Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek het my hande die hele dag uitgebrei na 'n opstandige volk wat wandel op 'n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan, 'n volk wat My gedurigdeur in die aangesig terg... Ek sal nie swyg nie, tensy Ek dit vergeld het... Ek sal doen ter wille van my knegte, om nie alles te verniel nie... maar julle wat die HERE verlaat... Ek sal julle bestem vir die swaard, en julle almal sal buig om geslag te word - Jesaja 65.
1900: EERSTE BOEREKRYGS- GEVANGENIS IN ST. HELENA
Lees volledig by Kultuurdagboek
KULTUURDAGBOEK 14 APRIL
Ongeveer 30 000 Boere is in die Tweede Vryheidsoorlog in gevangeneskap gehou. Die meerderheid was krygsgevangens, 'n kleiner groep wat oor die Mosambiekse grens gevlug het is in drie interneringskampe in Portugal aangehou, terwyl die Kolonianers wat gesimpatiseer het met die Republikeinse saak, in strafkampe en tronke in Kaapland gevange gehou is.
Die krygsgevangenes is egter hoofsaaklik aangehou in kampe oorsee. Op die eiland St Helena was drie kampe, op die Bermuda-eilandgroep ses, in Ceylon vyf, en in Indië tien sulke kampe. Die Kaapse kampe is streng bewaak teen moontlike ontsnapping.
Ook die kampe buite Suid-Afrika het min geleentheid vir suksesvolle ontsnapping gebied. Pogings het wel voorgekom waarvan die bekendste was die ontsnapping van 'n vyftal Boere van 'n skip met krygsgevangenes in die hawe van Colombo (Ceylon). Nadat hulle uit die water opgepik is, het hulle na Odessa gevaar, deur Rusland na Wes-Europa, van daar na Duits-Wes-Afrika om hulle weer in die noordweste by die Boeremagte aan te sluit. Weinig was egter gelukkig om te ontkom. Om nuttig besig te bly was 'n groot probleem. Die krygsgevangenes was, behalwe die paarhonderd uitlanders wat saamgeveg het, bykans almal landbouers. Min kon vlot lees en skryf maar kon hul geleerdheid aanvul deur van makkers, oud-onderwysers en predikante onderrig te ontvang. Behalwe hierdie formele onderrig, is aandag gegee aan Bybelstudie en kategese met die oog op aanneming.
In hierdie kampe was seuntjies van agt jaar tot ou mans van oor die 80 saamgetrek. Naas onderwys het baie hulle afleiding gevind in 'n verskeidenheid van verenigings soos debatsvereniginge, toneelvereniginge, verskillende Christelike en kerklike vereniginge, kore en sportvereniginge. Ander het hulle toevlug geneem tot handwerk, en 'n bloeiende bedryf in aandenkings wat selfs oorsee uitgevoer is, het ontstaan.
Heelwat kampblaadjies is versprei, sommige gedruk en ander op verskillende maniere afgerol. Dit was veral op kerklike en kulturele gebied dat daar 'n groot opbloei ontstaan het, Vele het hulle daarop toegespits om hul beter te bekwaam vir die toekoms en vir die heropbou van land en volk na die oorlog. Die kerk, sending, onderwys en kultuurlewe sou veral baat vind by die kampbedrywighede. Naas konserthou is aandag gegee aan die herdenking van Volksfeeste, die aanleer van handvaardighede, aan besinning oor die toekoms van die Afrikanervolk en oor nasionale vraagstukke wat opgelos moes word. Daar is gedig en dagboeke geskryf.
Namate die oorlog aangesleep het, het die praatjies van vrede vermeerder. Spoedig was die krygsgevangenes oral in twee groepe verdeel: diegene wat na vrede huiswaarts wou keer, en die onversetlikes wat van geen oorgawe of eed van trou teenoor die Britse vors wou hoor nie. Die gemoedere het in sommige kampe so hoog geloop dat die kampowerhede die inskiklikes van die onversetlikes moes skei. Diegene wat bereid was om die eed van trou af te lê is in die loop van 1902 gerepatrieer, dog die "swearnots" sou in sommige gevalle nog jare lank doringdraad kou.
Teen die einde van 1904 was daar in Indië nog etlike honderde wat die eed van trou geweier het sodat genl De la Rey uiteindelik gestuur is om hulle tot ondertekening te beweeg. Enkeles het die eed nooit afgelê nie en verhuis na ander wêrelddele soos die VSA, Duitsland en Java. Sommige het gebly. Die onversetlike Matthys Swart is in 1926 as finale bittereinder op die Bermuda-eilande oorlede.