Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Solank daar nog hoop is, is dit net 'n lafaard wat moed opgee; hoop is 'n droom wat altyd aanhou al is ons wakker want dit word gebore daar waar mens bo jou eie wanhoop uitstyg.
DANKBAAR VIR PROTESTANTISME
Ds A.E. van den Berg
“Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (I Joh.2:19).
Satan staan God en alles wat aan Hom behoort van meet af aan teen. Dis veral in die geskiedenis van die Christenkerk duidelik. Satan het die kerk eers met vervolging probeer dooddruk. Toe hy nie daarin slaag nie, het hy van strategie verander en met dwaalleer in die boesem van die kerk opgeduik en sukses behaal. Satan het mense wat in die kerk, dwaalleer begin verkondig, het gebruik. Hierdie metode sou deur die eeue keer op keer suksesvol gebruik word.
Johannes waarsku: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (I Joh.2:19). Paulus waarsku ook teen hulle: "Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan" (Hand.20:29,30).
Satan se volgehoue aanslae het later ʼn bres in die kerkmuur veroorsaak waardeur talle heidense elemente die kerk binnegesypel het. Hierdie elemente het later so ingeburger geraak dat baie mense die waarheid nie meer van leuen kon onderskei nie. Dit was 'n reuse terugslag vir die verspreiding van die Evangelie. In plaas daarvan dat die kerk die wêreld binne gedring en lig in die duisternis gebring het, het die wêreld die kerk binne gedring en die lig van die Evangelie verdof en die Roomse Kerk (RK) kon ontstaan.
Die RK is nie ʼn Christenkerk nie, maar 'n onmisbare herlewing van die Babiloniese afgodsdiens. Sover vasgestel kon word, het dit in die stad Pergamus ontstaan. Dit was die ou hoofstad van die Romeinse provinsie Klein Asië (Turkye). Die Romeinse keisersverering het destyds van mense marionette aan ʼn lyntjie gemaak en is later met die totstandkoming van die RK net op 'n ander manier hehaal – pouslike mag.
Ongelukkig beskou baie Protestante die RK as maar net nog ʼn Christenkerk. Nee, dit is nie. Dis eerder 'n reuse sisteem van verfynde afgodery wat mense soos ʼn sterk seestroom bewustelik verby die reddende genade van Jesus voer. Haar leer verskil so groot van die Bybel, dat daar vir lidmate geen kans op redding is nie. Haar leer van die wedergeboorte deur die doop, redding deur kerklidmaatskap, regverdiging deur goeie werke, boetedoening, vagevuur, aanbidding van Maria en gebede vir dooies is alles onskriftuurlik en onteenseglik heidens.
Die RK het haar beslag gekry nadat die Romeinse Ryk die Christendom tot staatsgodsdiens verklaar het. Duisende heidene het slegs vir die fisiese voordele van kerklidmaatskap die RK binnegestroom. Hulle was egter nie die eenvoud van 'n Christenkerk gewoond nie en het met verloop van tyd van hulle heidense gebruike Christenname gegee. Daarna het ʼn heidense duisternis op die kerk toegesak wat in die geskiedenis as die Donker Eeue aangeteken word omdat daar nie ʼn Evangeliese kerk was om die lig van Christus in die duisternis te laat skyn nie.
Christus het egter sy Kerk deur klein groepe Skrifgetroue gelowiges bewaar en dit het later tot ʼn kerkhervorming (16de eeu) gelei – Protestantisme. Dit was 'n baie geseënde verandering, ʼn vars bries in ʼn bedompige kamer! Protestantisme is ʼn terugkeer na die ware kerk met haar vaste geloof en geseënde eenvoud. God verhoed dat die waarheid in die stortvloed van Roomse afgodery wegspoel. Daarom deel ons met vreugde in die terug-na-die-Bybel-ommekeer wat jaarliks in Oktober herdenk word.
Protestantisme is nie ʼn nuwe godsdiens soos wat die RK voorgee nie. Dis ʼn geseënde herlewing van die oorspronklike kerk wat deur die apostels gestig is. Soos die eerste gelowiges vestig Protestante hul geloof op die Bybel alleen. “Want niemand kan ʼn ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus” (I Kor. 3:11).
Nadat Protestantisme die Bybel as die hoogste kenbron van die kerk in ere herstel het, het duisende mense met die RK gebreek en kon kort daarna die Bybel in hul eie taal lees. Die RK het lidmate eeue lank verbied om die Bybel te lees omdat dit hulle glo sou verwar en was die Bybel slegs in priesters se hande om aan mense te verduidelik. Met die Roomse Konsilie van Valencia (1229) is die Bybel selfs op ʼn lys van verbode boeke geplaas, waar dit vir eeue lank gestaan het. Vir miljoene mense wat die naam Christen gedra het, was die Bybel ʼn verseëlde boek en is hulle bewustelik van die saligmakende geloof in Jesus beroof.
Net soos in oud Babilon en later in die Romeinse ryk, het dit vir die RK oor massa-beheer gegaan. Mense se gedagtegang word maklik met godsdiens beheer. Die RK het dit geweet. Sy het lidmate alles wat die kerk leer, laat glo en as die enigste pad na die ewige lewe laat aanvaar. Daarom was Protestantisme ʼn geseënde omwenteling wat die Bybel vir die gewone mens toeganklik gemaak en die ware kerk van heidense gebruike gesuiwer het.
Die RK is soos ʼn duif met roofvoël instinkte. In Openb.13:11 lees ons: “.... en hy het twee horings gehad soos ʼn lam en het gepraat soos ʼn draak”. Die RK lyk op die oog af goed, maar sy praat soos ʼn draak. Toe prof. Malachi Martin destyds die RK verlaat het, het hy van Satansaanbidding in die Vatikaan getuig.
Tydens die Fatima 2000 Internasionale Kongres oor Wêreldvrede in Rome het nog ʼn Roomse geestelike, Emmanuel Milingo, getuig dat Roomse kerklui by formele Satansaanbidding betrokke is. Hy noem dit die derde dimensie van die Bose. Dis die heel gevaarlikste omdat dit in die geheim deur kerklui beoefen word. Milingo het ook getuig dat die kerklui wat met Satanisme omgaan deur hoë Roomse kerklui beskerm word.
Prof. Malachi Martin se boek Windswept House het ʼn opskudding veroorsaak omdat dit op ʼn werklike Satansritueel gegrond was. Hy het ook onthul dat homoseksuele kerklui gereeld met Sataniste geskakel het. In 1976 het pous Paulus VI erken dat die rook van Satan die heiligdom van die Petruskerk binnegedring het en daarvan bewus was dat die Satansnagmaal gereeld op dieselfde altaar as die misoffer gevier is.
Die RK se leer oor die saligmakende geloof verskil groot van die Bybelse leer. Die RK sien geloof eerder ʼn dogmatiese begrip wat op ʼn slaafse aanvaarding van die Roomse leer neerkom. Om gered te word, moet mense aan die RK behoort en haar leer onderskryf. Genade is vir haar iets wat God d.m.v. die kerk en sakramente as’t ware in sondaars inspuit. Lidmate verkry genade slegs deur lidmaatskap en sakramentgebruik. Wie nie aan die RK behoort nie, gaan glo hel toe.
Die RK omskryf begrippe soos genade, geloof en regverdiging op so ʼn wyse dat dit sondaars verhoed om Jesus as Verlosser te vind. Sy leer bv. dat Jesus se dood aan die kruis nie genoegsame vereffening vir sondeskuld is nie en dat die uitstaande balans deur die gebruik van sakramente gedelg moet word. Sy verkondig dat Jesus se kruisoffer slegs nodig was om God, wat kwaad vir sonde was, tevrede te stel. God het glo vir sondaars ʼn nuwe pad na die ewige lewe gebaan – deur die RK. Daarom leer sy geen persoonlike verhouding met Jesus nie. Dis onnodig want die kerk doen die nodige!
Om Jesus se genoegsame offer te ontken, is lasterlik. Hoe anders praat die Bybel nie daaroor nie! Een van die hooftemas van Paulus was juis die genoegsaamheid van Jesus se offer. Let ook op die misdadiger aan die kruis wat redding ontvang het. Hy het nie aan ʼn kerk behoort of sakramente gebruik nie. Nogtans verseker Jesus hom redding alleenlik op grond van sy bekering. Die RK is op ʼn pad wat sondaars ver verby die ewige vaderhuis voer. Dank God opnuut vir die seën van Protestantisme!