Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Doen goed – hoe jy ook al kan, waar jy ook al kan, wanneer jy ook al kan, aan soveel mense as wat jy kan, so lank as wat jy kan – John Wesley
BLY GETROU AAN JOU LEER
Ds A.E. vd Berg
“Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het” (2 Tim.3:14)
By geleentheid loop ʼn hond met ʼn been in sy bek oor ʼn bruggie. Toe hy die weerkaatsing van sy gelaat in die water sien, lyk die been in die water groter as die een in sy bek. Hy los dit toe vir die een in die water. So gaan dit ook met mense wat iets kosbaar het en dit vir iets wat nie bestaan nie, los.
Baie mense wat in Gereformeerde kerkverbande grootgeword het, belydenis van geloof afgelê en God beloof het om aan die leer van die kerk gerou te bly, het gelieg toe hulle dit vir iets wat oënskynlik beter gelyk het, laat vaar het. Ek praat van dwaalleer.
Dwaalleer is so oud soos die kerk self. ʼn Toename daarvan is egter een van die tekens van die eindtyd. Paulus noem dit die afval. Hierdie afval is die laaste fase net voordat die Antichris bekend gemaak word en die kerk gaan beheer: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die seun van die sonde geopenbaar word....” (2 Tess.4:3). Dwaalleer is seker die kragtigste instrument in sy hand!
Let op die verloop van die patroon – eers die afval en daarna die heerskappy van die Antichris. Hierdie afval raak nie net individue nie, maar veral kerke. Let op die ontwrigting op die kerklike terrein plaaslik en internasionaal. Mense verlaat toenemend die ou geseënde weë vir nuwe paaie van misleiding.
Talle hoofstroomkerke het dit alreeds gedoen en hul voete op die afdraande pad van wêreld-gelykvormigheid geplaas. Daarom hoor ons gereeld van kerke wat in die dryfsand van hul eie toedoen weggesink; ʼn afvalligheid wat teen die einde van die wêreld orkaansterkte onder kerkgangers gaan bereik.
Paulus moedig die gelowiges in Thessalonika aan om dwaalleraars daadwerklik teen te staan. Hulle mislei baie mense; iets wat gelowiges nie moet toelaat nie. Gelowiges moet dwaalleraars geen inkomkans gee of by slim praatjies betrokke raak nie omdat lg in werklikheid geen liefde vir die waarheid het nie.
Vir gelowiges gaan dit oor waarheidskennis wat deur ʼn deeglike studie van die Bybel verkry word. Jesus waarsku die skrifgeleerdes van sy tyd dat hulle dwaal omdat hulle die Skrifte nie ken nie. Hulle het gemeen dat hulle ʼn goeie kennis van die waarheid het, maar die bal misgeslaan.
Kennis van die waarheid van die Skrif word die leer van Christus genoem. Daarsonder sal niemand die ewige heerlikheid beërwe nie. “Elkeen wat ʼn oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun” (2 Joh:9).
Dwaalleer maak mense geestelik siek. Die Bybel eis van gelowiges om aan die gesonde leer getrou te bly en dwaalleer te vermy: “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is verwaand en verstaan niks nie.... nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hul verstand en van die waarheid beroof is... Onttrek jou aan sulke mense” (1 Tim.6:3-5).
Paulus vra hulle om aan al die woorde wat hy gespreek het vas te hou omdat dit die waarheid is: “Hou as voorbeeld van gesonde woorde dié wat jy van my gehoor het...” (2 Tim.1:13).In die Bergrede eis Jesus van gelowiges om sout van die aarde en lig van die wêreld te wees. Dis slegs moontlik deur die waarheid te verkondig en die heilsame effek wat dit op hoorders sal hê: “Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor" (1Tim.4:16).
Woorde wek, maar voorbeeld trek. As iemand die waarheid by jou hoor, is jy ʼn getuie vir God: “As jy hierdie dinge aan die broeders voorhou, sal jy ʼn goeie dienaar van Jesus Christus wees terwyl jy jouself voed met die woorde van die geloof en van die goeie leer waarvan jy ʼn navolger geword het” (1 Tim.4:6).
Die Bybel sê ook vir hulle wat ʼn kerkamp beklee, dat hulle ʼn deeglike kennis van die waarheid moet hê: “...een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teesprekers te weerlê” (Tit.1:9).
Dis ʼn wonderlike voorreg om in ʼn huis groot te word waar ouers ʼn liefde vir die waarheid het en by hul kinders inskerp. Die Psalmdigter skryf: “o God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe verkondig ek U wonders” (Ps.71:17). Salomo skryf: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spr.22:6).
Hoe hartseer is dit egter nie vir ouers wat ʼn kind in die waarheid opgevoed het en dan moet sien hoe hy dwaalleer ten prooi val nie! Daarom praat Paulus ernstig met die jong Timoteus om in die waarheid te volhrd: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het”.
Waarom swig so baie mense voor dwaalleer? Benewens ʼn gebrek aan deeglike Skrifkennis, raak sommige mense letterlik verveeld met die sg., “eentonigheid” van dit wat Skrifgetroue kerke nog verkondig. Hulle soek na iets nuuts; meer opwindend. Hulle smag na ʼn variasie op die tema en gee onwetend aan Satan die vatkans waarop hy wag. Hy saai, net soos met Eva in die tuin van Eden, twyfel in hul hart – is die waarheid wat jy glo werklik die waarheid?
Mense hou baie van verandering – iets nuuts; ook heidene: “En nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê of te hoor nie” (Hand.17:21).
Dwaalleer maak mense los van die gemeenskap van die gelowiges. Hulle bevind hul buite die raamwerk van die kerk en lees die Bybel nie meer binne die raamwerk van die waarheid soos wat die kerk verkondig nie. Hulle het net ore vir dwaalpraatjies. Daar is niks so misleidend soos welsprekende leuenaars nie!
Wie sy ore aan dwaalleraars uitleen, wil spoedig nie meer die waarheid hoor nie en sy siel raak siek!“Want daar sal ʼn tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ʼn menigte leraars sal versamel volgens hul eie begeerlikhede” (2 Tim.4:3).
Ons staan op die vooraand van die wederkoms van Christus; verval is in volle swang en die openbaarmaking van die Antichris is op hande. Wat staan ons te doen? “Maar spreek jy wat by die gesonde leer pas.... Betoon jou in alles ʼn voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer...” (Tit.2:1,7).
Mense is nog steeds baie godsdienstig, selfs meer as ooit, maar ken Jesus nie. Kerklike tierlantyntjies wel! Die ware beeld van Jesus Christus word deur ʼn spieël vervang soos die hond met die been in die water.
Ons het ʼn gewigte taak: “Verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Tim.4:2). Gelukkig is die leuen ’n ligte ruiter. Die waarheid gooi hom maklik af.
In die ou tyd het ʼn koning of goewerneur ʼn openbare aankondiger (herout) gehad wat alles wat die koning aan die volk bekend wou maak, met ʼn harde stem aangekondig het. Dis ook ons taak om die waarheid uit te roep. Maar daarvoor sal ons die Bybel baie ernstiger moet bestudeer.
Ons het geen groter verantwoordelikheid as teenoor die waarheid nie. God is oral waar die waarheid seëvier. Mag die prys vir die stryd om die waarheid nooit vir gelowiges ooit te hoog word nie!