Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy kan geen verdriet van jou afskuif asof dit jou nie aangaan nie. Jy kan leed en bekommernisse nie vermy nie, jy moet moet daardeur gaan na nuwe rus en vreugde.
BEDROG EN VERRAAD (1)
DIE WARE INLIGTINGSKANDAAL
Eschel Rhoodie
Lees reeks by Bedrog en verraad - Inligtingskandaal
"Rhoodie leef nie meer nie, en sy dood is 'n omstrede saak met verdagte omstandighede wat destyds vinnig onder die mat ingevee is - ná sy boek oor die Inligtingskandaal was sy lewe niks werd nie. Tydens die eerste poging om hierdie boek gedruk te kry, was werknemers by die drukkery besig om dit te proeflees toe Intelligensie-marionette ingestorm en die rekenaars en elke proefeksemplaar gekonfiskeer het – so bang was die NP-regering dat Rhoodie hierdie skandaal sou ontbloot. Soos in een van Murphy se wette gestel: 'As jy mense wil kwaad maak, lieg. As jy mense absoluut woedend wil maak, vertel die waarheid ' ".
Die Ware Inligtingskandaal gaan oor propaganda-oorlog, politieke bedrog, verraad, lafhartigheid, moed en liefde; oor onbedagte en kwaadwillige joernalistiek, die misbruik van regeringsmag en van administratiewe terrorisme. Dit is 'n storie van gewetenlose, selfsugtige individue, nie almal politici nie, van buitelandse beleidsrampe en van blinde vertroue en idealisme. Dit is ook 'n verhaal van politieke sluipmoorde en Suid-Afrika se eerste staatsgreep. Dit mag alles na fiksie klink, maar dit is nie so nie.
Aan Suid-Afrikaners is deur die regering van mnr. P.W. Botha, sy agentskappe en die pers vertel dat die Inligtingskandaal ontstaan het omdat miljoene rand van belastingbetalers se geld in die geheim na die buiteland gekanaliseer of in Suid-Afrika uitbetaal is, nie slegs om die beleid van die Nasionale Party te propageer nie, maar om individue te verryk — alles sonder. die goedkeuring of wete van die Parlement, van mnr. P.W. Botha, of enige lid van sy kabinet. Die politieke "konsensus" wat deur mnr. P.W. Botha geformuleer is, was dat drie manne al die verantwoordelikheid moes dra: dr. C.P. Mulder, destyds Minister van Binnelandse Sake en Inligting, en Leier van die Nasionale Party in Transvaal, generaal Hendrik van den Bergh, hoof van die Buro vir Staatsveiligheid en ek, as Sekretaris van Inligting. Niemand anders het enige verantwoordelikheid gehad nie, nie eers onregstreeks nie, aldus mnr. Botha.
Die eerste tekens van die skandaal is deur "pligsgetroue, ondersoekende joemalistiek" aan die kant van die pers blootgelê en deur die ewe pligsgetroue werk van die Ouditeur-generaal, my voorganger. Altans, so het die pers dit vertel. Daarby het al hierdie pligsgetroue ondersoekers geen ander motief gehad nie behalwe om die publiek daaroor in te lig, en die betrokke owerhede op hoogte van sake te bring. Na afloop van alles, toe meeste van die geheime projekte in flarde op die grond gelê het, het al hierdie pligsgetroue joemaliste en ondersoekers ewe vroom die immoraliteit van die hele plan betreur.
Aan Suid-Afrika is vertel dat toe besonderhede van die geheime projekte die eerste keer na die pers begin uitlek het, dr. Mulder, generaal van den Bergh en ekself, wat vir die geheime projekte verantwoordelik sou wees, 'n massiewe poging aangewend het om die geheimhouding te bewaar, en verdere onthullings van al die ongerymdhede te voorkom.
Aanvanklik het persdekking van die dreigende skandaal byna dié van Wêreldoorlog II ge-ewenaar. Later is Wereldoorlog II heeltemal in die skadu gestel nadat 'n onafhanklike kommisssie van ondersoek, wat deur die destydse Staatspresident, mnr. John Vorster aangestel is, ná maande van aanhoor van getuienis in strengste geheimhouding, drie verslae gepubliseer het wat blykbaar persberigte van die skandaal bevestig het. Die verslae het skynbaar ook die klinkende verontskuldigings van mnr. P.W. Botha en sy nuwe regering, dat hulle nooit, ooit betrokke of ingelig was nie, nie eens onregstreeks nie, onderskraag.
Die eerste verslag van die sogenaamde Erasmus-Kommissie het die Staatspresident, mnr. Vorster, onskuldig bevind. Nadat die kommissie egter in sy derde, en laaste, verslag 'n regsomkeer ongekend in die geskiedenis van Suid-Afrika uitgevoer het, moes ook mnr. Vorster oneervol bedank.
Sommige nuusblaaie het kwalik moeite gedoen om hulle oortuiging te verbloem dat dr. Robert Smit, Suid-Afrika se voormalige verteenwoordiger by die Intemasionale Monitêre Fonds, en sy vrou vermoor is omdat hy uitgevind het dat die Departement van Inligting onder 'n dekmantel miljoene rande van staatsfondse na geheime Switserse bankrekenings oorgeplaas het. By Pretoria se deftige Menloparkse Hoërskool het die kinders rondgefluister dat generaal van den Bergh instruksies aan "Boss" gegee het om dr. Smit dood te maak toe hy die geheim ontdek het.
Aan Suid-Afrikaners is tereg vertel dat die Parlement nooit die bedrag van R75 miljoen wat by die geheime inligtingsprojekte betrokke was, goedgekeur het nie. Ook dat twee persone, dr. Mulder en ekself, op een of ander wonderbaarlike geheimsinnige manier hierdie fondse uit 'n ander staatskoffer verkry het: naamlik, die geheime rekening van die Departement van Verdediging, maar sonder dat die betrokke Minister (mnr. P.W. Botha,) geweet het waarheen die geld gegaan het en waarvoor dit gebruik is. Wat nog erger was, so is aan almal vertel, is die feit dat hierdie yslike fonds onreëlmatig, onoordeelkundig, en selfs roekeloos bestee is, sonder inagneming van die reëls en regulasies van die Tesourie. Dit was "skandalig" en "immoreel".
"Selfs in oorlogstyd", het mnr. Alwyn Schlebush, destydse Minister van Binnelandse Sake gemoraliseer, "is daar reëls en regulasies wat geld". Niemand het dit blykbaar ooit aan die Britse bevelvoerders van konsentrasiekampe in die Boereoorlog vertel nie. Ook nie aan die Nazis en Japannese in die Tweede Wêreldoorlog nie. Ook nie aan President Roosevelt van die VSA nie toe hy 120,000 Amerikaanse burgers wederregtelik in tronke gestop het bloot omdat hulle Japannese afstammelinge was. Indien mnr. Schlebush die koue oorlog bedoel het wat deur die groot moondhede gevoer word ten einde die denke van mense te beheer, en ten einde hulle invloed na ander nasies uit te brei, dan het hy nie so gesê nie. Dit is ook maar goed want anders was sy verklaring selfs nog meer belaglik soos hierdie boek sal bewys.
Aan Suid-Afrikaners is vertel dat miljoene rand "verlore geraak" het of eenvoudig "vermors" is. Op instruksies van die kabinet, het die Minister van Buitelandse Sake, mnr. R.F. (Pik) Botha, die koerant Rapport amptelik ingelig dat mnre. Mulder en Rhoodie nie minder nie as R60 miljoen van die belastingbetaler se geld verkwis het en in die proses Suid-Afrika slegs skade berokken het, sonder om enige sukses te behaal. Hoe 'n mens ookal na die stelling kyk, dit is eerrowend en lasterlik indien dit nie duidelik bewys kan word nie.
Die storie is in die koerante vertel dat toe dit lyk asof diegene wat vir die "misbruik" van geheime staatsfondse verantwoordelik was daarin gaan slaag om hul werk "toe te smeer", verskeie helde (sic) na vore gekom het om Suid-Afrika van verdere en toekomstige rampspoed te red: 'n Advokaat van Pretoria, Relief van Rooyen; Gerald Barrie, destyds Ouditeur-generaal; J.F. (Koos) Waldeck, Inligting se vorige Hoof van Administrasie; eertydse Regter Anton Mostert en moedige, vindingryke verslaggewers soos Kitt Katzin van The Sunday Express en andere wat deur "skitterende, vreeslose, en vlymskerp ondersoekende joernalistiek" die hele geheime besigheid oopgevlek het.
Dit is wat aan Suid-Afrika in die Parlement, in die pers en oor die radio en televisie vertel was.
Die hele beginsel van geheime kommissies van ondersoek is op die spel geplaas toe mnr. P.W. Botha vir mnr. Rudolph Erasmus, 'n redelik onbekende Regter van die Hooggeregshof van die Oranje-Vrystaat (en voorheen regsadviseur vir die Nasionale Party in die Vrystaat) aangestel het om 'n driemanskap-kommissie van ondersoek te lei om die aantygings van "onreëlmatige" gebruik van staatsfondse deur die Departement van Inligting te ondersoek.
Tegnies gesproke is hy deur die destydse Staatspresident, mnr. Vorster aangestel, maar dit is algemeen bekend dat Kommissarisse in die praktyk deur die Eerste Minister aangewys word. Wetlik gesproke is so 'n Kommissie slegs 'n verlengstuk van die regeringsapparatuur.
Twee amptenare van mnr. Botha se staatsdiens, adv. Braam Lategan en adv. George Smallberger, was die ander deel van die trio wat as die Erasmus-kommissie bekend geword het. Hulle bevindinge het in die sogenaamde Erasmus-verslae verskyn. Daarvolgens het mnr. P.W. Botha, dr. Owen Horwood en ander senior Ministers, soos dr. Piet Koornhof en generaal Magnus Malan niks van enige onreëlmatighede wat deur Inligting in die geheim gepleeg is geweet nie. (Na afloop van alles is adv. Lategan deur mnr. Botha se Minister van Justisie tot die amp van Regter verhef, teen die wense van baie in die regsgemeenskap, en het mnr Smallberger afgetree).
D Mulder, generaal van den Bergh, ekself en laaste, maar nie die minste nie, mnr John Vorster, is egter almal teen die muur geplaas. Niemand anders is selfs indirek verantwoordelik gehou nie. Nie eens die minister, mnr P W Botha, wie se begroting die geheime fondse versteek het nie. Daar was net die geseëndes en die gedoemdes. Net diegene wat geweet, of nie geweet het nie. Die feit dat dr. Mulder vir mnr. P.W. Botha in die verkiesing van 'n nuwe Eerste Minister teengestaan het, en dat mnr. Botha generaal van den Berg gevrees en verpes het, is deur die pro-Botha pers ligtelik as "blote toeval" afgemaak.
Toe die ondersoek sy hoogtepunt bereik het, is aan die wêreld verkondig dat ek "landuit gevlug" het. Nie net 'n eenvoudige, maklike vasstelbare onwaarheid nie, maar 'n leuen, net so kwaadwillig as 'n latere een dat ek "weggekruip" het.
Die kerntema waarop die Erasmus-trio gedurende hulle geheime ondersoek gehamer het (waar advokate wat die "beskuldigdes" verteenwoordig het verhoed is om die verrigtinge te versteur deur ongemaklike vrae te stel) was deur dr. Mulder en ek, bygestaan deur generaal van den Bergh, sonder die medewete van die Parlement, die Kabinet of die destydse Eerste Minister, wat wêreldwye geheime propaganda veldtog geloods het sonder die gerings besorgdheid oor moraliteit, reëls en regulasies. The Citizen, is volgens hul daar gestel vir die duidelike doel om die Nasionale Party (sic) te dien. Daarvolgens het senior amptenare van die Departement van Inligting (ek inkluis) plesierritjies na die Seychelle-eilande, Los Angeles, Wimbledon, die Griek Eilande en elders onderneem— met vroue en al — op koste van die belastingbetalel. Die hele besigheid het geruik na 'n sameswering om te bedrieg en om enkelinge te verryk, en sommige wat vertrou is "het hulle sakke gevul", het die Erasmus Kommissie ten slotte beweer.
Terwyl dit die algemene indruk was wat die Erasmus-verslae by die leser gelaat het, het die regering van mnr. Botha en die pers, by uitstek koerante in mnr. Botha se politieke kamp, soos Beeld en Die Burger, 'n ander gewigtige bevinding in die Erasmus-verslag sterk na vore gebring, 'n duistere politielke komplot. Dr. Mulder, ek en generaal van den Bergh het glo in werklikheid as soort onheilige troika saamgesweer om die leisels van mag onder 'n konserwatiewe premierskap van Connie Mulder oor te neem. As vergoeding (sic) sou ek Minister van Buitelandse Sake word. (Die bevinding was op die getuienis van slegs een persoon, advokaat Retief van Rooyen, intieme vriend van mnr. R.F. Botha, gebaseer.) Generaal Hendrik van den Bergh was by hierdie troil ingebondel lank voordat sy eie ondersoek, soos deur die kabinet opgedra voltooi was, maar dit het Regter Erasmus of mnr. P.W. Botha skynbaar gladnie gepla nie.
Die skade wat deur Die Groot lnligtingskandaal veroorsaak is, was nogal aansienlik.
Ek het, op eie versoek, in Junie 1978 met pensioen afgetree en hierdie boek is presies vyf jaar na daardie datum oorsee voltooi. Op daardie stadium in 1978 het my drie adjunk-sekretarisse ook reeds vertrek: dr. Denys Rhoodie op pensioen om die opposisie in die Parlement te sus; Les de Villiers omdat mnr. Vorster via advokaat Retief van Rooyen voorgestel het dat hy betyds moet padgee; en Koos Waldeck omdat so is beweer, hy die man was wat die Ouditeur-generaal omtrent die onreëlmatighede in die departement gewaarsku het. As beloning vir sy "dapperheid, eerlikheid en pligsgetrouheid", om The Sunday Express oor die man aan te haal, is hy deur my ontslaan. So het die Erasmus-kommissie dit ook voorgestel. My ander broer, dr. Nico Rhoodie, professor in Sosiologie vir baie jare aan die Universiteit van Pretoria, wie ook hoof was van 'n uitstaande navorsingsinstituut aan die Universiteit wat in die geheim deur die Departement van Inligting gefinansier is, het bedank. Die Rektor van die Universiteit, Professor Eddie Hamman wat alles van die geheime finansiering geweet het, het nie bedank nie. Hy, net soos mnr. P.W. Botha en die ander, het ook beweer dat hy glad nie van enige ongerymdhede bewus was nie — nie eers indirek nie. Sy ontkenning was simptomaties van 'n nuwe hoogs aansteeklike siekte, kollektiewe geheueverlies, wat veral politici en staatsamptenare tydens die Erasmus -kommissie se ondersoek getref het.
Voordat die Erasmus-kommissie hulle eerste verslag voltooi het, is my paspoort teruggetrek. 'n Paar maande later is ek in Frankryk gearresteer, in die tronk gestop, verhoor, uitgelewer aan Suid-Afrika, weer opgesluit en voor die hof gesleep. My bates was vir meer as twee jaar deur die staat bevries, selfs geld wat my vrou wettiglik buite gemeenskap van goedere geêrf het, is teruggehou. Sonder dat enige rede ooit verstrek is, is my vrou se paspoort van haar weggeneem (in die middernagtelike ure op eg Gestapo wyse) wat haar verhoed het om haar by my of haar enigste seun, wat Suid-Afrika verlaat het om hom by sy vader aan te sluit, te skaar. Ook haar paspoort is ingetrek lank voordat die Erasmus-kommissie hulle eerste bevindinge aan die President, mnr. Vorster, voorgelê het.
Dr. Connie Mulder, die algemeen erkende kroonprins van die Nasionale Party, is gedwing om uit die Kabinet, die Parlement en die Nasionale Party te bedank, omdat, so het mnr. P.W. Botha beweer, dr. Mulder vir die Parlement oor die rol van die staat in die fmansiering van The Citizen gelieg het. Mnr. Botha het manmoedig belowe dat hy en sy hele kabinet ook sal bedank as daar bewys kan word dat enigeen van hulle van die geheime program bewus was. Later, toe lastige vrae deur die opposisie-pers gestel is, het hy dit verander na "enige onreëlmatighede" wat deur die departement gepleeg is. Wat nou juis as "onreëlmatighede" in die ideologiese en propaganda-oorlog gegeld het waarby Suid-Afrika betrokke was, het mnr. Botha wyslik aan die Erasmus-trio oorgelaat. Nie een van dié drie het ooit oorsee diens gedoen nie, of intemasionale kommunikasie bestudeer, of navorsing oor geheime propagandaoorlogvoering gedoen nie, maar dit het mnr. Botha nie gehinder nie.
Generaal Hendrik van den Bergh het effektief bedank op die dag voor mnr. P.W. Botha Eerste Minister geword het. 'n Opdrag het gevolg dat die generaal geheel en al deur sy voormalige departement en ander instansies verstoot moes word. Die pro-van-den-Bergh-manne is dwarsoor die aardbol versprei en het ook nie vir bevordering in aanmerking gekom the. Suid-Afrikaanse Ambassades oorsee is beveel dat generaal Van den Bergh nie deur enige Ambassadeur ontvang mag word nie. (Voor in die paspoort van elke Suid-Afrikaner versoek die Staatspresident dat "die draer alle nodige bystand en beskerming moet ontvang".) Die Departement van Inligting is ontbind en is met die inlywing daarvan by die Departement van Buitelandse Sake, na 'n ondergeskikte posisie afgeskuif. Alle amptenare wat beweer het dat ek nie van hulle gehou het nie is bevorder, selfs diegene wie se eie kollegas hulle destyds in skriftelike evaluerings, wat tnie deur my opgestel is nie, so onbekwaam geag het dat hulle toekomstige bevordering in die Departement uitgesluit was.
Vele bewese en verdienstelike geheime projekte het in die slag gebly. Met ongeêrgde verontagsaming van die gevolge het die Erasmus-trio dit goedgedink om 'n einde aan 'n duur, uiters suksesvolle geheime projek te maak, nie op grond van finansiële onreëlmatighede nie, maar hoofsaaklik omdat die direkteur skynbaar ook 'n oog vir 'n mooi meisie gehad het. Gewis 'n maatstaf wat ook vir Johnson en Kennedy as Amerikaanse presidente, en vir Giscaird d'Estaing, as President van Frankryk, sou laat sneuwel het!
In die intemasionale gemeenskap het Suid-Afrika 'n voorwerp van bespotting geword terwyl die Erasmus-kommissie en die regering deur hul kronkeling van politieke nudisme gegaan het. Invloedryke persone wat baie jare hard gewerk het om Suid-Afrika se moeilike saak oorsee te bevorder, het ondergronds gegaan om nooit weer te voorskyn te kom the.
My persoonlike stryd teen die staat het twee jaar geduur en my R90 000 gekos. Uiteindelik, in Oktober 1980, het die land se hoogste hof eenparig uitspraak in my guns gelewer, die staat se aantygings in sy geheel verwerp, en 'n einde gemaak aan wat ek as politieke vervolging beskou het.
Die Suid-Afrikaanse gemeenskap was ontstoke oor wat aan hulle vertel was, en tereg ook. Redakteurs en joernaliste het op hul borse geslaan. 'n Stralekrans het eensklaps om elke politikus se kop verskyn. Die gebeure het Die Groot Inligtingskandaal geword. Die vuil wasgoed van 'n "voormalige" administrasie. Die nuwe administrasie het 'n wit mantel gedra, voorsien met die komplimente van die Erasmus-kommissie, en nuwe standaarde van politieke moraliteit is voorgeskryf. Na twee jaar het die regering van mnr Botha, slaafs na ge-aap deur hoofartikels in die Afrikaanse pers, die skandaal "dood en begrawe" verklaar.
Waarom u hierdie reeks moet lees?
- Omdat daar leuens aan u vertel is.
- Omdat u deur mnr. P W Botha en ander lede van sy kabinet gruwelik mislei is ten opsigte van wat werklik gebeur het.
- Omdat die Erasmus-kommissie in 'n skreiende verkwisting van openbare fondse, 'n yslike flater gemaak het deur mnr Botha en sy hele kabinet van blaam te onthef.
- Omdat u deur verslae in die pers mislei en waningelig is – dikwels opsetlik.
- Omdat u in die duister gelaat is.
- En omdat daar 'n lelike toesmering van die ware Inligtingskandaal was.
Vervolg...