Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Net om God se verborge raad gelowig te aanvaar is reeds suiwer genade; te midde van vrysinnige teoloë, moderne ketters, en hedendaagse sogenaamde nuwe hervormers.
VERKRY DIE EWIGE LEWE
Ds A.E. van den Berg
“Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie” (1Joh.5:12).
TV berigte is deesdae vol oorlogsberigte. Die verwoeste infrastrukture en menselyding ontroer enige mens. Wat sou gebeur indien ʼn bom hierdie gebou nou sou tref en ons is almal dood? Waarheen gaan ons siele? Na die ewige heerlikheid of na die ewige verderf?
Dit bring ons by die vraag: Wat laat sekere mense ewige heerlikheid en ander ewige droefheid na hul dood ervaar? Wat bepaal dit? Is dit dalk getroue kerkgang? As dit so is, is ons almal in die paradys. Ongelukkig werk dinge nie so nie. Om die ewige saligheid (paradys) te betree, moet jy ʼn toegangskaartjie hê, iets waarvan die teksvers praat – jy moet Jesus hê.
Hoe gebeur dit? Deur die bekering. Die bekering plaas jou in ʼn saligmakende verhouding met Jesus en verander onsekerheid oor die lewe ná die dood na sekerheid en ʼn vreugdevolle, ewige eindbestemming.
Kan ʼn mens ooit 100% van redding seker wees of is dit maar ʼn geval van doen jou bes en hoop vir die res. Nee, ons kan van alles in die lewe onseker wees, maar nie waar ons die ewigheid gaan deurbring nie. Ons moet net die regte pad volg. As jy Kaapstad, Upington of Port Elizabeth toe wil ry, kan jy verskeie paaie daarheen neem. Die ewige heerlikheid het egter net een pad en loop oor Jesus. Hy sê: “... Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie”(Joh.14:6). Daar is nie ʼn pad oor Allah, Boeddha of enige ander afgod nie; slegs oor Jesus. As jy deur die bekering in ʼn verhouding met Jesus kom, het jy die ewige lewe.
Baie mense meen dat die ewige lewe eers met die laaste uitblaas van jou asem in aanvang neem. Nee, toe jy tot bekering gekom het, het jy dit reeds ontvang. “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie”. Dis nie iets na die dood gebeur nie maar voor die dood!
Die pad na die ewige heerlikheid is vol slaggate van sonde. Satan gebruik dit om gelowiges aan hul eindbestemming te laat twyfel. Wat maak ons met sulke sondes? In die OT het mense offerdiere vir versoening vir hul sonde laat slag en drie dinge geweet. Eerstens dat sonde gestraf moet word. Tweedens dat God genadig is en vergewe. Derdens dat iets moes sterf om hul sonde namens hul te dra. “En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Hebr.9:22).
In die NT het gelowiges nie meer diere gaan offer nie. Die offerdier was ʼn voorafskaduwing van Jesus se komende volmaakte offer. Waarmee word sonde dan versoen? Met sondebelydenis voor Jesus . Daarmee neem Hy die straf van sonde op Hom, neem die skuld weg en herstel die gebroke verhouding met God.
Soos wat diereoffers in die OT slaggate op pad na die ewige heerlikheid opgevul het, vul Jesus dit na sy dood met sy eie bloed op. “.... en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Joh.1:7).
Dit kan egter net gebeur as ons besef hoe groot ons sonde is. Net die Heilige Gees kan ons daarvan oortuig. Luister na Dawid in Ps.32: “Welgeluksalig is die mens aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie. Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer ..... want u hand was dag en nag swaar op my .... My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe”.
Dink ook hier aan die verlore seun wat sy erfporsie ontvang het en jollifikasie daarmee gaan hou het. Dis mos die lewe! Altans, so het hy gedink. Toe alles spandeer is en hy ʼn varkoppasser word, het hy tot besinning gekom. “Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u...” (Luk.15).
Wat laat ʼn mens na God terugkeer? Die werking van die Heilige Gees wat jou van sonde en ongeregtigheid oortuig. Mense sê dikwels dat hul sonde te groot is om te vergewe. Ek sou hul graag na Golgota toe na ʼn moordenaar aan ʼn kruis wou neem wat vergifnis en die ewige lewe daar ontvang het. God se genade is nie beperk nie. Die deur na die ewige lewe staan vir elkeen oop wat sy sonde bely en in ʼn saligmakende verhouding met Jesus tree!
Ons teksvers sê dat die ewige lewe nie eers ná die dood ‘n werklikheid word nie maar beslis voor dit. Die ewige lewe kan nooit ná die dood verwerklik nie. Dis nie ʼn nadoodse saak nie maar voordoods. Jy moet lewe om dit te ontvang!
Toe jy Jesus as jou Verlosser aangeneem het, het jy ʼn nuwe lewe betree wat nooit gaan ophou nie. Paulus skryf: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan...” (2 Kor. 5:17). Hy het deur die bekering van ʼn ewige verdoemenis na ʼn ewige heerlikheid oorgegaan; ʼn geestelike gedaanteverwisseling (metamorfose).
Hierdie nuwe lewe is so volmaak dat selfs die dood dit nie kan aantas nie. Paulus skryf: “Dood waar is jou angel? Doderyk waar is jou oorwinning?” Die dood sal soos ʼn oogknip wees waarna jy met ʼn veel heerliker lewe in volle geluksaligheid in die hiernamaals saam met Jesus aangaan.
Ten spyte van Bybelse duidelikheid oor die ewige lewe wat reeds in hierdie lewe verkry kan word, twyfel baie mense nog daaraan. Die drie basiese redes hiervoor begin elkeen met ʼn “o” – onkunde, onverskilligheid en onvermoë.
Onkunde is die oorsaak van gebrekkige Bybelkennis. Mense lees die Bybel oppervlakkig maar bestudeer dit nie. Onverskilligheid is ʼn groot probleem. Mense wil net een lewe ken, op aarde, leef onverskillig en glo nie aan ʼn lewe na die dood nie. “Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en ...die Gees van genade gesmaad het?” (Hebr.10:29).
Dit bring ons by die derde “o” nl. onvermoë. Baie mense openbaar ʼn onvermoë om God op sy beloftes te neem en bly lewenslank twyfel. Hy wil geloof voel en na eie smaak self inrig. Nee, geloof hang nie van gevoelens en gemoedstemmings af nie maar is ʼn gawe van God met ʼn belofte: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie”. (Joh.6:37). Niemand soek tevergeefs na God nie!
Dis Lydenstyd in die kerklike jaar. Jesus het die dood gesmaak sodat jy vir ewig kan lewe. Wie hierdie sekerheid nie het nie, lewe nie werklik nie maar bestaan hoogstens. Wat van jou? Lewe of bestaan jy? Met die sekerheid van ʼn ewige lewe kan bomme maar val, orkane en getygolwe vernietig; niks kan my van die liefde van God wat Hy in Jesus ook vir my betoon het, skei nie.