Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
U kan dit maar gaan toets: soos dit in die gesinne gaan, so gaan dit in die volkslewe en so gaan dit in die hele wêreld waarin ons leef. Maar u as ouers het die vermoë van God ontvang om hieraan 'n hele wêreldse verskil te maak!
SPORT EN POLITIEK- APARTHEID, NAT EN SAP
Gert Kotzé
Lees reeks by Sport en politiek
SPORT EN POLITIEK (5)
“Soos die Afrikaanse koerante van die Noorde, was Die Burger van Kaapstad destyds die mondstuk van die Afrikaners wat uit die geledere van die WP padgegee het omdat hulle geglo het die bond se bestuur het die spel in die politieke kookpot laat beland.”
Die sportpolitiek van die oorlogsjare het in feitlik die hele Kaapprovinsie tot blanke apartheid in rugby gelei. Dit was 'n venynige vete tussen Nat en Sap. Die belangrikste uitvloeisel daarvan was dat 'n nuwe afsonderlike rugbybond in die Westelike Provinsie gestig is. Die beheer daarvan was geheel en al in die hande van die Afrikaners van die Wes-Kaap.
Die Nat-Sap-twis was ook nie net tot die Westelike Provinsie beperk nie; die Afrikaners van die Oos-Kaap en Kimberley en omstreke het ook besluit om van die bestaande rugbybesture weg te breek.
Die ontevredenheid van die Kaapse rugbylui was gewortel in dieselfde probleem as die wat tot die ondergrondse opstandsbeweging in Transvaal gelei het ... die besluit van rugbybesture om fondse vir die oorlogspoging by amptelike wedstryde in te samel.
Moeilikheid het die eerste keer na die oppervlak gekom toe die Westelike Provinsie in 1940 'n span na Johannesburg gestuur het vir 'n vriendskaplike wedstryd teen Transvaal op Ellispark.
Met die span se aankoms in Johannesburg, het die spelers dinge gesien waarop hulle nie voorbereid was nie. Op verskeie plekke in die Goudstad was plakkate wat beduie het dat daar by die wedstryd tussen Transvaal en die Westelike Provinsie geld vir die oorlogsfondse ingesamel sou word. Berigte in die Engelstalige dagblaaie van die Rand het dieselfde nuus aangekondig.
Sommige van die WP-spelers was duidelik ontstoke oor die gebeure. Hulle het gesê as hulle geweet het daar sal geld vir die oorlogspoging by die wedstryd ingesamel word, sou hulle nooit bereid gewees het om in Johannesburg te gaan speel nie.
Van die spelers het selfs gedreig om terstond terug te gaan Kaapstad toe. Hulle is oorgehaal om dit nie te doen nie, aangesien so 'n optrede die wedstryd geheel en al sou ontwrig.
Ook daardie jaar het 'n bekende Transvaalse speler geweier om in Wedstryde teen die WP en Natal te speel op grond daarvan dat daar ook by dié wedstryde fondsinsamelinge was.
In Kimberley het Afrikaners om dieselfde rede besluit om weg te breek en ‘n rugbyklub te stig.
In die Oostelike Provinsie het daar intussen 'n onrustige vrede geheers. Maar dit sou nie lank duur nie voordat die oorlog sy merke ook daar agtergelaat het. Teen 1941 het die Afrikaners van die Oos-Kaap besluit om ook pad te gee en hul sake self te reël.
Op Saterdag, 24 April, 1943, is die nuwe bond van Oos-Kaapland gestig.
Die voorsitter was die latere bekende dr. Andrew Rabie van Port Elizabeth.
Hy sou ook veel later een van die voorlopers wees in die oorname deur Afrikaner-Nasionaliste in Port Elizabeth en die Oos-Kaap van die hele rugbybestuur van die Oostelike Provinsie.
Met die totstandkoming van 'n Afrikaner-beheerde rugbybond en die Oos-Kaap het die bekende Port Elizabethse klub, Park, ‘ vername rol gespeel. Dit was die Afrikaanse spelers van die klub wat in die eerste plek begin beswaar maak het teen die speel van wedstryde op die Crusaderveld, toe nog die hoofkwartier van die OP se rugby, ten bate van oorlogsfondse.
Ander klubs in die Oos-Kaap wat gou by die nuwe bond aangesluit het, was Middelburg, Graaff-Reinet, Somerset-Oos, Adelaide, Humansdorp, Jansenville, Cradock, die Opleidingskollege van Graaf-Reinet, en twee nuwe klubs, die Bosbokke en Villagers.
Soos later ook in die Westelike Provinsie die geval was, het die groot padgee van Afrikaanse spelers en Afrikaanse klubs uit die geledere van die Oostelike Provinsie tot gevolg gehad dat hierdie bond se speelkrag aansienlik verswak is.
In die Kaapse Skiereiland het die sluimerende ontevredenheid na die oppervlak opgekook toe die bestuur van die WP-Rug besluit het dat daar op 17 Augustus 1940 'n wedstryd ten bate van di sogenoemde Ouma-fonds (soos die oorlogsfonds destyds deur Nasionale Afrikaners beskryf is) op Nuweland gespeel moet word.
Die “Ouma" het geslaan op die naam wat die Engelstalige koerante destyds aan die eggenote van generaal Smuts gegee het. Mev Smuts het haar in die oorlogsjare grootliks ten doel gestel om fondse vir liefdadigheidsdoeleindes in te samel.
Volgens die genoemde WP-besluit sou Tuine, destyds een van die sterkste rugbyklubs in die land, teen die res van die WP op Nuweland speel.
Diébesluit het verskeie klubbeamptes en talle Afrikaanse spelers in die Westelike Provinsie opnuut die harnas ingejaag.
Uit die Paarl het 'n versoek gekom dat daar ook 'n wedstryd op Nuweland ten bate van die Reddingsdaadbond gespeel moet word.
Hiermee wou die bestuur van die Westelike Provinsie aanvanklik niks te make hê nie. Maar daar is al hoe sterker druk op hom uitgeoefen. Spelers van die Tuine-klub het geweier om vir die Ouma-fonds op Nuweland te speel, tensy daar ook 'n wedstryd ten bate van die Reddingsdaadbond gereól kon word.
Die WP-bestuur het uiteindelik geswig en die wedstryd is op 31 Augustus van daardie jaar gespeel.
Dit was teen hierdie tyd duidelik dat die kloof tussen die twee groepe in die WP al wyer geword het. Slegs 'n doelgerigte poging sou die dreigende twis kon besleg.
Dit sou egter nie gebeur nie.
Maar intussen is daar pogings deur die Suid-Afrikaanse Rugbyraad aangewend om die vrede te handhaaf.
In die begin van 1941 het die toenmalige voorsitter van die SA Rugbyraad, mnr. A.J. (Sport) Pienaar, probeer om die politieke storm wat in die Kaapse rugby aan die opsteek was, af te weer. Mnr. Pienaar was 'n beminde en gerespekteerde sportbaas. As hy nie daarin kon slaag om die rusies te beëindig nie, sou niemand anders dit regkry nie.
Hy het 'n verklaring uitgereik waarin hy die Rugbyraad se standpunt in hoofsaak soos volg uiteengesit het:
“Rugby moet slegs ter wille van die spel self gespeel word. As daar enige buite-invloede ter sprake kom, soos besluite dat wedstryde ten bate van sekere organisasies gespeel moet word, sal dit die saambindende eienskap van die spel nadelig raak. En dit sal die spel net skade berokken.”
Maar mnr. Pienaar se poging om die vrede in rugby te bewaar het nie geslaag nie.
Vroeg die volgende jaar het Transvaal se bestuur met een teenstem besluit dat die SA Rugbyraad versoek moet word om die Pienaar-verklaring omver te werp, sodat wedstryde ten bate van die oorlogspoging gespeel kan word.
Transvaal het 'n beroep op ander bonde gedoen om hom in die voorstel te steun. Die steun het nie lank uitgebly nie.
In September dieselfde jaar het die Westelike Provinsie onder voorsitterskap van mnr. J.D. de Villiers die volgende besluit geneem:
“As deel van sy bydrae tot die oorlogsfondse, sal die Westelike Provinsie maandeliks sewe sjielings en 'n sikspens (ongeveer 75c in daardie jare) per soldaat vir 45 soldate bydra."
Dit was die finale keerpunt in die rusie wat toe al geruime tyd aan die gis was.
Deur so 'n besluit te neem, het die bestuur van die Provinsie hom in die duidelikste taal regstreeks met die oorlog verbind.
Die koeël was deur die kerk.
Stellenbosch se rugbyklub het hom terstond aan die kompetisies van die Westelike Provinsie onttrek.
Die WP-bestuur het nie op hom laat wag nie. Asof hy sy baasskap duidelik wou tentoonstel, is Stellenbosch geskors. Ander spelers is gewaarsku dat dieselfde met hulle sal gebeur as hulle sou waag om teen die Maties te speel.
Maar mnr. De Villiers en sy bestuur het hulle lelik misgis. Die opstand wat deur die Maties aan die gang gesit is, het tot 'n reuse-uittog van talle bekende klubs uit die geledere van die Westelike Provinsie gelei. Onder meer het Tuine, Paarl, Maitland en Bellville hulle by die Stellenbossers aangesluit.
By die Kaapse Universiteit het die politieke rugbytwis tot ‘n seldsame toedrag van sake gelei.
Afrikaanse studente het besluit om hul eie klub te stig en by die rebelle aan te sluit. Hulle het hulself die Groote Schuur-klub genoem. En in die jaarlikse intervarsities (nie-amptelik) wat tussen hulle en die Maties gespeel is, was hulle as die Apies bekend.
Die breuk in die WP is verseël met die amptelike totstandkoming van die Rugbybond van Wes-Kaapland.
Bellville en Stellenbosch sou om die beurt dien as hoofkwartier van die nuwe selfstandige bond.
In die oorlogsgesinde Westelike Provinsie het min spelers oorgebly; so min dat twee sterk klubs, Hamiltons en Villagers, besluit het om voortaan as een span te speel. Daar was in elk geval geen twyfel hoegenaamd nie dat die nuwe Afrikaanse rugbybond oor baie meer spelers as die WP beskik het nie.
Die eerste nie-amptelike intervarsity ná die skeiding het 'n reuseskare na Coetzenburg gelok. Onder andere is die wedstryd tussen die Maties en die Apies deur die destydse leier van die Nasionale Party, dr. D.F. Malan, en mev. Malan bygewoon.
Intussen het die Boland en die Suidwestelike Distrikte ook besluit dat hulle met die oorloggesinde WP en Transvaal niks te doen wil hê nie.
Die uiteinde van die skeiding was dat die Afrikanerbonde grootskaals teen rnekaar gespeel het, terwyl die Engelsgesinde provinsie soos die WP, Transvaal en Natal en die OP alleen aan die anderkant oorgebly het.
Selfs pogings van die bekende A.F. Markotter (Oubaas Mark) om die bestuur van die Westelike Provinsie tot ander insigte te probeer oorhaal, het weinig gehelp. Trouens, 'n voorstel van hom dat geen rugbyfondse vir enige ander doeleindes aangewend moet word nie, is met 21 stemme teen drie verwerp.
Die bestuur het 'n heeltemal ander rigting ingeslaan deur 'n “verduidelikende" verklaring uit te reik. Daarin is gepoog om 'n breë uiteensetting van die bestuur se standpunt te gee. Onder meer is gesê dat die besluit om geld vir die oorlogsfondse beskikbaar te stel, geen presedent is nie. Daar is aangevoer dat die WP, en ook ander provinsies, voorheen geld aan liefdadigheid en selfs ten bate van oorlogsfondse geskenk het.
Die verklaring is namens die bestuur uitgereik, maar daar was 'n sterk vermoede dat die voorsitter, mnr. De Villiers, die eintlike dryfkrag daaragter was. Hy was 'n vurige oorlogsman.
Soos die Afrikaanse koerante van die Noorde, was Die Burger van Kaapstad (toe nog ‘n nasionaalgesinde koerant) destyds die mondstuk van die Afrikaners wat uit die geledere van die WP padgegee het omdat hulle geglo het die bond se bestuur het die spel in die politieke kookpot laat beland.
In antwoord op die “verduidelikende” verklaring van die WP se bestuur, het Die Burger in 'n hoofartikel onder meer geskryf:
“Dit spreek nogal van astrantheid dat die persoon wat in die eerste instansie politiek by die hare in ons voetbalwêreld ingesleep het, nou die kreet van politiek aanhef teen diegene wat ons rugby daarteen wil beskerm. Deur ons rugby, soos ons dit geken het, te vernietig, word daar vandag diepe wonde geslaan wat nog lank ná die oorlog nie genees sal wees nie; en al heel die wonde eendag, en kom die roof af, die litteken sal bly staan as herinnering aan 'n man wat 'n dom plan in sy kop gekry het, en aan sy aanhang, wat aan die hoogste tradisie van die spel ontrou gewees het."
Dit was duidelik dat Die Burger sy boodskap ten eerste tot mnr De Villiers gerig het.
Die skerp taal in die hoofartikel gee enigsins 'n aanduiding van hoe bitter die politieke twis in Suid-Afrikaanse rugby in daardie tydperk geword het.
Daar was openlike skeiding tussen Nat en die Sap. ‘n “Goeie Afrikaner" het nie sy voete op Nuweland gesit nie. Dit was vir hom nie meer die beminde hoofkwartier van die WP se rugby nie, maar die bymekaarkomplek van sy sportvyand.
Dat die tradisionele broederskap van rugby ooit weer herstel sou word, was in daardie jare moeilik om te voorspel, só vlymskerp was die verskille.
Tog het daar kort ná die einde van die oorlog pogings tot toenadering gekom. Die warm politieke geskille het geleidelik in die agtergrond beland. Die oorsaak van die broedertwis in rugby was met die beëindiging van die oorlog nie meer daar nie.
Die uiteinde was dat die Wes-Kaaplandse Rugbybond homself ontbind het en dat sy klubs en spelers hulle weer by die ou WP aangesluit het.
Die wonde wat die politiek van die oorlogsjare veroorsaak het, het genees, maar die littekens daarvan sou nog lank sigbaar bly.