Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons trek so graag grense om ons want in die wêreld bied dit 'n bepaalde en goeie ruimte vir jou om in te leef. Wees egter versigtig dat jou grense nie vir jou 'n kluisenaarslewe veroorsaak nie.
DIE BYBEL EN DOODSTRAF
Ds A.E. van den Berg
“Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte…want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede, maar as jy kwaad dien, vrees dan, want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Rom.13:3,4).
ʼn Eerbare regering skuld sy burgers ʼn goeie saambestaan. Daarvoor is wette nodig, ook die doodstraf. Die doodstraf is nie onmenslik soos wat liberaliste verkondig nie maar duidelik in lyn met God se Woord!
In Gen.9:6 gee God ʼn basiese uitspraak daaroor: “Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak”. God motiveer dit selfs; iets wat geen ander godsdiens doen nie.
Die mens is deur die wil van God geskape. Moord is dus ’n vergryp teen God. Hy het die mens aangestel om oor sy skepping te heers en sy heerlikheid te weerkaats: “Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword…. Hy wie sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh.2:5,6).
Om die beeld van God te vertoon, het God aan die mens die gawe van die lewe gegee. Alleenlik Hy het die reg om dit weg te neem. Job sê: “… Die Here het gegee en die Here het geneem; die Naam van die Here sy geloof!” (Job.1:21). Geen mens durf dit wegneem nie.
Die bepaling van Gen.9:6 is voor die ontstaan van Israel as volk gegee wat daarop neerkom dat die doodstraf vir alle mense van alle eeue geld. Toe Israel dit later in haar wette opgeneem het, was daar 21 oortredings waarvoor die doodstraf opgelê kon word wat in vier basiese groepe verdeel is: (i) Misdade waar mense gesterf het (ii) godsdienstige misdade (iii)sedelike misdade en (iv) vormlike (seremoniële) misdade.
By misdade waar mense dood is, het die vergeldingsreg gegeld – soos wat jy aan ’n ander een doen, moet aan jou gedoen word; ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand en ’n lewe vir ’n lewe. Die Bybel eis dat moord vergeld moet word. Dis egter ’n taak wat God uitsluitlik aan die staat oplê. Dis nie vir enkelinge bedoel nie. Daar was destyds in Israel sekere plekke waar vermeende oortreders ’n regverdige verhoor kon verkry en vrystede genoem. Indien so ʼn persoon later wel aan moord skuldig bevind is, is hy terstond tereggestel.
Die doodstraf is ook op mense wat God gevloek het, voltrek. Israel moes weet dat God ’n heilige God was en sy heiligheid nie bespot, geminag of belaster mag word nie. Onder etiese misdade word die slaan of vloek van ouers aangeteken (Ex.21:15,17), so ook ʼn koppige seun wat aan drank verslaaf was en geen huis te hou was nie (Deut.21:18-21). Hierdie misdade het ook verskeie vorms van verbode geslagsomgang ingesluit (Deut.22:13-30). God het aan Israel sekere heiligheidswette gegee om van die heidene te verskil. “En julle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Ex.19:6).
Om heiden-elemente met die ware godsdiens te vermeng, het ook die doodstraf verdien. Lev.10:1,2 vertel van Nadab en Abihu, die seuns van Aaron, wat heidense reukwerk geoffer het en God het hulle met vuur uit die hemel verteer.
Desondanks lees ons ook in die Bybel van moordenaars wat nie tereggestel is nie. Kain het sy broer doodgeslaan en Moses ’n Egiptenaar. Dawid het Uria, die man van Batseba, laat ombring. Daar word egter nie gesê waarom hulle nie die gevolge van hul verkeerde dade gedra het nie.
Nêrens in die Bybel word die doodstraf opgehef nie. Dit wat vir die OT gegeld het, het ook vir die NT gegeld. Die NT sê dat slegs die staat die doodstraf mag voltrek. “Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte…. want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede, maar as jy kwaad doen, vrees dan, want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Rom.13:3,4).
Teregstellings is in die NT gewoonlik met onthoofding uitgevoer. In Hand.12:2 skryf Lukas dat Herodes die apostel Jakobus met die swaard laat ombring het. Die swaarddood was sinoniem met die staat se volle reg om boosdoeners die lewe te ontneem. En omdat God die staat opdrag gee om wet en orde te handhaaf, eis burgers van die staat om in basiese veiligheidsbehoeftes te voorsien. Sonder die doodstraf kan wet en orde nie gehandhaaf word nie. Oral waar dit in die wêreld afgeskaf is, het wetteloosheid oorhand toegeneem!
Paulus stel dit duidelik dat die staat sy regeermag van God ontvang en sodoende ’n dienaar van Hom is. Wie dit nie gebruik nie, is ’n dienaar van Satan. in Rom.13 sê dat die owerheid die swaard nie verniet dra nie. Dis sy goddelike plig om mense wat die doodstraf verdien, ooreenkomstig te straf. Wie versuim, is aan God ongehoorsaam.
Toe Pilatus vir Jesus sê: “… Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?” (Joh.19:10) antwoord Hy: ” …U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie…” (:11). As Paulus voor Festus staan, sê hy: “… Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word… as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie…” (Hand.25:10,11). Paulus het die staat se reg op doodstraf eerbiedig.
Destyds kon die Joodse Raad die doodstraf vir oortredings van godsdienstige, sedelike en vormlike aard oplê en by wyse van steniging laat voltrek. Dis bv. hoe Stefanus gesterf het (Hand.7). ’n Owerheid wat booswigte na reg straf, is ’n instrument in God se hand om boosheid te bekamp. Niemand durf in persoonlike hoedanigheid wraak neem nie. “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Rom.12:19).
God oefen sy wraak en vergelding deur gehoorsame owerhede uit. Daarom word die owerheid in Rom.13 ’n wreker genoem. Die doodstraf moet booswigte afskrik. Dis ’n beskermingsmaatreël vir samelewings ten goede. Die mens het egter ook die volste reg om hom teen aanvallers te verdedig. Hy het die lewe as gawe van God ontvang en is verplig om dit op te pas. Indien hy in selfverdediging ’n aanvaller dood, is hy nie aan moord skuldig nie.
’n Eerbare owerheid sal sy burgers teen booswigte beskerm, die doodstraf oplê en vinnig voltrek. Salomo skryf: “Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Pred.8:11). Om moordenaars lang gevangenisstraf op te lê, is ʼn onreg en hulle kan na vrylating weer moor, soos dikwels gebeur. Om lank deur die staat versorg te word is onbillik teenoor wetsgehoorsame belastingbetalers!
Baie mense sê dat die doodstraf nie ʼn afskrikmiddel vir misdaad is nie. Die Bybel sê wel so. Wie teen die doodstraf gekant is, glo dat die doodstraf barbaars is en nie in ’n beskawing tuishoort nie. Nee, as God self opdrag tot die doodstraf gee, durf mense dit nie barbaars noem nie.
’n Regering wat God se Woord gehoorsaam en die doodstraf oplê, maak dit vir wetsgehoorsames veilig. Nadat die doodstraf in 1989 in Suid-Afrika afgeskaf is, is duisende mense in ons land vermoor. Die stygende misdaadstatistiek spel een ding baie duidelik uit – as ’n regering nie aan booswigte die doodstraf oplê nie, lê booswigte dit aan wetsgehoorsames op!