Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is net een beproefde raad teen eensaamheid – reik na ander uit. Daarmee slaan jy die duiwel vir ‘n ses! Satan wil hê dat jy in jou eensaamheid mure om jou moet bou. God wil hê dat jy eerder brûe na ander bou. ‘n Mens wat sy hart vir ander oopmaak, kan nooit eensaam wees nie.
STAAN VAS ! DIE VERDRUKKING IS NABY
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
“En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” - Mt.24:11
’n Mens raak al meer bewus van ’n wêreld wat einde toe spoed en die wederkoms van Jesus wat al hoe nader kom. Sekere tekens moet egter eers in vervulling gaan voordat Hy op die wolke terugkeer. Een daarvan is ’n wêreldwye godsdiensherlewing waarvan Jesus in die teksvers melding maak; ’n gebeure wat miljoene mense gaan begeester.
In die verlede was godsdiensherlewing altyd goed, maar nie die laaste een nie. Hierdie een sal mense nie na Jesus lei nie, maar van Hom vervreem. Dis Satan se laaste misleiding voor die oordeelsdag. Gevolglik staan hierdie herlewing nie in die teken van die waarheid nie, maar van die leuen.
Miljoene mense sal valse profete met valse evangelies aanhang en glo dat hulle die saak van God dien. Dit wat in die tuin van Eden gebeur het, gaan herhaal word - mense gaan die leuen vir die waarheid aansien. Dis immers een en dieselfde misleier - Satan. Soos hy begin het, sal hy afsluit. Die gevolg hiervan is die grootste kerklike verval in menseheugenis; erger as die Middeleeue!
“En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Mt.24:3). Ons vra dieselfde vraag: Wanneer sal hierdie afval wat Jesus se wederkoms voorafgaan, gebeur? Dit gebeur alreeds!
Kerke versink toenemend in die afval waarvan Jesus en die apostels melding maak. Oppervlakkigheid het die vloek van ons tyd geword en die drang na onmiddellike bevrediging ‘n onversadigbare versugting in die meeste kerke.
Jesus waarsku in Mt.24 dat daar baie valse profete gaan kom en soveel mense mislei, dat as God die dae wat oploop na die wederkoms nie verkort het nie, niemand gered sou word nie. “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word. Want daar sal baie valse christusse en valse profete wees en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Mt.24:24).
Ons staan voor die deur van ’n moeilike tyd. Mense sien die leuen vir die waarheid aan en verlaat die suiwer leer van God se Woord vir leuens. Jesus waarsku en sê dat valse voorstellings van die Christendom aan die orde van die dag sal wees. Vir oningeligtes sal dit soos geestelike oplewing lyk en baie mense opgewonde maak. Maar dit is nie; dis alles sataniese oëverblindery!
Miljoene mense, ook volksgenote, is met Satan’s dinge besig - duiwelskuns, sterrewiggelary, heksery, spiritisme, Satanisme ens. Hoe gewild is die Harry Potter-reeks nie! Meer as 325 miljoen kopieë van die Harry Potter boeke is al in 64 tale verkoop! Dit bevorder heksery en kinders is die teikengroep. Die skryfster is ’n selferkende Satanis wat ook die Play Station-speletjie Cast a Spell die lewe te laat sien het. Dit leer kinders om te toor!
Kerklike verval is egter die hartseerste van alles omdat ’n mens dit nie daar verwag nie. Dit begin altyd met ’n weersin in die waarheid: “Maar die Gees sê uitdruklik dat daar in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim.4:1). Wie ’n weersin in die waarheid het, gaan onverskillig met die Bybel om. Dit lei tot afvalligheid. ”want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in die gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:3,4).
As valse profete hul verskyning maak, moet gelowiges weet dat die koms van die Antichris baie naby is. Mense gaan glo dat hy God is: “die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess.2:4). Soos Christus voorgangers gehad het, het die Antichris ook syne – valse profete.
Wat laat mense wat die reguit pad gestap het afvallig word? Vier dinge: Ongeloof, onverskilligheid, vrees en vleeslikheid.
- Ongeloof
Afvalligheid is eerstens aan ongeloof te wyte. Baie kerke aanvaar nie die absolute gesag van die Bybel nie en praat gruwels soos homoseksualisme en saamblyery goed. Die Bybel is egter baie duidelik hieroor – OT en NT.
Hoeveel leraars preek nog oor sonde, berou en bekering? Die meeste preek eerder oor verdraagsaamheid jeens sonde! Daar is niks wat die Christendom so van krag ontneem soos verdraagsaamheid jeens sonde nie! Dit maak die geloof kragteloos, aanbidding sinneloos en evangelisasie onmoontlik.
In sy omstrede boek The Da Vinci Code skryf Dan Brown dat omtrent alles wat ons voorgeslagte ons van Christus geleer het verkeerd is. Hy beskryf Christus as die man van Maria Magdalena en gevolglik Iemand wat ook sonde gehad het. En mense verslind sy boek; 60 miljoen kopieë is al verkoop. Ongeloof is die voorportaal van afvalligheid.
- Onverskilligheid
Afvalligheid is tweedens ook aan onverskilligheid te wyte. Teologie is die verantwoordelikste wetenskap omdat dit mense se siele raak. Wie onverskillig daarmee te werk gaan, kweek afvalligheid; presies wat in ons eie land gebeur! Die New Age-filosofie het die kerklike geledere so bedwelm dat teologiese opleidingskole al hoe minder Bybelse standpunte huldig. Afvallige dosente kweek afvallige leraars en afvallige leraars verwarde gemeentelede: “So sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen die herders! En Ek sal my skape van hulle hand eis en maak dat hulle geen skape meer oppas nie” (Eseg.34:10).
Kerke lyk te veel na die wêreld omdat dit op vermaak ingestel is. Let op die aansprake op wonders en tekens waarmee miljoene mense in charismatiese kerke geflous word. Nee, kerke is nie daar om mense te vermaak nie, maar vir hul ewige reis te help voorberei. Daarom beteken die kerk die meeste vir die wêreld as dit die minste daarna lyk.
Nie Christus of ’n apostel het die kerk ooit beveel om almal onder een dak saam te bondel om die Satan se reënboognasie-konsep ook in kerklike geledere neerslag te laat vind nie. Jesus Self praat van kerklike verskeidenheid: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei….en dit sal wees een kudde, een herder” (Joh.10:16). Verskillende skape, verskillende stalle, geestelik een in Jesus. Dit is die Bybelse weg! Onverskilligheid lei tot afvalligheid.
- Vrees
Afvalligheid is derdens ook aan vrees te wyte. Mense is bang vir die toekoms. Hulle het geen saligmakende geloof in die Here Jesus of grondige kennis van die Bybel nie. Hulle glo wat mense vir hulle sê – alles tweedehandse inligting. Daarom is selfhelp-boeke so gewild. Boekwinkels is vol boeke met alle denkbare wysheid onder die son! Vrees laat mense antwoorde op plekke soek waar die leuen seëvier. Ja, vrees lei tot afvalligheid.
- Vleeslikheid
Afvalligheid is laastens ook aan vleeslikheid te wyte. Mense is so op stoflike dinge ingestel, dat hulle nie oor hul sieleheil of die wederkoms van Christus dink nie. Dit versteur hul plesier en vrede. Hulle word deur welsprekende leraars, pastore, evangeliste, projekte, tekens, wonders en genesings betower, Dis alles vermaak. Baie van hulle is poppespel-karakters in kerklike gewaad en niks anders as duiwels met maskers nie! Daarom is baie van ons volksgenote na aan die kerk, maar ver van die Here!
Die Christendom het verbruikersvriendelik en die kerk te wêrelds geword. Alhoewel die kerk haar nie van die wêreld mag onttrek nie, mag sy nie daarin verdwyn nie. Ongelukkig het baie kerke die wêreld omhels en van al die oppervlakkige vermaak wat daarmee saamgaan, hol geword. Kerke lyk soos die wêreld, maak soos die wêreld, praat soos die wêreld en verval soos die wêreld!
Satan het baie handlangers wat voorgee om werkers van geregtigheid te wees en lig en lewe te bring. In werklikheid is hulle dissipels van die duisternis wat die dood in kerklike murg plant. En waar die dood eers in die kerklike murg beland het, bly daar spoedig net ʼn leë dop oor.
Kerke spits hulle te veel op menslike behoeftes en te min op geestelike behoeftes toe. Solank as wat hulle mense goed laat voel en die nodige fondse vind om die kerk se finansiële verpligtinge na te kom. Nee, die kerk is nie ʼn klub waar mense goed oor hulself kan voel nie, maar ʼn gemeenskap van sondaars wat vergifnis van Jesus Christus ontvang het.
Ons Boerevolk het geen behoefte aan oppervlakkige, kerklike vermaak nie, maar aan grondige geestelike leiding en diepgaande Woordstudie. Ongelukkig is daar min kerke wat dit bied. Die meeste het in ’n verbruikersgeoriënteerde kultuur vasgeval. Die gevolg is dat hulle die skulp behou, maar die pêrel verloor! Dis hoe die kerklike wêreld op Sondag 6 Januarie 2013 lyk.
Daar lê reuse uitdagings voor die APK se deur. Bewapen jou hierdie jaar met die waarheid van God se Woord. Dis al hoe jy die vurige pyle van die Satan kan afweer. Die groot verdrukking is op ons drumpel. Gelowiges word gesif. Die stroom van misleiding is bitter sterk. Staan vas!
“Vrees vir niks wat jy sal ly nie….Wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openb.2:10).
Amen!