Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Soos ons ouer word verwyt ons onsself dikwels vir tyd wat nie reg gebruik was nie, verlore gegaan het omdat ons onbelangrike dinge gedoen het – baie mense sal eendag by God hoor dat hulle baie dinge goed gedoen het waarvan hulle nooit eers bewus was nie.
DE LA REY (6)
Hierdie boeiende vertelling van verskeie burgers se herinneringe onder genl De la Rey tydens die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 geskryf deur Ignatius Mocke kan gelees word by
DIE VRYBUITERSKOMMANDO
"KOMMANDANT" FRIKKIE ELS voel onrustig. Hy het oom Giel van Zyl, sy baasverkenner, vroeg die agtermiddag uitgestuur om die omgewing te verken en nog het oom Giel nie teruggekeer nie, hoewel die son al laag aan die westerkim hang.
Vir die soveelste keer loop die “kommandant” met die verkyker in sy hand die klipkoppie agter die laer uit om die omgewing te bespied. Daar is geen lewende wese in die vaal ononderbrokenheid van die omliggende wêreld te sien nie.
“Ek wonder waar Giel so laat bly?” mompel hy bangerig onseker teen homself, “ek hoop tog net nie daar het iets met hom gebeur nie ...”
“Kommandant” Els vertrou die vrede nie. Vandat sy kommando ’n paar weke gelede een van generaal De la Rey se spioene in ’n gewonde toestand hier tussen die riete in een van die vleie gekry het, voel hy maar gedurig op sy hoede. Want hy is aanvoerder van ’n vrybuiterskommando, ’n kommando wat nog vis nog vlees is. Hulle is ewe bang vir Boer of Brit en vlug vir albei om‘t ewe.
Die rang van “kommandant” wat oom Frikkie beklee, is ’n selfaangematigde titel. Hy en sy volgelinge is vrybuiters wat leef van die buit wat hulle van die vyand kan neem. Dog hulle is ook ewe versigtig om uit die hande van De la Rey se manne te bly, want hulle weet dat as hulle in die Generaal se kloue val, daar nie meer kans sal wees om hul lywe weg te steek nie. Dan sal hulle moet veg, dag en nag, want De la Rey is die man op wie die oorlog nou al hoe meer hier in die Noorde toegespits raak. ’n Koue rilling kruip langs “kommandant” Els se ruggraat af by hierdie skielike gedagte aan De la Rey. Hy het eenmaal ’n ontmoeting met die Generaal gehad. Hy en sy manne is op ’n nag onverwags deur die kommando van genl. De la Rey oorval en toe moes hulle, teen wil en dank, saam met die kommando veg. Genl. De la Rey het geweet dat oom Frikkie en sy trawante papbroeke is wat vir hul verpligtinge voor vriend en vyand vlug en hy het ook baie staaltjies gehoor in verband met die vrybuiterskommando se roof- en plundertogte; daarom wou die Generaal hulle ’n goeie les leer. Die volgende dag toe die De la Rey-kommando dan ook weer met ’n geweldige oormag Engelse in ’n geveg gewikkel geraak het, het die Generaal oom Frikkie en sy manne opsetlik op die warmste deel van die gevegslinie saamgetrek.
Daardie dag het oom Frikkie uit die grond van sy hart opreg gebid — gebid dat die Heer horn en sy mense veilig uit die verknorsing moes red; hulle in die uur van nood moes beskerm. Hul broekspype het gebewe van vrees en hul tande het opmekaar geklap van angs, dog geen gesoebat ofjammerhartige geklaag het gehelp nie; hulle moes maar deurbyt tot die einde toe.
Maar toe die bomme so skrikaanjaend om en oor hulle begin bars en koeëls snerpend naby hul ore verbyfluit, het oom Frikkie en sy mense dit veiliger geag om liewer hul stellings te verlaat en die spat te neem. Dog hierteen was generaal De la Rey voorbereid.
Hy en ’n paar van sy offisiere het dadelik agterom gejaag en oom Frikkie en sy manne voorgekeer. Met die sambok het die Generaal en sy offisiere oom Frikkie hulle weer na hul stellings teruggedryf.
Die Generaal self het oom Frikkie as sondebok uitgekies en toe moes laasgenoemde die hele storm van sy woede verduur. Hy kan nou nog die sambokhoue op sy skouers voel brand. Hy kry nog hoendervleis as hy aan daardie vreeslike dag dink. Duidelik kan hy nog sy eie smeek- en kermkrete bo die krygsrumoer hoor uitstyg. Dog die Generaal se woede het daardie dag geen perke geken nie en toe oom Frikkie eindelik weer in sy ontruimde posisie terugspring, was die klere byna van sy lyf geslaan.
Die nag het oom Frikkie en sy manne in groot lewensgevaar uit die De la Rey-kommando ontsnap. Die wagte het op hulle geskiet en ’n afdeling burgers het hulle te perd agterna gesit, dog die “vrybuiters” het uitgejaag; onverskrokke, met die moed gebore uit angs en verskrikking.
TEEN sononder die aand kom oom Giel van Zyl eindelik weer by die laer aan.
“Hoe lyk dit, Gielie, het jy enige onraad gemerk?” vra oom Frikkie in ’n angstige stem as oom Giel nog ver aankom.
“Nee, alles lyk rustig en kalm hier rond, Kommandant,” sê oom Giel in ’n toonlose teemstem terwyl hy moeg uit sy saal seil en sy begin afsaal. “Ons kan maar met ’n geruste gemoed vir die nag hier kamp.”
“Nou goed, Gielie; dan moet jy maar net gou eet en vir jou ’n maat soek wat saam met jou vannag kan wagstaan. ’n Mens kan darem maar nooit gerus genoeg wees met jou vyande oral om jou heen nie. De la Rey se Boere kan dalk weer op ons afkom, jy weet, soos daardie nag by Doringspruit...”
Oom Giel sug swaar terwyl hy die saal van sy perd se rug afhaal, asof die herinnering aan daardie skrikwekkende nag hom nog pyn aandoen. Hy is ’ n korterige, gesette man van middeljarige leeftyd met stokkerige grys baard en hare en ’n ietwat gedweë gelaatsuitdrukking. Nou haak hy die toom uit sy perd se bek en kniehalter hom sodat hy ’n paar happe kan vreet. Stilswyend kom hy by die “kommandant” se vuur sit om iets te ete te kry.
Oom Giel is die verantwoordelikste man in die kommando. Naas die “kommandant” beklee hy die hoogste rang. Op sy skouers rus die grootste verpligtinge. Hy moet sorg vir die kommando se kos en klere; hul skietgoed, ja en selfs hul veiligheid. Een van oom Giel se grootste kwellinge is die skoenkwessie. Die kerels se skoene raak gedurig gedaan en dan hardloop hulle na hom toe om dit te herstel of te versool. Dit is dan ook te verstaan waarom oom Giel soveel waarde aan sy ysterlees heg. Nêrens sou hy heengaan sonder sy ysterlees nie; hy sou selfs eerder sy geweer of sy mondprovisie in die steek laat as sy ysterlees.
“’n Mens kan liewer halfnaak gekleed gaan as dat jou skoene sleg moet wees,” het oom Giel altyd gesê. “Solank jou voete goed beskut is en jy vinnig oor die weg kan kom, is die wêreld reg, maar as jy in die deel van jou liggaam kwesbaar is, is dit hopeloos vir jou om te probeer oorlog maak ...”
Dis ’n stikdonker nag. Oom Giel kan nouliks sy hand voor sy oë sien. Hy en Flip Roets staan slegs ’n paar tree van mekaar op wag, dog dis so donker dat hulle niks van mekaar kan sien nie. Elke keer moet hy op gedempte toon met Flip praat om van sy aanwesigheid seker te maak.
Dis reeds oor middernag en oom Giel begin vaak voel. Elke keer neig sy kop vooroor en dan skrik hy weer met ’n skok wakker as sy voorkop teen die koue geweerloop raak waarop hy leun.
“Flip, slaap jy ...? Waarom is jy so stil...?” Oom Giel se stem klink skielik onnatuurlik hard in die stilte van die nag.
“Nee, Oo-oom, nog nie,” kom dit skielik slaperig van Flip, “maar ek kan dit darem nou nie meer hou nie, Oom; ons kan gerus maar gaan slaap...”
“Nee, dis nog te vroeg; ons moet eers wag dat dit lig word, dan kan ons dit waag om bietjie te gaan dut. Jy moet nog maar bietjie probeer uithou, ou seun ...”
Maar oom Giel voel self so vaak dat hy skaars sy oë kan oophou.
Sy kop sak skielik lusteloos vooroor op sy hande en ’n vermoeienis sak oor sy oë. Hy wou net in ’n diep sluimering val toe hy skielik gewek word deur ’n geraas soos van klinkende metaal aan die voet van die kliprantjie. Hyluistergespanne en hoor die geraas nou duidelik. Dis die geluid van kanonwiele wat oor ysterklippe rol. Ook hoor hy die getrap van perdepote. Dan hoor hy ’ n stem duidelik sê: “Halt there! Form fours; and proceed in order up the ridge of the hill!”
Nou is oom Giel helder wakker en by sy volle positiewe.
“Flip! Flip!” roep hy in ’n benoude fluisterstem aan sy makker in die donkerte. Dog laasgenoemde het reeds in ’n diep slaap geval en weet van geen sout of water nie.
In ’n kits is oom Giel by horn en skud horn hardhandig wakker. Die kêrel kom verbouereerd orent.
“Waa-aat’s dit, Oo-oom?” vra hy half deur die slaap.
“Hier is die Engelse, jong: Daar is geentyd vir slaap nie; ons moet dadelik trap as ons wil ontsnap ...”
Die jongman kyk oom Giel verdwaasd aan asof hy die betekenis van sy woorde nie snap nie: “Wat... waar...?”
“Sommer op ons ... luister!”
Die geluid van die kanonwiele en die getrap van die perdepote is nou veel duideliker. Hulle kom reg op die twee wagte af. Oom Giel en Flip verlaat sonder verdere verwyl hul poste en hardloop laer toe om die kommando te waarsku.
“Kommandant, Kommandant ... hier is die vyand!”
Hardhandig wek oom Giel die “kommandant” uit ’n swaar, koorsige slaap.
“Hulle is op ons, Kommandant... Daar is geen tyd te verwyl nie as ons veilig wil uitkom,” vervolg oom Giel in ’n waarskuwende stem, terwyl die “kommandant” swaarsugtend orent kom.
“Is dit Engelse?” vra die kommandant onseker, terwyl hy verbouereerd in sy naghemp onder die velkombers uitspring.
“Ja, Kommandant.”
“Is jy seker dis nie dalk De la Rey se kommando nie?” vra hy nog agterdogtig met ’n onmiskenbare klank van vrees in sy stem.
“Nee, Kommandant, dis ’n groot afdeling Engelse wat met sak en pak reg op ons laer aftrek... Hulle is sommer op ons, Kommandant, sommer hier aan die voet van die rantjie...”
“Aag, ou swaer, dan is dit sommer kinderspeletjies om weg te kom,” sê die “kommandant,” nou heeltemal gerus en half bly, “dankie Vader, dis nie De la Rey nie!”
Dog onder die ander lede van die kommando het die nuus soos ’n bom ontplof. Nou heers daar totale verwarring. In koorsagtige haas probeer elkeen nou net wegkom van die ongelukstoneel af. En in hul haas laat hulle alles agter: Kookgereedskap, komberse en selfs hul kosvoorrade en gewere. Sonder onderskeiding vang elkeen sommer die eerste die beste perd wat hy in die hande kan kry en dan is dit wegjaag om in veiligheid te kom; sommer bloots met tou in die bek.
Die “kommandant,” oom Giel en Flip Roets is die laaste drie wat uitjaag, dog van die ander lede van die kommando is daar geen teken meer te sien nie. Hulle het almal in verskillende rigtings verdwyn.
“Ek wonder waar die ander manne is,” vra die “kommandant” uitgeput toe hulle eindelik in veiligheid is, “as hulle tog nou maar net verstandig genoeg is om bymekaar te bly...”
“Die Vader alleen weet of hulle ooit weer almal bymekaar sal kom,” sê oom Giel moedeloos, “elkeen het sy eie rigting gevolg en hulle het so groot geskrik dat ek nie weet waar hulle gaan stilhou nie. En die ergste van alles is, hulle het alles agter gelaat. Alles lê net so daar op die kampplek: Komberse, eetgoed, kookgereedskap, gewere, ek weet nie wat ons nou gaan aanvang nie...”
Die drie manne ry stilswyend verder, diep onder die indruk van die groot ramp wat hulle getref het.
Teen elfuur se kant begin die manne weer die een na die ander hul verskyning maak. Party kom van agter rantjies te voorskyn, ander verskyn ewe skielik op die grasvlaktes asof uit die niks van nêrens; ander weer, kom vanuit die oewers van ’n bosbegroeide lopie te voorskyn. Na ’n rukkie is die hele kommando weer bymekaar en nou trek hulle noordwaarts, te bang om terug te keer na die plek waar hulle die vorige nag verras is.
“Oom Giel, het Oom Oom se ysterlees saam uitgebring?” vra Hendrik van der Schyff skielik terwyl hy oom Giel vraend aanstaar.
“Ek het feitlik net met my paar skoene uitgekom en hulle is ook al so te sê oor die muur. Ek sou graag wou hê dat Oom hulle bietjie versool as Oom nie omgee nie ...”
Oom Giel pluk skielik sy perd in; sy gesig verstrak.
“Nee, verbrands,” se hy ontsteld, “die verdomde ding lê nog daar waar ons gestaan het.” Hy sit ’n oomblik nadenkend en dan kom hy skielik tot ’n besluit. “Maar ek gaan horn nie daar laat bly nie,” sê hy vasberade, “al is die hele wêreld se Tommies nou ook al vanmore daar; ek gaan hom haal...”
“Moenie mal wees nie, ou swaer,” probeer die “kommandant” hom van sy besluit afraai, “laat die ding maar staan. Ons sal wel een van die dae weer net so een in die hande kry.”
“Nooit, Kommandant! My ysterlees laat ek nie in die steek nie. Al moet ek ook nou daarvoor deur die vae vuur gaan.”
’n Paar manne willig in om saam met oom Giel terug te gaan, maar die meerderheid is bang en bly op !n veilige afstand agter. Oom Giel en sy agterryers gaan nou met dieselfde pad terug soos hulle gekom het.
As hulle op ’n naburige bultjie uitkom, sien hulle twee opgesaalde perde onder ’n doringboompie vasstaan.
“Dit moet Kakies wees,” sê oom Giel na ’n oomblik se bespieding, “maar ek sien geen mense by die perde nie. Miskien lê hulle in die koelte van die boompie en slaap. In elk geval,” voeg hy vasberade daaraantoe, “ons moet daardie twee uitvaagsels vang. Hulle is blykbaar spioene van die laer wat ons gisteraand hier oorval het...”
Oom Giel en sy makkers besluit om die soldate te omsingel. Hulle sou hulle sommer oop en bloot stormjaag en dan “hensop.” Oom Giel besluit om reg op hulle af te jaag terwyl die ander twee regsom gaan.
Oom Giel gun sy twee makkers egter skaars genoeg tyd om hul bewegings uit te voer. Nouliks is die twee kêrels van hom af weg, of hy druk sy spore diep in die sye van sy vaal sweetvossie en jaag reg op die twee slapende soldate af.
Maar vossie het partymaal die nuk gehad om sommer met sy baas op loop te sit en hy het vanmore blykbaar in een van hierdie nukkerige stemminge van hom verkeer. Toe hy die twee vasgemaakte perde onder die doringboom sien, gee hy net een runnik, ruk sy kop vooroor en laat vat reg op die twee perde af.
Verbouereerd klou oom Giel aan die perd se mane vas in sy poging om die teuels, wat intussen uit sy hande geraak het en nou voor op die perdjie se nek lê, weer in die hande te kry.
Dog digby die twee perde verander vossie skielik van gedagte: Hy steek viervoet vas en pluk sy kop tussen sy bene weg met die gevolg dat oom Giel netjies uit die saal gelig word en in ’n boog deur die lug trek. Op die platte van sy maag kom oom Giel digby die twee soldate in ’n kol sand te lande. Hoewel half bedwelend geval, behou hy sy teenwoordigheid van gees. Hy word skielik bewus van die feit dat hy nog sy geweer in die hand het.
Die soldate het intussen ook wakker geskrik en gryp nou verbouereerd na hul geweers. Oom Giel is egter die eerste klaar en skiet hulle plat. Dan bly hy nog ’n hele ruk, meer uit verbouereerdheid as doelbewus, op die twee neergevelde soldate
skiet. Hy skiet drie, vier rondtes van sy magasyn op hulle leeg totdat hy naderhand self bewus word van die feit dat albei so dood soos mossies is.
“So,” sê oom Giel onverskillig, terwyl hy opstaan en sy broek afstof, “nou sal julle in elk geval nooit weer Boere kan skiet nie.
OOM Giel vind sy ysterlees op die plek waar hy dit die vorige nag agtergelaat het. Die burgers wat saam met horn gekom het, vind ook nog meeste van hul goed onaangeroerd in die kamp waar hulle dit met die wegjaag agtergelaat het. Die Engelse laer het daar digby verbygetrek sonder om die ontruimde Boerekamp op te merk.
Die burgers probeer ook soveel moontlik van hul makkers se goed saamneem en hulle laai ook die twee perde wat oom Giel buitgemaak het, vol goed. Sodoende slaag hulle daarin om weer in ’n mate die kommando se toerusting uit te brei.
Die “kommandant” is baie bly oor die groot buit wat oom Giel en die paar man wat saam met hom gegaan het, gemaak het. Veral oom Giel dra die grootste lof weg vir die kordaatstuk wat hy gedoen het.
“Ek het altyd geweet dat jy nie ’n papbroek is nie, Gielie,” sê die “kommandant” terwyl hy oom Giel gemoedelik op die skouer klop, “maar ek het darem nooit kon dink dat jy so min vir die dood omgee nie, as om sommer twee kêrels oop en bloot, op die kaal veld en helder oordag, stom te jaag en hulle te oorrompel nie...”
“ Aag, dit was darem nie so erg nie, Kommandant,” antwoord oom Giel inkennig. “Ek was maar net bietjie vinniger as hulle, dis al. As hulle voor my klaar was, was ek seker hierdie tyd al kaiings...”
Hy het dit maar raadsaam geag om die feit dat vossie handuit geruk en weggehardloop het, verbloem te hou, want dit sou net onnodige afbreuk doen aan die hoë agting wat sy makkers nou jeens hom koester oor die kordaatstuk wat hy gedoen het.
Die nag slaap die kommando weer rustig, na baie dae van onrus en spanning, in die sagte beskutting van ’n bosbegroeide laagte.
Die volgende dag trek hulle in die omgewing van Braklaagte, oom Giel se plaas, verby.
“Ek het lus en gaan bietjie by die huis aan,” se oom Giel aan die “kommandant”. “’n Mens kan nooit weet of jy ooit weer so ’n kans sal kry nie...”
“Ja, Oom, dis ’n goeie plan,” val Kaalkop van Rensburg hom in die rede, “dan kan Oom tog weer bietjie goeie koffie saambring. Ek is al so moeg van die elandsboontjie en soetriet wat ons in die laaste tyd moet drink, dat ek iets daarvan kan oorkom...”
“Jy moet darem maar versigtig wees,” sê die “kommandant” waarskuwend. “Dit lyk my die hele wêreld is vol van die vyand... Kyk hoe onverwags het daardie Engelse eergisteraand op ons afgekom...”
Maar oom Giel is vasberade om te gaan. Hy verlang al te veel na sy huismense. Dit is reeds weke gelede dat hy laas sy vrou en dogter gesien het. Dit is al laat die namiddag toe oom Giel op sy plaas aankom. Hy nader die opstal met die uiterste
versigtigheid, maar alles is rustig en kalm en daar is niks agterdogwekkend te sien nie. Uiteindelik, as hy seker gemaak het dat die omgewing skoon is, waag hy dit om uit die populierbos waarin hy geskuil het, te voorskyn te kom en in die plaaspad aan te ry na die groot hek van die werf.
As hy voor die hek stilhou, merk hy skielik iets wat sy bloed laat stol: Half agter die stalmuur verberg sien hy die agterlywe van twee opgesaalde perde uitsteek. Engelse perde! Die gedagte skiet met verblindende skielikheid deur oom Giel se brein.
Maar hy was reeds te ver gevorder om terug te draai sonder om agterdog te wek. Hy sou dus nou moet deurdruk, watter gevaar hom ook al bedreig.
Ewe ongeêrg haak hy dus sy teuels aan die paal van die werfhekkie vas en stap die tuinpaadjie op wat na die voordeur lei. As hy in die voordeur verskyn, bly hy ’n oomblik asof verbysterd staan. Op die rusbank langs sy vrou sit ’n man in baie verbande toegewikkel. Een oogopslag is genoeg om oom Giel te oortuig wie dit is wat hy daar voor hom sien: Dis een van die twee Engelse spioene wat hy eergister daaronder die doringboom “doodgeskiet” het.
Oom Giel se verbasing is so groot oor wat hy daar voor hom aanskou, dat hy skoon vergeet om homself te probeer verdedig. ’n Oomblik later blink ’’n rewolwer in die gewonde Engelsman se hand: “Hensop!” Die bevel kom swak, bewerig, maar tog onverbiddelik.
Oom Giel staan onbeweeglik. Hy wil iets sê, maar sy lippe wil die woorde nie vorm nie. Eindelik stamel hy onsamehangend: “Wat... jy...! Jy, hier in my huis... Hoe is dit moontlik...! Ek het jou mos doodgeskiet...!”
Die Engelsman kyk oom Giel woes aan; die vingers van sy hand wat die rewolwer hou, sluit skielik krampagtiger saam: “Ek weet nie wie jy is, of waarvan jy praat nie, maar as jy nie nou ‘hensop’ nie, blaas ek jou harsings uit...”
Oom Giel se hande gaan slap omhoog; sy gelaatskleur verbleek skielik en sy oë staar styf uit hul kaste, asof hy van aangesig tot aangesig met ’n bonatuurlike verskynsel gekom het.
’n Oomblik staan die twee manne so teenoor mekaar; dan skielik gryp die vrou, wat al die tyd eenkant langs die bank gestaan het, die Engelsman se hand vas en draai die rewolwer se tromp weg in ’n ander rigting. Die Engelsman worstel flou, maar dit is duidelik dat hy nie die nodige krag het om hom te verset nie.
“Man,” skreeu tant Hannie benoud, “sorg dat jy wegkom. Netnou-netnou is die ambulans hier om hierdie gewonde Tommie te kom haal en dan vang hulle jou hier... Moenie meer langer talm nie... Laat spat...”
Oom Giel aarsel ’n oomblik, dan pluk hy sy geweer van sy skouer en skiet die gewonde Engelsman vol in die gesig.
Die soldaat sak vooroor en gly van die rusbank op die vloer. In ’n kits is oom Giel binne. “Jammer dat ek hom so naby jou moes skiet, Hannie,” sê hy, “maar ek kon dit nie waag om hom te laat ontsnap nie. Hy sou die ander gaan waarsku het.”
Hy beskou die lyk. “Ek sal hom moet begrawe,” sê hy en dan, asof die gedagte hom opbeur, voeg hy nadenkend daar aan toe:
“Ek het gedink dis ’n spook toe ek hom sien, Hannie. Maar spook ofte nie, sy tolletjie is afgerol.”
Vervolg...