Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hy genees dié wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde – Ps 147:3
VOED JOU KINDERS REG OP!
Ds A.E. van den Berg
“Maar sy moeder antwoord hom: Laat jou vloek op my wees....!” (Gen.27:13)
Soos wat die wederkoms van Jesus nader kom, word die wêreld ʼn al hoe moeiliker plek. Alles word bewustelik afgetakel – ons kultuur, volkswaardes, gesinslewe ens. Dit het van baie mense soekers na geluk gemaak; veral goeie menseverhoudings.
Jare gelede het ʼn direkteur van ʼn groot Amerikaanse maatskappy afgetree. Hy het geweet dat ʼn paar jong bestuurders agter sy pos aan was. Tydens sy afskeidsfunksie het hy gesê: “ My dogter is verlede week getroud. Toe ek met haar in die paadjie na die kansel loop, het ek met ʼn skok besef dat ek nie eens die naam van haar strooimeisie geken het nie. Ook nie die naam van die laaste boek wat sy gelees het of wat haar gunsteling kleur was nie. Dis die prys wat ek vir hierdie werk betaal het. As julle bereid is om dieselfde prys te betaal, kan julle dit gerus kry!”
In Desember 2002 het The Readers Digest ʼn opname in Amerika gemaak en kinders gevra wat hulle graag vir Kersfees sou wou hê. ʼn Groot meerderheid het gesê: “Meer tyd saam met ons ouers!” Niks is so kosbaar as gesonde geestelike- en gesinslewens nie. Die kombinasie hiervan, is die grootste geskenk aan ʼn kind en kos nie geld nie.
Die Bybel vertel van mense wat na aan God geleef het maar nie 'n goeie voorbeeld van ʼn gesonde huisgesin was nie; ʼn skokkende waarheid. God laat ouers egter nie onkundig nie en gee in sy Woord talle riglyne vir gesonde gesinslewens.
Ons moenie dink dat gelowiges outomaties goeie gesinsmense is nie. Adam en Eva was skaars uit die Tuin van Eden toe Kain vir Abel vermoor het. Sem, Gam en Jafet moes by geleentheid hul vader se dronkenskap aanskou. Jakob en Esau het glad nie goed met mekaar oor die weg gekom nie; ook nie Josef en sy broers nie. Let ook op Dawid. Wat vrouens en kinders betref, het die ongeluk hom behoorlik gery! Nogtans sê die Bybel dat hy ʼn man na God se hart was. Nogtans kon hy sy eie huishouding nie reg hanteer nie.
Let ook op die familie van Jesus. By geleentheid was Hy besig om die Evangelie te verkondig en siekes te genees toe sy familie opdaag in ʼn poging om Hom huistoe te neem. Ja, die mensdom worstel van oudsher af met ongesonde gesinsverhoudings.
Genesis 27 vertel die verhaal van ʼn gesin wat soos die duiwel gewerk het om God te probeer dien. Die verhaal van Isak en Rebekka is 'n sprekende voorbeeld van ʼn swak gesinsverhouding. Wat was die probleem met hul gesinslewe? Hy en sy vrou het God se plan met hul seuns eenkant toe geskuif en dit self probeer verwerklik.
Dit het om die eersgeboortereg gegaan; ʼn kosbare erfenis in daardie dae. Rebekka wou dat Jakob die seën van Isak ontvang en nie Esau nie. Daarom het sy nie gehuiwer om die gesinslewe te ontwrig nie. Sy het geweet wat God se wil was. Hy het dit al voor die tweeling se geboorte vir haar te kenne gegee. Die probleem was die wyse waarop sy te werk gegaan het. Sy was ʼn luistervink en het alles van Isak se gesprekke met Esau geweet; ook van sy plan om aan hom die seën te gee. Daarom het sy haar eie plan gemaak, hetsy uit desperaatheid of listigheid – waarskynlik beide.
Rebekka het geweet dat Jakob die uitverkorene was. Toe die tweeling voor hul geboorte teen mekaar stoot, het God vir haar gesê dat twee nasies in haar was en dat Esau vir Jakob sou seën (Gen.25:23). Isak het dit ook geweet, maar desondanks besluit om die seën aan Esau te gee. Miskien wou hy nie dat ʼn vrou vir hom voorsê wat om te doen nie. Die kort en die lank van die verhaal is dat Isak sy persoonlike wil op sy familie afgedruk en sodoende God se wil geminag het.
Jakob was ʼn bedrieër. Waarvandaan het dit gekom? By sy pa geleer – aardjie na sy vaardjie. Dis verstommend hoe Isak met die wil van God omgegaan het. Hy het tog as kind gesien hoe daarmee omgegaan is toe sy eie vader hom op God se bevel wou offer. Hy het sy vader se bereidheid om God se wil tot op die letter uit te voer met sy eie oë aanskou, so ook die reddende uitkoms.
Isak het teen iets wat vir hom kosbaar moes wees in opstand gekom. Geen wonder dat Esau later presies dieselfde gedoen en iets wat kosbaar moes wees geminag het nie. Isak se eiesinnige optrede het sy gesin oneindige skade aangedoen! Dis vandag nog net so, veral waar vaders hul gesinne despoties oorheers.
Vaders moet hul kinders begelei soos wat God se wil is. Moenie dieselfde fout as Isak maak nie. Hy wou nie God se doel met elkeen van sy seuns insien nie. Wat was so erg daaraan dat Esau nie die seën sou ontvang nie? Dit was nie ʼn skande nie. God het met elkeen ʼn doel. Isak het dit nie ingesien nie en sy wil oor God s’n laat seëvier. En kyk wat gebeur toe – sy eiegeregtige wil het bittere wrywing onder sy seuns veroorsaak. Luister wat sê die Bybel oor vaders: “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie....” (Efes.6:4).
Ouers wat God se wil eerste stel, is 'n sieraad vir 'n volk. Met Isak se gesin was dit net mooi andersom. Daar was wedersydse vetes en dit oor erfreg. Rebekka en haar kombuiskuiken Jakob het soos die duiwel baklei om seker te maak dat God se plan uitgevoer word. Wanneer elke gesinslid sy eie selfsugtige doelwitte op ander afdruk, is dit Ikabod met gesonde gesinslewens.
Esau was deeglik bewus daarvan dat Jakob die seën sou ontvang. Dis waaroor die hele bakleiery in die huis gegaan het. Toe hy sy eersgeboortereg aan sy broer verkoop, het hy iets verkoop wat in werklikheid nie syne was nie. Waarom het hy dit nogtans gedoen? Miskien was dit aan sy pa se houding te wyte.
Maar waarom het Jakob dit gedoen? Hy het tog van God se voorsegging geweet. Hy wou sy eie optrede regverdig. Jakob was nie ʼn engeltjie met klapvlerkies nie, maar ʼn duiweltjie met ʼn krulstertjie! Hy het ook van die duiwel se metodes gebruik gemaak om te verseker dat God se plan met hom sou slaag. Ek kyk wat het dit hom in die sak gebring. Ons tref hom iewers in die grammadoelas met ʼn klip vir ʼn kussing aan.
Die eindresultaat van hierdie verkeerde gesinslewe was ʼn vervreemding tussen ʼn man en sy vrou. Kyk wat dit van die seuns gemaak – van Jakob ʼn bedrieër gemaak omdat sy vader hom nie geleer het om op God alleen te vertrou nie. en van Esau ʼn heiden omdat hy geweier het om God se wil vir sy lewe te aanvaar. Beide opstandelinge.
Wat het hierdie gesin uitmekaar gedryf? Ouers wat kinders aangehits het om hulle nie aan God se wil te steur nie, maar hul eie selfsugtige doelwitte na te streef. Dit het daartoe gelei dat die een broer die ander wou doodmaak. Dis waar elke mislukte gesinslewe dikwels begin – by ʼn vader wat nie na God luister nie en dink dat sy weë beter as God s’n is!
Stukkende gesinne maak ʼn volk flenters. Ons volk is flenters en sal nie herstel alvorens ons gesinslewens herstel word nie. Daarvoor het ons Jesus nodig. Hy heel dit wat stukkend is. Luister na sy Woord: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here” (Efes.5:22). “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad....het” (:25). “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” (Efes.6:1,4).
Gesinslede moet God se doel met hulle en hul kinders opnuut ontdek en eerste stel. Dit sal ons in vrede en eensgesindheid met mekaar laat leef, want wie sy lewe na God draai, kan ook nie anders as om dit na die mense naaste aan hulle te draai nie.
Kom ons ondersoek ons gesinslewe by die aanhoor van God se Woord en maak reg wat verkeerd is. In die teksvers sê Rebekka vir haar seun: “Laat jou vloek op my wees...” Nee, dit kan en mag nooit wees nie! Vaders, moeders, moenie dat jou kind se vloek ooit op jou rekening staan nie. Maak reg terwyl daar nog tyd is!