Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kinders, neem die opvoeding wat 'n vader julle gee, ter harte; slaan daarop ag, sodat julle kan leer wat insig is – Spreuke 4:1
VERRAAIERS WAS DAAR ALTYD (5)
NIE MEER SABOTASIE, MAAR OORLOG!
Die Johannesburgse stasiebom
Bram Fisher (Slot)
"In afsienbare tyd sal Suid-Afrika weer die kruheid en wreedaardige dade van die Kommunisme en sy terroristiese barbaarsheid beleef wat weer sal begin met gevegte onder sogenaamde 'comrades', waarvan die gevolge elkeen in die land ernstig sal raak."
Die onmenslike gebeure rondom die stasiebom kan beskou word as 'n intermezzo in die hoofdrama waarin die Kommunisme met Bram Fischer en sy 'comrades' die botoon gevoer het.
Tydens die Rivonia-verhoor waarin Mandela en sy mede-terroriste verhoor is, is 'n opdrag uit die binnekring van die ANC/SAKP-alliansie na buite gestuur met die strekking dat tot tyd en wyl die verhoor afgehandel sou wees, geen sabotasiedade gepleeg moes word nie, klaarblyklik omdat gemeen is dat sodanige dade die beskuldigdes se saak sou benadeel. Hierdie opdrag is nagekom, want terwyl die verhoor aan die gang was, was daar relatiewe stilte op die veiligheidsterrein. Hierdie stilte sou egter nie lank duur nadat die verhoor op 12 Julie 1964 ten einde geloop het nie.
Op Vrydag 24 Julie 1964 het daar 'n karnavalatmosfeer in Johannesburg geheers — 'n atmosfeer wat net deur 'n rugbytoets geskep kon word. Die Springbokke sou die volgende dag op Springs teen die Franse Hane speel en die Goudstad het gewemel van mense van oral in die land. In daardie jare is daar op groot skaal van spoorwegvervoer gebruik gemaak en veral die Johannesburgse stasie was besonder bedrywig.
Om ongeveer 16:25 die Vrydag het die spoorwegpolisie asook twee plaaslike koerante, die Rand Daily Mail en die Transvaler, geheimsinnige telefoonwaarskuwings ontvang dat 'n bom op die stasie sou ontplof.
Ongeveer vyf minute ná die oproepe, en voordat enige voorkomingsmaatreëls getref kon word, het 'n jong wit man geklee in 'n donkerblou oorjas, 'n bruin leertas op 'n bank in die hoofdeurgang van die stasie geplaas en aan die omstanders gesê hy sou dit weer binne 'n paar minute kom haal. 'n Sewe-en-sewentigjarige ouma, Ethel Rhys, en haar kleindogter Cornelia Koekemoer, wat saam met haar was, het weggeskuif om langs hulle plek te maak vir die tas op die bank.
Die tas het 'n kragtige tydbom bevat, en enkele minute nadat die jongman dit op die bank neergesit het, was daar 'n verblindende straal en 'n oorverdowende ontploffing. 'n Yslike gat is uit die vloer geruk en staal-, glas- en betonstukke is tussen die mense in die omgewing van die ontploffing geslinger. Binne 'n straal van ongeveer 15 meter het bebloede en verbrande mans, vroue en kinders rondgestrompel in vlamme en rook.
Drie en twintig mense is beseer en na die hospitaal geneem. Party van hulle was so erg verbrand dat daar 'n lang tyd vir hulle lewens gevrees is. Na sowat twee weke het mev. Rhys gesterf. Cornelia het bly leef, maar was so verbrand dat sy 'n lang lyding deurgemaak en permanente letsels oorgehou het. Ook van die ander beseerdes het ontsettende lyding ondergaan.
Op die oggend van 26 Julie het die Sondagkoerante die eerste skokkende foto’s van die verbrande Cornelia en ander slagoffers die wêreld ingestuur. Skokgolwe het dwarsdeur Suid-Afrika getrek. Dit was nou nie meer sabotasie nie, maar oorlog! — het mense gesê. Mense het ook opnuut begin dink oor die land waarin hulle woon. Wat was die regte oplossing vir die land? Die Johannesburgse The Star het mense se gemoedstemming soos volg verwoord:
"People previously inclined to regard the police with disdain, were now full of praise.
"People who previously had criticised the implications of the 90-days detention clause, were now quiet.
"They looked at the picture of three-year-old Cornelia Koekemoer, burned in the explosion, and they looked at their own children and they were silent.
"People who previously had been among those who declared: ’It doesn't affect us' — even during the Rivonia trial — suddenly found themselves talking about the things they should have considered and discussed years ago..."
Die veiligheidspolisie was aanvanklik dronkgeslaan. Wie kon so 'n afskuwelike daad beplan en gepleeg het en waar sou hy gevind kon word in die grote Johannesburg? Teen hierdie tyd het die polisie egter al hulle "kliente" geken en by wyse van eliminasie het hulle op die naam van John Harris afgekom. Hulle het hom ingetrek en hy het sy skuld sonder meer erken nadat onder meer 'n tikmasjien waarop hy 'n dreigbrief aan Eerste Minister Verwoerd getik het, in sy kamer gevind is. Presies sewe uur nadat die bom om 16:32 ontplof het, was Harris agter die tralies. Voorwaar 'n merkwaardige prestasie deur die polisie.
Harris was 'n lid van die "African Resistance Movement" (ARM) — 'n afsplintering van die "Labour Party" wat deur liberaliste soos Leo Marquard en Alan Paton gestig is.
Volgens gesaghebbendes was die ARM maar net nog een van die vele instrumente wat deur die SAKP gebruik is. Talle Kommuniste het in en uit die ARM beweeg en lede van die ARM het op hulle beurt vryelik in SAKP-kringe beweeg.
Benewens die getuienis aangaande die tikmasjien was daar ook ander onweerlegbare getuienis teen Harris, met inbegrip van getuienis deur een van sy meelopers, John Lloyd, wat duidelik daarop gedui het dat dit 'n fyn beplande misdaad was wat Harris gepleeg het. Harris se hoofdoel was blykbaar om die regering tot onmiddellike oorgawe te skok.
Harris is deur die hooggeregshof skuldig bevind aan moord en aangesien daar geen versagtende omstandighede was nie, is hy ter dood veroordeel. Die vonnis is deur die appèlhof bekragtig. Hy is op 1 April 1965 tereggestel.
Die ARM het bestaan uit 'n relatief klein groepie jong naïewe mense wat die pad byster geraak het, en die polisie het dan ook geen probleem ondervind om hulle vinnig vas te trek nie. Heelwat van hulle het ook in die tronk beland vanweë sabotasie wat hulle gepleeg het. Dit was tydens die verhoor van Adrian Leftwich (President van NUSAS, 1960-61) dat die Kaapse regter-president Andries Beyers die later dikwels aangehaalde woorde geuiter het: "It would be an insult to liken him (Leftwich) to the rat species". Leftwich het nie net homself nie maar ook sy vriende en die ideale waarvoor hulle geveg het, verraai.
So was dit nog altyd: dat 'n klomp skurke mekaar uiteindelik verraai en die beginsel handhaaf dat net die sterkste oorleef, bring onder mekaar mee opstand en oorlog, iets wat tans weer baie sigbaar onder die ANC is. In afsienbare tyd sal Suid-Afrika weer die kruheid en wreedaardige dade van die Kommunisme en sy terroristiese barbaarsheid beleef wat weer sal begin met gevegte onder sogenaamde 'comrades', waarvan die gevolge elkeen in die land ernstig sal raak.