Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons beproef word, moet ons God nie gedurig met verwytende vrae bestook nie. Soek eerder ‘n nuwe ontmoeting met Hom, ja, ‘n nuwe ervaring van sy teenwoordigheid en grootheid. Om God te midde van ons nood opnuut te vind, is een van die heerlikste winste wat beproewing kan oplewer.
DIE WEDERKOMS (2)
Ds A.E. van den Berg
“En kyk, Ek kom gou….” (Open.22:12).
Omdat Openbaring grootliks oor dinge van die eindtyd handel, is dit nie maklik verstaanbaar nie, maar nogtans een van die opwindendste boeke van die Bybel. Ons moet egter versigtig met die uitleg daarvan wees. Omdat dit in simboliese taal geskryf is, moet dit nooit letterlik verklaar word nie.
Vir wie Openbaring letterlik opneem, sal dit nooit 'n openbaring wees nie, maar geslote bly. Die beelde en getalle wat daarin voorkom, is nie letterlik te verklaar soos wat die Jehova Getuies bv. met die getal 144,000 van Open.7 doen nie. Hulle beskou dit as 'n letterlike getal - die aantal mense wat die ewige heerlikheid gaan beërwe. Dis 'n misgissing. Die 144,000 is 'n simboliese getal om 'n ontelbare skare aan te dui. Johannes werk met die getal 12 - 12 X12 X1000 - die 12 stamme van Israel, die 12 dissipels en 1000, 'n getal wat volheid aandui. Hierdie 144,000 is die simboliese getal van geredde siele. Daar gaan miljoene in die ewige heerlikheid wees.
Om te verstaan wat God in die Bybel sê, moet ons weet dat Hy nie in enkel sinne praat nie. Ons praat dan nie so met mekaar nie! God praat altyd in paragrawe, hoofstukke, boeke en selfs groter gehele soos die OT en NT. Daarbenewens praat Hy ook nie kort nie, maar lank om goed na geluister te word, veral oor die eindtye.
Die verkeerdste ding om te doen, is om die Bybel buite sy verband te haal en sekere betekenisse daaraan te koppel om 'n eie standpunt te ondersteun. Neem Mark 16:16 as voorbeeld. “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word, maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word”. Voorstanders van die grootdoop haal dit graag aan om die kinderdoop as verkeerd te bewys. Lees 'n mens hierdie teks egter binne sy verband, word die eintlike betekenis daarvan duidelik. Markus het hierdie evangelie vir die Romeine geskryf. As 'n Romein tot bekering gekom het, het hy hom as volwassene laat doop om sodoende ook die verbondsteken te ontvang. Dis derhalwe nie 'n teks om diegene wat kwansuis verkeerd doop mee by te kom nie!
Die Bybel is 'n aangrypende verhaal wat gelowiges vertel wat God in die verlede vir sy kinders gedoen het. Dis egter ook die wonderlike verhaal van wat Hy vandag asook in die toekoms nog steeds vir hulle sal doen. Gevolglik omspan die Bybel die verlede, die hede en die toekoms. Daarom bly dit altyd nuut.
Die Bybel is eintlik 'n maklike verhaal. God praat nooit met ons deur raaisels of geheime kodes soos die skrywer van The Bible Code 'n paar jaar gelede beweer het nie. God praat eerder in alledaagse taal net soos wat ons met mekaar praat; reguit en sonder 'n omhaal van woorde. Ons moet net reg luister. As ons nie reg luister nie, is verwarring ons voorland en sal ons nooit hoor wat God wil sê nie.
Wanneer dit by die dinge van die eindtyd kom, is die verkeerde verstaan van TYD een van die hoof-oorsake van verwarring. In die Bybelse tyd het mense baie anders as ons oor tyd gedink; veral oor sake van die toekoms. Hulle het nie so erg belang by die toekoms gehad soos vandag nie. Gevolglik moet ons nie met 'n moderne bril na die Bybel se uitsprake oor die eindtyd kyk nie.
Die mense van destyds het meer belang by die verlede gehad. Ps.77 vertel ons hoe die gelowiges 3000 jaar gelede na die oplossing vir probleme gaan soek het. Hulle het teruggekyk na God se groot dade in die verlede en dan vir mekaar gesê: “As Hy dit destyds kon doen, kan Hy dit vandag nog doen”. Is God se beloftes nie een van die wesenlike dinge wat ons maklik miskyk nie? Asaf sê: “Ek dink aan die dade van die Here; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd… U het u volk met 'n sterk arm verlos, die kinders van Jakob en van Josef”.
Johannes die Sendbrief-skrywer, maak van dieselfde resep gebruik. Die gelowiges in die verstrooiing het so swaar gekry, dat sommige selfs aan God se liefde en sorg begin twyfel het. Hulle het geredeneer dat indien God liefde is, Hy nie sulke slegte dinge oor hulle sou laat kom het nie. Sommige van hulle het selfs die geloof verlaat..
Johannes draai hulle as te ware om – met hul gesigte na die verlede, en wys hulle op Jesus se kruisdood en die redding wat daaruit voortgespruit het. Dis God se liefde.
Op Golgota word die antwoord op mense se vraag na God se liefde glashelder. Gelowiges moes omdraai en terugkyk om 'n antwoord te kry.
Die verlede is baie belangrik. Mense moet deeglik kennis daarvan neem. Daarom is daar 'n vak soos Geskiedenis; eerstens wat ons leer om foute nie te herhaal nie en tweedens om ons te help om die toekoms beter in fokus te kry. Wie onverskillig teenoor sy geskiedenis staan, sukkel ook met die hede; om nie eens van die toekoms te praat nie!
In die Bybelse tyd het mense die toekoms nie tot in die fynste besonderheid probeer bedink nie. Daarom moet ons maar versigtig met die Bybel omgaan en weet dat Bybelse profesieë nie uitsluitlik oor gebeure handel wat eers duisende jare later vir die eerste keer in vervulling sou gaan nie. Dis die groot fout wat 'n dwaalleraar soos byvoorbeeld Hal Lindsay in sy boeke maak!
Vir die mense van die Bybelse tyd was tyd nie aan horlosies of kalenders gekoppel nie. Dit was eintlik 'n relatiewe begrip. 'n Koning kon bv. nooit laat vir 'n afspraak wees nie. As mense destyds in kennis gestel is dat die koning op 'n sekere dag hul stad sou besoek en hy eers 'n paar dae later opdaag, was hy nog steeds betyds. Mense het maar geduldig gewag. Die tyd was eintlik eers reg sodra hy opgedaag het.
Teen hierdie agtergrond moet ons die Gelykenis van die Tien Maagde en die bruidegom wat getalm het verstaan. As Jesus in die tweede laaste vers van die Bybel sê: “Kyk, Ek kom gou” en dit neem 2000 jaar of langer, kom Hy nog steeds gou!
Wanneer Jesus dus oor sy wederkoms praat, is Hy nie besig om 'n datum daarvan uit te deel nie. Hy skerp eerder gelowiges op om, net soos die vyf wyse maagde, altyd gereed te wees. Hy kom nie op 'n datum deur mense bepaal nie, maar op sy eie tyd – wat reeds voor die skepping deur God bepaal is. Ons moet net geduldig wag. Hy sal kom! Die vraag is nie wanneer Hy sal kom nie maar of jy gereed is om Hom as jou Verlosser te ontmoet?