Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Woorde is magtig en kan ander baie gelukkig of baie seer maak. Woorde is ook openbarend oor wie jy werklik is. Jou karakter skyn sommer gou deur jou woorde. Wees versigtig wat jy sê – jy het 'n veranderwoordelikheid teenoor ander sowel as teenoor jouself. Dink vóór jy praat, en wees daarmee anders as die meeste mense wat onnadenkend leef.
EK HET GESTERF ! (4)
Hierdie ware naby-dood ervaring is in Afrikaans vertaal en neergeskryf deur
Anita Joubert
Toe ek voor Jesus staan, het Hy vir my gesê: “Angela, baie huwelike lyk geseënd in die oë van mense, maar hulle huisves bitterheid, trots, jaloesie, wellus en onvergewensgesindheid. Hulle eer My met hulle lippe, maar hulle harte is ver van My af.” (Matt. 15:8)
My naam is Angela Matthews. Ek is 36 jaar oud en as jy vir enigeen in my kerk sou vra om my te beskryf, sou jy waarskynlik woorde gehoor het soos gelowig, toegewyd en geseënd. Mense kyk dikwels na my en my man, Michael, en sê dinge soos: “Julle twee is so ʼn mooi getuienis van God se goedheid. Ons wil ook ʼn huwelik soos julle s’n hê.”
Vir baie jare het ek almal om my, dit laat glo. Ek wou dit graag self ook glo, maar die waarheid was anders as wat enigeen op ʼn Sondagmôre kon sien. Van buite af, het ons huwelik gelyk soos dié soort wat Christene graag op sosiale media vir almal wys om te sien. Ons het hande vasgehou in die kerkdiens, geglimlag op foto’s met ons arms ommekaar se skouers. Met huweliksherdenkings het ons mooi foto’s met byskrifte soos: “Ons is só geseënd,” geplaas, maar wat mense nie kon sien nie, was die stadige, versmorende dood agter ons voordeur.
Dit het soos ʼn kraak in ʼn fondament begin, eers ongesiens, maar op ʼn dag was die muur gekraak. Ons kraak was stilte. Ek kon nie onthou wanneer laas ons ʼn werklike gesprek gehad het nie, en ek bedoel nie, gesprekke oor rekeninge, kerkgeleenthede of kruideniersware nie. Ek bedoel gesprekke oor ons siel, ons verhouding met God – dinge wat werklik saakmaak. Ons het natuurlik baklei soos in enige ander huwelik. Wat ons verskille egter so gevaarlik gemaak het, was nie die geskreeu nie. Dit was die stilte wat daarop gevolg het. Wanneer een van ons iets skerp gesê het, het die ander afgeskakel en dan het ons dae lank feitlik nie met mekaar gepraat nie.
Ek het ure gesit en broei in my kop met woorde wat ek nooit uitgespreek het nie. Michael het net na die televisie gesit en staar met geklemde hande asof hy homself moet beheer. Op Sondae-oggende het ons in stywe stilte kerktoe gery, maar die oomblik wanneer die kar geparkeer was, het ons in ons kostuums geklim. Sy hand het myne vasgehou wanneer ons in die kerkgebou ingestap het. Ek het vir almal geglimlag en ons het skouer teen skouer gaan sit – die perfekte prentjie van Goddelike eenheid. Die mense om ons het vir mekaar gefluister dat hulle ons só beny.
Ek het baie geoefend geraak daarmee om ʼn masker te dra. Ek het in die kerkkoor gesing en die Here aanbid, maar innerlik ineengekrimp van eensaamheid en hartseer. Mense se komplimente dat ons regtig ʼn voorbeeld is van hoe ʼn huwelik moet wees, het my soos ʼn dolk gesteek, want ons was ʼn lewende leuen.
Ek het baie in die badkamer gehuil. Die stilte tuis en die masker by die kerk, het ʼn leegte in my binneste veroorsaak wat ek probeer vul het met sosiale media oor Christenpaartjies waar die man vir die vrou blomme gebring het, hulle saamgebid het, gelukkige familietye beleef het. Hoe meer ek daarna gekyk het, hoe groter het my ontevredenheid geword. Waarom kan ons nie ook soos hulle wees nie? Waarom het Michael my nie lief soos wat hierdie mans hulle vroue liefhet nie?
Diep in my binneste het ek geweet dat hulle huwelike ook nie perfek is nie. Sosiale media is maar net nog ʼn masker. Tog kon ek nie daarmee ophou nie en die beelde het my later skoon vergiftig.
Toe het die versoeking gekom. By die hospitaal waar ek ʼn verpleegster was, was daar ʼn dokter, so gaaf, so geduldig met almal, so ʼn goeie luisteraar. Hy was nie besonder aantreklik nie, maar het dinge raakgesien wat Michael nooit meer gesien het nie. Hy het my een aand, na ʼn lang skof, so mooi gekomplimenteer met my geduld met die pasiënte.
Iets in my het gesmelt en toe ek na hom kyk, was daar ʼn vonk tussen ons – iets wat ek in jare nie meer gevoel het nie. Ek het skaam gevoel daaroor, maar die saad was geplant. Elke keer daarna wanneer hy vir my geglimlag het of gevra het hoe dit gaan, het ek dit in my gedagtes oor en oor herleef. Daar was nooit iets fisies tussen ons nie, maar in my hart het ek al hoe nader aan die rand van die afgrond beweeg. Ek het vir niemand daarvan vertel nie en ek het aangehou glimlag en sing, maar binne in my het ek stadig verkrummel.
Een aand, na nog ʼn argument tussen my en Michael oor iets só kleinlik soos kruideniersware, het ek hospitaal toe gery vir my nagskof, met ʼn beklemde bors en oë dik geswel van al die gehuil. Die stilte tussen ons was só erg dat ek soos ʼn weduwee gevoel het.
Ongeveer 3:00 vm, terwyl ek die pasiëntekaarte in die Noodsaal nagegaan het, het ek meteens duiselig geword. Ek onthou dat ek die toonbank vasgegryp en gefluister het: “Here, asseblief nie hier nie! Nie nou nie!.” ʼn Ontsettende pyn het deur my borskas gesteek.
Toe het alles voor my swart geword. Die laaste ding wat ek gehoor het, was toe my kollega my naam geroep het.
Op daardie oomblik het ek gesterf. Donkerte het my oorweldig – geen geluid, geen asemhaling, geen hartklop. Toe ek weer my oë oopgemaak het, was ek nie meer in die hospitaal nie, maar in ʼn uitgestrekte, eindelose spasie – geen plafon, geen vloer, net ʼn diep donkerte. Skielik het ʼn helder lig verskyn, só heilig en oorweldigend dat elke masker, elke stukkie voorgee, elke ekskuus, elke leuen van my af weggeruk is.
Jesus het voor my gestaan, geklee in soveel heerlikheid dat my siel gebewe het. Sy oë was gevul met liefde, maar ook met hartseer. Hy het na my gekyk en ek het geweet dat Hy elke weggesteekte kamer in my hart kan sien, elke woord wat tussen my en Michael gesê en nie gesê is nie, kon hoor, en van elke gedagte wat ek so getroetel het, het Hy geweet.
“Angela,” het Hy gesê, en sy stem was soos donderweer, maar ook hartseer tegelyk. “Jy dra die masker van ʼn geseënde huwelik, maar jou hart is ver van my af.” Toe het ek dit gesien – ʼn baie groot etenstafel eindeloos ver uitgestrek met ʼn feesmaal gedek, só blink en glorieryk.
Paartjies, geklee in wit, het vol vreugde aan die tafel gesit, met blink, rein gesigte. Tot my geweldige ontsteltenis, het ek ander paartjies gesien wat ek van die kerk af geken het, wat voorgekeer is by die deur. Hulle kon nie ingaan nie, en is weggewys. (Matt. 22:11-14) Hulle het geen bruilofsklere aangehad nie.
Ek het bewend voor Jesus gestaan en Hy het vir my gewys dat dit gaan oor valsheid en huigelary (Matt. 23:27) Ek het ʼn aantal visioene voor my gesien. Dit het soos Sondae-oggende by ons kerk gelyk. Daar was helder ligte, ʼn koor wat sing, families wat mekaar druk. Getroude pare het geglimlag vir foto’s, arms om mekaar, fluisterend: “Prys die Here; ons is só geseënd.”
Toe het die visioen verander. Jesus het sy hand uitgesteek en die maskers het weggeval. Dieselfde mense het heeltemal anders gelyk. Ek het bitterheid onder die glimlagte gesien wegkruip. Ek het mans en hulle vrouens gesien wat beleefd met ander mense praat, maar mekaar terselfdertyd verwond het met hulle kilheid. Ek het vroue alleen in hulle kamers sien huil. Ek het mans in die kerk gesien met die een arm om sy vrou, terwyl sy oë gebrand het van wellus vir iemand anders.
Jesus het vir my gesê: “Angela, baie huwelikspare eer My met hulle lippe, maar hulle harte is ver van My af. Hulle lyk geseënd, maar hulle is leeg.”
Sy woorde het my deurboor. Ek het geweet dat Hy ons huwelik beskryf, maar ook nie net ons s’n alleen nie. Hy het van duisende Christenpare gepraat wat geleer het om ʼn huwelik op te voer soos ʼn toneelstuk, in plaas daarvan om dit te leef. Jesus het vir my gewys hoedat paartjies hulle beeld blinkvryf, soos wat ʼn akteur oefen vir sy rol. Hulle bid in die openbaar, maar nooit by die huis nie. Hulle deel Bybelversies oor Whatsapp-boodskappe, maar lees nooit self hulle Bybels tuis nie. Hulle sit langs mekaar in die kerk, maar innerlik is hulle vreemdelinge. Ek het iets skrikwekkend besef – God laat Hom nie deur hierdie vertonings en voorgee, verkul nie. Die koninkryk van die hemele word nie gemeet deur foto’s, Facebook-plasings en huweliksherdenking-boodskappies nie. Die hemele sien wat gebeur wanneer die kerkdiens afsluit, die voordeur toegaan, die kameras afgeskakel word en die masker laat sak word.
Ek sien myself geposeerde selfies saam met Michael op Facebook plaas, glimlag vir familie-foto’s en koorfoto’s by die kerk. Ek hoor die Heilige Gees vir my sê: “Jy kan jou kerk, jou vriende, en selfs jouself flous, maar nooit vir God nie.” Die Here het ook vir my gewys hoedat mense absoluut teer op hulle begeerte na goedkeuring en aandag.
Hulle gee nie om wat vir God aanneemlik is nie, hulle wil net deur mense bewonder word. Hulle hou hulle maskers op, want die eer van mense is vir hulle meer bevredigend as die oortuiging van die Heilige Gees.
Ek sien hoedat vroue deur sosiale mediablaaie kyk en hulle huwelike desperaat met dié van beïnvloeders vergelyk om te bewys dat hulle lewens net so goed is. Ek sien hoedat mans by hulle kollegas spog met hulle gesinne, maar nooit hulle gesinne in gebed lei nie. Al die vertonings en voorgee gaan nie oor heiligheid nie, maar oor reputasie. Jesus het my aan Matteus 6:1 herinner. “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.”
Ek het op daardie oomblik besef dat ek feitlik net vir die goedkeuring van mense geleef het. Mense se bewondering het my trots gevoed, maar my siel laat doodgaan.
Jesus het ook vir my gewys hoe skadelik dit is om so voor te gee. Ek het paartjies gesien wat jare lank die masker gedra het, geglimlag het, Christelike bedienings gehad het. Hulle het opgetree asof hulle so geseënd is, maar hulle het nooit met hulle bitterheid, trots of wellus gedeel nie. Hulle harte het al hoe harder geword. Later is daar by hulle geen sondebesef meer nie en dit word al hoe makliker om die leuen te glo – dit gaan goed met ons en God is tevrede met ons. Die dag wanneer hulle egter sterf, dan word die masker weggeruk en besef hulle dat die hemel nie beïndruk is met valsheid nie.
Jesus se volgende woorde het my geruk: “ ʼn Huwelik sonder waarheid, kan nie in my koninkryk ingaan nie. ʼn Eenheid gebou op leuens, kan nie aan my tafel sit nie.”
Ek het my en Michael se huwelik só duidelik gesien. Ons het nie net deur ʼn moeilike tyd gegaan nie. Ons het ʼn leuen gelewe, maskers gedra, voor die afgode van hoe ons voor ander mense lyk, gebuig.
Jesus het vir my gesê: “Angela, moenie jou huwelik meet aan hoe dit vir ander mense lyk nie. Meet dit aan hoe Ek daaroor voel. Is dit ʼn weerkaatsing van my liefde vir my bruid? Is daar eenheid tussen julle soos wat daar tussen My en my bruid gaan wees? Reflekteer julle woorde, julle vergifnis, julle liefde, my hart? Indien dit nie so is nie, vra vergifnis en stel dit reg, voordat dit te laat is.”
Jesus se woorde het soos donderweer in my weerklink, en ek het geweet dit is nie net vir my nie, maar vir elkeen wat so ʼn skynlewe probeer lei. Op daardie heilige oomblik het ek voor God gebewe.
Die toneel om my het verander en ek het myself in ʼn pragtige huis bevind – die mure was blinkwit, die meubels skoon en blink. In die lug was die reuk van blomme. Op die oog af was die huis foutloos en perfek, soos iets uit ʼn tydskrif.
Jesus het net sy hand gelig en meteens was alles deursigtig. Wat ek toe gesien het, het my laat terugdeins. Agter die blink spierwit verf het die termiete, swamme en miere rondkrioel. Verrotting was sigbaar tot in die fondamente. Van buite af was die huis in ʼn perfekte toestand, maar in werklikheid kon dit enige oomblik inmekaar sak.
Jesus se oë het deurdringend in myne gekyk. “So lyk baie huwelike. Van buite af lyk dit geseënd, maar die weggesteekte sondes verwoes dit van binne af.”
Ek het skielik aan die woorde van Psalm 127:1 gedink. “As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.”
Die eerste weggesteekte sonde wat Jesus vir my gewys het, was onvergewensgesindheid. Ek het ʼn vrou gesien wat by ʼn etenstafel sit met haar arms gevou, harde oë. Haar man het haar maande gelede seer gemaak, harde woorde is uit woede gesê, maar daar was geen verfignis nie. Sy maak nog steeds vir hom kos, hulle sit langs mekaar in die kerk en sy dra sy ring, maar in haar hart hou sy steeds elke oortreding teen hom. Toe sien ek ʼn man wat sy vrou se foute van die verlede soos wapens teen haar gebruik. Met elke argument haal hy dit op.
Jesus het gesê: “Wanneer ʼn man en vrou weier om te vergewe, dan blokkeer hulle die genade wat Ek by die kruis uitgestort het. Geen siel vol onvergewensgesindheid kan die ewige lewe ontvang nie.” (Matt. 18:21-35)
My binneste het inmekaar gekrimp. Ek het gedink aan die vele kere wat ek toegelaat het dat bitterheid teenoor Michael my gedagtes oorspoel en ek nie wou vergewe nie. Op die oog af het ek mooi gelyk, maar binne was ek verrot (Matt. 6:14-15).
Ek het besef dat onvergewensgesindheid nie net ʼn stryd is nie, dit is ʼn kaartjie reguit hel toe.
Die tweede weggesteekte sonde wat Jesus vir my gewys het, was wellus. Nie net dinge soos pornografie en verhoudings met ander nie, maar ook fantasieë, ʼn gesoek na aandag wat jy dink jy verdien.
Ek het mans gesien wat in die geheim pornografie kyk en dan Sondae in die kerk die Here aanbid en loof. Ek het vroue gesien wat sit en romantiseer en dagdroom oor kollegas by die werk.
Ek het myself gesien en innerlik gepyn. Ek het nog nooit vir Michael fisies bedrieg nie, maar het myself verlustig in ander mans se komplimente. Hulle woorde het in my gedagtes oor en oor weerklink.
Jesus het na my gekyk en gesê: “Owerspel begin in die hart. Baie getroude pare lyk van buite af getrou, maar is in hulle harte en gedagtes ontrou. Hulle fantasieë bind hulle vas in kettings.” Ek het geween, want ek het besef dat my gedagtes nie onskuldig was nie. Dit was ʼn oop deur na algehele vernietiging.
Toe het Jesus vir my die woorde van Hebreërs 13:4 gewys: “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.”
Die derde weggesteekte sonde wat Jesus onthul het, was trots. Ek het gesien hoedat huwelikspare nie oor werklike probleme baklei nie. Hulle baklei omdat nie een van die twee hulself wil verneder en sy of haar fout erken nie. Ek sien hoedat mans nie hul families in gebed wil lei nie, want hulle is bang dat hulle nie mooi genoeg sal bid nie. Ek sien vroue wat hulself sal breek om te bewys dat hulle die perfekte vrou en ma is. Trots is soos ʼn weggesteekte troon in die middelpunt van hulle huise.
Toe het ek myself gesien, al die kere wat ek geweier het om eerste omverskoning te vra. Ek het al die kere gesien waar ek vir Michael verkwalik het vir alles, oortuig daarvan dat ek die meer geestelike een is omdat ek in die koor sing. Trots het my blind gemaak vir my eie sonde. Ek het Spreuke 16:18 in my gees gehoor: “Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.”
Ek het getroude pare gesien wat kerk toe gegaan het, maar nooit saam gebid het nie. Hulle Bybels is nooit oopgemaak nie terwyl hulle ure lank op sosiale media tyd spandeer het. Hulle het vakansies, finansies en hulle besige skedules bespreek, maar nooit na God gesoek het nie.
Jesus het gesê: “Waar daar nie gebid word nie, daar is Ek ook nie teenwoordig nie, en waar Ek nie is nie, het die vyand vrylik toegang.” Ek het skielik gesien hoedat demone in hierdie huise insluip. Hulle gaan nie met geweld in nie, maar hulle word ingenooi deur die verwaarlosing van die ouerpaar se verhouding met God. Elke aand word Netflix bo gebed verkies. Elke oggend is almal haastig en daar is nie tyd vir stiltetyd nie. Baie gou is die huwelik en gesinslewe ʼn oorlogsveld sonder God se beskerming.
Ek het naar gevoel toe ek besef dat huwelike nie deur skielike ontploffings vernietig word nie, maar deur versteekte termiete van sonde, onvergewensgesindheid, wellus, trots, gebrek aan ʼn gebedslewe.
Dit gebeur geleidelik, onsigbaar vir ander mense om te sien, maar in die oë van die hemelwesens is dit onvermydelik. Jesus se finale waarskuwing was ernstig: “Wat in die huwelikskamer weggesteek word, sal eendag met die oordeelsdag geopenbaar word. Moenie dat julle mislei word nie. Dit wat in die geheim verrot, sal julle in die ewigheid veroordeel.” (Luk. 12:3)
Ek het naar gevoel. My huwelik was nie net moeilik nie – dit was siek, en as dit nie onmiddellik verander nie, sal dit vir my en Michael ewige skeiding van God veroorsaak. Ek het met innerlike bewing na Jesus gekyk – desperaat om te weet of daar nog hoop is.
Hy het vir my begin wys hoe die werklike fondament van ʼn geseënde huwelik lyk. Ek het stukkend voor Hom gestaan, gebroke deur wat ek gesien en gehoor het. Tog het ek in die oordeel van sy woorde, ook sy genade, ervaar. Hy het deurdringend na my gekyk. “Angela,” het Hy saggies gese: “Ek het dit nie vir jou gewys om jou te veroordeel nie, maar om jou terug te roep. Daar is ʼn fondament wat nooit kan kraak of ineenstort wanneer jy daarop bou nie. Dit is die fondament wat op rots gebou is.” (Matt. 7:24-27)
Met daardie woorde het Jesus vir my gewys hoe ʼn werklik geseënde huwelik lyk. Dit is nie die soort wat op die oog af Goddelik vertoon nie. Dit is huwelike wat in sy waarheid gegrondves is.
Die eerste feit wat Hy vir my gewys het was skokkend, maar eenvoudig. Baie Christenhuwelike is nie noodwendig Christusgesentreerd nie. Hy is net een van baie ander belangrike sake in hulle besige skedules, maar hulle lewens is nie op Hom gebou nie. Hulle bid voor etes, noem hier en daar sy Naam en gaan saam kerk toe. Hulle eintlike fondasies is egter hulle beroepe, kinders en reputasie – hulle aansien in die samelewing.
“ ʼn Huwelik kan nie geseënd wees as dit nie op My as fondament gebou word nie. Ek is nie ʼn bysaak nie, Ek is die hoeksteen,” het Jesus gesê. (Matt. 21:42).
Ek het ʼn visioen van twee huise gesien – een gebou op sand, blink en modern, indrukwekkend. Die ander het eenvoudig en nederig gelyk, maar gebou op rots. ʼn Storm het gekom en die huis op sand het ineengestort. Die ander een op rots, was onbeweeglik. (Matt 7:24-28)
Tweedens het Jesus vir my gewys dat ʼn geseënde huwelik asemhaal deur belydenis. Ek het ʼn man en vrou gesien wat saam kniel in gebed, besig om hulle foute, sonde en mislukkings te bely, nie net teenoor God nie, maar ook teenoor mekaar. Hulle het nie gewag vir die wonde om te sweer nie. Hulle het sommer vinnig hulself verneder en vergifnis gevra. Jesus het ook vir my ʼn ander huwelikspaar gewys wat nooit hulle foute wou erken nie. Hulle trots het elke fout in ʼn oorlog verander, elke wond in ʼn litteken. Hulle harte het verhard totdat hulle later niks meer gevoel het nie. Jesus het gesê: “Om te bely, is nie ʼn eenmalige gebeurtenis nie, dit is ʼn daaglikse taal van liefde.”
Ek het besef dat ek van Michael verwag het om berou te hê, maar ek het nooit my eie hart ondersoek nie. Ek het vasgehou aan my eie gevoel van trots en meer geestelik wees, terwyl ek ons huwelik vergiftig het met onvergewensgesindheid. As ek ons huwelik wou laat herlewe, sou vergifnis by my moes begin.
Derdens het Jesus vir my gebed gewys – nie as ʼn plig nie, maar as die suurstof van die huwelik. Ek het pare gesien wat hande vat, in gebed aan die einde van ʼn lang dag.
Die gebede was soms vreemd vir iemand wat daarna sou luister, maar hulle huise het lig uitgestraal, omdat Jesus se teenwoordigheid daar was. Hulle kinders kon rustig slaap omdat hulle geestelik beskerm was deur hulle ouers se gebede. Ek het ook huise sonder gebed gesien. Duisternis het soos rookwolke daaroor gehang. Huwelikspare lê in die bed, fisies langs mekaar, maar geestelik was daar ʼn kloof tussen hulle.
Jesus het gesê: “Waar twee of drie in my Naam, bymekaar is, daar is Ek” (Matt. 18:20). Waar mense sonder My leef, maak die vyand baie gou van homself die derde persoon.” Ek het besef dat gebed nie ʼn opsie is nie, dit is die beskerming van ons eenheid. Daarsonder is ons aas vir die koninkryk van die duisternis.
Vierdens het Jesus vir my die diepste fondasie van almal geopenbaar – ʼn liefde wat sy offer wat Hy vir ons as mense gebring het, reflekteer. Ek het die kruis gesien verrys tussen ʼn man en ʼn vrou. Die een kon nie by die ander uitkom, as hy of sy nie by die kruis verby gegaan het nie. Elke woord, elke intieme handeling, elke besluit, moes eers deur die offerdaad van Christus vloei. Jesus het my aan Efesiërs 5:25 herinner: “Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê het.”
In vers 22 sê Paulus: “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.”
Paulus skryf ook in Filipense 2:3: “Moet niks uit eersug of selfsug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”
Ek het daardie verse altyd met ongemak gelees, maar nou glo ek dit met nuwe helderheid. Dit gaan nie oor kontrole of mekaar domineer nie. Dit gaan daaroor dat ons Jesus moet weerkaats. ʼn Man moet homself neerlê soos wat Jesus dit gedoen het. ʼn Vrou moet gehoorsaam wees soos wat die kerk aan Jesus gehoorsaam is. Die twee saam skilder ʼn lewende prentjie van die evangelie.
Jesus het gesê: “ʼn Huwelik gaan nie daaroor dat twee mense net gelukkig moet wees nie. Dit gaan daaroor dat twee mense op ʼn heilige manier een word. ʼn Huwelik moet my verbond weerkaats, dan is dit ewig, Wanneer dit trots uitstraal, dan is dit vervloek.”
Teen hierdie tyd het ek gebroke, maar ook hoopvol gevoel. My hart was só seer oor ons huwelik, maar ek was ook vol hoop dat Jesus ons nog ʼn kans sou gee.
Jesus het sy hand na my toe uitgesteek en ek het Hom hoor fluister: “As julle dit bely, bid en mekaar sal liefhê soos Ek julle liefgehad het, kan julle huwelik nog verlos word. Maar as julle voortgaan met julle skynlewe, sal julle huwelik tot niet gaan.”
Trane het van my wange afgestroom van dankbaarheid. Hy het my nie eenkant toe gestoot nie. Hy roep my terug.
Net toe die visioen begin vervaag, het ek een laaste beeld gesien – ʼn gekraakte, verkrummelde huis wat stukkie vir stukkie herstel word. Elke keer wanneer die man homself verneder het, is een van die afgebreekte mure herstel. Elke keer wanneer die vrou vergewe het, het daar nog ʼn venster heel geword. Elke gebed het lig bygevoeg. Elke daad van liefde het dit herstel. Stadig maar seker het die huis weer heel geword. Dit was die belofte.
Toe ek my oë in die hospitaalbed oopgemaak het, het trane my sig verdof. Michael het by my gesit, sy hande styf in myne en sy oë dik van baie huil. Vir die eerste keer in jare het ek rou vrees en liefde op sy gesig gesien.
“Angela,” het hy met ʼn gebroke stem gefluister, “Ek het gedink dat ek jou verloor het. Ek kan nie meer só leef nie. Ons het vir Jesus nodig.”
In daardie hospitaalkamer, met pype in my are en monitors wat biep om ons, het ons maskers afgeval. Ons het vir die eerste keer in maande saamgebid – met ongemak, maar opreg.
Met trane het ons God gevra om dit wat ons self vernietig het, weer te herbou. Ons het van daardie dag af verander; die televisie afgeskakel en begin Bybel lees. Ons het klein begin en elke krakie het een vir een herstel. Ek het ʼn belofte aan Jesus en aan Michael gemaak om nooit weer voor te gee oor dinge wat nie waar is nie.
Ek wou eers stilbly oor wat met my gebeur het, want wie sou my glo? Wie sou wou hoor wat ek sê? Jesus se woorde het egter soos ʼn vuur in my gebeente gebrand, soos wat die profeet Jeremia gesê het. (Jer. 20:9).
Ek kon net nie stilbly nie en het ʼn vroue-Bybelstudie begin. Ek het met ʼn bewende stem getuig en bely van die bitterheid, die versoeking, die masker wat ek gedra het. Ek het hulle vertel van die visioen toe ek die huweliksmaal gesien het en dat pare wat op die oog af so heilig gelyk het, nie toegelaat is nie.
Sommige vroue se asems was weggeslaan, ander het openlik gehuil. Enkeles het hulle arms gevou en gefluister dat ek darem te melodramaties is, maar niks kon my stop nie. Ek is spoedig genooi om op te tree as gasspreker by ʼn huwelikseminaar. Ek het oor die saal vol egpare gekyk, sommige wat sit en hande vashou. Ek het almal met wie ek gepraat het, gesmeek om nie toe te laat dat hulle die uiterlike as die waarheid voorhou, as dit nie so is nie. As jou huwelik lyk asof dit Goddelik is, maar Jesus is nie die middelpunt nie, bely dit. Moet asseblief nie onvergewensgesindheid, wellus, bedrog, leuens en jaloesie koester nie. Dit vernietig ʼn mens.
Die reaksies was baie verskillend. Sommige pare het ongemaklik padgegee, ander het gebly en gebroke vir gebed gevra. Ek het mans en vrouens sien kniel en saam bid, dinge bely wat jare lank weggesteek was. Lig het weer na verbitterde oë toe teruggekeer.
Ek het my opdrag verstaan. My storie was nie net myne nie – dit was ʼn waarskuwing vir elke huwelik agter ʼn masker.
Dit is waarom ek dit deel. Dit is nie altyd maklik nie, maar ek weet wat die prys is wanneer jy stilbly.
Moenie tevrede wees met ʼn huwelik wat net goed lyk nie. Gee oor aan dié Een wat waarlik kan seën. Bely, vergewe en bid en laat Christus jou fondament wees, voordat dit te laat is.
Daarom sal ʼn man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vroulewe, en hulle twee sal een wees. Hierin lê daar ʼn diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk.” (Ef.5:31-32).