Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Nie wat in die mond ingaan maak die mens onrein nie, maar wat uit die mond uitgaan, dít maak die mens onrein – Matt 15:11.
ONREG DUUR NIE VIR EWIG...
... ook in Suid-Afrika
Ds Andrè vd Berg
Moet nooit vergeet dat sy herstel van ʼn volk by straf op sonde begin nie.
“Hoe lank, o Here, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! - maar U help nie? Waarom laat U my onreg sien ... Ja, verwoesting en geweld is voor my oë...” (Hab.1:2,3).
Habakuk se naam is ’n beskrywing van sy lewe. Dit beteken omhels of worstel. Hy was regverdig, die Wet van God omhels (deel van sy lewe gemaak) en met God geworstel. Hy het egter ’n probleem gehad; dit het vir hom gevoel asof sy geloof hom niks baat nie. Sy samelewing was ontwrig, skobbejakke is verryk en gelowiges is al hoe meer veronreg. Daarom worstel die profeet met God: “Here, U kan mos iets hieraan doen, waarom doen U niks nie?”
Wat in Juda gebeur het, gebeur ook in Suid-Afrika – gelowiges kry swaar in ʼn onreg-bedeling. Sonde, boosheid, diskriminasie, ontwrigting en verwarring is aan die orde van die dag. Die staat minag God se Wet en hoofstroomkerke luister eerder na mense as na God sodat prediking weinig effek het. Gevolglik worstel baie gelowiges soos Habakuk met God se plan hiermee en vra: “Here, waarom doen U niks hieraan nie?”
God verseker sy profeet dat sy oordeel oor Juda voor die deur is. Daarvoor gaan Hy die volk se grootste vyand gebruik - die Babiloniërs. Hy gaan hulle aan bewind plaas om Juda te tug. Juda het die vyand geken; ’n wrede nasie wat God getart het en teen wie geen nasie op daardie tydstip opgewasse was nie.
Gelowiges moet nooit vergeet dat alles en almal aan God onderworpe is nie. Booswigte kan selfs vir tyd en wyl instrumente in sy hand word - ’n karwats om stout kinders ’n loesing mee te gee. God het by geleentheid selfs ’n bose gees gebruik om die afvallige koning Saul te teister!
Toe Habakuk vir ’n verandering in Juda se volkslewe gebid het, het hy heimlik vir ’n herlewing gehoop. God antwoord met oordeel! Dieselfde ding het in Suid-Afrika gebeur. Toe die volkslewe verval en baie gelowiges vir herlewing bid, het God oordeel gestuur en die vyand as tugroede gebruik.
Dis wonderlik om in die hand van ’n genadige God te wees. Moet nooit vergeet dat sy herstel van ʼn volk by straf op sonde begin nie. Ons aanbid ’n liefdevolle dog regverdige God wat wil hê dat ons van sonde moet wegdraai. “Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel” (Eseg.33:11)
Habakuk het vir herlewing gehoop, maar van God se oordeel verneem wat die Babiloniërs as tugroede teen Juda gaan gebruik. Die profeet se lugkastele het in puinhope en sy dagdrome in nagmerries verander! Hy het geweet dat Juda gesondig het, maar geglo dat God nie so drasties sou optree nie siende dat hulle sy volk en derhalwe baie beter mense as die vyand was.
Habakuk was ontsteld. Dis asof hy vir God wou sê: “Here, hulle is dan heidene. Kyk wat vang hulle met die land aan! Hoe kan U hulle enigsins verdra?” Habakuk het op die stadsmuur gaan staan en op ‘n antwoord gewag: “Op my wagtoring wil ek gaan staan en op ’n skansmuur my stel en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek en wat ek op my klagte moet antwoord” (2:1).
God het Habakuk geantwoord en verseker dat Hy nie net Juda gaan straf nie, maar ook die vyand na ’n paar jaar van hulle heerskappy. Juda se tug sal tot sy herstel dien, maar dié van die vyand tot hul vernietiging. God se tug sal Juda genees, maar sy oordeel oor Babilon sal hul uiteindelike dood beteken. Daar is ʼn verskil tussen tug en oordeel. Tug is uit liefde en oordeel uit haat; goddelike haat! “Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ’n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees. Want die HERE is regverdig...” (Ps.11:5-7).
Waarom talm God so lank in sy oordeel aan die suidpunt van Afrika? Waarom verbrand Hy nie die goddelose bewindhebbers en afgodsdienaars tot as soos wat Hy met Sodom en Gomorra gedoen het nie? Ons weet nie. God se weë is nie ons weë en sy tyd nie ons tyd nie. Al wat ons met sekerheid weet, is dat Hy op sy tyd met die goddelose sal afreken. Dis die vertroosting wat Hy vir Habakuk in ’n tyd van baie groot onsekerheid oor die toekoms gegee het.
God antwoord Habakuk se klagte deur hom te verseker dat die vyand se dag van afrekening kom. Hy straf alle boosheid veral trots, die Babiloniërs se grootste oortreding:“Kyk, sy siel is opgeblase in hom …” (2:4). Die vyand het geglo dat niemand, nie eens ’n God, hulle uit die kussings sou lig nie. En toe kom die oordeel - God duld geen mededinger nie! Jesaja voorspel dit:
“Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God …. Ek wil klim op die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil” (Jes.14).
Die Babiloniërs was nooit tevrede met die grootte van hul ryk nie en wou altyd meer grond hê. Grond gryp is dus niks nuut nie. Dis eie aan heidene. God sou dit net tot op ’n punt duld. Hulle gaan vir talle oortredings gestraf word soos onreg en geweld: “Wee hom wat ’n stad bou met bloed en ’n vesting stig deur onreg” (2:12). So ook vir hul sede- en eerloosheid: “Jy het jou versadig met skande in plaas van met eer” (2:16).
Net een groep mense sou die oordeel van God oorleef: “Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe” (2:4). God skaar Hom in nood by die gelowiges van ʼn volk totdat die tyd verby is en Hy die vyandheerskappy beëindig. Dit het die profeet moed vir die toekoms gegee. Daarom is die hele hoofstuk drie ’n dankgebed aan God met die opskrif: Gebed van die profeet.
Habakuk het sy vertroue in God se oppermag in sy volk se krisisuur uitgeleef en is daarvoor aangeprys: “Die Here jou God is by jou,’n held wat verlossing skenk...” (3:16). Hy het hom opnuut aan God gewy en gejubel al was oordeel voor die deur. God het hom opgelig om verder as die hier en die nou sien. Daarna het hy vurig vir die bekering van Juda gebid
Ons weet nie wat die toekoms vir ons na dese gaan inhou nie. Die skade wat die getygolf van onreg, geweld, korrupsie en afgodiese verering van booswigte hierdie land aangerig het, is onberekenbaar. Moenie jou siel daaroor verknies nie. Leef jou geloof uit. Geloof is volle vertroue in God. Dawid skryf: “Al word ’n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan ’n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek” (Ps.27:3).
Ons aanbid nie ʼn ander God as die Een in die Bybel nie. Wat Hy vir Juda gedoen het, sal Hy ook vir die Boerevolk doen indien hulle hul bekeer. Wie ʼn beter Suid-Afrika begeer, moet soos ʼn Habakuk van ouds bid dat die Boerevolk hul sal bekeer – verkeerde dinge los, ontspoorde kerke verlaat en hul opnuut tot die Here sal keer.
God gee ons ʼn belofte: “...en as my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kron.7:14).
Amen!