Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die volk in 1 Kor 10:6 se ondankbaarheid vir God se genadegawes het dit laat verander in oordeel. Dit verskil nie van ons volk vandag nie – in plaas van gehoorsaam te lewe uit dankbaarheid sondig ons volk steeds voort met dobbel, huweliksontrou, aborsie en alles wat die godlose owerheid aan ons voorhou as veroorloof.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (5)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Kris, ek het nou net ‘n baie vreemde radio-boodskap ontvang.”
“En dit is?”
“Daar is ‘n aantal ouens in Australië en Nieu-Zeeland wat gehoor het van ons.”
“Nou hoe het dit gebeur?”
“Miskien iemand wat genooi is maar kop uitgetrek het? Ek weet nie, maar dit maak nie soveel saak nie. Ons werk mos in elk geval nie in die geheim nie. Hoe ookal, hulle weet van ons.”
“En hulle waarsku ons - waarvoor?”
“Nee, dis juis die ding - hulle wil saamgaan.”
“Weet hulle ons is in Duitsland en Australië is nie in Europa nie, of mis ek iets?”
“Nee, hulle weet en hulle kan per vlug tot in Spanje kom en ons daar kry, as ons hulle wil hê.”
“Kan ek self met die kontak praat?”
Terwyl Kris en Jon Maritz, die oud weermag kolonel, praat, kom Freek Brits, een van die ingenieurs nader. Daar is ‘n uitdrukking van verwondering, gemeng met skok en afwagting op sy gesig. Hy en die ander manne het ‘n paar dromme gelerige verf, genaamd “Desert Sand” gaan koop om die voertuie te verf en sodoende van die gekamoefleerde en militêre bruin ontslae te raak. Dis verf met ‘n mat-afwerking en sal mooi pas, veral by die woestyne waardeur hulle verwag om te ry.
“Kris…”
“Ja, Freek?”
“As jy en die kolonel klaar gepraat het, is daar iets wat ek jou moet wys.”
Kris loop saam met Freek na die een van die Hummers toe. Tussen die sitplekke, wat amper ‘n meter uitmekaar is om ruimte toe te laat vir die groot outomatiese ratkas en oordrakas, wat ver agter die groot diesel sit en om plek te maak vir die radiotoerusting, wat nou verwyder is, is daar ‘n kas, eerder ‘n tipe kluis, wat teenaan die enjinkompartement se binnekant ingebou is. Dit is netjies gedoen en lyk nie soos ‘n toevoegsel tot die voertuig nie, maar staan ‘n halfmeter diep en hoog. Hoog, langs die bestuurder se kant van die enjinskermplaat, sit ‘n sleutel en ‘n hefboompie.
“Maak toe, dat ons nie gesien kan word nie, Kris.”
Kris loop om en gaan sit op die passasiersitplek, maak die deur toe en wag. Freek klim langsaan in, maak ook sy deur toe en sluit dan die kluis oop. Dit gaan stadig oop op hidrouliese silinderdempers. Binnekant is tien pistole in afsonderlike kompartemente, saam met vyftig magasyne, almal volgelaai. Freek haal een versigtig uit, verwyder die vol magasyn en span die sluitstuk. ‘n Lewendige rondte spring uit die kamer uit.
“Een of ander offisier gaan in die moeilikheid wees.”
“Wat maak ons daarmee? Kan ons dit nie gaan teruggee nie?”
“Ek het daaroor gedink. Aan wie gaan gee ons dit? Die Polizei – dan lê hulle beslag op al die voertuie, dit waarborg ek jou. Ook die Wehrmacht. Ons kan dit vannag in die rivier gaan gooi en hoop ons word nie gesien nie, of…”
“Of ons hou dit?
“Dis my gedagte. Ons gaan uiteraard deur die hele Afrika ry.”
“En as ons gevang word?”
“As ek nie hier gekarring het om ‘n sekering te vervang nie, sou ek nooit die sleutelgat gekry het nie, laat staan nog van die sleutel.”
“Waar was die sleutel?’
“Nog in die gat. Ek glo dis daar vergeet deur iemand.”
Kris sit lank en dink.
“Watse pistole is dit? Ek is nie ‘n kenner nie.”
“Dis SIG P226’e. Die Amerikaanse spesmagte, soos Delta-Force, die SEALs en sulke ouens gebruik dit in plaas van Berettas.”
“Is dit goeie wapens?”
“Seker van die beste. Vyftien in die magasyn en saam met die een in die aksie, sestien rondtes. Dubbel of enkel-aksie, met ‘n sogenaamde ‘decocker’. Baie akkuraat en betroubaar.”
“Jy weet seker as ons daarmee gevang gaan word, sal hulle ons so ver bêre, hulle sal ons kos met ‘n kanon na ons toe skiet?”
“So, dit bly net tussen ons twee.”
Weereens dink Kris lank.
“Dan maak ons so.”
*
Indien dit sy voertuig was – nou is dit – maar as hy die ding vir homself sou gebou het, sou hy nooit daaraan gedink het om die dak te verwyder nie en hy sou heelwat kleiner bande gebruik het, maar vandag is hy ten minste bly oor die groot wiele.
Die water lyk asof dit sommer uit die pad en veld groei en waneer hy deur ‘n duik of vlak sloot ry, kan hy sien dat die water amper oor die enjinkap begin spoel. Hy weet genoeg om teen ‘n egalige spoed deur die water te ry. Indien jy te stadig ry, verloor jy momenteum; te vinnig en die water spoel deur die brose elektonika of nog erger: deur die inlaat en laat die enjin vasslaan. As jy spoed verminder, veroorsaak die brander voor die buffer ‘n terugspoel, wat ook fatal kan wees.
Nie een maal voel hy die bande verloor vastrap nie en hy stuur ‘n duimpie in die lug vir oorlede Rasjmansi.
Waarom het die vrou so ‘n verlate plek uitgesoek en nog meer, so ver van alles af, op die berg en moeilik bereikbaar? Ja, sekerlik vir veiligheid en daarvoor is afsondering goed, tot jy ‘n krisis ervaar, soos nou die geval is.
Weereens dink hy daaraan dat hy die vrou nie eens ken nie en hy haar niks verskuldig is nie. Niks, behalwe sy woord en toe het hy dit gegee voordat hy geweet het waarvoor hy hom inlaat. Maar as ‘n man nie eens meer sy woord kan hou nie is hy niks, het sy pa altyd gesê. Hy wonder of die ou man altyd reg was.