Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die herstel van ’n volk deur sy godsdiens te herstel, is ’n wenresep vir elke volk op aarde; ook vir die Boerevolk. Ons kla graag oor die onreg van die ANC-regering, maar wat het ons volk in hierdie penarie laat beland? Dieselfde ding wat Juda as volk in ’n penarie laat beland het - godsdiensverval. As ’n volk se godsdiens verval, verval die volk.
JESUS SE EERSTE OPROEP EN LAASTE OORDEEL
Ds A.E. van den Berg
"Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom" (Mat.4:17).
Jesus begin sy aardse bediening met 'n dringende oproep: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom". God wil hê dat alle mense tot bekering kom om sodoende die laaste oordeel nie oor hul te haal nie. In die OT is daar 'n soortgelyke oproep: "Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here Here, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! (Eseg.33:11).
Met die goddeloses word mense bedoel wat hul nie wil bekeer nie en die ewige dood nie gaan vryspring nie. Min mense steur hul egter aan enige goddelike oproep tot bekering en leef asof hulle nooit verantwoording van hul lewe gaan gee nie. Jesus sê in sy Bergrede: "Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind" .
Onbekeerlike mense veroordeel in werklikheid hulself. Hulle sal voor die groot regterstoel nooit 'n vinger na God se ordeel oor hulle kan wys nie. Hulle het tyd gehad om die saak met Hom reg te maak, maar het versuim om dit te doen. Jesaja dring by sy volk aan: "Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is" (Jes.55:6). Dis 'n universele opdrag – moenie uitstel nie!
Daarenteen sien gelowiges na God se oordeel uit omdat hulle niks het om te vrees nie. Hulle weet dat God regverdig is en met die oordeelsdag alle onreg sal veroordeel. Daar is net een saligmakende weg: " Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense." (Pred.12:13).
In ou Rome was daar by geleentheid 'n tribunaal (tipe van wetstoepasser) wat 100 misdadigers per skip na 'n ander landstreek moes laat weg voer. Soos wat hulle op die kaai aangetree het, het die tribunaal na elkeen se oortreding verneem. Al 100 het gesê dat hulle onskuldig en verkeerd veroordeel was. Net een het skuld beken. "'Ek verdien om tronk toe te gaan. My gesin het nie meer kos gehad nie en honger gely. Ek het begin steel om hulle te help. Dis alles my skuld. Ek verdien my straf" het hy geantwoord. Daarop het die tribunaal geantwoord: "Al hierdie mense het voorgegee om onskuldig te wees. Net een het gesê dat hy skuldig is. Stuur hom huis toe en neem die res aan boord!"
Al die oortreders wat voorgehou het dat hulle onskuldig was, is weggeneem terwyl die man wat skuld beken het, vrygelaat is. En dis presies hoe God werk. As ons ons sondes bely, vergeef Hy ons. Indien ons sondes probeer wegsteek, oordeel Hy. Alles wat ons doen, is aan God bekend.
"Here, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie — of U, Here, U ken dit geheel en al. U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie. Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou. En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig" (Ps.139:1-12).
Geen sonde kan vir Hom weggesteek word nie. Dit moet bely word en is al manier hoe vryspraak verkry word: "As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot 'n leuenaar ..." (1 Joh.1:6-10).
As ons 'n sonde bely, neem ons ons voor om dit nie weer te begaan nie. Ons leef egter in 'n wêreld vol lelike dinge en sondig weer. Daarom moet ons elke sonde voor God bely om vergifnis te ontvang. Ons kom wel net eenmaal saligmakend tot bekering maar moet nog elke dag se sonde wat ons doen voor God bely. Noem dit voortgesette bekerings. En dis wat heiligmaking is en God van sy kinders wil hê: "Want dit is die wil van God: julle heiligmaking" (1 Tess.4:7).
Ons voel gereeld jammer oor die verkeerde dinge wat ons doen maar bely dit nie alyd in berou voor die Here nie. Die Bybel benadruk dit telkens dat ons nie sondes moet opgaar nie maar elkeen daarvan, hoe gering ookal, moet bely om God se vergifnis te ontvang. As ons nie sonde bely nie, haal ons God se oordeel vir die dag van afrekening op ons self: "Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad" (2 Kor.5:10).
Paulus het tydens sy besoek aan die Korintiers ernstig oor sondeberou en vergifnis gepreek en hulle het geluister: "Nou is ek bly, nie omdat julle bedroef was nie, maar omdat julle bedroef was tot bekering, want julle was bedroef volgens die wil van God....Want die droefheid volgens die wil van God werk 'n onberoulike bekering tot redding ... In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is" (2 Kor.7:9-11).
Onbekeerlikheid is 'n gestadigde geestelike dood. Onbekeerdes sal nooit die ewige geluksaligheid betree nie al leef hul ook hoe voorbeeldig. Sondeskuld kan slegs deur belydenis vergewe word. God vergeef onvoorwaardelik: "Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol" (Jes.1:18).
Elke sondaar wat soos die Verlore Seun besef dat hy in 'n doodloopsraat is, moet na sy hemelse Vader terugkeer. God laat U-draaie op die lewenspad toe. 'n Sondaar wat die U-draai maak, se siel bruis met die nuwe lewe in Jesus op en God is bly daaroor: "Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor negen-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie. (Luk 15:7)
Ons kan die lewe nooit van voor af begin nie. Ons kan slegs deur die bekering ʼn ander eindbestemming bereik. Ongelukkig behaal Satan groot sukses deur mense te laat glo dat hulle nog baie tyd het om vir die lewe na die dood voor te berei. Dis 'n leuen! Moet nooit vir die laaste oordeel wag alvorens jy jou bekeer nie want dit kan enige dag plaasvind.
Wie aan Jesus se eerste opdrag gehoor gee, nl. om hom te bekeer, sal sy laaste oordeel nooit oor hom haal nie en Jesus hoor sê: " ...Mooi so, goeie en getroue dienskneg... Gaan in in die vreugde van jou heer" (Mat. 25:23).