Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die verloop van elkeen van ons se geskiedenis berus by die keuses wat ons maak. Ons kan ook kies om NIE ons eie vyand te wees nie – 'n keuse wat ongelukkig deur baie min mense gemaak word.
REDDING DEUR GENADE ALLEEN
Ds A.E. van den Berg
“En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie” (Rom.11:6).
In 1910 is ʼn merkwaardige vrou in Albanië gebore en in 1997 op die rype ouderdom van 87 jaar in Indië oorlede - Moeder Theresa, soos sy alom bekend was. Wat het haar so merkwaardig gemaak? Haar reuse barmhartigheidswerk wat haar selfs die Nobelprys vir Vrede kort voor haar dood besorg het.
Ongelukkig getuig wêreldse toejuiging selde van God se goedkeuring. Na Theresa se besoek aan die aanbiddingsplek van ʼn ou Babiloniese godin (Swart Madonna) het sy haar huis op 18 jarige ouderdom verlaat en by die Susters van Loreto aangesluit. Sy het haar ma en suster nooit weer besoek nie en die grootste deel van haar lewe in Indië gewerk en gevolglik ook Indiese burgerskap verkry.
Theresa het in 1950 die organisasie Sendelinge vir Liefdadigheid gestig; ʼn groep Katolieke vroue wat hul aan barmhartigheidswerk wy. In 2012 was daar meer as 4,500 nonne in 133 lande by dié organisasie betrokke. Hulle versorg armes, mense met VIGS, tering, melaatsheid en ander siektes. Dit het ook weeshuise, skole, sopkombuise en mobiele klinieke ingesluit. Alle dienste is gratis. Wonderlik! Ja, goedheid is ʼn taal wat blindes kan sien en dowes kan hoor.
Tot en met haar dood was Teresa in beheer van 517 sendingstasies in meer as 100 lande. Sy is ʼn paar jaar na haar dood deur die RK tot ʼn heilige verklaar waarna sy, in weerwil van die Bybelse verbod om nie tot mense te bid nie, soos alle ander kwasi Roomse heiliges, aanbid mag word.
Die vraag is: Waar is Theresa se siel? Indien ʼn wêreldwye meningsopname gemaak sou word, sal meer as 90% van die mense sê dat dit in die ewige saligheid is omdat sy sulke goeie werk gedoen het. Niemand betwyfel haar ongeëwenaarde toewyding nie; maar word ʼn mens op grond van goeie werke gered?
Wat sê die Bybel? Redding is deur genade alleen- Soli gratia soos een van die Hervorming se slagspreuke lui. Paulus skryf:. “ .... En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie..” (Rom.11:6). "Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God” (Efes.2:8).
Niks wat ek doen, kan vir my ʼn plek in die ewige saligheid besorg nie. Goeie werke wat nie met geloof vermeng is, kan selfs skadelik wees! Jesus waarsku: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My...." (Mt.7:21-23).
Goeie werke is nie sonder meer geloofsdade nie. Wie nie tot bekering kom nie, gaan nie die ewige saligheid beërwe nie. “ ... Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6). Daar is geen ander brug tussen God en mens nie; selfs nie uitmuntende barmhartigheidswerk nie.
Die RK verkondig nie die noodsaaklikheid van bekering nie. Sy sê dat die God die kerk as die voertuig na die ewige geluksaligheid beskik het. Dis God se universele sakrament van genade. Daarom is die aanneming (confirmation) ʼn sakrament in die RK. Gevolglik moet jy net sorg dat jy ʼn lidmaat word en by die voorskrifte van die kerk hou. Die kerk sorg vir jou plek in die hiernamaals. Miljoene mense glo dit. Dis die grootste leuen van alle tye en ʼn set van Satan om mense van Jesus af weg te hou.
Daarom het die ou Hervormers die RK se slagspreuk dat daar geen saligheid buite Rome is nie, met veragting verwerp. Rome sê dat as jy nie lidmaat van die RK is nie, jy hel toe gaan. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Dis presies andersom!
Die pad na die ewige geluksaligheid is smal. Dis nie vir wiele nie maar vir voete gemaak. Geen kerk kan jou daarheen vervoer nie. Moet dus nie deur ʼn maatskaplike evangelie van “goed doen aan ander” om die bos gelei word nie. Werke sonder die bekering lyk goed veral onder die dekmantel van ʼn kerk maar is ʼn slegte oorkleed!
Ware geloof anker slegs in genade. Godsdiensnamaaksels rig groot skade aan en laat mense van godsdiens hul god maak i.p.v. om van God hul godsdiens te maak. En dis presies waar Protestantisme van Katolisisme verskil. Die groot verskil tussen die twee is die siening van genade. Die RK leer dat genade iets is wat God d.m.v. die kerk en haar sakramente as’t ware in sondaars inspuit. Dit stel hulle in staat om goeie dade te verrig wat jou sal red. Die Bybel leer anders - sondaars word deur geloof alleen gered.
Rome leer dat sondaars God se genade slegs deur kerklidmaatskap en deelname aan sakramente verkry. Daarom is daar volgens die RK geen redding buite haar nie. Wie nie aan haar behoort nie, gaan hel toe. Dis 'n leuen. Kyk na die misdadiger aan die kruis. Hy het nie aan ʼn kerk behoort, sakramente gebruik of goeie werke gedoen nie, inteendeel hang hy daar as gevolg van verkeerde dade, maar word slegs op grond van sy bekering gered. Hy het niks van sy saligheid verdien nie!
Benewens sondaars se bewustelike omdraai na Jesus kan goeie werke, al is dit hoe wonderlik, ons siele nie red nie: “En hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is” (Rom.3:23). Die RK dwaal erg met sy goeie werke wat sy as een van die pilare van redding verkondig. As jy jou kind laat doop, is dit ʼn goeie werk. As jy die misoffer bywoon, is dit ʼn goeie werk, As jy bieg, is dit ʼn goeie werk. Alles draai om goeie werke. Vir Jesus se genade is daar dus geen plek nie.
Die RK is op die verkeerde pad. Dis 'n pad wat sondaars baie ver verby die ewige saligheid voer. Daar is ʼn gesegde wat lui dat alle paaie na Rome lei. Beslis nie die pad na die saligheid nie! Dank God vir sy kragtige ingryping met Protestantisme wat mense op die regte pad gelei het.
Ten slotte weer die vraag: Waar is moeder Teresa se siel? Ek oordeel nie, maar weet op grond van God se Woord dat niemand op grond van sy goeie werke alleen, die ewige saligheid betree nie. Ek vertrou dat God vir Moeder Teresa genadig was en dat sy t.s.v. haar kerk se dwaling wel 'n persoonlike bekering tot Jesus gesmaak het. Sal dit nie tragies wees indien sy wat sulke goeie werk gedoen het, se siel verlore is!