Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy nie iets kan sê wat tot die eer van God bydra nie, bly liewer stil. Mense het al dikwels spyt gekry oor hulle woorde maar nie oor hulle stilswye nie.
BLY DAN REIN
Hannes Ollewagen
1 Tim. 5:17-25
“Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.” (:22).
Hierdie is dalk ’n vermaning wat ons meer gereeld in ons verdorwe samelewing behoort te hoor. Ons sien dikwels hoedat mense eindelik ook maar verkeerde dinge aanvaar bloot omdat hulle daaraan gewoond raak en omdat die breër samelewing dienooreenkomstig handel. Enkele voorbeelde onder ons eie volk is maar die “normaliteit” van saamblyery, egskeiding en egbreuk, sabbatsontheiliging, materialisme en deesdae ook homoseksualisme. En dit ten spyte van die HERE se uitdruklike waarskuwing en bevel daarteen om nie die meerderheid in verkeerde dinge te volg nie. “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. ...” (Ex. 23:2).
Ons merk in die teks van ons oordenking dat Paulus vir Timótheüs daartoe maan om nie met die sondes van ander gemeenskap te hê nie. Dit is een manier waarop ’n mens rein kan bly – om jou van die goddelose af te sonder. En hierdie is geen ongewone verskynsel in God se Woord nie. Ons dink byvoorbeeld aan Daniël en sy vriende in Babel wat hulself eenkant van die gebruike wat in die koninklike paleis gegeld het, gestel het. En hierdie drie vriende van Daniël wat gewoon geweier het om die meerderheid te volg in die afgodery en aanbidding van beelde op aandrang van die koning. En ons lees ook in Ps. 26 waar Dawid daaroor skryf dat hy nie in die teenwoordigheid van valse mense vertoef nie, maar dat hy die woning van die HERE liefhet. “Ek sit nie by valse mense nie, en met slinkse mense gaan ek nie om nie. Ek haat die vergadering van kwaaddoeners, en by die goddelose sit ek nie. Ek was my hande in onskuld en wil gaan rondom u altaar, o HERE, om die stem van lof te laat hoor en om al u wonders te vertel. HERE, ek het lief die woning van u huis en die woonplek van u heerlikheid.” (Ps. 26:4-8).
Dit is ook vir my interessant wanneer Paulus aan Timótheüs die bevel gee: “Hou jou rein.” Hy is m.a.w. reeds rein en moet hierdie reiniging behou. Dit laat my dink aan die pratige gedeelte uit Sagaría 3. “DAARNA het Hy my Josua, die hoëpriester, laat sien, terwyl hy voor die Engel van die HERE staan, en die Satan aan sy regterhand staan om hom aan te kla. Toe sê die HERE aan die Satan: Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het jou bestraf! Is hierdie een nie ’n brandhout wat uit die vuur geruk is nie? En Josua was bekleed met vuil klere, terwyl hy voor die Engel staan. Daarop het Hy aangehef en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere.” (Sag. 3:1-4). Die hopelose toestand waarin elke sondaar hom bevind. Daardie toestand waar ons voor Hom staan met ’n besoedelde kleed, besmet met ongeregtigheid. En deur sy liefdevolle barmhartigheid neem Hy daardie vuil kleed van bekeerlinge weg en beklee ons met ’n nuwe kleed – met ’n rein feeskleed. En ons durf nie hierdie kosbare kleed weer besmet asof ons dit net weer vir ’n ander kan verruil nie, want dit is met sy kosbare bloed gereinig. En daarom rus daar op ons die verantwoordelikheid om hierdie geheiligde kleed wat ons van Hom ontvang, rein te hou. Dit is baie duidelik uit 1 Pet. 1:14-16. “Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikheide wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” En in 1 Johannes 3 word dit ook vir ons duidelik gestel. “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” Die kinders van God is dus gedurig besig om hul lewens te ondersoek en aan die Woord van God te toets. En die onreinheid in ons lewens wat die Woord aan ons openbaar, moet ons voor God bely om daarvan gereinig te word. Ons kan nie as God se kinders in vrede daarmee voortleef nie. “Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.” (1 Joh. 3:8&9).
Mag ons ook deur hierdie vermaning onsself opnuut daartoe verbind om ons lewe voor God rein te hou volgens die voorskrifte van sy Woord. “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.” (Ps. 119:9). Ons leer immers uit Jak. 1:27 dat dit reine en onbesmette godsdiens voor God is om ons vlekkeloos van die wêreld te bewaar. “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld.”