Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om die waarde van die anker te besef, moet ons eers die storm ervaar.
SPORT EN POLITIEK – PETER HAIN
Gert Kotzé
Lees reeks by Sport en politiek
SPORT EN POLITIEK (2)
"Die jong Peter het sterk verbintenisse aangeknoop met onder andere Albert Luthuli, 'n later ingeperkte swart leier, en John Harris, die man was weens sy aandeel in die geskiedkundige stasiebomvoorval in Johannesburg ter dood veroordeel en later opgehang is. So sterk was die bande tussen die Hain en die man wat die stasiebom geplant het, dat Peter op 15-jarige ouderdom die rede by Harris se begrafnis voorgelees het."
In die venynigste aanslag wat by die uitgang van die jare sestig teen Suid-Afrikaanse sport losgebars het was Peter Hain een van die voorslaners.
Binne enkele jare nadat hy uit Pretoria in Londen aangekom het, het hy die hoofargitek geword van die ontwrigting van sporttoere na en van Suid-Afrika. Hy het homself trouens meermale in die openbaar daarop beroep dat hy die gang van Suid-Afrikaanse sport erg versteur het. Peter Hain het die aksies van talle anti-Suid-Afrikaanse groepe hoogs geslaagd op een terrein saamgetrek; hy het op die erkende gewildheid van Suid-Afrikaanse sport geteer deurdat hy dit as wapen opgeneem het vir sy hoofdoel; om die Nasionale bewind in die Republiek by te kom.
Die aanvanklike oogmerk was om deur middel van afsondering op die gewildste terreine van sport Suid-Afrikaners te vererg en te frustreer. So wou hy die kiem van opstand teen die Suid-Afrikaanse politieke bestel plant.
Oor hierdie oogmerke het Peter Hain geen doekies omgedraai toe hy in 1973 by sy moeder se woning in Pudney, 'n voorstad van Londen, daaroor uitgevra is nie. Hy was toe juis besig om nog 'n Suid-Afirkaanse toer in die buiteland te ondergrawe. 'n Springbok-rugbyspan sou 'n rukkie later deur Nieu-Seeland gaan toer. Hy was heeltemal daarvan oortuig dat die toer afgelas sou word selfs al was daar op daardie tydstip geen sprake daarvan nie.
Die toer is inderdaad afgelas op 'n tydstip dat die Suid-Afrikaanse Rugbyraad al die spanbestuurder gekies en ander voorbereidings getref het.
Wat sy mikpunte met die knaende sportaanslag teen die Republiek was, het hy duidelik te kenne gegee. Dit gaan vir hom en sy meelopers om die daarstelling van 'n ander staatsbestel in Suid-Afrika.
Toe hy daarop gewys is dat die aanvanklike eise van die anti-Suid-Afrikaanse aksiegroepe gemengde sport was, het hy saamgestem maar, het hy bygevoeg, die sport-aksie was slegs 'n middel tot die groter doel (landsoorname soos wat wel in 1994 gebeur het). Voordat die Nasionale bewind in Suid-Afrika nie padgee nie, of omvergewerp word nie, sou die sportboikotte voortgesit word selfs al word elke individu, ongeag ras of kleur, toegelaat om op enige vlak vry van wetlike beperkinge sport te beoefen – hierdie feit is duidelik en onomwonde deur Hain oorgedra.
Wie was Peter Hain?s En wat was die agtergrond van sy uitgerekte agistasies teen Suid-Afrikaanse sport?
Peter Hain was uit huis uit 'n liberalis. Hy het in 'n atmosfeer van radikalisme grootgeword. Sy ouers en sy invloedrykste vriende was opstandelinge in die Suid-Afrikaanse politieke opset. Verskeie omstandighede van sy kinderjare het die wrok wat sy ouers in hom geplant het, veroorsaak dat hy hom sterk met die anti-regeringsaksies begin bemoei het.
In 'n rubriek in 'n Engelse oggendblad het hulle dikwels kwaai teen die beleid van apartheid te velde getrek. Die jong Hain het intussen in Hatfield begin skoolgaan. Later was hy 'n leerling aan die bekende Boys High School van Pretoria.
Weens hul politieke bedrywighede is eers mev Hain in 1963 en die jaar daarna haar man ingeperk. Hulle, en die jong Peter, het sterk verbintenisse aangeknoop met onder andere Albert Luthuli, 'n later ingeperkte swart leier, en John Harris, die man was weens sy aandeel in die geskiedkundige stasiebomvoorval in Johannesburg ter dood veroordeel en later opgehang is.
So sterk was die bande tussen die Hain en die man wat die stasiebom geplant het, dat Peter op 15-jarige ouderdom die rede by Harris se begrafnis voorgelees het. Toe was dit al duidelik dat die jongeling van Pretoria 'n sterk wrok in hom rondgedra het.
Hain senior was 'n argitek van beroep. Hy het in Johannesburg gewerk. Ná sy inperking was dit vir hom moeilik om 'n bestaan te maak. Die gesin het besluit om na Engeland uit te wyk waar hulle meer as welkom was tussen die mentors van hulle haat teen die Nasionale regering van Suid-Afrika.
Hoewel die jong Hain in sy skooljare aan sport deelgeneem het, veral aan sokker, krieket en rugby, was hy nie juis 'n uitblinker op enige sportgebied nie. Wel het hy gou onder die indruk van die gewone Suid-Afrikaner se liefde vir sport gekom en het hy begryp hoe suksesvol hy sport as sy vernaamste wapen teen die Republiek se bewindvoerders kon opneem.
Kort na sy aankoms in Londen het hy as ekonomie-student hom by die Young Liberals en die National Union of Students aangesluit. Hy het betreklik gou leier van die Young Liberals geword en anti-Suid-Afrikaanse betogings begin organiseer.
In 1969 het hy die leier van die Stop the Tour-beweging geword. Die mikpunt van die beweging was om die toer van Dawie de Villiers se rygbyspan in Brittanje en ook die beplande kriekettoer deur Engeland afgestel te kry.
Hain beweer dit was blote toeval dat hy leier van dié beweging geword het. Niemand anders het daarin belanggestel om die betogings te organiseer nie. Hy het dus besluit dat hy hierdie taak self moet aanpak. Dit was as leier van hierdie organisasie dat Hain die eerste keer wye bekendheid verwerf het.
Die kriekettoer is met die hulp van die destydse Britse regering afgelas. Maar in weerwil van dreigemente van ontwrigting het die Britse rugbybase besluit dat die Springboktoer sou voortgaan. Dit was natuurlik 'n uitdaging aan Hain en sy trawante. Hulle het dit aanvaar en op die einde was dit die enorme ontwrigting wat gedurende dié toer veroorsaak is, wat die grondslag vir latere suksesse gelê het.
Anders as ander uitgewekenes, soos onder andere Dennis Brutus, het Peter Hain klaarblyklik die slag gehad om die jong linksgesindes en radikales in Brittanje om hom saam te trek, Hy het byvoorbeeld so sterk na vore begin kom dat hy geleidelik die aksies van die South African Nonracial Olympic Committee by Brutus begin oorneem het; in so 'n mate dat laasgenoemde na Amerika padgegee het en later 'n agterryer in die anti-Suid-Afrikaanse optredes begin word het.
Die betogings wat vir die toer van Dawie de Villiers se Springbokspan in 1969/70 beplan is, het die gewenste uitwerking gehad. Nie net het dit die wedstryde en die toerspan se reis- en verblyfreëlings erg ontwrig nie; dit het die verskillende rugbybesture en die staat groot bedrae geld gekos om deurgaans genoeg polisiebeskerming te voorsien.
Op 'n tydstip is die mosies van die linkse groepe in so 'n mate opgesweep dat die aksent van blote betogings tot radikale optredes oorgegaan het. Daar was tydig en ontydig dreigemente van bom-aanslae teen die Suid-Afrikaners. Omdat die spelers se veiligheid op die spel was het die spanbestuur in 'n stadium die keuse aan die spelers oorgelaat met die voorstel om liewer die res van die toer te laat vaar en huistoe te gaan. Hulle het egter besluit om voort te gaan, maar dat dit vir die spelers soms 'n nagmerrie-ondervinding was, kan nie betwis word nie.
Dieselfde optredes is gevolg toe Hannes Marais se Springbokspan later na Australië gegaan het. Op hierdie toer moes die Suid-Afrikaners selfs met private vervoer reis omdat die vakbonde geweier het dat daar van staatsvervoer gebruik gemaak word. Om toere onder sulke wanordelike toestande te onderneem was 'n onmoontlikheid. Dit het die Suid-Afrikaanse en oorsese sportbase besef. En buitelandse regerings sou nie langer bereid wees om die waagstukke wat daaraan verbonde was te onderneem nie.
Op enkele uitsonderings na het Peter Hain dus in sy eerste oogmerk geslaag. Hy wou Suid-Afrika se sportskakeling met die buiteland geheel en al verbreek. Hy het dit met krieket, en grootliks ook met rugby reggekry. Later sou die mindere sportsoorte volg.
Sy taak was dus fetilik met volslae welslae afgehandel. En sonder dat hy hom onnodiglik daarvoor moes inspan het die boikot-aksie teen Suid-Afrika daarna geleidelik verdere momentum gekry.
Vanaf Rusland en agter die Ystergordyn is die aksie verder en op breër grondslag gevoer; en tussenin het die Opperraad van Sport in Afrika ook 'n magtige vennoot geword deurdat hy gedreig het om politieke en handelsverbintenisse te verbreek met lande wat sportskakelings met Suid-Afrika gehandhaaf het.
Die sportaksie wat so doeltreffend deur Peter Hain begin is, was dus werklik by die breër politieke aanslag teen Suid-Afrika ingeskakel en was Hein reg toe hy gesê het dat die slegs 'n middel tot 'n baie groter doel is: om Suid-Afrika lam te lê totdat die Nasionale Party met sy apartheidsbeleid plek sou maak vir 'n liberale, selfs kommunistiese party. Dit was nou nie meer vir hom so noodsaaklik soos eers, om buitengewoon bedrywig te wees nie.
Intussen het Hain uit die Britse Liberale Party bedank en hom by die Arbeidersparty aangesluit. Hy was ook by die destydse groot bankskandaal betrokke. Hy is formeel daarvan aangekla dat hy geld gesteel het, maar is weens gebrek aan voldoende getuienis vrygespreek.
Later was hy lid van die Britse vakbond van poskantoorwerkers en het 'n leidende rol gespeel in die Ant Nazi League wat hom daarvoor beywer het om die optredes van die Britse National Front, 'n regse politieke organisasies, teen te werk.
Sy bedrywighede aan die sportfront het aansienlik afgeneem maar sy naam sou in die geskiedenis aangeteken bly staan as die man wat Suid-Afrikaanse sport, en die Republiek se voorste sportlui, 'n bykans onherstelbare knou toegedien het.