Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geloof is geen opium wat jou verblind en verdoof nie – geloof is harde werk. Dis om te dóén in plaas van net te sê. Dis om jouself prys te gee soos Christus gedoen het – maar dit maak jou gelukkig!
EK HET GESTERF ! (11)
Hierdie naby-dood ervaring is in Afrikaans vertaal en neergeskryf
deur Anita Joubert
Ek was ʼn lesbiër, en toe ek voor Jesus staan, het ek besef dat Hy alles van my weet – al my verkeerde keuses, diepste vrese en weggesteekte pyn. Hy het geweet van my hartseer, my woede – en tog het Hy my liefgehad.
Ek het nooit geglo dat die stories oor nabydood-ervarings die waarheid is nie. Ek het altyd gedink dit is waandenkbeelde van mense wat probeer aandag soek. Wat egter met my gebeur het, is die waarheid en het my lewe vir ewig verander.
My naam is Stephanie en ek het grootgeword in Guatemala. Totdat ek 34 jaar oud was, was ek absoluut seker wie ek was en wou wees. Ek was altyd prakties, onafhanklik en sterk. Van ʼn baie jong ouderdom af het ek geleer, dat om op ander mense staat te maak, ʼn fout is. Ek het my moeder gesien swaarkry toe ek ʼn kind was, omdat my vader haar verlaat het. Sy het altyd gesê dat mans sleg en niks werd is nie, en daardie woorde is in my ingeprent as die absolute waarheid.
Op die ouderdom van 16, het ek besef dat ek glad nie aangetrokke voel tot seuns nie. Ek was meer geïnteresseerd in meisies. Ek het my eerste verhoudings gehad en na ʼn tyd het ek aanvaar dat dit my identiteit is – ek is gay. Ek wou nooit hê dat ʼn man deel van my lewe moet wees nie. Ek kon net glad nie die nodigheid daarvoor insien nie. Wanneer iets in die huis gebreek het, het ek dit self reggemaak. As iets swaar gedra moes word, het ek dit gedoen. As ʼn gloeilamp vervang moes word, het ek dit self gedoen – en dit was presies dít wat tot my dood aanleiding gegee het.
Daardie aand was ek, soos gewoonlik, alleen tuis. Die stoep se lig was dood en ek het, sonder om twee maal te dink, die lang leer gegryp en opgeklim om die gloeilamp om te ruil. Dit was nie moeilik nie en ek het dit al talle kere in my lewe gedoen. Daardie dag het daar egter iets gebeur. Ek het my arm bietjie te ver uitgestrek om die nuwe gloeilamp in te draai en die leer het skielik ongebalanseerd gevoel. My voet het van die leer se trap afgegly en ek het geval. Alles voor my het dof geword en die laaste ding wat ek onthou, was ʼn skerp pyn, ʼn gesing in my ore en toe – stilte.
My buurman, Charles, het die harde slag van die val gehoor en homself na my huis gehaas. Hy het my bewusteloos aangetref en my so vinnig moontlik hospitaal toe geneem.
Wat egter met my in daardie klein rukkie gebeur het, het my hele lewe vir ewig verander. Ek het die pyn van die val op die grond gevoel; die veraf klank van my buurman wat my naam roep; toe stilte. Absolute stilte.
Ek het onbeskryflik lig gevoel. Daar was geen pyn nie; geen gewig nie; geen vrees nie. Ek het sonder enige moeite opgestaan, maar toe ek afgekyk het, het my liggaam steeds daar gelê. Dit wat ek gesien het, het my getref. Daar het ek op die vloer gelê, bewegingloos, bleek met my oë half oop – leweloos. My eerste reaksie was om te skree om hulp, maar geen klank het uitgekom nie. In werklikheid het ek nie asemgehaal nie. Paniek het my oorval. Dit kan nie wees nie! Dit is onmoontlik! Ek het probeer om aan my eie arm te vat, maar my vingers het regdeur my arm gegaan asof ek van wasem gemaak was.
Wanhoop het oor my gespoel, maar skielik het ek voetstappe gehoor en my buurman, Charles, het verskyn. Ek het sy uitdrukking in skok gesien verander. Hy het langs my gekniel en my naam geroep. “Steven, kan jy my hoor!”
Ek was reg langs hom, maar hy kon my nie sien nie. Ek het deur die huis begin hardloop in ʼn poging om te verstaan wat aangaan. Dit is tóé eers dat ek besef het dat iets baie erg aan die gang is. Ek het nie op die grond getrap nie, maar deur die lug gegly. Daar was geen wrywing nie; geen gewig nie; geen beperkings nie. Dit was asof swaartekrag net eenvoudig nie bestaan het nie.
Toe skielik, sonder enige waarskuwing, is ek opgetrek. Die huis het verdwyn. Alles rondom my het donker geword, maar dit was nie ʼn gewone, bekende donkerte nie. Dit was nie soos wanneer ʼn mens jou oë toegemaak het nie. Dit was ʼn absolute niks – geen geluid, geen klank, geen vorm. Ek het iets ervaar wat ek nog nooit vantevore ervaar het nie. Dit was ʼn eensaamheid wat alle hartseer te bowe gaan.
Toe het ek stemme gehoor. Dit het soos fluisteringe begin, toe soos veraf eggo’s geklink en later het dit duidelike woorde geword. Wat vir my die ergste was, was dat hulle van my gepraat het. “Sy het nooit geglo nie. Altyd die waarheid verwerp. Gedink sy weet alles.” Die vrees het teen my ruggraat opgekruip. Wie sê dit en waar is ek? My instink het vir my gesê dat ek moet hardloop, maar ek het nêrens gehad om heen te gaan nie. Ek het in ʼn rigtinglose ruimte rondgedryf.
Ek het meteens ʼn toneel gesien wat onder my vorm aangeneem het, asof ek deur ʼn onsienbare glas gekyk het. Dit was die hospitaal. Ek het my eie liggaam gesien wat deur die gange gestoot word. Dokters en verpleegsters het die trollie omring. Een dokter het op my voorkop gedruk en probeer om my by te bring. Ek het elektrodes gesien wat aan my bors vasgekoppel was; ek het die paniekerige bewegings van die span gesien en ek onthou dat een van die dokters na die horlosie gekyk en iets gesê het wat ʼn rilling langs my ruggraat afgestuur het: “Tyd van dood: 11:47 nm.” Die hospitaalpersoneel het later gesê dat my hart gaan staan het vir presies agt minute. Wat gedurende daardie agt minute met my gebeur het, was iets wat ek myself nooit sou kon indink nie. Dit was iets wát alles wat ek geglo het, weerlê het.
Ek is skielik, asof iets my weggetrek het van daardie toneel af, teruggegooi in die leë ruimte. Die gevoel was erger as enigiets wat ek nog ooit ondervind het. Dit het gevoel soos om te val sonder om ooit die grond te tref. Dit was amper soos om te skreeu, maar niemand hoor jou nie.
Daar was meteens ʼn lig – eers net veraf, maar soos wat dit nader gekom het, het ek gevoel dat iets binne in my verander. Die vrees het begin vervaag, so asof die lig die krag het om al die duisternis om my te verlig. My hart, of wat ook daarvan oor was, het saamgetrek. Iets het my laat verstaan dat dit nie sommer net ʼn lig was nie – dit was Iemand. Toe ek uiteindelik kon sien, het my wêreld verander. Die lig het gegroei en dit het nie soos die son of ʼn gloeilamp gelyk nie. Dit was iets of iemand wat lewe. Ek kon die lig voel – soos ʼn warmte wat nie gebrand het nie. Dit was soos ʼn omhelsing wat elke deeltjie van my menswees omhels het.
Toe het Hy verskyn. Eers soos ʼn silhoeët, maar soos wat Hy nader gekom het, het ek sonder twyfel geweet dat dit Jesus was. My borskas was beklemd. ʼn Golf van emosies het oor my gespoel. Dit was ʼn mengsel van vrees, skaamte en vrede – alles tegelyk.
Ek wou praat, maar ek kon nie. Hy het na my gekyk en in daardie oomblik het ek geweet dat Hy alles van my weet. Nie net van my lewe, my verkeerde keuses en foute nie. Hy ken my diepste vrees en weggesteekte pyn. Hy weet van al die nagte wat ek alleen gelê en huil het – alleen die woede in my hart gedra het. Hy weet hoe dikwels ek die gedagte dat Hy ʼn werklikheid is, verwerp het. Tog het Hy my liefgehad. Jesus het sy hand na my toe uitgesteek en onmiddellik het alles rondom my verander.
Die donker leegte het verdwyn. Skielik was ek in ʼn plek wat menslike woorde nie kan beskryf nie. Dit was pragtig, maar nie op die gewone manier mooi nie. Dit was nie soos ʼn mooi natuurskoon of ʼn stad vol liggies nie. Dit was ʼn heilige soort skoonheid – soos iets wat my wou laat kniel en huil omdat ek vir die heel eerste keer in my lewe gevoel het dat ek presies op die plek was waar ek moes wees. Die vrede wat vanuit die plek gestraal het, was iets wat ek nog nooit gevoel het nie.
Ek het nog nooit vantevore kleure soos hierdie op aarde gesien nie. Ek het geluide gehoor wat nie werklik musiek was nie, maar wat my siel só direk geraak het. Die lug was gevul met liefde en genade – iets suiwer en onverganklik.
Jesus het begin loop, en ek het Hom gevolg. Om ons was daar hemelse wesens. Ek weet nie of hulle engele was nie, maar hulle teenwoordigheid het ʼn onbeskryflike eerbied uitgestraal. Sommige het gesing terwyl ander net aanbid het op ʼn manier wat ek as mens kon verstaan.
Alhoewel alles om my so wonderlik was, was daar iets in my wat swaar gevoel het. Ek het nie daar gehoort nie. Dit het nie saak gemaak hoe fantasties die plek was nie, ek het ervaar dat iets my keer om waarlik deel daarvan te wees – so asof my siel ʼn swaar gewig moes dra wat my verhoed het om daardie wêreld binne te gaan.
Jesus het gaan staan en weer vir my gekyk. Op daardie oomblik het ek verstaan dat daar iets was wat ek nodig gehad het om te hoor – iets wat alles sou verander. Jesus het gepraat met ʼn stem wat geklink het asof dit iets van die ewigheid dra en Hy was op die punt om dit aan my te openbaar.
Hy het voor my gaan staan en in my oë gekyk. Daardie kyk was nie oordeel of misnoeë nie – dit was liefde. ʼn Liefde so diep dat my bene my kwalik kon dra. ʼn Warrelwind van emosies het my oorweldig – skaamte, vrees en die sekerheid dat ek dit nie verdien om daar te wees nie.
Jesus het egter nie teruggestaan nie – net geglimlag. Toe, sonder om sy lippe te beweeg, het Hy beelde voor my laat verskyn asof ek my eie lewe voor my sien afspeel het, vanuit ʼn perspektief wat ek nog nooit vantevore gesien het nie. Ek het my kinderjare gesien, my ma wat só seer was omdat my pa haar so in die steek gelaat en van ons af weggegaan het. Ek hoor hoe sy die woorde wat my lewensuitkyk gevorm het, herhaaldelik sê: “Mans is sleg en vir niks goed nie.” Ek sien klein Stephanie grootword met daardie uitkyk in haar hart ingegraveer, ek sien die tiener wat haarself van alle mans gedistansieer het, wat mure om haar gebou het om haarself te beskerm, wat gekies het om nooit op enigeen staat te maak nie. Toe sien ek iets wat ek te midde van al die pyn en verwerping, nooit raakgesien het nie.
Daar wás goeie mans rondom ons – ek sien die buurman wat altyd bereid was om ons te ondersteun en my ma te help om dinge in en om die huis reg te maak. Ek sien haar baas wat haar altyd vroeër laat loop het wanneer ek siek was. Ek sien die onderwyser wat my so aangemoedig het om te gaan studeer en gesê het dat ek te slim was om my skoolloopbaan op te skop. Ek sien die kelner by die restaurant wat ons altyd met ʼn glimlag bedien het en ons elke keer met respek behandel het.
My hart was weer beklemd. Waarom het ek dit nooit vroeër raakgesien nie? Ek het altyd geglo dat alle mans sleg is, maar hier is die waarheid. God het baie goeie mans oor ons pad gebring, ek wou dit net nie raaksien nie. Ek het ʼn knop in my keel gevoel, maar die grootste openbaring moes nog kom.
Jesus het sy hand weer uitgesteek en die toneel voor my het weer verander. Hierdie keer het ek my pa gesien. Hy lyk ouer as wat ek hom onthou en hy sit alleen in ʼn stoel; starende voor hom uit, na niks. Toe sien ek dat hy huil – huil van spyt en selfverwyt. My verstand het uitgeroep: “Nee! Hy het ons verlaat en hy verdien nie my vergifnis nie.” My hart het egter reeds geweet wat die waarheid is. Ek het my hele lewe deur haat, pyn en verwerping in my binneste rondgedra, maar niks daarvan het my ma heelgemaak of my verlede verander nie. Niks daarvan het my gelukkig gemaak nie. Die haat wat ek teenoor hom gevoel het, het my verwoes.
Toe Jesus gepraat het, was sy stem heeltemal anders as enige gewone klank. Dit het diep in my weerklink – al die mure wat ek oor die jare gebou het, afgebreek.
“Vergewe Stephanie.” Ek het gebewe. My eerste instink was om te weier, te sê ek kan nie. Voordat ek kon antwoord, het Hy voortgegaan: “Jy dra ʼn las wat jy nie hoef te dra nie. Ek ken jou vanaf jou moederskoot en Ek ken jou pyn, jou stryd jou vrese, maar dit is nou tyd om dit te laat gaan. As jy wil vry wees, dan moet jy vergewe.” My trane het begin stroom. Vergewe! Dit na alles.
Jesus het nog nader aan my gekom en alles het verander. Die pyn wat ek gevoel het, die bitterheid, die woede – alles het weggesmelt in sy teenwoordigheid. Jesus het vir my gewys wat ek nooit wou erken nie. Ek het nie die afstand tussen my en mans gekies omdat ek vroue liefgehad het nie. Ek het dit gekies want ek wou myself beskerm, daarom wou ek mans altyd van my af wegstoot. Ek wou nie die risiko loop om so seer te kry soos wat my ma seergekry het nie. Dit was vir my ʼn skok gewees.
Vir so baie jare het ek geglo dat my identiteit bepaal is – dat ek lesbies gebore is. Maar nou, in die aangesig van die waarheid (Jesus is die waarheid – Joh. 14:6) maak alles sin. Dit was nie my begeerte nie. Dit was alles uit vrees.
Jesus het weer na my gekyk en Hy het iets gesê wat in my diepste wese ingebrand het: “Ek het jou met ʼn doel gemaak. Alles wat ek geskep het, is met beplanning gedoen (Ps. 139). ʼn Man en vrou is geskep om mekaar aan te vul, om mekaar te ondersteun, om families te hê. Dit is hoe Ek dit beskik en beplan het, maar God, my Vader, is so wonderlik dat Hy aan elkéén ʼn vrye keuse gegee het.”
Jesus het voor my gaan sit en my hande aangeraak. Vir die eerste keer het ek Hom gevoel, en sy aanraking was vrede, liefde, lewe.
“Jy kan nou kies, Stephanie.” My hart het geruk.
“Jy kan voortgaan op die pad wat jy gekies het, of jy kan My vertrou, dat my keuse die regte pad vir jou is.”
Die lig rondom Hom het gelyk asof dit klop – so asof die hele hemel wag vir my antwoord. Ek het my oë toegemaak, diep asem gehaal en toe ek dit oopmaak, was daar nét een ding wat ek wou sê. Ek wil kies om in Christus te leef.
Op daardie oomblik het ek gevoel dat iets besig is om van my af weggeskeur te word – so asof onsigbare kettings gebreek het en die las wat ek my hele lewe lank gedra het, verdwyn. Vir die eerste keer in my lewe het ek ware vrede ervaar. Dit was egter nie klaar nie, want Jesus het geglimlag en gesê: “Nou gaan jy terug, want daar is nog iets wat jy moet gaan doen, anders kan jy nie my koninkryk binnegaan nie.”
Voordat ek kon vra wat Hy bedoel, het die donkerte my weer omvou en toe ek my oë oopmaak, was ek terug in die hospitaal.
Die eerste ding wat ek gevoel het, was pyn. Dit was asof ek met geweld geruk is uit ʼn plek waar daar geen swaarkry was nie en teruggegooi is in ʼn swaar, swak, gebreekte liggaam. My bors het gebrand, my kop het geklop en die biep-geluid van masjiene om my was oorweldigend. My oë het in die lig probeer aanpas en alles het dof gelyk. Dit was eers toe ek ʼn diep asemteug geneem het, dat ek besef het ek leef. Dit het my ʼn paar oomblikke geneem om te verstaan waar ek was en ek het die gewig van die kombers oor my gevoel. Die reuk van ontsmettingsmiddels was in die lug, die elektrodes was aan my bors vasgeplak en daar was stemme om my hoorbaar.
Eers was dit dof, en het later duideliker geword. “Sy is terug! Kom kyk, sy is terug!” ʼn Verpleegster het uit die kamer gestorm, al roepende na die dokters. Die geluid van haastige voetstappe het in die gang geklink. Ek wou praat, maar my keel het droog gevoel, asof ek vir dae lank nie gepraat het nie.
Toe het die realiteit my getref. Ek het gesterf, en nog meer as dit – ek het vir Jesus gesien. Die herinnering daaraan het my getref met ʼn oorweldigende krag. Die helderheid van sy stem, die waarheid wat Hy met my gedeel het. Alles was só lewendig in my, só werklik, maar hoe kon ek aan iemand anders verduidelik?
Die dokter het hom terug gehaas en my begin ondersoek. Hy het na my hart geluister en my aangekyk asof hy ʼn wonderwerk aanskou.
“Stephanie, jy het ons regtig laat skrik. Jy was dood vir 8 minute.” Net 8 minute! Dit het soos ʼn ewigheid gevoel, maar ek het geweet dat iets diep binne in my, vir altyd verander het.
Die dae wat daarop gevolg het, was soos ʼn warrelwind. My ma het hospitaal toe gekom en in trane uitgebars toe sy my gesien het. Ek het probeer om te verduidelik wat gebeur het, maar die woorde wou nie uitkom nie. Hoe kon ek haar vertel dat Jesus my alles gewys het wat ek nooit wou sien nie – dat die haat wat ek só lank, vir so baie jare, vir my vader in my rondgedra het, my vernietig het, want my persepsie van my eie identiteit, is uit vrees gebore en nie uit liefde nie. Ek het probeer vertel, maar dit het gelyk asof niemand verstaan nie. “My skat, jy het jou kop baie hard gestamp. Dit wat jy ervaar het, kan net ʼn gevolg wees van die besering. Jy was bewusteloos. Jou brein het daardie beelde geskep, of dit was net ʼn droom.” Ek het egter geweet dat dit nie net ʼn droom was nie, dit was die werklikheid. Hoe meer ek probeer het om stil te bly, hoe meer het dit in my gebrand. Ek moes vir die wêreld vertel wat Jesus vir my gewys het, maar sou enigiemand my glo?
Die waarheid was dat eksélf nog probeer het om te verstaan. Wie was ek nou? Eers toe ek ontslaan is, het ek besef dat my lewe nooit weer dieselfde sou wees nie. Moes ek hierdie waarheid vir altyd wegsteek, of moes ek die moed bymekaar skraap om te vertel dat ek nie meer dieselfde mens is nie. Niks binne in my pas meer in die mens wat ek vroeër was nie. Wanneer ek in die spieël gekyk het, het ek ʼn bekende gesig gesien, maar binne het ek verander. Om uiterlik te verander, was nie maklik nie.
Die eerste paar dae het ek probeer om terug te kom in my ou roetine – op te staan, werk toe te gaan, met dieselfde vriende te gesels, voor te gee dat niks gebeur het nie.
Al het ek ook hoe hard probeer, daar was iets binne my wat geskreeu het. Ek kon nie langer na die lewe kyk met dieselfde oë nie. Die gesprekke wat my vroeër vermaak het, voel nou so leeg. Die standpunte wat ek vroeër so heftig verdedig het, voel nou so ver verwyderd – asof dit iemand anders se siening was, maar nie myne nie.
Die ergste van alles was die vrees om dit wat ek ondervind het, vir mense te vertel – dat ek gesterf het; in die hemel was, vir Jesus gesien het en heeltemal veranderd teruggekom het. Hoe moes ek vertel dat Hy aan my waarhede geopenbaar het wat ek my hele lewe lank ontken het? Hoe kon ek sê dat Hy my ʼn keuse gegee het en dat ek gekies het om vir Hom te lewe?
Vir ʼn tydjie het ek alles in my weggesteek, maar hoe langer ek stilgebly het, hoe meer het dit vir my gevoel asof ek versmoor. Dit was soos om ʼn vuur in my borskas rond te dra. Een aand, terwyl ek probeer het om aan die slaap te raak, het Jesus se woorde weer na my toe teruggekom. “As jy wil vry wees, moet jy vergewe.”
Op daardie oomblik het ek besef dat my verandering nie sal begin totdat ek gehoorsaam is aan dit wat Jesus my gevra het nie. Ek moes my pa vergewe – en dit het my angsbevange gemaak. Ek het vir jare lank myself oortuig dat hy nie my vergifnis verdien nie. Maar sê nou vergifnis gaan nie oor wat jy verdien nie, maar wel oor vryheid?
Die volgende dag het ek die foon geneem terwyl my hande gebewe het en my hart woes geklop het. Toe ek my pa se stem gehoor het aan die anderkant, het iets binne in my gebreek. Hy was stil toe ek vir hom sê dat ek Hom vergewe het. Hy het ʼn gedempte snik gegee. “Ek is so jammer, my dogter. Dankie dat jy my vergewe.”
Op daardie oomblik het ek geweet dat God se liefde nie net vir my vrygemaak het nie, maar ook vir hom.
Dit was die eerste tree op my nuwe lewenspad. Van daar af was my reis een van leer en oorgee. Ek het die Bybel gretig begin bestudeer en wou graag meer oor Jesus leer wat my ʼn tweede kans gegee het.
Die waarheid was altyd daar, maar ek wou dit nooit sien nie. Nou kon ek dit nie langer ontken nie. Ek het alles laat gaan wat eens op ʼn tyd my identiteit bepaal het, en ek het geweet dat my ware identiteit nog altyd in Jesus Christus was.
Vandag weet ek dat God ʼn doel vir elkeen van ons het. Hy het ons geskep met liefde. Hy het vir ons ʼn plan, en Hy het vir elkeen van ons ʼn opdrag gegee, asook ʼn vryheid om te kies. Ek het vir Jesus gekies en ek het gekies om weer Stephanie te wees.
Die Skrifgedeelte wat my hele verandering beskryf en waaraan ek altyd sal vashou, is Johannes 8:32 waar Jesus vir die Jode wat in Hom geglo het, gesê het: “. . . en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”
Mag die Waarheid (Jesus Christus) ook elkeen wat hierdie getuienis lees, waarlik vrymaak. Hy het gesê: “Ek is die weg, en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe, behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6)