Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons tyd is kort; die Bybel sê nêrens dat ons die hele tyd moet preek nie, wel dat ons die hele tyd moet bid. Laat ons dan minder met mense praat en meer met God.
‘N LEWE VIR GOD
Hannes Ollewagen
2 Kor. 5:11-21
“Want die liefde van Christus dring ons, omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.” (:14&15).
Hierdie gedeelte is ’n duidelike antwoord op die sake van individualisme en humanisme wat geil in ons volksakker groei. Die onverpoosde aanvalle op ons diepe geloofsoortuigings, vervreemding van die ware geloof en vervreemding van ons volk weg van sy God, die aftakeling van ons volksverbondenheid en verantwoordelikheid teenoor ons naaste en dergelike dinge lê aan die grondslag van ’n samelewing en probleme waarmee ons vandag sit. En dit is ’n samelewing en probleme met wie baie min mense tevrede is. Dit is ’n samelewing met meer uitdagings as wat daar antwoorde blyk te wees. Dit is ’n samelewing van trane, ellende, selfsug, wanorde, bekommernis en ’n toekoms wat uitsigloos blyk te wees. ’n Individualistiese en humanistiese samelewing is die teelaarde vir laasgnoemde.
Die verval in ons land kan eenvoudig nie meer weggesteek word nie. Daar is net nie meer ’n leuenkombers groot genoeg om die totale wanorde en chaos te bedek nie. En om elke hoek-en-draai is een of ander kommissie wat ’n misdryf moet ondersoek of ’n krisis moet afweer. Ten spyte van al die beloftes, hulpbronne, planne, kommissies, hofsake en vergaderings, was daar oor die laaste dekade min wat verbeter het. En die volgende dekade sal nie anders wees indien die status quo gehandhaaf word nie. U sal nou natuurlik wil sê dat ek nie so negatief moet wees nie. Dit is egter nie ’n moeilike afleiding om te maak nie aangesien die wortel van die probleme nie aangespreek word nie. Dit is soos om ’n dak te hê wat lek en die “oplossing” word gesien as ’n skottel of emmer wat uitgesit word om die water onder die lekplek op te vang. Dit is nie negatief om die stelling te maak dat die dak oor ’n jaar of vyf steeds sal lek nie – dit is gewoon ’n gesonde en logiese waarneming.Tewens, dit sal selfs veilig wees om te voorspel dat die omvang van die probleem groter sal word as die kern van die probleem – die lekplek – nie aangespreek word nie.
Daar is natuurlik niemand van ons wat die gevolge van die verval in ons land vryspring nie. Ek sien wel ’n baie verkeerde ding onder ons volk en dit is dat ons deesdae die skuld vir al wat sleg is en verkeerd loop voor die onbeholpe regering van ons tyd se deur wil lê. U hoef my glad nie van die regering se korruptheid en onbeholpenheid te oortuig nie, maar dit is nie asof hierdie eienskappe onlangs eers ontstaan het nie – dit was al aanwesig voordat die beheer oor ons land aan hulle oorhandig is. En dit bring my by die volgende punt – die oorsaak van ons samelewing en volk wat so siek is. Die oorsaak wat nie eers die laaste tien, twintig of dertig jaar onstaan het nie, maar lank daarvoor, het dalk in die laaste dekade of drie groter geword omdat die teelaarde daarvoor ideaal was, maar hierdie onkruid is al geruime tyd onder ons. Dit is hierdie onkruid van individualisme en humanisme.
Die onkruid van individualisme en humanisme verstik die ware Christelike geloof. Die woorde uit 2 Kor. 5:15 verpletter die skewe humanistiese lewensbeskouing dat jou lewensbesluite gebaseer moet wees uitsluitlik op dit wat vir jouself tot voordeel blyk te wees. “...sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.” Indien ons so ’n lewensbeskouïng wil volg en daarvolgens wil lewe kan ons onsself nie ’n Christelike volk noem nie, want ons is dit dan nie. Ons wil graag daarop roem dat ons ’n Christelike of Godvresende volk is, omdat ons ’n Godvresende herkoms het. Maar het ons aan hierdie Godvresende lewensbeskouing van ons voorouers vasgehou? Vertrou ons nog ons en ons kinders se toekoms aan Hom toe of het ons in die waan van humanisme tot die punt gekom waar ons reken ons kan self na ons toekoms omsien? Vertrou ons nog ons en ons kinders se toekoms aan Hom toe of het ons in die waan van individualisme vergeet van ons kinders se toekoms omdat ek op niks anders as myself kan fokus nie?
Die ware Godvresende, Christelike geloof is nie een waarin daar plek is vir individualisme en humanisme nie. Dit is nie ’n geloof waarin God as ’n kneg gebied kan word om na ons grille en giere al ons wense te vervul nie. Dit is nie ’n geloof waarin al wat saakmaak ekself en my verhouding met Hom is nie. Laasgenoemde klink dalk edel, maar dit is onbybels en selfsugtig. Dit is nie ’n geloof waar Hy eenkant gestel word wanneer dit met my goed gaan en waar ek Hom kan nader trek wanneer die teëspoed van my swak en goddelose besluite my begin inhaal nie. Dit is ewe min iets waarop ek my kan beroem en myself gerus kan stel. Die ware Godvresende, Christelike geloof is ’n daaglikse lewenswyse. Dit is ’n lewe waarin ek nie vir myself leef nie, maar vir Hom wat Homself vir my geoffer en ook vir ander geoffer het. Dit is ’n lewe waarin ek Hom nie dien om voorspoed of iets dergeliks van Hom te ontvang nie, maar waar ek Hom dien uit dankbaarheid omdat ek reeds deur sy barmhartige soenverdienste die ewige lewe as erfenis ontvang het. En ’n lewe van diensbaarheid aan Hom beteken dat ek nie net vir myself en my eie belange omgee nie, maar ook vir ’n ander. “Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n.” (Fil. 2:4). Dit is ’n lewe waarin ek God liefhet en vir sy Skepping en ander mense omgee. ’n Lewe van diensbaarheid aan Hom is een waarin ek nie tevrede is solank as wat dit met my goed gaan nie, maar ’n lewe waarin ander se pyn, ellende en swaarkry soos my eie is omdat die liefde van God in my hart is. “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” (Gal. 6:2). Die ware Christelike geloof waarin ons vir Hom leef is een waarin dit vir ons belangriker is om Hom te gehoorsaam en volgens die riglyne van sy Woord te leef en Hom te behaag as wat dit vir ons is om ons finansiële toekoms te verseker, genoeg vakansies te hou en ’n gerieflike lewe te geniet.
Wanneer ons besef dat ons volk se geestelike ongesteldheid die kern van ons probleme is, is daar hoop op herstel aangesien ons dan die wortel van die probleem begin aanspreek. En hoe duidelik word dit nie ook vir ons in Jes. 1:4-7 bevestig nie. “Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai. Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank.Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie. Julle land is 'n wildernis, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is 'n wildernis soos by 'n omkering deur vreemdes.”
Mag elkeen van ons opnuut ons beywer om die onkruid van humanisme en individualisme in ons lewens uit te roei en ons daarop toespits om ’n lewe vir Hom – eerder as vir onsself – te leef.
“EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens.” (Rom. 12:1).