Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Bybel maak dikwels melding van kwaadsprekery onder mekaar wat soveel broederlike twis en onmin veroorsaak. Onder kwaadsprekery verstaan ons haatlike beskuldigings, gebore uit kwaadwilligheid, en die lus om mekaar se goeie bedoelings te ondermyn. Ons moet daarteen waak om die goeie wat God in iemand gewerk het met woorde te verdraai.
1837: RETIEFMANIFES
KULTUURDAGBOEK 22 JANUARIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Op hierdie dag in 1837 is een van die waardevolste dokumente in ons land se geskiedenis voltooi. Dit is die Retiefmanifes wat namens die emigranteboere in Hollands geskryf is, en waarin die leuens aangaande die Groot Trek, en die oorsake van en doel met die Trek vir die buitewêreld uiteengesit word. Dit is volledig in die Graham's Town Journal van 2 Februarie 1837 in Engels weergegee nadat uitdruklik om sodanige publisiteit gevra is. Al sou Piet Retief slegs hierdie skryfdaad verrig het, sou hy nog steeds histories hoog aangeslaan gewees het. Dit is immers 'n eietydse dokument wat deur 'n baie betrokke en geloofwaardige getuienis opgestel is.
Retief beweer hierin dat allerlei berigte versprei is om die Trekkers by vriend en vyand in onguns te bring. Sy Manifes moet die beeld van die Voortrekkers herstel en almal laat besef dat die Christengelowige nie sommer sy band met sy geboortegrond breek as daar nie besonder oortuigende redes daarvoor bestaan nie. Die Manifes moet ook lig werp op die voornemens ten opsigte van inboorlingstamme. Hy skryf dan verder min of meer soos volg:
- Ons wanhoop daaraan om die Kaapkolonie van die probleme te red wat dit vanweë die oproerige en oneerlike gedrag van vaebonde bedreig. Hierdie kwaaddoeners verontrus die land en as pioniers sien ons geen vooruitsig op vrede en geluk vir ons kinders in 'n land wat op hierdie wyse deur inwendige beroeringe gekwel word nie.
- As pioniers kla ons oor die ernstige verliese wat ons verplig was om vanweë die vryverklaring van ons slawe te ly, en ons kla oor die ergerlike wette wat daar met betrekking tot hulle gemaak is.
- Ons kla oor die plundering deur die swartman en ander gekleurdes, veral die inval van 1834/35, toe die meeste grensbewoners geruïneer is.
- Ons kla oor die onregverdige beskuldigings teen ons as grensboere deur belanghebbende en oneerlike persone onder die dekmantel van godsdiens ingebring. Hulle getuienis word in Engeland geglo en ons bewyse tot die teendeel word verwerp. As gevolg van hierdie vooroordeel voorsien ons slegs die ondergang van die land.
- Ons sal oral die beginsel van ware vryheid handhaaf. Ons sal niemand in slawerny hou nie. Maar ons sal behoorlike wette daarstel om misdaad te onderdruk en om 'n behoorlike verhouding tussen heer en kneg te bewaar.
- Ons verlaat die Kaap ten einde 'n rustiger lewe as vroeër te lei. Ons sal geen volk molesteer nie en niemand sy eiendom ontneem nie. As ons egter aangeval word, sal ons ons persoon en eiendom teen enige vyand verdedig.
- Sodra ons vir onsself nuwe wette gemaak het, sal ons afskrifte hiervan as inligting na die Kaapkolonie stuur. Nou reeds egter verklaar ons dat verraaiers in ons midde summier en selfs met die dood gestraf sal word.
- In die loop van ons trektog en in die land van ons vestiging sal ons aan die inboorlinge ons bedoeling bekend maak en hulle van ons begeerte om in vrede en vriendskap met hulle te leef, in kennis stel.
- Ons verlaat die kolonie met die wete dat die Britse regering niks meer van ons kan vereis nie en ons sonder verdere inmenging sal toelaat om onsself te regeer,
- Ons vertrek uit 'n vrugbare geboorteland waar ons groot skade gely het en aan baie ergernis blootgestel was. Ons gaan ons in 'n woeste en gevaarlike gebied vestig, maar ons vertrou op 'n alsiende, regverdige en genadige God. Ons sal Hom altyd vrees en in nederigheid probeer gehoorsaam.