Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Droefheid volgend die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie – 2 Kor 7:10
DIE SUIWER WEG
Hannes Ollewagen
Ps. 119:9-16
“Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord. Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” (:9 & 11).
Elkeen van ons het seker al op die snelweg in en om die groot stede gery. En dan moet ’n mens mooi konsentreer, want een verkeerde afdraai kan jou op ’n totale verkeerde roete laat beland wat tot gevolg het dat jy heeltemal laat by jou bestemming sal aankom. Tewens, jy kan dalk verdwaal en by ’n totaal ander plek as jou bestemming eindig. Hierdie verwysing na ’n mens se lewe as ’n pad, die lewensweg, is daarom só gepas, want net soos ’n verkeerde afdraai op die hoofweg baie onaangename gevolge kan inhou, is dit ook met ons lewens – een verkeerde besluit kan ons lewe in ’n totaal verkeerde rigting stuur.
Dit is dan ook so in ons dae dat ons van die belangrikste besluite in die lewe moet maak wanneer ons nog jonk en heeltemal onervare is. Die keuse van ’n beroep, die keuse van ’n lewensmaat en dergelike dinge word menigmaal op ’n betreklike jong ouderdom gemaak. En hierdie keuses kan ’n geweldige impak op ons lewens hê. Maar hoe sal ons weet om die regte keuses te maak? Ons moet die regte leiding hierin volg soos wat ons onderweg na ons bestemming die regte padkaart of navigasie-sisteem sal volg. En as gelowiges het ons die groot voorreg om die leiding van ons Almagtige Vader deur sy Woord te ontvang. Ons moet egter met ootmoed hierdie leiding ter harte neem en in geloof die Weg van die Woord volg. Ons vind hierdie opdrag in Ps. 37:5. “Gimel. Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer”. En hierdie boodskap is ook uit Spr. 3:5&6 duidelik. “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”
Elkeen van ons kom op ’n daaglikse basis gereeld voor keuses te staan. En ons behoort al hierdie keuses as God se kinders aan te pak vanuit ’n beoordeling in die lig van sy Woord. Laasgenoemde is immers die lig wat ons lewenspad verlig. “U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad.” (Ps. 119:105). Dit wat sy Woord ons leer moet vir ons bepalend wees vir die keuses wat ons maak. En dit lê op ons die verantwoordelikheid dat ons sy Woord moet ken! Ons kan tog nie elke keer wanneer ons ’n keuse moet maak eers vir ure gaan sit en die Woord bestudeer oor wat die regte besluit hiervoor of daarvoor sal wees nie. Daar is inderdaad groot en gewigtige besluite wat ons moet neem waaroor ons eers behoort te bid en God moet raadpleeg en waarin ons dalk vir uitgerekte periodes in die Woord na die regte leiding sal soek. Dit beteken egter nie dat ons Hom glad nie in erkenning moet hou in die “kleiner of makliker” besluite nie. Die opdrag is tog – ken Hom in al jou weë – nie net daardie moeilike besluite wat vir jou intimiderend is nie. Dink maar aan Dawid wat ’n baie “eenvoudige” besluit t.o.v. Bátseba moes maak. Daar was tog niks ingewikkeld hieraan nie – los haar uit, want sy is ’n getroude vrou. En hoe katastrofies was dit nie bloot omdat God nie in hierdie “eenvoudige” besluit geken is nie. Dit is in ons lewens ook nie anders nie. Die Spreukedigter stel dit mooi in Spreuke 19:3. “Die mens se sotheid bederwe sy weg,...
Die teenfoeter van hierdie sotheid van die mens is die wysheid van God se Woord wat ons in ons besluitneming moet rig. En hierdie wysheid moet ons omarm en koester. Dit is daarom dat ons God se Woord moet ken sodat ons hierdie wysheid van Hom in ons harte kan bêre. “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” (Ps. 119:11). Wanneer God se Woord in ons harte gebêre is en ons ons besluite hierteen toets en daarvolgens maak, sal ons langs die weg van wysheid wandel en nie teen Hom sondig en ons weg deur ons eie sotheid bederwe nie. Namate ons kennis van God se Woord toeneem, is dit vir ons makliker om te weet wat die regte besluit in God se oë is wanneer ons voor hierdie besluite te staan kom. En wanneer ons besluite neem volgens. die riglyn van God se Woord is ons beginselvaste mense – mense wat besluite neem volgens ’n onveranderlike riglyn van reg en verkeerd. Dit is in teenstelling met die samelewing van ons tyd wat besluite maak volgens omstandighede en dit wat vir elke een in sy of haar posisie die mees voordelige uitkoms oor die korttermyn blyk te hê. ’n Mens wat omstandigheidsbesluite eerder as beginselbesluite neem se hart is met selfsug bevlek. En dan wonder ons waarom ons samelewing in wanorde verval en met soveel gemene dade gevul is. Dit is nie nodig om hieroor te wonder nie. Die Woord stel dit vir ons duidelik in Jakobus 3:16. “...want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.”
Ons leer uit die lewe van koning Dawid dat om ’n gelowige te wees ons nie daarvan vrywaar om verkeerde besluite te neem nie. Ons bly almal mense – sondige mense wat geneig is om in ons vleeslike aard ons eie weg te bederf en so ook ander baie skade te berokken al was dit dalk nie die bedoeling nie. Laat ons daarom onsself toespits om die Woord van God te ken en ons lewensbesluite op grond van die riglyn van sy Woord te maak ten einde so beginselvaste mense te wees wat ons lewenswandel in hierdie besmette wêreld suiwer hou. Hierdie is ongetwyfel dié belangrikste besluit van ons lewens aangesien daar uiteindelik net Een weg is wat tot die ewige saligheid lei terwyl daar talle dwaalweë na die ewige verderf is.
“Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is.”(Ps. 84:6)