelik, maar as die vyand jou die stryd aansê, moet jy dit wat vir jou en jou volk kosbaar is verdedig om dit te behou. Dink aan Nehemia se woorde aan sy volksgenote nadat hulle uit die Babiloniese ballingskap teruggekeer en die Samaritane hul tydens die herbou van Jerusalem bedreig het: “ Julle moenie bang wees vir hulle nie.; dink aan die grote en gedugte Here en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise” (Neh.4:14).
Dis in enige oorlogvoering baie belangrik om te weet wie en waar die vyand is. Hulle is soms nie waar hulle verwag word nie. Jong soldate het al dikwels met hul lewens geboet terwyl die eintlike vyand in die hoogste gestoeltes sit. Soms beplan ou manne 'n oorlog maar laat jonges sterf. In tye van vrede begrawe seuns hul vaders en in tye van oorlog begrawe vaders hul seuns soos tydens die grensoorlog gebeur het. Knoeier-politici het jong soldate laat sterf om daarna aan die vyand oor te gee!
Gelowiges moet altyd na vrede streef: “Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien” (Rom.14:19). “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Hebr.12:14).
Vryheid is vir 'n eerbare volk kosbaar en moet ten alle koste verdedig word. 'n Volk wat sy vryheid op die altaar van internasionale aanvaarding prysgee, gee ook sy geesteskrag prys. So 'n vrede is kunsmatig en soms selfs erger as oorlog self. Die jongste SA misdaadstatistiek onderstreep dit baie duidelik. Wie plundering en ontwrigting vrede noem, is verward. Om vrede met geweld af te dwing, is net so onsinnig soos om heuning uit 'n slang te probeer tap!
Ons leef in ’n wêreld waar mense dikwels meer van oorlogvoering as van vrede weet. So ook om dood te maak in plaas van vreedsaam te leef. Hulle verstaan geen snars van Jesus se Bergrede wat mense leer hoe om reg te leef nie. Die mens vind slegs in God se wil die enigste volhoubare vrede. Gevolglik moet diegene wat vrede begeer, eers vrede met God maak.
Vrede is nie iets wat ons wens nie, maar iets wat ons doen. Om in vrede te leef, beteken dat ons ook as mekaar se wagters moet optree. Waar dit ontbreek, is vryheid broos soos in ons eie land gesien word. Kerke wat altyd maar die gewete van ons volk was, het met vyandige instansies geheul en 'n nuwe stryd ontketen wat daagliks meer as 80 moorde oplewer.
Vrede kan nie van vryheid geskei word nie. Daarom kan niemand vrede hê sonder om vry te wees nie. Daarvoor is 'n eie grondgebied nodig. Sonder vryheid op 'n eie grondgebied is vrede net so min werd as 'n goue pantoffel aan 'n seer voet!
Vrede heers waar die mag van die liefde die liefde vir mag vervang het en net in die geloof moontlik. Gelowiges ervaar 'n ander soort vrede as die van die wêreld. Jesus se aardse optrede is juis aan 'n kalmte in die aangesig van beproewing gekenmerk. Waar Jesus se vrede in 'n huis aanwesig is, skep dit orde in 'n gesin. 'n Ordelike gesin bring rus in 'n volk en 'n rustige volk vrede in sy midde.