Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde is nie jaloers nie...
WIE DAN WEET OM GOED TE DOEN
Hannes Ollewagen
Jak. 4:13-17
“Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.” (:17).
Hierdie woorde uit Jakobus 4 gee vir enige gelowige ernstige stof tot nadenke. Hierdie woorde lê op ons ’n groter verantwoordelikheid as net die onderhouding van ’n paar gebooie om ons gewete mee te sus. Dit herinner ons daaraan dat ’n opregte geloof ’n lewe van aktiewe handeling is waarin God se welbehae nagestreef word eerder as ’n passiewe lewe van valse gerustheid dat ek nie te veel oortree t.o.v. die gebooie van God nie. Christus het Hom sterk teen so ’n sogenaamde godsdienstige lewe waar ’n mens in sy hart dood is vir God, uitgespreek. “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.” (Matt. 23:27).
Wanneer ons na die lewe van Christus kyk word hierdie waarheid van ’n opofferende lewe uit liefde vir God ook vir ons onderstreep. Hy het nie van plek tot plek gegaan en Homself bloot as die Sondelose aan mense bekendgestel nie. Nee, Hy het van plek tot plek gegaan en goed gedoen so ver as wat Hy gegaan het. Hierdie goeddoen het verskeie vorme aangeneem wat gewissel het tussen om mense in die waarheid van God se Woord te onderrig, hul van siektes te genees, duiwels uit te dryf en uiteindelik selfs sy eie lewe te gee as soenoffer vir ons sondes. Sy lewe was een van opoffering en diensbaarheid. Hiervan het Hy self getuig. “Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie.” (Markus10:45). En benewens hierdie getuienis het Hy ook sy dissipels opdrag gegee om hierdie voorbeeld na te volg. “As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle 'n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, 'n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en 'n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie.” (Joh. 13:14-16).
Ons sien dan ook in die lewe van sy dissipels dieselfde voorbeeld. Christus het hulle nie bloot in God se Woord onderrig en daarna laat gaan om ’n lewe te lei waarin hulle bloot net sou probeer om nie die wette van Moses te oortree nie. Nee, hulle was ook voortdurend daarmee besig om goed te doen en volgens die voorbeeld van hul Meester ’n lewe van opoffering en diensbaarheid na te streef. “EN Hy het sy twaalf dissipels saamgeroep en aan hulle mag en gesag gegee oor al die duiwels en om siektes te genees. En Hy het hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak en vir hulle gesê: Neem niks vir die pad nie, geen stokke of reissak of brood of geld nie, en geeneen van julle moet twee kledingstukke hê nie. En in watter huis julle ook mag ingaan, bly dáár en gaan dáárvandaan verder. En almal wat julle nie ontvang nie — as julle van daardie stad weggaan, skud selfs die stof van julle voete af, tot 'n getuienis teen hulle. En hulle het uitgegaan en dorp vir dorp deurgegaan en oral die evangelie verkondig en siekes gesond gemaak.” (Luk. 9:1-6). En hoe duidelik stel Christus dit nie in Lukas 14 dat ’n lewe van diensbaarheid aan Hom van ons opoffering sal vra nie. “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.” (Luk. 14:26&27).
Wanneer ons ons kruis opneem om Hom te volg, impliseer dit dat ons onsself moet kruisig sodat ons vir Hom sal lewe. “Dit is ’n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe.” (2 Tim. 2:11). Ons soek derhalwe nie meer ons eie begeertes nie, maar ons grootste begeerte is om te doen wat Hom behaag. Ons lê daardie lewe waarin ek net iets doen as dit vir myself voordeel kan inhou heeltemal af om in ’n nuwe lewe te leef waarin ek nie iets vir myself doen nie, maar vir Hom. “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus.” (Kol. 3:23&24).
Wanneer ons dan weer dink aan die lewe van Christus en dit wat Hy hier op aarde gedoen het, sien ons opnuut sy liefde vir God in daardie lewe raak. Alles wat Hy gedoen het, was om God te behaag. En daarom het Hy nie na die sondaars voor Hom gekyk en hulle verag en geredeneer dat hulle a.g.v. hul sondigheid nie sy goedheid verdien of waardig is nie, want sy fokus was nie op sy eie heerlikheid nie maar deurgaans op God gerig. En ons behoort as Christus se kinders ook met dieselfde gesindheid te leef – die oog nie gerig op ons eie regverdigheid of ander se terkortkominge of onverdienstelikheid nie, maar die oog gerig op ons Meester in Wie se diens ons staan.
Mag ons deur hierdie vermaning opnuut daartoe beweeg word om ons oë van onsself en ander te haal en dit te rigop Hom – die Leidsman in ons lewe. En mag ons daarna streef om nie hier op aarde maar net ’n bestaan te maak nie, maar om te lééf en wel ’n lewe vir Hóm te leef waarin ons liefde vir Hom ons optrede sal rig. Ja, mag ons lewe vir Hom nie maar een van dooie godsdienstigheid nie, maar ’n lewende getuienis wees.
“Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen. Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. Ek was 'n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of 'n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.” (Matt. 25:34-45).