Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As gelowige ervaar ek alles as genade. Dis nie eens asof Christus 'n deur oopgesluit het en ek my hand moet uitsteek en die knop moet draai en ingaan nie. Ek staan alreeds aan die binnekant!
WANDEL MET GOD ONDER ALLE OMSTANDIGHEDE
DS A.E.VAN DEN BERG
“En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem” (Gen.5:24).
Ek stap graag deur begraafplase, lees van die grafskrifte en wonder hoe die betrokke persoon dood is. In Sept.1995 was ek bevoorreg om in een van die oudste grafte in die wêreld te staan; dié van Toetankamon in die vallei van die konings in Egipte. Dis meer as 3200 jaar oud. Toetankamon was slegs 9 toe hy Farao geword het en is op 19 oorlede. Wat sy graf so besonders maak, was dat dit eeue lank ongeskonde bewaar gebly het.
Ek verplaas u in die gees na 1922 in Egipte. Die argeoloog Howard Carter soek toe al vir meer as 10 jaar na die graf van Toetankamon in die vallei van die konings. Net toe hy wou tou opgooi, ontdek hy dit met die gebalsemde liggaam van die jongman met waardevolle skatte – edelgesteentes, goud, meubels ens.
Carter se opspraakwekkende fonds het soos ʼn skokgolf oor die wêreld getrek en die geskiedenis van die Egiptiese argeologie verander. Nadere ondersoek het getoon dat die jong koning se oorskot merkwaardig goed bewaar gebly het weens balseming. Dit bewys dat die mens eeue gelede al met die doodsgedagte geworstel en ʼn teenvoeter daarvoor probeer vind het.
Die Egiptenare het geglo dat as liggaamsverderf gekeer kon word, die mens ʼn greep op die dood sou verkry en het daarom liggame deur kundige aptekers laat balsem. Hoe verkeerd was hulle nie! Daar is vir alles op die aarde ʼn antwoord en oplossing, behalwe vir die dood; iets wat die Egiptenare glad nie verstaan het nie. Desondanks het hulle geweet dat daar wel lewe na die dood was.
Die jong Toetankamon het ook geweet dat alles bo-op die aarde verganklik was. Miskien het hy ʼn voorgevoel gehad dat hy nie ou bene sou maak nie. Egipte was berug vir opstande, oorloë en paleisrewolusies. Gevolglik was koningskap ʼn uiters gevaarlike werk! Daarom het Toetankamon besluit om, siende dat alles op die aarde so deurmekaar was, vir hom ʼn huis onder die grond te laat bou. Dit sou vir 3200 jaar onaangeraak bly, skatte en al.
In hierdie 32 eeue het daar baie dinge bo op die grond gebeur – oorloë is geveg, beskawings het gekom en gegaan, epidemies het miljoene lewens geëis ens. Toe kom 1922 met die ontdekking van ʼn huis wat deur ʼn dooie bewoon is. Alles presies net soos 32 eeue gelede ingerig. Die eienaar se liggaam het nie vergaan nie, sy meublement, skatte en kosbaarhede was op dieselfde plek. Desondanks was hy dood. Die aptekers kon slegs die verderf van die liggaam keer, maar nie onverganklikheid vir die siel bewerkstellig nie.
Lank voor Toetankamon se tyd het mense al besef dat die lewe verganklik is. Om liggame te balsem, huise onder die grond te bou of wat ook al, kon die mens nie ʼn greep op verganklikheid gee nie. Gen.5 staaf hierdie waarheid. Dit vertel die verhaal van die verganklikheid van die aartsvaders; mense wat bitter oud geword het. En aan die einde van elkeen se lewe staan daar geskryf en hy het gesterwe, ʼn refrein wat agt keer herhaal word.
Die ontsettende hoë ouderdomme gryp ʼn mens aan: Adam (930), Jered (962) en Metusalag (969). Min mense word vandag 100 jaar oud. Hier lees ons van mense wat byna 1000 jaar oud geword het! Hulle moes baie sterk gewees het en waarskynlik nog iets van die skeppingskrag in hul are voel bruis het. Nogtans laat die Bybel nie na om te sê dat hulle wel gesterf het nie. Waarom nie? Omdat die loon van die sonde die dood is!
Almal stap die pad van die dood – of jy 19 jaar oud is soos Toetankamon of 969 soos Metusalag. Of jy gelowig is soos Abraham, Dawid en Paulus of ʼn heiden soos Nimrod, Manasse en Belsasar. Die dood is die loon van die sonde wat koppe afsny al dra dit krone. Net eenmaal lui die doodsklok nie: “En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem”.
Ons is huurders van die lewe en God die Eienaar. Hy kan die huur enige tyd opskort. Met die dood hou ʼn mens nie op om te bestaan nie. God neem jou net na ʼn ander bestemming met ʼn eie bestaanswyse. Vir gelowiges is dit die paradys en vir ongelowiges die doderyk. Met die kruisiging sê ʼn misdadiger vir Jesus: “ ... Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk.23:42). In Luk.16 maak die onbekeerde ryk man sy oë in die doderyk oop.
Die dood is ʼn verpligte verplasing; van die tydelike na die ewige. Jesus sê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings..... Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Joh.14:2,3).
God kom haal sekere mense soos Henog vroeg; ’n jongman van 365 jaar oud. In ag genome dat mense destyds tot 900 jaar oud geword het, was Henog in vandag se terme so ʼn rapsie jonger as 40 jaar!
Sy vroeë heengaan is nie belangrik nie eerder die woorde: “En Henog het met God gewandel”. Dit gaan nie oor die wondergebeure dat hy lewend in die hiernamaals opgeneem is nie maar dat sy lewe in moeilike omstandighede God behaag het. In Gen.6 lees ons: “ Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart. En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het”(:5-7). Henog het, te midde van die verwording van die mensdom sy lewenspad skoon gehou en God enduit gedien.
Gen.5 herinner ons dat die dood vir elkeen van ons in aantog is en niemand dit ontsnap nie al word hy 1000 jaar oud! Gen.5 roep ons op die Here betyds te vind. Eeue later pleit Jesaja by ʼn wederstrewige volk wat geleef het asof hulle nooit geoordeel sou word en sterf nie: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jes.55:6). Gelowiges wat sterf, is nie weg nie. Christus het hulle slegs van rigting laat verander. Hulle is nie soos blomme wat doodgegaan het nie. Die hemelse Tuinier het hulle net buite ons gesigsveld in ʼn ander beddings oorgeplant om daar nog mooier te blom. Dit maak van die dood nie ʼn terminus nie, maar eerder die oplaaipunt na die Paradys en latere Nuwe Jerusalem.
Omdat Henog met God gewandel het, het hy rimpels in die poel van die lewe gemaak. Daarom staan sy naam in die Bybel opgeteken. Mag God gee dat jou geloofslewe so sal skitter, dat die rimpels wat jy in die poel van die lewe maak, lank na jou dood steeds opgemerk sal word!