Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Liefde is die sterkste wapen wat God ons in die stryd teen die sonde gegee het. Hoe meer liefde, hoe minder probleme, hoe minder spanning. Moenie jou liefde in 'n weegskaal plaas nie; liefde wat afgemeet word is nie liefde nie maar berekeninge. Laat jou liefde spontaan wees, eg, dan kom daar 'n diep vreugde in jou.
‘N SLAGGAT OM IN DIE LEWE TE VERMY
Ds A.E. van den Berg
“Toe het Kaleb die volk stilgemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig” (Num.13:30).
Wat 'n jaar beleef ons nie! Die een nuusbulletin na die ander handel oor opstande, vegterye, natuurrampe, misdaad en oorloë. Dis alles 'n teken van 'n wêreld wat ten einde spoed. Jesus het gesê dat lelike dinge net voor sy wederkoms sal gebeur: "En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke" (Mat 24:6,7).
Maar, hoe voel jy oor al die lelike dinge in ons eie land? Maak dit jou negatief oor die toekoms? Pasop dat 'n negatiewe gees jou nie beetpak en jou geestesgesondheid verlam nie. Jesus sê: "Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My...." (Joh.14:1). Elke gelowige moet vas bly glo dat alles in God se hande is en dat sy wil sal geskied. Gelowiges moet positief bly al gaan hulle soos Dawid deur donker lewensdieptes: "Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my" (Ps.23:6).
In Num.13 vind ons Israel oppad na die Beloofde Land. Net voordat hulle dit ingaan, stuur Moses 12 verspieders om die situasie te verken. Toe 10 van hulle met ʼn negatiewe verslag terugkeer, was die volk se hoop op 'n toekoms gebreek. Dit het vir hulle gevoel asof hulle pad na êrens toe eerder oppad na nêrens was.
Die 10 verspieders het berig dat die stede groot en met versterkte mure reg rondom was. Daarbenewens was die mense fisies groot en menslik gesproke, vir Israel geen kans op ʼn militêre oorwinning was nie. Die effek van hierdie negatiewe verslag het die moeë woestyntrekkers se gees verlam. Ja, niks ontmoedig ʼn mens soos om jou tussen 'n êrens en 'n nêrens op die grootpad van die lewe te bevind nie!
Israel kon nie omdraai terug Egipte toe nie. Dit sou voortgesette slawerny beteken. Maar wat van die belofte van God van ʼn nuwe vaderland uit sy hand. Waarheen nou? Vorentoe of agtertoe? Dan keer Josua en Kaleb met ʼn heel ander verslag terug: “.... Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig”.
Waarom het hulle verslag so ingrypend van die ander 10 s’n verskil? Hulle het tog dieselfde stede en gedugte inwoners gesien. Die verskil was dat Josua en Kaleb met ander oë na die toekoms gekyk het – met 'n vaste geloof in God en sy beloftes. Wie met geloofsoë na die toekoms kyk, se gees word nooit geskaad nie. Wie egter op negatiewe dinge fokus, is altyd bang vir die toekoms. Josua en Kaleb het God se belofte geglo en Hom met hul toekoms vertrou. En dis wat elke gelowige moet doen!
By geleentheid wou Saul vir Dawid doodmaak en hy moes vlug. Dawid is kort tevore in opdrag van God deur Samuel gesalf om die tweede koning van Israel te word. Dawid het nie geweet wat die toekoms vir gaan hom inhou nie en skryf in hierdie onseker tyd Ps.18 en maak in vers 30 sy besluit bekend: “Want met U loop ek ʼn bende storm, en met my God spring ek oor ʼn muur”. Ja, God gee vir sy kinders ʼn oplossing in elke moeilike situasie; nagsig in elke donker uur.
Die probleem met die 10 verspieders was dat hulle na niks anders as die probleem voor hulle gekyk en vir Moses gesê het: “Ons kan nie!” Josua en Kaleb het na die oplossing nl. God se belofte gekyk en gesê: “Ons kan!” Al 12 van hulle kyk na dieselfde situasie, maar met verskillende oë – twee dié met geloof en 10 met die van wanhoop. Twee van hulle vertrou God se belofte en 10 nie. Baie mense vertrou ook net dit wat hulle voor hulle sien. Toe Saul vir Goliat sien, sê hy: “Die man is te groot om te oorwin!” Toe Dawid hom sien, sê hy: “Die man is te groot om te mis!”
Gelowiges moet Josua en Kaleb se voorbeeld volg en glo dat God groter as enige probleem is. Wie so glo, se gees word nooit deur vrees lamgelê nie. Wees baie versigtig met jou gedagtewêreld want dis waar die grootste vrees lê. Wat is vrees anders as hoe jy oor ʼn onsekere saak voel?
Ons gedagtewêreld is soos ʼn vrugbare akker waarop gedagtes gesaai word; goed of sleg. Net jy alleen kan met God se genade verhoed dat slegte gedagtes hierdie tuin besmet. Paulus skryf: ..."want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus" (2 Kor.10:4,5),
In 1616 voltooi die skilder Paul Rubens 'n werk wat Daniel in die leeukuil uitbeeld. Die profeet kyk nie na die leeus voor hom nie maar staan met sy rug na hulle en kyk na bo. Hy het geglo dat God hom sou red. Die sentrale tema is geloof in God wat oor aardse vrees en dood triomfeer. Daniel kyk in gebed na bo. In skrille kontras met die donker, vreesaanjaende omstandighede waarin hy hom bevind, is sy gesig verlig en seëvier sy geloof oor vrees!
ʼn Vaste geloof en positiewe gees plaas gelowiges altyd aan die wenkant van die lewe en laat hulle die toekoms onbevrees tegemoet gaan. Dis ook 'n getuienis na buite en val die oog van mense met 'n negatiewe gees en lewensuitkyk op. 'n Positiewe gees kweek oorwinningskrag: Johannes skryf: “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Joh.4:4).
Moses was nie bang vir die toekoms nie. Hy het geweet dat die toekoms aan God behoort en dat Hy hom sou help. Toe die Skelfsee sy pad na die beloofde land versper en die vyand op hulle was, het Moses geglo dat God groter as die probleem was. En Hy was. Israel het droogvoets deur die see getrek en God het die vyand laat omkom.
Moenie soos die 10 verspieders toelaat dat vrees vir die skynbaar onmoontlike jou ontmoedig en jou geloof belemmer nie. Daar is genoeg reuse in die lewe om ons bang te maak MAAR slegs as ons hulle dit gaan toelaat. Moenie!
As ons die oë op Jesus en nie op die reuse in die lewe vestig nie, sal geen gebeure ons geloof verlam nie. Maar dan moet ons alleenlik na Hom kyk. Petrus het ervaar wat gebeur as jy in ʼn krisisuur die oë van Jesus wegneem en net die omringende gevare raaksien. Hy het een nag amper in die See van Galilea verdrink!
Ons leef net eenmaal op die aarde. Maak van elke dag die beste dag in jou lewe. Ons as gelowiges het alle rede om van kop tot tone een groot Halleluja te wees. Kyk verby die negatiewe dinge en vertrou die onbekende toekoms aan ʼn bekende God toe. Al weet ons nie wat dit gaan inhou nie, weet ons wel in Wie se hand dit is.
Jesus het vir elke gelowige 'n onsigbare geloofskroon gegee om met vreugde te dra. "...Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee" (Openb.2:10). Tel derhalwe jou kop op. Want as jy kop ondertebo deur die lewe loop, val daadie kroon af!