Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As kankerpasiënt weet ek nou dat die kuns om positief te lewe niks met geld, duur motors of skoonheid te doen het nie. Die min dae wat voor my lê hou ek net vol liefde en vergifnis vir almal naby my, en ek dank God vir hulle liefdevolle ondersteuning.
SLAG BY AMAJUBA
KULTUURDAGBOEK 27 FEBRUARIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Die anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek op 12 April 1877 het meegebring dat Britse garnisoene die grootste sentra van die Transvaal beset het. Met die herstel van die ZAR op 13 Desember 1880 het openlike vyandelikhede tussen die Transvaalse burgers en die Britse besetters uitgebreek en is die Britse garnisoene in Potchefstroom, Pretoria, Standerton, Rustenburg, Marabastad en Lydenburg beleer.
Om Pretoria te ontset is 'n Britse leërafdeling van Lydenburg af gestuur. Naby Bronkhorstspruit aan die Honderivier is die mag deur genl. Frans Joubert totaal verslaan en gevange geneem.
Dit was die eerste van 'n reeks neerlae wat die Britte gedurende die Eerste Vryheidsoorlog teen die Boere sou ly. Genl. sir George Pomeroy Colley was luitenant-goewerneur van Natal en opperbevelhebber van alle Britse troepe in Suidoos-Afrika, maar sy pogings om met sy ontsettingsmag na Transvaal deur te dring, is verydel deur genl. Joubert, die Transvaalse kommandant-generaal wat met 2 000 man die toegang deur die Drakensberg by Laingsnek versper het.
Twee keer, by Laingsnek op 28 Januarie 1881 en by Schuinshoogte op 8 Februarie 1881, moes Colley met die kous oor die kop na sy militere kamp by Mount Prospect terugkeer om sy wonde te gaan lek. Begerig om sy geskonde reputasie te herstel het Colley 'n laaste poging aangewend deur op 27 Februarie die berg Amajuba te beset. Hy wou met hierdie oorheersende hoogte in sy besit, die pad deur Laingsnek met artillerievuur beheer en sodoende poog om met 'n hernieude aanval op die toegangsweg sy opmars na Transvaal geslaag op dreef te kry. By wyse van 'n nagmars het hy dit reggekry om in die nag van 26/27 Februarie 1881 troepe op Amajuba te plaas. Hiermee het hy 'n verrassing behaal, want dit was eers na dagbreek dat genl. Joubert van die ontstellende feit kennis gekry het.
Joubert wat besef het dat sy linie aan weerskante van Laingsnek nou deur omvleueling bedreig word, het aan genl. N. Smit opdrag gegee dat Amajuba ingeneem moet word. Met drie stormgroepe onderskeidelik onder bevel van veldkornette S.J. Roos, J.J. Ferreira en D. Malan is die teenaanval uitgevoer. Die linkerafdeling het die berg van die suidoostekant en die regter stormgroep van die westekant, en die sentrale groep die berg vanuit die noordooste aangeval.
Colley het aanvanklik min gedoen om sy magte ordentlik op die kruin te verskans. Hy was ook traag om artillerie op die berg te sleep. Voorts het hy geen plan in werking gestel om die Boerestellings weerskante van Laingsnek met 'n gekoordineerde aanval van Amajuba af en sy kamp by Mount Prospect aan te pak nie. Nadat hy die borswering en 'n viertal koppies op die rand van die plato beset het, het hy dadeloos gewag, skynbaar om sy soldate geleentheid te bied om uit te rus, salig onbewus van die ontplooiing van die stormgroepe wat onder dekking van die dooie grond, besig was om die berg te bestyg.
Teen ongeveer 12h45 die middag was die Boere in posisie om die borswering van die plato en gereed vir die finale stormaanval. Terwyl 'n speerpunt van ongeveer 60 brugers vorentoe beweeg, het die res dekkingsvuur verskaf en met moordende akkuraatheid die Britse rooi en duidelike teikens agter hul yl skanse afgemaai. Colley wat op dié tydstip besig was om te dut, is totaal verras en nie hy of sy troepe in linie of die reserwes, kon die borswering op die kruin afweer nie.
Teen eenuur was die inbraak voltooi en het die Boere deur die doelwit begin veg terwyl die Britse soldate voor hulle suidwaarts wat die berg bo-op vorm, vlug en sneuwel. Geen teenaanval kon deur Colley georganiseer word niee en terwyl hy deur die induiestorting van sy verdediging vasgenael staan en toekyk, is hy dodelik getref. Sommige soldate het tydens hulle vlug oor die rand van die suidelike kruin gestort, dog die meerderheid wat nie gedood is nie het oorgegee.
Dit was die verpletterendste neerlaag wat ‘n Britse leërafdeling sedert Isandhlanwana gely het. Die uitslag as 'n besliste neerlaag van die hele reeks gevegte van die Eerste Vryheidsoorlog is deur die Liberale regering van Gladstone aanvaar en 'n wapenstilstand is met die Boere aangegaan. Dit het gelei tot die Pretoriase konvensie in 1881 en to die Londense konvensie in 1884 wat die onafhanklikheid van die ZAR weer eens herstel het. Die oorwinning kan beskou word as die geboorte-uur van moderne Afrikanernasionalisme.