Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Soek jy ruimte, vreugde en seën in jou gesin? Soek dan eers vir God om sy regmatige plek in jou gesin te gee, dan sal al hierdie seëninge in jou huis sigbaar word.
1931: STIGTING VOORTREKKERS
KULTUURDAGBOEK 30 SEPTEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
"Uit die aansporingswoorde van genl Hertzog dat 'hierdie vereniging nie 'n mislukking mag wees nie' is die Voortrekkers uitgebou tot 'n sterk rigtinggewende en vormende Afrikanerjeugorganisasie wat waarlik 'koers gehou' het op die Christelik-nasionale pad van die Afrikaner totdat die swart kommunistiese regime die land in 1994 onwettig bekom het, skole van hul Christelik-nasionale karakter gestroop het, en daarmee saam elke beweging wat deur skole beoefen is deur middel van rasse-integrasie vervreem het van sy volkseie voorkoms."
Reeds in 1913 het dr CF Visser, wat die erenaam 'Vader van die Voortrekkers' ontvang het, die gebrek aan 'n organisasie vir die Afrikanerkind besef. Hy het egter weens die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog en die uitwerking daarvan op Suid-Afrika eers in 1918 uitvoering aan hierdie ideaal gegee toe hy 'n konferensie in Bloemfontein gereël het met die oog op die stigting van die Voortrekkers. Hy het toe reeds daadwerklike steun van die Oranje-Vrouevereniging ontvang.
Die eerste tak van die Voortrekkers is gestig by die Voorbereidende Tegniese Skool in Bloemfontein, later bekend as die Hoërskool Sentraal, en in 1923 het mnr Japie Heese 'n tak op Graaff-Reinet en mnr De Wet Laubscher een op Nieuwoudtville gestig. Dit was die eerste uitbotsels van 'n gedagte wat eers later werklik vorm sou aanneem toe daar oorgegaan is tot die stigting van 'n landwye organisasie.
Op 27 en 28 November 1929 het dr SFN Gie, Sektretaris van Unie-onderwys, 'n konferensie in Pretoria belê om 'n jeugvereniging vir Afrikanerkinders te bespreek. 'n Komitee is benoem wat met die Boy Scouts onderhandel het maar onoorkomelike struikelblokke oor die vlag, die belofte, die amptelike tale en die maatskaplike gelykheid tussen blank en nie-blank, waarvan die Scouts nie wou afsien nie, het die onderhandelinge in duie laat stort. Die onderhandelingskomitee is omskep in 'n stigtingskomitee vir eie Afrikanerbeweging.
Op 1 Augustus 1931 het hierdie komitee besluit om 'n stigtingskongres te belê, en ook dat die leuse van die Voortrekkerbeweging wat gestig sou word, 'Hou Koers' (voorgestel deur dr NJ van der Merwe, toe voorsitter van die FAK) en die vlag dié van die Republiek Natalia (voorgestel deur mev MM Jansen) sou wees. Die stigtingskongres het op 30 September 1931 in die ou stadsaal van Bloemfontein plaasgevind, en die Voortrekkers het met groot geesdrif tot stand gekom.
Die Eerste Minister, genl JBM Hertzog, het die eerste groep amptelike Voortrekkers ingelyf, en dr NJ vd Merwe is tot hoofleier en mev MM Jansen tot onderhoofleidster verkies. Mnr J de V Heese was die eerste hoofsekretaris en die provinsiale leiers was prof Ben Taute (Kaapland,) dr DF Visser (Vrystaat), mnr JH Greijbe (Transvaal), en mev MM Jansen (Natal).
In die beginjare het die Voortrekkers byna uitsluitend as buitemuurse bedrywigheid van die Afrikaanse skole bestaan, en die rol wat skoolhoofde en onderwysers in die uitbouing van die beweging gespeel het moet met groot dankbaarheid vermeld word.
Ná die stigtingskongres het kommando's oral in Suid-Afrika tot stand gekom. In 1978 was daar meer as 400 kommando's met meer as 4 300 offisiere en meer as 34 000 seuns en meisies wat Vortrekkers was. Die groot krag van die Voortrekkers het van meet af aan in die spanstelsel gelê.
Op die breë nasionale vlak het die Voortrekkers dikwels op skouspelagtige wyse 'n aandeel aan groot volksbyeenkomste gehad: die fakkellope en hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument (1938), die inwyding van die Monument (1949), die Van Riebeeckfees (1952), die Uniefees (1960) en Republiekwording in 1961 met die daaropvolgende Republiekfeeste in 1966 en 1971.
Leesstof, veral in die vorm van handleidings, is beskikbaar gestel en rolprente is gemaak. Voortrekkerkampe het van die beginjare af 'n groot rol gespeel en het 'n onmisbare deel van Voortrekkerwerk geword: wedstrydkampe, veldwerkkampe, natuurbewaringskampe, kommandokampe, dienskampe en spankampe.
Die Voortrekker het oor verskeie historiese eiendomme en terreine beskik wat vir hul werk benut kon word. Uit die staanspoor het die Voortrekkers onderskeidende en kenmerkende uniforms as drag aanvaar, en in 1977 is nuwe uniforms in gebruik geneem ná deeglike en wetenskaplik ondersoeke.
Uit die aansporingswoorde van genl Hertzog dat "hierdie vereniging nie 'n mislukking mag wees nie" is die Voortrekkers uitgebou tot 'n sterk rigtinggewende en vormende Afrikanerjeugorganisasie wat waarlik "koers gehou" het op die Christelik-nasionale pad van die Afrikaner totdat die swart kommunistiese regime die land in 1994 onwettig bekom het, skole van hul Christelik-nasionale karakter gestroop het, en daarmee saam elke beweging wat deur skole beoefen is deur middel van rasse-integrasie vervreem het van sy volkseie voorkoms.