Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hy genees dié wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde – Ps 147:3
WIE WAS BOSS? (6)
DIE SMIT-MOORDE (SLOT)
"Ek is Deon Preuyt van BOSS," sê 'n man en wys sy identiteitskaart aan 'n lid van die uniformtak by die hek waar hy voorgekeer word.
"Wie wil jy sien?"
"Wie is in bevel?"
"Dis kolonel Verwey, CE Smit en kaptein Nicholson."
Maar uiteindelik is Preuyt toe saam met speurder Glen Edwards na Robert Smit se kantoor waar hulle die ondersoek voortgesit het. Afgesonder van die groot lessenaar en 'n paar gemakstoele, het die ruim kantoor die gewone grys staatskabinette, 'n tweede tafel en stoele en 'n muurhorlosie gehuisves. Teen die agterste muur was geraamde sertifikate en toekennings. Aan die symure was NP-plakkate. Anders as in die studeerkamer van Smit se huurhuis was die boeke, dokumente en lêers op hierdie lessenaar netjies gerangskik. Alles het in orde gelyk.
Edwards het na die lessenaar gestap en die oop leergebonde dagboek langs die telefoon gesien. Toe hy mik om dit nader te trek het Preuyt sy hand uitgesteek. Die speurder het Preuyt se arm vasgegryp en dit teen die tafel gedruk terwyl die twee mans mekaar aangluur.
"Dis 'n polisiesaak hierdie," het Edwards gesê".
"Wel, dit stink na die ANC," het Preuyt geantwoord terwyl hy sy arm wegruk, "en dit is my spesialiteit."
"O, verseker, dit stink, en dít is mý spesialiteit. Ek is nie seker wat jý soek nie maar ek is hier om 'n motief en verdagtes te kry." "Dan is ons om dieselfde redes hier," het die man van BOSS gelieg.
"Goed, dan vat ek die lessenaar en jy kan die kabinette vat."
Preuyt moes maar hiermee inval en het met die eerste kabinet begin.
Edwards het die dagboek opgetel. Dit was oop by 21 en 22 November 1977. Die eerste inskrywing op die 22e was by 09:00, met die naam "Dr Boshoff" daarby ingeskryf. Die res van die inskrywings het niks buitengewoons aangedui nie, en die laaste inskrywing in Smit se eie handskrif was langs 20:00, "McDougall". In potlood langs die naam en tussen hakies het Smit geskryf "Sharp!". Edwards het omgeblaai na Saterdag 26 November en daar was 'n enkele inskrywing langs 10:00 : "Vorster – finale verslag." Vier dae later is 'n streep oor die hele bladsy getrek en gemerk : "Stemdag!"
Op 'n noodvergadering van die kabinet is Van den Bergh om sy professionele mening gevra.
"Dit kan die eerste van nog beplande aanvalle op lede van die regerende party wees," het hy gewaarsku. "My manne werk ten nouste met die polisie saam om hierdie verskiklike daad te ontrafel. Intussen is dit egter noodsaaklik dat ons wal gooi teen bespiegelinge."
Intussen het Edwards oor die polisieradio met Nicholson gepraat en toe na die Springspolisiekantoor gery. Preuyt is agterna en hulle het Nicholson in die aanklagkantoor gekry waar die moorddosier geregistreer is.
"Het die kantoor iets opgelewer?" wou hy weet.
"Stukkies en brokkies," het Edwards geantwoord. "En die forensiese afdeling?"
"Hulle het 'n vingerafdruk op 'n bierbottel gekry."
"Dis fantasies, al wat ons moet doen is om uit te werk wat hierdie RAU TEM beteken en ons het ons moordenaars!"
Preuyt het seker gemaak hy onthou die gesprek tussen die twee speurders...
Daardie aand het Van den Bergh vir Sharp ontmoet. Sharp wou nie erken hy het verbrou nie. Die Smits was dood en die allerbelangrike aktetas is verwyder. Ook die afskrifte van Smit se verslae is in sy studeerkamer ontdek en hy was oortuig hy het goeie werk gedoen al het hy bietjie meegevoer geraak met die RAU TEM-skrywery.
"Jy het gesê net die twee van ons ken die betekenis van RAU TEM," het hy aan Van den Bergh gesê.
"Het ek jou gevra om dit te toets?" wou Van den Bergh steeds omgekrap weet. "En vertel my van die bierbottel. Die polisie het 'n vingerafdruk gekry."
"Ek is seker jy kan 'n plan maak," het Sharp gesê.
"Jy begin droogmaak," het Van den Bergh gewaarsku, die swart sak met die aktetas, lêers en afskrifte by Sharp gevat en huistoe gery.
Die Smit-moorde het in Suid-Afrika en in die buiteland die voorblaaie gehaal. Die grusame besonderhede het al die tekens van 'n hardvogtige daad met 'n sinistere motief gehad. Selfs Suid-Afrikaanse burgers wat gekondisioneer was om alles op die ANC te pak, het van beter geweet. In Lusaka het 'n hoë ANC-amptenaar gesê die organisasie kon niks baat by so 'n sinlose daad nie en het enige verbintenis met die moorde ten sterkste ontken. Robert Smit se broer Jan het 'n beloning van 6 000 pond aangebied vir inligting wat tot die inhegtenisname en skuldigbevinding van die moordenaars sou lei.
Maar dit was die kriptiese RAU TEM wat eintlik die verbeelding van die lesers gaande gemaak het. Leuenstoel- en amateurspeurders het hard probeer om die raaisel op te los. Baie het geglo die een wat dié kode ontsyfer sou die beloning kry en op die koop toe van sy plek in die geskiedenisboeke verseker wees. Een teorie was dat RAU gestaan het vir Revolutionary African Unit en sy tien (TEN) lede, maar dit het nie juis water gehou nie. Toe duik die spook van Verwoerd se moordenaar, Dimitri Tsafendas, weer op. Sommige het gemeen die grusame moorde stem ooreen met die moorde op Hollywood-glansmense wat Charles Mason in 1969 gepleeg het. Ander het gesê die moorde herinner aan die rolprent Helter Skelter waar die slagoffers ook geskiet en gesteek is.
Nader tuis het sommige gefluister dat Robert Smit korrupsie in die regering ondersoek het. Dié gerugte het koue rillings by meer as een senior regeringslid veroorsaak.
Nicholson en Edwards het voorgeploeter met hul BOSS-stertjie getrou agterna en historici en deskundiges is ingeroep om die kriptiese leidraad te ontleed. Daar is beweer die woord het ook in Ovamboland in Suidwes-Afrika opgeduik. In 1974 is dit gebruik deur die ultra-regse vleuel van die Scorpio-bende aan die Universiteit van Kaapstad. In 1976 is die woord op 'n muur gesien nà die teregstelling deur 'n vuurpeloton van Costas Georgiou in Angola, 'n wreedaardige huursoldaat. Niemand buite BOSS het geweet dat Van den Bergh van Georgiou, met sy sterk bande met die ANC in Angola, gebruik gemaak het nie. Die woord is ook in 'n kerk in Kaapstad gesien wat later tot op die grond afgebrand is.
Om ten minste 'n mate van perspektief te kry, het die media daarin geslaag om baasspeurder genl Hendrik van den Bergh uit te vra. Net weke tevore het die hoof van BOSS immers beweer: "Niks gebeur in Afrika sonder dat ek daarvan weet nie."
Gevra oor die Smit-moorde en RAU TEM, het Van den Bergh egter gesê hy het geen idee wie verantwoordelik was of wat die vreemde letters beteken het nie.
Vrydagoggend 25 November het kapt Nicholson vroeg by die Springs-polisiekantoor aangekom. Die dagskof het pas van die nagskof oorgeneem. Die deurwinterde polisieman het gou gesien daar was die een of ander iets aan die gang tussen die twee groepe.
"Niemand kan die sleutel na die bewysstukkamer kry nie," het 'n jong konstabel verduidelik.
"Wie het laas die SAP 13-register gebruik?" wou Nicholson weet.
"Dis deel van die probleem, die register is ook weg en die kamer is gesluit," het 'n sersant gesê.
"Bring die staalsnyer en sny oop die deur. Ek het 'n verskriklike gevoel maar ek hoop ek is verkeerd," het Nicholson gesê.
Natuurlik was die bewysstukke van die Smitmoorde skoonveld. Die dagboek en die bierbottel waarop die vingerafdruk gevind is was weg.
In 'n ander dagboek in 'n ander gebou was 'n lang man besig om te skryf:
DATUM: 22 November NAAM: Robert Smit RAU TEM Vermoor
(Jeanne-Cora)