Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Man skryf in 'n koerantlesersbrief dat hy vir 30 jaar lank kerktoe gegaan het maar sy tyd gemors het aangesien hy nie eers die preke se inhoud kan onthou nie. 'n Ander leser reageer hierop met die stelling dat hy vir 30 jaar lank sy vrou se kos geëet het, nie die spesifieke spyskaarte kan onthou nie, maar weet dat dit hom al daardie jare aan die lewe gehou het...
DIE WEDERKOMS VAN JESUS (1/3)
Ds A.E. van den Berg
“Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Hand.1:14) .
Gelowiges moet nooit so in die tydelike dinge van die lewe verstrengel raak dat hulle Jesus se wederkoms uit hul geestesoog verloor nie. Paulus skryf in Gal.4:4 dat God sy Seun in die volheid van die tyd na die aarde gestuur het; 'n veelseggende woord. Hierdie betrokke dag is reeds van die grondlegging van die wêreld af deel van God se raadsplan. So ook die dag van Jesus se wederkoms.
Toe Jesus op die aarde was, het Hy soveel vernedering, leed en lyding verdra, dat niemand Hom sou kon verkwalik indien Hy nie weer sou kom nie. Die Bybel sê egter dat Hy verseker weer kom. Luister na die twee engele net na die hemelvaart: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” Dis 'n belofte vanuit die hemel!
Die wederkoms is een van die groot beloftes in die Bybel en vir gelowiges 'n wonderlike vooruitsig; iets waarna ons soos 'n Paulus van ouds na moet verlang: “Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word” (2 Kor.5:2). Die Bybel is baie duidelik: Jesus kom weer.
Die vraag is: Wanneer kom Hy? Dis 'n vraag wat al eeue lank gevra word en waarvoor daar geen klinkklare antwoord is nie. Baie van die eerste gelowiges in Thessalonika het die wederkoms al so vroeg as 50nC verwag. Uit Paulus se brief aan hulle, lei ons af dat hulle hul werk gelos en op 'n heuwel vir die wederkoms gaan sit en wag het. Daarom het Paulus aan hulle skryf om die saak reg te stel en hulle te vermaan om Jesus se wederkoms nie passief af te wag nie. Gelowiges moet aangaan met hul werk totdat die basuin blaas en Jesus kom. Martin Luther het gesê dat as hy weet dat die wederkoms more gaan plaasvind, plant hy vandag nog 'n appelboom
Die Thessalonisense was nie die enigste mense wat 'n spoedige wederkoms verwag het nie. Talle mense het deur die eeue oor die tyd van die wederkoms gespekuleer. Sommige het selfs datums voorspel en dit geniet om oordeel-aankondigers te wees.
Een van die eerstes was Montanus. Hy het in die 2de eeu baie mense om hom heen vergader en verkondig het dat die wederkoms spoedig sou plaasvind en allerlei dwaalleer kwyt geraak. Sommige Charismatiese kerke is 'n herlewing hiervan.
Eeue later het ene William Miller, stigter van die Sewedaagse Adventiste, nie net die jaar van die wederkoms voorspel nie, maar sommer ook die dag en datum - 21 Maart 1843. Toe dit nie plaasvind nie, het hy die datum na 22 Oktober 1844 verskuif en daarna geen verdere voorspellings gemaak nie.
Charles Russel, stigter van die Jehovasgetuies, was nog 'n wederkoms voorspeller. Dit sou in 1874 plaasvind. Toe dit nie gebeur nie, het hy dit as 'n berekening fout afgemaak en die datum na 1914 verskuif. 1914 sou volgens hom die jaar wees waarin God se vrederyk oral op aarde sigbaar sou word. Ironies genoeg het geen vrederyk daardie jaar aangebreek nie, maar eerder 'n wêreldoorlog!
Omdat mense nie na die Bybel luister nie, hou wederkoms-voorspellings nie op nie. Jesus sê tog duidelik: “Maar van die dag en die uur weet niemand nie, ook die engele van die hemel nie, maar net my Vader alleen” (Mat.24:36). Maar mense luister nie!
In 'n positiewe lig beskou, beklemtoon al hierdie voorspellings een groot waarheid nl. dat daar ‘n spesifieke dag gaan aanbreek dat Jesus volgens die belofte weer kom en dit die einde van die aarde sal wees. Wanneer dit sal wees, weet niemand nie. Jesus sê in Mat.24 dat selfs die engele in die hemel nie die spesifieke dag weet nie.
Die wete dat daar 'n einde kom en Jesus as Regter terugkeer, gryp sommige skrywers so aan, dat daar al duisende boeke hieroor verskyn het. As al die boeke wat net die afgelope eeu daaroor geskryf is, bymekaar gesit kan word, sal dit ‘n groot biblioteek vol maak. As 'n mens van hierdie boeke onder oë neem, staan jy verstom oor mense se verbeeldingsvlugte en gevolglike verkeerde gebruik van die Bybel. Hulle ontspoor omdat hulle die basiese heilsfeite van die Bybel nie verstaan nie.
Dwaalleraars verdraai al te graag die Bybel om hul dwaling te pas. Hulle laat die Bybel nie spreek nie, maar eerder buikspreek en maak daarvan 'n kapstok waaraan hulle hul eie fantasieë hang. Die Amerikaanse skrywer, Hal Lindsay, is een van hulle. Hy het miljoene dollar met sy boek The Late Great Planet Earth gemaak en 'n siening gehuldig wat ten hemel skreeu. Hy sien die Bybel as 'n boek vol profesieë wat tans in vervulling gaan. Dis teologiese onverskilligheid op sy ergste!
Behalwe vir die stortvloed van boeke oor die eindtyd, snak 'n mens soms na jou asem oor sommige predikers se verstommende verdraaiing van Bybelse waarhede. Charismatiese kits-pastore maak hulle gereeld hieraan skuldig. Nogtans hang mense aan hulle lippe! Jesus waarsku: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is” (Mat.7:15). Johannes waarsku en sê: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.” (1 Joh.4:1).
Ons leef in 'n tyd van verstommende tegnologiese ontwikkelings, veral op die gebied van mikro-rekenaar-tegnologie. Dit gryp baie van die eindtyd-skrywers so aan, dat hulle selfs elektroniese betaalmiddels as 'n bedreiging vir die geloofslewe beskou. Hulle sien dit as die merk van die dier van Open.13. Nee, hierdie merk gaan baie groter wees!
Gelowiges moet maar bitter versigtig wees vir boeke wat oor die eindtyd handel. Vir oningeligte mense skep van hierdie sensasionele boeke 'n groot probleem. Wat is reg? Wie moet geglo word? Dis 'n Babelse verwarring wat selfs op die verlies van die saligmakende geloof in Jesus Christus uitloop. Dit was alreeds in die vroeë kerk 'n probleem gewees. Mense het hul ore uitgeleen: “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Hebr.2:1).
Daar is net een oplossing - die beproefde Calvinistiese pad van net die Skrif alleen (soli Scriptura). Baie eindtyd-skrywers en predikers lees die Bybel verkeerd. As jy dit nie reg hanteer nie, kan jy dit nie reg verklaar nie. Om jou eie gedagtes met tekste aanmekaar te flans en dan te sê: “So sê die Bybel” is misleidend !
Ons moet in die tyd wat oploop na Jesus se wederkoms met groter oorgawe die Bybel bestudeer. Die Heilige Gees help ons hiermee. As ons dit nie gaan doen nie, trap ons makliker in die slagyster van die Satan en leen maklik ons ore aan dwaalleer uit en glo in iets anders as wat die Bybel sê. Paulus waarsku: “Maar al sou ons of 'n engel uit die hemel julle 'n evangelie verkondig in stryd met wat ons julle verkondig het, laat hom 'n vervloeking wees!” (Gal.1:8).
Baie van die eindtyd-skrywers glo dat die Bybel vir mense van die 21ste eeu geskryf is. Nee, alhoewel die Bybel vir alle gelowiges deur die eeue bedoel is, is dit eerstens vir die mense van daardie tyd geskryf. Hou altyd in gedagte dat hulle ander tale, ander gebruike en ander gewoontes as ons gehad het. Wie nie daarmee rekening hou nie, sal die Bybel nooit werklik verstaan nie.
Die eerste ding wat vir ons wat in die eindtyd leef belangrik is, is die wonderlike belofte dat Jesus weer aarde toe kom. Ons het hierdie belofte in die Woord van God. Dit staan vas en waar. Laat ons dus soos die vyf verstandige maagde gereed wees as die hemelse Bruidegom eersdaags opdaag.