Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die 'oumense' het graag gesê dat liefde blind is omdat die waarheid so lelik is. As jy in oorleg met God die regte lewenskeuses maak sal jy egter vind dat die waarheid pragtig en die liefde rein en baie aanskouelik is.
ONS MOET HOM PERSOONLIK KEN
Hannes Ollewagen
Ps. 105:1-45
“Vra na die Here en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.” (:4).
’n Vermaning wat deur baie van God se boodskappers aan sy volk gerig is, is die een waar God die mens daartoe roep om Hom te soek. God vermaan en roep die mens daartoe om Hom van harte te leer ken en ’n goeie verhouding met Hom te bou. Hoe duidelik is hierdie wekroep van God nie ook deur die mond van die profeet Jesaja nie. “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” (Jes. 55:6).
Terwyl die profeet Jesaja ons maan om God te soek, is die Psalmdigter egter meer spesifiek hieroor. Die Psalmdigter stel dat ons God se Aangesig moet soek. En dat ons dit gedurigdeur moet doen. Ek wil hê dat ons op hierdie twee spesifieke sake in vandag se oordenking moet fokus.
Ons kan iemand op meer as een manier ken. Ons kan van iemand weet en op dié wyse ken ons ’n persoon tot ’n mate. Wanneer ons byvoorbeeld aan publiekbekende mense dink en u word gevra of u hierdie of daardie persoon ken, sal u bevestigend antwoord. U hoor of lees na alle waarskynlikheid gereeld iets van hierdie persoon en sal derhalwe ’n redelike idee hê van hulle beroep, sekere voorkeure en dalk ook ’n karaktereienskap of twee. U kennis van hierdie persoon word egter gevorm uit dit wat deur ander mense oorgelewer word en is ’n groot deel daarvan ander mense se persepsie of ervaring van die persoon. En ander se persepsie of ervaring van ’n persoon kan ook verkeerd wees. Dit is baie waarskynlik dat u beeld van hierdie persoon heelwat kan verander wanneer u self met hierdie persoon in aanraking kom. Ek is seker dat dit al met bykans almal van ons gebeur het waar ons ’n beeld van ’n persoon gevorm het op grond van wat ander van hierdie persoon gesê het, maar ná ’n persoonlike ontmoeting het ons beeld van die persoon heeltemal verander.
Dit is op grond van voormelde dat die spesifieke opdrag van God deur die Psalmdigter so belangrik is. Die opdrag is dat ons God nie net moet soek nie, maar dat ons sy Aangesig moet soek. Ons moet na Hom soek om in ’n persoonlike verhouding met Hom te staan. Ons moet soek om Hom self in die Oë te kyk en nie na Hom soek in ’n verhouding waar ons altyd net deur ’n derde party of ’n tussenganger met Hom kommunikeer nie. Daar is vir ons een Middelaar en dit is Christus. “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus,” (1 Tim. 2:5). En elkeen van ons moet self met Hom, deur die Woord, op ’n gereelde basis ontmoet. Ons elkeen moet op gereelde grondslag die Woord van God oopmaak en op dié wyse ons oë tot Hom ophef om sy Aangesig te sien.
Die tweede saak wooroor die Psalmdigter redelik spesifiek was, is dat ons God altyddeur moet soek. Geliefdes, enige verhouding waaraan daar nie tyd afgestaan word nie sal skipbreuk ly. En ons verhouding met God is nie anders nie. Dink maar aan al die mense wat in ’n besonderse verhouding met God geleef het – Abraham, Dawid, Jeremia en Daniël, om maar ’n paar te noem. Hierdie manne het gedurig God se Aangesig gesoek. “...en hy het drie maal op 'n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.” (Dan. 6:11). Hulle verhouding met Hom was nie maar ’n geloofsbelydenis wat iewers afgehandel moes word sodat die gewete gesus word en die persoon na die hemel onderweg is en intussen met die lewe kan aangaan nie. Dit is mos g’n verhouding nie! Sal u die belofte van ’n huwelik met u eggenoot aflê sodat u van die volgende dag af elkeen weer met sy eie lewe afsonderlik kan voortgaan? Hoe lank dink u sal só ’n verhouding hou? Christus maak dit duidelik dat daar op diesulkes ’n baie onaangename verrassing tydens sy koms wag. “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:21-23). Alhoewel hulle van Hom geweet het en selfs godsdienstig bedrywig was, het hulle Hom nie geken of met Hom in ’n gesonde verhouding gelewe nie.
Ons gesonde verhouding met Hom kan nie gebou word op grond van wat die dominee of my ouers of ons vriende ons van Hom leer nie. Ja, daar is natuurlik ruimte vir opinie en leiding op geestelike gebied deur mense wat in ’n noue verhouding met God staan en wat ’n besondere kennis van God het, maar dit verskoon ons nie elkeen van sy persoonlike verantwoordelikheid om self na God te soek en te vra nie. Ons kennis van Hom moet gevorm word en toeneem uit ons persoonlike verhouding met Hom waar elkeen self ons oog op sy Woord rig en daarin na Hom soek sodat Hy daardeur sy ware Beeld aan ons kan vertoon. Ons behoort dit te doen omdat dit is wat Hy vir ons deur sy Woord leer. En Hy leer ook vir ons die gevaar wat dreig wanneer ons dit nalaat – ons verhouding met Hom sál skade ly. Dit is vir ons duidelik uit die lewe van Rehábeam. “En hy het gedoen wat verkeerd was, want hy het nie sy hart gerig om die Here te soek nie.” (2 Kron. 12:14).
Laat ons hierdie opdrag van God vandag ernstig opneem en laat ons elkeen ons verantwoordelikheid opneem om God se Aangesig gedurigdeur te soek. Ek sluit af met die belydenis van ’n man wat God in hierdie saak gehoorsaam was en daarom ook in ’n besondere verhouding met God geleef het. Die belydenis van Jeremia in Klaagliedere 3:25. “Tet. Goed is die Here vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.”