Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Solank daar nog hoop is, is dit net 'n lafaard wat moed opgee; hoop is 'n droom wat altyd aanhou al is ons wakker want dit word gebore daar waar mens bo jou eie wanhoop uitstyg.
OM IN DIE GEES TE BLY
Hannes Ollewagen
1 Joh. 3:1-24
“En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ’n gebod gegee het. En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly aan die Gees wat Hy ons gegee het.” (:23&24).
Geloofsekerheid. Hoe weet ek dat ek werklik gered is? Daar is sommige wat van mening is dat dit iets is wat God alleen weet. Menige mens sal dalk antwoord dat ons maar hoop dat ons eendag die ewige saligheid sal beërwe. Myns insiens is hierdie saak veels te belangrik om maar eenvoudig te hoop dat dit eindelik goed sal uitwerk. Ons ewige saligheid is iets waarmee ons onsself ernstig mee moet bemoei en waarvoor ons hard moet ywer. Christus gee ons pertinent hierdie opdrag in Luk. 13:24. “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.”
Die Woord van God onderrig ons ook in gesonde oordeel om te beoordeel of die weg waarlangs ons wandel die smal weg is wat eindelik na die ewige saligheid lei. Wanneer ons van hierdie weg afwyk, is daar alleen een oplossing en dit is om terug te keer na hierdie smal weg wat na die ewige saligheid lei. Daar is nie ’n ander weg na die ewige saligheid nie. Daar is nie ’n ompad nie. Daar is net één ingang na die ewige woning saam met God. “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6). En dit is hier waar ons ook in 1 Johannes 3 so ’n kosbare skat in die Woord ontdek. God gee aan ons nie alleen die gebod van liefde nie, maar ook van geloof. “En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ’n gebod gegee het.” (1Joh. 3:23). Ons moet glo in die Naam van sy Seun, Jesus Christus. Hierdie gebod behels veel meer as net ’n belydenis met ons lippe dat ons in Jesus glo. Hierdie gebod behels dat ons werklik in Hom moet glo – m.a.w. dat ons in alle opregtheid met kinderlike afhanklikheid moet glo dat ons saligheid op géén ander wyse moontlik is as deur Hom nie. En dan moet ons hierdie saligheid wat Hy vir ons bewerk ook nie verwater tot iets wat duisende jare gelede gebeur het en toe afgehandel is met sy soendood aan die vloekhout nie. Inderdaad was daardie offer van Homself die volmaakte offer wat Hy aan God gebring het as versoening vir ons sondes, maar ons moet daardie nie die einde van ons geloofsverantwoordelikheid probeer maak nie. As elke mens se redding op Gólgota afgehandel was waarom sou God daarna aan ons die Heilige Gees skenk om ons langs die lewensweg voor te lei? Ons is dan klaar gered?
Die ware besef en die geloof dat Hý alleen vir my versoening met God kan bewerk deur die werking van die Heilige Gees in my lewe is eerder waar ons ons geloofsverantwoordlikheid opneem as wat dit ’n eindpunt is. Dit is die punt waar ons ons eie lewe van sondigheid neerlê en Christus as ons Saligmaker volg. En hiermee impliseer ons nie vir ’n oomblik dat die mens deur goeie werke sy saligheid kan bewerk nie – dan was dit nie nodig om Christus te volg nie. Hy het juis hiervoor die Heilige Gees aan ons gegee om ons in sy waarheid te lei. “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ’n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.” (Joh. 14:16&17). Die HERE leer ons dan ook in Joh. 14:25&26 dat dit wat die Heilige Gees ons sal leer, sal ooreenstem met dit wat Hy ons in sy Woord leer. Die lering van die Heilige Gees en die Woord van God sal nie in stryd met mekaar wees nie. Die Heilige Gees is nie ‘n “nuwe Godheid” nie, maar deel van God Drie-enig. “Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” Die Heilige Gees sal die werk van Christus voortsit.
En dit bring ons by ’n volgende belangrike punt – die Heilige Gees as deel van God Drie-enig. Die Heilige Gees is vir ons saligheid so belangrik as Christus self, want Hy is deel van God. Dit is uit Joh. 3:24 duidelik dat die inwoning van die Heilige Gees in ons harte juis aan ons geloofsekerheid gee in die sin dat ons in Hom bly en deur sy leiding na die ewige saligheid onderweg is. “En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly aan die Gees wat Hy ons gegee het.” Dit is ook interessant dat die belofte van die Heilige Gees nie eers in die Nuwe Testament deur Christus aan sy dissipels gegee is nie. Ons lees alreeds in die Ou Testament in verskeie gedeeltes van hierdie belofte. Hoe mooi is die woorde van Jesaja 32:14 & 15 nie. Want die paleis is verlate, die stadsgewoel is in eensaamheid verander; die Heuwel en die Wagtoring dien as spelonke vir ewig, ’n vreugde vir die wilde-esels, ’n weiveld vir die troppe vee – totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn ’n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir ’n bos gereken.” Is dit nie presies hoe die mens wat sonder die Gees van God leef se geestelike lewe daaruit sien nie – ’n verlate woning en ’n spelonk wat ’n dooie gees huisves. Dit laat my dink aan Christus se woorde aan die skrifgeleerdes en Fariseërs wat verskriklik godsdienstig was, maar daar was in hul gees geen lewe nie. “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.” (Matt. 23:27). En wanneer die Gees van God in die mens se hart woning maak, word daardie spelonk en droë woestyn wat leweloos was verander in ’n vrugbare land wat honderdvoudige vrug oplewer.
Ons lees ook in Jesaja 44 die profesie van die uitstorting van die Heilige Gees. En interessant hoedat dit aan ons openbaar word asof die Gees soos water op ons uitgegiet word, want dit is juis deur die werking van die Heilige Gees in ons harte dat ons van ons sondige begeertes en hartstogte gereinig word. “Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge.” (Jes. 44:3). Alreeds hier profeteer Jesaja van die doop van ’n gelowige met die Heilige Gees waarvan Johannes dan ook later getuig. “En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is.” (Joh. 1:33&34).
Wanneer Christus in Joh. 4 met die Samaritaanse vrou in gesprek is, stel Hy aan haar dat hierdie gawe van die Heilige Gees wat Hy aan ons skenk soos water is wat ons hart en siel skoon was en nodig is vir ons geestelike welsyn. “Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het. Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens ’n skepding nie, en die put is diep; waarvan kry U dan die lewende water? U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee? Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Joh. 4:10-14).
Die getuienis in 1 Joh. 3:24 word ook vir ons in Romeine 8:9 bevestig. “...julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.” Wanneer iemand die Gees nie het nie – is hy nie aan God verbonde nie. Sonder die inwonende Heilige Gees is Christus vir jou ten beste ’n held wat duisende jare gelede geleef het, maar vandag nie meer ’n lewende werklikheid is nie.
Maar wanneer ons die Gees van God het, het ons die voorreg om in ’n lewende verhouding met Hom te staan. En solank as wat ons in só ’n lewende verhouding met Hom leef, het ons sekerheid in die geloof dat ons as sy kinders kan uitsien na die ewige lewe saam met Hom. “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” (Rom. 8:14-17).