Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In plaas daarvan dat ons God vra watter planne en werk ons moet doen sodat Hy dit in alle geval sou seën, vra ons nou sy seën op ons planne wat ons self gemaak het en ons alleen-gekose werk. Geen wonder dit gaan so sleg met so baie Christene nie.
WIE WAS BOSS? (4)
DIE SMIT-MOORDE (2)
Terwyl Robert Smit oppad terug van Switserland is skakel Hendrik van den Bergh vir Eschel Rhoodie in Amerika en vra dat hy op die eerste vlug na Johannesburg klim, waartoe Rhoodie dadelik instem.
Intussen het Smit die Vrydag tuis opgedaag en met sy motorbestuurder gereël om hom die volgende oggend om agtuur te kom oplaai om na John Vorster te gaan. By Vorster is daar met die deur in die huis geval.
"Die meeste dinge is so helder soos daglig maar daar is nog 'n paar kwessies wat bevestig moet word," het Smit aan Vorster gesê.
"Met ander woorde, daar is nog bietjie speurwerk wat gedoen moet word?"
"Ja, die kuns gaan wees om antwoorde te soek sonder om die bynes oop te krap," was Smit se antwoord aan Vorster.
"Het jy hulp nodig, Robert?" wou Vorster weet.
"Nee, liewer nie. Dis erg genoeg dat ek Jeanne-Cora sal moet vra om die verslae te tik omdat ek nie daartoe instaat is nie," het Smit gesê.
Terwyl Smit se Mercedes terugry, het 'n wit Ford dit op 'n veilige afstand agtervolg, by 'n telefoonhokkie gestop, die bestuurder het uitgeklim en 'n nommer geskakel:
"Van den Bergh hier."
"Dis ek."
"Wat het gebeur?"
"Sy gewone voertuig het hom om agtuur opgelaai en hulle is reguit na Nommer Een se huis waar hulle so bietjie langer as 'n uur gepraat het."
"Is dit al?"
"Ja, alles verder rustig."
"Goed, ek sal kontak hou."
"Sharp!"
Maandagoggend is Smit vroeg op kantoor besig met Wassermann se Suid-Afrika-lêer. Hy het deur sy notas geblaai en na die nommers van die drie private Switserse rekenings gekyk. Deur die vertroulike "ander metodes" wat Wassermann bedink het, het hy daarin geslaag om die name en posadresse van die rekeninghouers te kry.
Eers daardie aand slaag Smit daarin om die persoon wat hy al heeldag skakel in die hande te kry.
"Goeienaand, Louis Rive wat praat," antwoord 'n diep stem.
"Hoe gaan dit Louis?"
"Robert! Jou ou blikskottel, waar was jy al die tyd?"
"Hier, daar, oral en net baie besig," het Smit geantwoord. "Kan ek jou môre-oggend kom sien?"
"Natuurlik. Ek is met verlof en tuis. Sien jou nege-uur."
Terselfdertyd arriveer Van den Bergh by sy volgende bestemming:
"Goeienaand, generaal."
"Wat het jy?" vra die generaal. Die agent is een van die twee wat die afgelope paar dae Robert Smit se huistelefoon afgeluister het.
"Onderwerp het 'n nommer geskakel, geregistreer in die naam van L Rive in Rivonia. Die twee ontmoet more-oggend om nege-uur in Rivonia."
"Uitstekend, hou my ingelig," het Van den Berg gesê.
Nie Smit of sy motorbestuurder merk die volgende oggend die silwer Toyota op wat hulle op 'n afstand volg nie. By Rive groet die twee mans hartlik en gesels vinnig. Binne 'n halfuur is Smit oppad na die verkiesingskantoor in Springs waar hy 'n ruk lank werk totdat die foon lui. Dit is Rive.
"Het jy 'n skryfding byderhand?"
"Sjoe, dit was vinnig. Praat maar."
"Die eerste nommer, 1183, behoort aan ene Mort Davidson," het Rive gesê en die volledige besonderhede verstrek, ook van die ander twee posbushuurders.
"Dankie Louis, ek skuld jou een."
Smit het die drie lêers nader getrek en die inligting geliasseer. Stadig maar seker het die stukke van die legkaart inmekaar begin pas.
Vanaf Jan Smuts lughawe ry Van den Bergh met Rhoodie na 'n nabygeleë hotel terwyl hulle gesels.
"Wie weet almal?" vra Rhoodie.
"Ek was by Nic toe ons uitgevind het Robert was in Switserland."
"Nic moet verpletter wees."
"Hy is nie al een wat so voel nie," het Van den Bergh geantwoord.
"Hoe kom ons hierdeur?"
"Elke probleem het 'n oplossing," het die hoof van BOSS saaklik geantwoord. "Maar hierdie een gaan morsig wees."
Daardie aand skakel Van den Bergh 'n buitelandse nommer.
"Dis die kolonel hier!" het 'n gesagvolle stem geantwoord.
"Ons het 'n plaaslike kwessie wat opgelos moet word. Hoe gou kan jy twee van jou manne hier kry?"
"Dis so goed as gedoen, hulle sal môre-oggend op 'n vlug wees," het die huursoldaat geantwoord.
Net hierna skakel Van den Bergh 'n nommer in Kaapstad: "Kan 'n vriend van my vir jou 'n pakkie uit Italië stuur?" vra hy. "Een van my manne sal dit by jou kry die oomblik dat dit aankom."
"Seker, geen probleem," en Phil gee sy posadres.
Hierna skakel Van den Bergh 'n BOSS-agent wat in Italië op 'n sending was. Dié onderneem om die item die volgende dag per spoedpos te stuur.
Die NP-plakkate en ander verkiesingsversierings het die partykantoor in Springs 'n amper karnavalstemming gegee. Die telefone lui onophoudelik en teen die lamppale het Smit se plakkate hom as 'n man met visie vir die toekoms aan die kiesers bekend gestel. Smit sit in sy kantoor met 'n lêer voor hom oop en staar.
Die BOSS-agent het intussen die lang bruin pakkie ontvang en hom na die Kaapstadse lughawe teruggehaas.
Twee aande later kom 'n wit Ford by 'n T-aansluiting aan waar 'n pyl die rigting na die Lanseria-lughawe aandui. Dié half-internasionale lughawe is hoofsaaklik vir die hantering van internasionale vrag gebruik. Dit was ook die tuiste van private vliegtuie wat veral binnelands en na nabygeleë Afrikastate gevlieg het. Mense wat die besige Jan Smuts lughawe wou vermy en in groter privaatheid wou reis, het ook dié lughawe verkies. Daar was doenanebeamptes maar hulle beheermaatreëls was nie so streng soos by ander lughawes nie. Die beheertoring het natuurlik rekord gehou van alle inkomende en uitgaande vlugte maar dit was bekend dat vlieëniers afgewyk het van hulle vlugplanne, veral wanneer weerstoestande kleiner vliegtuie se vlugte bemoeilik het.
Twintig voor tien die aand het 'n tweemotorige Piper uit Rhodesië op Lanseria geland. Die vlieënier het sy twee passasiers na die aankomssaal vergesel waar 'n doenanebeampte hul paspoort gestempel het. Anders as by die ander lughawes, hoef besoekers nie vorms met persoonlike besonderhede in te gevul het nie, en die mans het na die uitgang gestap. Daar is hulle ingewag deur 'n groot man in 'n leerbaadjie. In stilte het hulle saam na die parkeerterrein gestap.
Die Ford het nou van die teerpad af op 'n smaller pad afgedraai en na die waterkant gery waar nog 'n motor geparkeer is. Toe hulle stilhou het 'n bejaarde man uit die tweede motor geklim. Die vier het saam na die landingsplek waar 'n enkele boot vasgemeer was gestap en met hul bagasie in die boot geklim. Die boot is gestuur na wat na 'n donker drywende woud gelyk het en daar tot stilstand gekom.
"Ek sal die karre oppas," het die ou man gesê.
"Sharp!" het die groot man gesê.
Die ou man het die boot in rat gesit en dit terug na die oewer gestuur. Die besoekers het by 'n groot gebou met 'n militêre voorkoms aangekom. Rolle doringdraad het die plek omring. Twee mans in donker jasse het die staalhek oopgemaak; binne was 'n tweerigtingradio hoorbaar. Die groot man het hulle tussen bome en ander geboue verby 'n groot antenna tot by 'n kothuis gelei. Daar het ook twee mans opgestaan en hulle gegroet. Die groot man het die besoekers na 'n kamer geneem waar hulle hul bagasie op die beddens neergesit het. Hierna het hulle die gasheer na die kroeg gevolg waar die ander twee mans gesit het.
Die twee buitelanders wou nie alkoholiese drank hê nie en vir die eerste keer het die groot man gelag...
(Vervolg)