Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gelukkig is jy, o land (Suid-Afrika!) as jou koning 'n edele is, en as jou vorste op die regte tyd maaltyd hou soos manne en nie soos drinkers nie. – Prediker 10:17... O weë!
DIE BROOD VAN DIE LEWE
Hannes Ollewagen
Joh. 6:22-59
“Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet. En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel. Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.”(:31-35).
Ons weet dat gelowiges nie die dag waarop hulle tot ware geloof in Christus kom hul laaste maaltyd in hul lewe nuttig nie. Maar hoe dan dat Christus sê wie na Hom kom nooit weer honger sal kry nie? Natuurlik verwys Christus hier na die honger van ons siel wat gestil sal word deur van die lewensbrood wat Hy ons gee.
Ons lees alreeds in Deut. 8:3 hiervan. “En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.” En in Joh. 6:26 stel Christus dan ook dat die skare na Hom kom soek omdat hulle siel versadig is met die brood van die lewe, met die suiwer lering van God se woorde, wat hulle gesmaak het. “Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël.” (Joh. 6:26-27).
Dit blyk wel dat om ons siel met die brood van die lewe te versadig nie behels dat ons net gou ’n stukkie iewers uit die Bybel lees nie. Ten einde ons siel met hierdie lewensbrood te voed, moet ons met erns God se woorde ter harte neem. En ons moet dit wat ons uit sy Woord leer, gehoorsaam uitleef. Luister na Christus se woorde in Joh. 4:31-34. “EN intussen het sy dissipels by Hom aangedring en gesê: Rabbi, eet. Maar Hy sê vir hulle: Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie. Die dissipels sê toe vir mekaar: Het iemand dan vir Hom ete gebring? Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.”
’n Verdere voorbeeld en getuienis hiervan kan ons in Matt. 4 vind. Wanneer die duiwel Christus in die woestyn versoek, kies Hy om sy eie siel te voed en te versadig deur gehoorsaamheid aan God se Woord eerder as om die vleeslike begeertes te voed. “En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword. En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word. Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” (Matt. 4:2-4). En dit is hierdie gehoorsaamheid aan God volgens die voorbeeld van Christus wat ons moet navolg. Hierdie navolging van Hom om volgens sy voorbeeld God te gehoorsaam en te behaag, is om ons siele met die lewensbrood te voed wat Hy ons bied. En sodoende sal ons deur Hom lewe. “Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.” (Joh. 6:54-57). Daar is geen mens wat hierdie lewe in homself het nie. Daar is geen mens wat homself kan red en Christus nie nodig het om versoening van sy sondes en om hom in die gehoorsaamheid aan God te lei nie. “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.” (Joh. 6:53).
Ons kan nie ons vleeslike begeertes voed en terselfdertyd verwag dat ons siel nie van honger sal kwyn nie. Ons moet werk vir die spys wat bly tot in die ewige lewe wat Hy ons gee. Mag ons die wyse keuse uitoefen om te werk om ons siel met die lewensbrood wat Hy ons bied te versadig terwyl ons in gemeenskap met Hom lewe. En mag ons eerder kies om by God se maaltyd te gaan aansit as om te deel in die feesmaal van die wêreld waar geen werklike spys bedien word nie en waar ons siel ongetwyfeld van honger sal sterf.
“Ek spreek soos met verstandige mense; oordeel self wat ek sê: die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.” (1 Kor. 10:15&16, 21)