Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Blaas die basuin op Sion, heilig 'n vasdag, roep 'n vergadering saam! Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! ... Laat die priesters, dienaars van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar ween en sê: O HERE, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is hulle God? - Joël 2.
DR VERWOERD AS PERSOON
Johan Dorfling
Dr H F Verwoerd is op 6 September 1966 vermoor. Om oor sy persoonlikheid en ingesteldheid te skryf, is maklik, maar terselfdertyd is dit baie moeilik. Hy was so merkwaardig dat die grense van sy denke die mensdom onbeperk vooruitgeloop het.
Dit is maklik om hom te beskryf omdat hy so 'n eerlike, opregte en openlike persoon was sodat almal geweet het waar hulle met hom staan. Aan die anderkant is dit moeilik omdat daar rakke vol boeke en geskrifte oor hom geskryf is en steeds geskryf word, ver meer as oor enige ander Suid-Afrikaanse staatsman, of menige ander groot moondhede se staatsmanne of manne wat foutiewelik as staatsmanne voorgehou is. Teenswoordig verkoop selfs tweedehandse boeke oor hom teen die duurste pryse. Uit al hierdie beskikbare inligting, asook uit die talle uitstekende toesprake wat hy self gemaak het, het sy persoonlikheid sterk op die voorgrond getree. Wat kan nog oor hom geskryf word wat nie reeds gedoen is nie? Steeds regeer hy Suid-Afrika selfs uit die graf uit.
Beriggewers oor die hele spektrum het dr Verwoerd onmiddellik na sy afsterwe hoog aangeslaan en verkondig dat hy werklik 'n rotsvaste staatsman met diepe insig was. Om die een of ander duistere rede het beriggewers en nuusmanne vanuit dieselfde bronne, links en regs, later gepoog om sy peroonlikheid af te kraak, maar dit verhoog sy aansien net al hoe meer omdat sy opregtheid al hoe sterker na vore kom. Niemand kon nog een enkele mistasting teen hom opdis nie. Veral die volkvreemde regering probeer vrugteloos om hom onder verdenking te plaas, maar dit bly vas staan dat sy wysheid, redenasies en denke oor die wêreld heen hom een van die grootstes ooit maak.
Die eerste keer dat dr Verwoerd die politieke arena betree het, was in 1934 (op 33 jaar) toe hy sekretaris was op die Volkskongres in Kimberley. Hy was daardie tyd professor in sosiologie en het 'n besonder goeie indruk gemaak, soveel so dat hy homself in die politiek begin vestig het. Sy opgang was vinnig en in 1937 is hy aangewys as redakteur van Die Transvaler wat die Afrikaner in die noorde moes verenig.
Dr D F Malan het soms van dr Verwoerd verskil, nie wat beginsels of beleid betref nie, maar omdat hy gedink het dat dr Verwoerd te vinnig vorentoe wou beur, onder andere met die spoediger verkryging van 'n republiek. Toe dr Malan vir dr Verwoerd in 1950 as Minister van Naturellesake benoem het, het sy vrou verbaas gevra waarom hy so 'n "moeilike man" in sy kabinet opneem. Sy antwoord was: "Sou ek dan oor een of ander onbenullige persoonlike rede so 'n briljante werkkrag wil ontbeer?"
Die gestalte van dr Verwoerd het te voorskyn gekom en 'n betroubare geskiedkundige waardebepaling van hom het neerslag gevind. Hy het nie aan homself gedink nie, maar as 'n dienskneg van die Afrikanervolk wat hulle geloof en standpunte aan ander volke in Suid-Afrika en aan die wêreld gestel het, standpunte wat hy namens sy volk uitgeleef het. Hy was gebore staatsleier op so 'n wyse dat meer en meer mense hom vertrou het. Na sy afsterwe is hy van oraloor geloof vir sy uitstekende advokaatskap. Hy het die siel van sy mense verteenwoordig en ook die siel van andervolkiges in ag geneem. Op geen wyse wou hy sy volk onderhorig sien nie, ook nie aan die swart volke of die swart volke aan sy volk nie.
Met sy eerbare ingesteldheid was dr Verwoerd onomkoopbaar, bewys deur sy besonder klein boedel omdat hy homself as 'n dienaar beskou het en nie as 'n belangrike persoon wat groot geld wou ontvang nie. Hy het nooit besondere voorsiening vir homself gemaak nie, het altyd 'n hand van vriendelikheid en vrede uitgesteek, terwyl hy sy volk gelei en hulle wense eerbiedig het. Dit het hy besef is waaroor hulle hom gekies het. Die beginsel van selfbehoud vir elke volk, het hy verklaar as 'n wesenlike reg vir elke volk en moet voorrang geniet.
Daar was geen rede deur volkgenote, vriende of vyande om dr Verwoerd te veroordeel nie. Sy standbeelde is nie 'n weergawe van homself nie. Sy monumente lê in die klomp voordele wat hy in en vir Suid-Afrika nagelaat het. Kyk maar om jou heen om te sien sy geestelike standbeeld is onvernietigbaar en wys wat hy op staatkundige, rasseverhoudings, die ekonomie, in wetenskap-ontwikkeling, in onderwys vir wit en swart gedoen het. Die volkvreemde regering se woordvoerders is na meer as 50 jaar na sy afsterwe steeds so bang vir hom dat hulle na leemtes in sy denke en optredes soek, dog daardeur doen hulle hom al hoe meer eer aan. Dr H F Verwoerd bly 'n merkwaardige persoonlikheid.
Tussen stormwinde en onbeheerste wêreldgebeurtenisse deur was hy die dinamiese krag wat oral rotsvas gestaan het en Suid-Afrika se beeld het wêreldgestalte aangeneem. Dr Verwoerd het soos Moses ons volk waardig met nederigheid gelei soos geen ander Afrikaner nie. Wees bly en waardeer, ondersteuners en vyandiges teenoor dr Verwoerd, vir wat hy alles namens julle bereik het. Sy roem sal tot in ewigheid aan die bopunt van staatsmanne pryk.