Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Genade is nooit ooit vanselfsprekend nie. Ons dink omdat ons die genade oor ander mense sien, dit kom ons ook toe. Pleit liewer om genade vir jou skuld, dan sal jy opregte dankbaarheid daarvoor hê.
EK HET GESTERF ! (8)
Hierdie naby-dood ervaring is in Afrikaans vertaal en neergeskryf deur
Anita Joubert
“Jesus het met hartseer oë na my gekyk: “Jy dink dat jou tattoeëermerke ʼn getuienis vir My is, maar jy dra merktekens van die koninkryk van die duisternis” (Lev. 19:28).
Ek het nooit gedink dat ʼn tattoeëermerk tot so iets aanleiding kon gee nie, maar ek het ook nooit, aan die anderkant, gedink dat ek op die ouderdom van 34 jaar, kan sterf nie. Ek weet dit is nie bloedjonk nie, maar beslis ook nie oud nie. Ek is ʼn Christen vir die grootste deel van my lewe en ek was nog altyd lief vir Jesus. Ek het my Bybel gelees, kerk toe gegaan en was in ʼn bediening betrokke.
Ek het tattoeëermerke op my liggaam laat aanbring – om presies te wees, vyf daarvan. Elkeen van hulle het ʼn betekenis gehad. Die duif op my voorarm, was vir vrede. Die kroon op my skouer moes my herinner aan my identiteit in Christus. Oor my ribbekas is ʼn Hebreeuse woord geskryf wat God se verbondsliefde beteken. Nie een van my tattoeëermerke is demonies of betekenisloos nie. Dit was my persoonlike getuienis in ink uitgebeeld, of dit is wat ek dit genoem het. Ek het selfs Skrifgedeeltes wat dit kan bevestig.
Ek het gesê dat God na ons harte kyk en nie na die uiterlike nie. Ek het ook gesê: “Ons is onder genade, nie onder die wet nie. Levitikus is deel van die wet. Mense het dan net geknik en saamgestem. Sommige het selfs gevra waar ek dit laat doen het. Ek het regtig nie gedink dat iets verkeerd is daarmee nie, totdat ek een aand gesterf het.
Dit het sonder enige waarskuwing gebeur. Ek het uit die stort geklim, afgedroog soos gewoonlik, maar die volgende oomblik het my bors saamgetrek, gevoel asof iemand ʼn staalband daarom gespan het. Ek het gesnak na asem, gesteier, op my knieë neergeval en onthou dat ek nog gedink het: “Dit is seker net spanning!”
My arms het doodgegaan en alles voor my het swart geword – of so het dit gelyk. Ek was steeds bewus van myself, maar ek was nie in my liggaam nie. Ek het gewigloos gedryf, die badkamervloer van bo af bekyk. Ek het myself daar sien lê, met een hand nog styf om die handdoek vasgeklem. My foon het eenkant, onbeantwoord, gelê en lui. Ek behoort ontsteld te gewees het, maar ek was nie.
Skielik het iets my opgetrek; iets wat ek nie kon sien nie, maar ook nie kon weerstaan nie. Lig het my omring. Nie ʼn skerp lig nie, ook nie kunsmatig nie. Dit het lewendig gevoel. Dit het my nader getrek en my ingelaat.
Op daardie oomblik het ek geweet dat ek gesterf het, maar dit was nie die einde nie. Dit was die begin van ʼn waarheid wat ek nooit verwag het om te beleef nie. ʼn Waarheid sonder ink, ʼn waarheid sonder merke op my liggaam. Dit is ʼn waarheid wat elke Christen behoort te hoor.
Die lig om my was nie verblindend nie, maar het my omvou. Dit was warm, dieper as hitte. Dit het soos “huis” gevoel, soos ʼn plek waar ek tuishoort.
Soos wat ek weggedryf het van swaartekrag en pyn, het ek iets eienaardig beleef – helderheid. Elke gedagte was skerp en elke herinnering baie helder .
Toe het ek Hom gesien – vir Jesus. Hy het nie in ʼn skerp flits of met trompetgeskal verskyn nie. Hy het net meteens daar gestaan – geklee in reinheid, geskitter in majesteit en sagtheid. Sy oë was oseane van die ewigheid. Hy het na my gekyk – nie deur my nie, maar tot binne in my. Ek het op my knieë neergeval en kon nie praat nie. Hy het nie met woede of afsku na my gekyk nie, maar met hartseer: “Aan jou liggaam dra jy nie net tattoeëermerke met ink daarop aangebring nie. Jy dra ook merktekens van die koninkryk van die duisternis.”
Sy woorde het my harder as donderweer geslaan. Ek het probeer om te antwoord, te verduidelik, “Maar Here, dit was vir U; elkeen van hulle.” Ek wou hulle betekenisse opnoem, ek wou myself regverdig, maar Hy het sy hand liggies gelig en elke stukkie selfverdediging het weggesmelt. Toe doen Hy iets wat ek nooit sal vergeet nie. Hy het na my toe gestrek, nie om aan my te raak nie, maar sodat ek myself kon sien. Vanuit die hoër dimensie waarin ons was, kon ek my liggaam sien gloei in die geestesrealm. Oor my hele liggaam was daar patrone – nie deur ink veroorsaak nie, maar deur geestelike weerklank. Sommige van die merke het helder geskyn. Die ander, wat ek gedink het skadeloos was, het in misvorming en verdringing onder my vel geklop. Een daarvan het met vlamme gebrand.
Dit was skrikwekkend vir my om daarna te kyk. Dit was die kleinste een wat ek gehad het; ʼn simbool wat ek nogal gedink het heel kunstig was. Ek kon nie eers onthou wat die betekenis daarvan was toe ek dit gekry het nie, maar ek het gehou van hoe dit lyk. In die geesteswêreld, besef ek nou, is dit ʼn opening vir die koninkryk van die duisternis.
Jesus se gesig was bedroef en hartseer toe ek na Hom kyk: “My mense verstaan nie wat hulle doen deur hierdie merktekens op hulle liggame te laat aanbring nie. Hulle besef nie dat hulle hulself verbind met ooreenkomste aan die koninkryk van die duisternis daardeur nie, en dit terwyl Ek so graag wil hê dat hulle met My ʼn ooreenkoms moet aangaan. Ek wil hê dat hulle aan My moet behoort, hulleself aan My moet gee as ʼn vrywillige, heilige offer.” (Rom. 12:1)
Ek was in trane, nie omdat Hy my veroordeel het nie, maar omdat ek die skeiding tussen ons kon voel. Ek wou God met my liggaam eer, maar ek het dinge in my lewe ingenooi wat ek nooit bedoel het om te doen nie.
Ek wou wegkruip, maar Jesus was nog nie klaar nie. “Kom,” het Hy gesê. “Ek moet vir jou wys wat merktekens in my koninkryk beteken.”
Op daardie oomblik het alles rondom ons verander. Ons het die skitterende sluier agtergelaat en ʼn plek binnegegaan wat ek nooit kon dink dat dit bestaan nie. Dit is tydloos, grensloos en gevul met lewende herinneringe. Dit is soos lewendige geskiedenis.
Jesus het my geestelike oë oopgemaak en ek kon die verhaal van merktekens reg van die begin af sien. Adam en Eva het in die Tuin van Eden geloop. Hulle het nie klere aangehad nie, maar was geklee en gemerk met glorie en heerlikheid. Hulle liggame het geen inkmerke op gehad nie, maar hulle het geskitter soos die Vader se beeld – van binne af buite toe. Daar was geen skaamte, geen skeiding nie. Hulle was geklee in lig.
Toe het ek die sondeval gesien. Sonde het in die toneel ingekom soos ʼn kraak in ʼn spieël. Die glorie het dowwer geword en vir die heel eerste keer het die mense bewus geword van hulle buitekant – hulle vel met vleis, hulle bedekking. Die inwendige merkteken se identiteit was gebreek en hulle het na nuwe maniere begin soek om hulself te merk.
Ek het vir Kain gesien toe hy sy broer Abel vermoor het. God het aan hom ʼn merkteken gegee. Dit was nie ʼn tattoeëermerk nie, maar ʼn geestelike stempel, ʼn waarskuwing. Hy is vervloek en verban van die grond af wat hy bewerk het, maar in sy genade het God hom gemerk sodat niemand wat hom ooit sou raakloop, hom sou doodmaak nie.
Jesus het na my toe gedraai en gesê: “Sien jy dat die eerste merkteken wat aan ʼn mens gegee is, niks met hoe mooi dit vir jou lyk, te make het nie, maar met ʼn ooreenkoms, ʼn verbond.” Skielik sien ek geslagte van heidennasies voor my. Heidenvolke wat snye in hullle liggame maak om hulle afgode te plesier. Ek sien Egiptenare wat hulself met allerlei simbole bedek sodat hulle met die dooies kan kontak maak. Daar is Kanaäniete wat hulle kinders met bloed gemerk het en hulle aan die afgode offer. Daar was ook Romeine wat hulle slawe gebrandmerk het met die eienaar se seël wat getrouheid aan sy eienaar beteken.
Israel was anders. God het hulle gekies en eenkant gehou. Hy het nie van hulle tattoeëermerke soos die afgode gevra nie, maar toewyding, heiligheid, innerlike afsondering. Hy het vir hulle gesê: “Julle is nie soos die ander nasies nie. Julle mag nie die heidense rougebruike navolg deur snye en tattoeëermerke op julle liggame te maak nie” (Lev. 19:28).
Ek het daardie teksvers altyd as deel van die Ou Verbond gesien, maar volgens wat ek nou hoor, het dit niks met wettisisme te make nie. Dit gaan oor identiteit. Dit gaan oor aan wie ek behoort – oor wie se merkteken ek op my vel dra. Dit gaan oor die afdruk wat jy op jou het, en tatoeëermerke is heeltemal iets anders is as wat Jesus van jou vra.
Jesus het vir my priesters in die tempel gewys wat gemerk is met salwingsolie en heiligheid. Hy het vir my profete gewys wat vuur in hulle gebeentes gehad het soos wat die Woord van die Here in hulle gebrand het (Jer. 20:9). Hulle het nie simbole op hulle velle gehad nie.
Ek het ook apostels gesien wat littekens aan hulle liggame gehad het, nie deur ink veroorsaak nie, maar deur vervolging en mishandeling (Gal. 6:17).
“My mense vergeet dat Ek hulle alreeds gemerk het.” Ek wou iets sê, myself verdedig: “Maar Here, myne het oor U gegaan: Skrifgedeeltes; simbole; betekenis.”
Hy het egter my gedagtes gelees. “Wat jy bedoel het, is nie dieselfde as wat Ek nou vir jou gewys het nie. Baie dinge wat skadeloos lyk op aarde, dra baie gewig in die geesteswêreld. Sommige tattoeëermerke is uit pyn gebore, ander uit trots, ander uit onkunde, maar almal is baie sigbaar in die geesteswêreld – in die hemel en in die hel.”
Jesus se laaste woorde het my hard getref en ek het besef dat ek geestelike uitnodigings vir die koninkryk van die duisternis op my ronddra.
Jesus het weer gesê: “Nou moet jy sien wat die demone sien.” Dit het donker geword om ons – nie ʼn bose duisternis nie, maar ʼn skemerte. Jesus het niks verander nie, sy lig het steeds langs my geskyn.
Die plek waarheen ons toe gegaan het, sou ek liewer nooit wou sien nie. Jesus het sy hand gelig en ek kon skielik in die geesteswêreld sien. Wat ek gesien het, het my gebreek.
Ek het mense gesien, sommige gelowiges, wat in strate loop, in kerke sit, selfs bid. Op baie van hulle het tattoeëermerke gegloei met ʼn flikkering van energie. Sommige het verwarring uitgestraal, ander trots. Sommige het met hartseer geklop, ander met woede. Ek het donker skadu’s aan die tattoeëermerke sien vasklou omdat hulle toestemming gekry het.
Hierdie skadu’s is nie vriendelike storieboekkarakters nie. Dit is intelligente bose geeste, wetties, geduldig om te wag, want hulle het reg verkry dmv die tattoeëermerke op die persoon se liggaam. Sommige tattoeëermerke het soos ligbakens opgetree, ʼn simbool wat uit onkunde gekies is – ʼn simbool met sy oorsprong in afgodsdiens en -aanbidding. Sommiges se oorsprong is selfs direkte rebellie.
Alhoewel al hierdie gelowiges God liefgehad het, het hulle onwetend deure oopgemaak. Ek het een jong man met ʼn tattoeëermerk van ʼn leeu gesien. Hy het gesê dit beteken moed, maar in die geesteswêreld is dit ʼn sekere stam se kenteken wat eeue gelede tydens bloedoffers gebruik is. Daardie kenteken het die duisternis ʼn vastrapplek in sy bloedlyn gegee. Dit was toegang wat nooit teruggetrek, herroep of afgesny is nie. Ek het ʼn vrou met ʼn tattoeëermerk van ʼn slang gesien, wat sy as ʼn grap laat doen het toe sy ʼn tiener was. Dit was baie kunstig en stylvol gedoen, maar in die geesteswêreld het dit gekrul elke keer wanneer sy probeer het om God te aanbid. ʼn Geestelike slang het haar bespot elke keer wanneer sy haar hande opgelig het. Ek was rasend van ontsteltenis. “Here, maar hulle het nie geweet nie. Ek het ook nie geweet nie.” Jesus het na my gekyk – nie met woede nie – maar met diepe pyn en hartseer.
“My mense gaan ten gronde weens ʼn gebrek aan kennis en omdat hulle nie aan My toegewy is nie.” (Hosea 4:6 – 1953 Afr. Vert. asook 1983 Afr. Vert.) Hy het ook gesê: “Nie al die merke dra vloeke nie, maar sommige daarvan dra ooreenkomste of verbonde. ʼn Verbond verstryk nie net omdat julle as mense daarvan vergeet nie. Die koninkryk van die duisternis onthou dit baie goed. Dit moet gebreek en afgesny word in my Naam. Julle moet vergifnis vra daarvoor.”
Die waarheid van Jesus se woorde het my swaar getref.
Daarna het Hy my iets gewys wat nog veel erger is. Ek het beïnvloeders gesien, gelowiges met groot aanhang en baie volgelinge, wat sogenaamde geloofsgebaseerde tattoeëermerke aanlyn vertoon het. Kruise, Bybelverse, Hebreeuse woorde. Sommige daarvan het hul oorsprong in vals dokumente en afskrifte van geestelike bronne wat die Bybel verdraai. Die volgelinge het dit nagemaak, gedink dit is skadeloos. Duisende van hulle het daardie tattoeëermerke gedra, onbewus daarvan dat hulle ʼn kompromie met die koninkryk van die duisternis aangegaan het.
Jesus het weer gepraat: “Hulle dink dit is kuns, maar die koninkryk van die duisternis sien dit as ʼn ooreenkoms.” Ek kon skaars asemhaal.
Jesus het na my uitgereik, en meteens het ek weer my eie tattoeëermerke gesien, maar hierdie keer soos wat die demone dit sien. Die duif, wat ek gedink het ʹvredeʹ verteenwoordig, word bespot deur ʼn gees van godsdienstigheid. Die Hebreeuse woord wat ek gedink het verteenwoordig God se liefde, was verwronge omdat ek dit op ʼn mistieke webtuiste gekry het en dit nooit ordentlik ondersoek het nie.
Die heel ergste was die klein, abstrakte simbooltjie op my enkel, iets wat ek op ʼn grafiese aanlynwebtuiste gekry het. Ek kan nie eers onthou wat dit beteken het nie. Jesus het vir my die oorspronklike weergawe gewys. Dit was ʼn simbool wat in antieke geskrifte gebruik is vir eiesinnigheid en geestelike onafhanklikheid. Daardie simbool het ʼn stille ooreenkoms in my lewe veroorsaak – een wat ek nie eers besef het dat ek dit gemaak het nie. Ek het op my gesig neergeval. “Here! Ek het dit nie bedoel nie! Ek het dit nie eers geweet nie.”
Jesus se stem was ferm, tog baie gaaf. “Jy word nie veroordeel nie, maar jy moet gereinig word.” Hy het sy hand uitgestrek na my en dit was soos vuur. Hy het die lug bokant my hart aangeraak. “Ek sal jou nou wys hoe die hemele diegene merk wat aan My behoort.” Terwyl Jesus hierdie woorde gesê het, het ʼn golf van reiniging deur my gevloei. Dit was nie net ʼn gevoel nie, nie net ʼn emosie nie, maar ʼn reiniging asof elke sel van my siel gewas is in sy lig.
Toe het Jesus die volgende visioen oopgemaak. Ek het mense gesien – mense wat nie net Christene was nie, maar ware dissipels, mense wat volkome in oorgawe aan Jesus geleef het. Hulle liggame het nie gegloei omdat hulle perfek was nie. Hulle het gegloei as gevolg van die Een aan wie hulle behoort. Anders as die aardse tattoeëermerke wat ek vroeër gesien het, het hierdie mense geen inkmerke op hulle liggame gehad nie, maar hulle het geskitter soos sterre. Hulle het geestelike merke gehad op hulle siele. Hierdie merke was simbole – nie van rebellie of eiesinnigheid nie, maar dit was seëlmerke van gehoorsaamheid. Die een persoon het ʼn merk van intersessie gedra. Ek het gesien hoedat die demone vlug elke keer wanneer sy gaan kniel. Een het ʼn merk van oorgawe gehad. Hy het ongesiens op aarde beweeg, maar in die hemel het sy naam soos donderweer weergalm. ʼn Vrou was gemerk met reinheid, selfs wanneer versoeking probeer het om aan haar vas te klou, het dit afgegly asof dit deur onsigbare vuur gebrand het. Dit was die hemelse merktekens – en hulle is nie gekies ter wille van hulle ontwerpe nie. Hulle is gesmee en gebrand deur toewyding aan hulle Verlosser.
Jesus het na my toe teruggedraai. Sy woorde was: “Dit was nooit die bedoeling dat jy jouself moet merk nie,” het Hy saggies gesê. Die bedoeling is dat Ek julle moet merk.” (Eseg. 9:4; Efes. 1:13-14).
Ek het besef dat al die inkmerke wat ek gedra het, die betekenis wat ek daaraan geheg het, was nooit waaroor dit gegaan het nie. Die kwessie was eienaarskap. Wie se merk het ek gedra? Wie het my storie op my vel geskryf? Ek het bewend na Jesus gekyk en gevra: “Kan U merk dit wat ek gedoen het, bedek? Hy het stadig geknik. “Dit kan ja: My bloed is baie dikker as ink.”
Hy het toe iets gedoen wat ek nooit sal vergeet nie. Hy het sy hand oor een van my tattoeëermerke gesit – die een wat in die geesteswêreld gegloei het. Ek het gesien hoedat dit begin verander. Nie verdwyn of uitgevee word nie, maar getransformeer word. Die geestelike resonansie daarvan het verander van vervorming na verlossing. Dit was nie langer ʼn merk van verwarring nie, maar dit het ʼn getuienis geword. Die litteken het ʼn seël geword. “Omdat jy dit in die lig gebring het, daarom gaan Ek dit nou gebruik.”
Ek het weer begin huil – nie van skaamte nie, maar van verligting. Ek het gehuil omdat Jesus my nie gevra het om my verlede uit te vee nie, maar om dit aan Hom oor te gee deur dit in die lig te bring sodat Hy dit kan gebruik. Sy woorde het dieper in my ingebrand as wat enige ink ooit sou kon. Ek het gedink dat Jesus my foute sou uitvee, maar in plaas daarvan het Hy dit verlos; Hy het dit vrygekoop. Hy het my nie laat skaam kry oor die merke wat ek gedra het nie. Hy het vir my gewys wat dit in die ewigheid beteken. Toe het Hy dit bedek met iets baie, baie groter – sy eienaarskap.
Die beeld wat Jesus vir my gewys het, het weer verander. Ek het nou die kerk van Jesus gesien. Dit was nie ʼn gebou of ʼn groep mense nie, maar die liggaam van Christus oor die hele aarde – sommige skitterend met heiligheid, sommige flikker in verwarring. Aan hierdie mense, die liggaam van Christus se liggame, het ek twee soorte merktekens gesien. Die een soort merkteken het die mense self gekies, naamlik selfsug, verbittering, rebellie, kultuur, trots. Die ander soort merkteken het Jesus op hulle gemaak, naamlik gehoorsaamheid, opoffering, intimiteit, oorgawe.
Jesus het sy hand opgelig, en oor sy kerk, sy liggaam, het daar ʼn reinigende, suiwerende vuur beweeg. Soos wat die mense aan Jesus hulle lewens oorgegee het en verlos word, het die merktekens wat nie van Hom afkomstig was nie, begin dowwer word en verdwyn.
Ek het gelowiges gesien wat hulle eie-ek en eiesinnigheid neergelê het. Sommige het wel tattoeëermerke gehad, maar ander het merktekens van ambisie, identiteit, ideologiese selfgemaakte merktekens gehad. Jesus het hulle nuut gemerk, nie met sigbare tekens nie, maar met krag, reinheid en sy teenwoordigheid.
Toe het Jesus ʼn laaste keer na my toe gedraai. “Vertel hulle dat Ek nie ʼn skoon vel vra nie. Ek vra oorgegewe harte.” Hy het dieper in my oë gekyk, verby my gedagtes, verby my emosies, tot in die plek waar my wil gesetel is. “As hulle My eers gevra het voordat hulle hulself gemerk het, sou Ek geantwoord het. Ek vra altyd oorgawe en toewyding. Nie uiterlike inkgemaakte merktekens nie.”
Hy plaas sy hand weereens oor my bors en ek voel ʼn brandende seël. Nie vir pyn nie, nie vir skande of oneer nie, maar vir eienaarskap. Daarna het die beeld begin vervaag en ek het geweet wat kom. Ek het die waarheid gesien en nou moes ek teruggaan. Ek was losgemaak. Elke deel van my was ontbloot in sy teenwoordigheid. Geen masker, geen selfverdiging, geen verskoning was meer nodig nie, en tog het ek nooit in my lewe so veilig gevoel nie. Ek het op my knieë neergeval in die lig, bewend onder die gewig van dít wat ek gesien het. Dit was nie die gewig van die tattoeëermerke nie, selfs ook nie eers die demoniese vastrapplekke nie. Dit was die gewig van die genade wat my vrygekoop het, wat my op my knieë gedwing het.
“Here”, het ek gefluister, Ek verdien dit nie om met U te praat nie. Ek het ander mense in dinge ingesleep wat ek self nie verstaan het nie. Ek dra merktekens waaroor ek U nooit uitgevra het nie.”
Jesus het nader aan my gekom. Sy teenwoordigheid het my nie verpletter nie. Dit het my ondersteun. “Genade is nie iets wat verdien word nie,” het Hy gesê. “Dit is iets wat Ek aan julle gee.”
Hy raak my skouer aan en skielik voel ek dit – nie pyn of straf nie, maar ʼn heilige, rein vuur. Dit het nie gebrand nie, maar dit het my verseël. Sy hand het nie ʼn brandmerk op my vel agtergelaat nie, maar diep in my gees. Ek het geweet dat iets van die ewigheid daar afgedruk is. Dit is ʼn nuwe merkteken, nie met ink nie, nie met rebelsheid nie, maar met genade en ʼn lewensopdrag.
“Jy gaan terugkeer, nie om ander met tattoeëermerke skaam te maak nie, maar om hulle wakker te maak.”
Ek het geween, nie van skuldgevoel nie, maar van dankbaarheid, omdat ek die waarheid gesien het en Hy my nog steeds sy eie noem.
Skielik, sonder waarskuwing, het die lig begin vervaag. Die gewig van sy heerlikheid het begin terugtrek en ek het gevoel hoedat ek terugbeweeg in tyd, swaartekrag en asem. Ek is teruggestuur na my liggaam wat ek verlaat het, terug na die wêreld wat ek gedink het ek so goed verstaan. Hierdie keer was ek egter nie alleen nie.
Ek het wakker geword met die harde klank van hartmonitormasjiene om my, stemme en skerp ligte. My liggaam het gepyn, my mond was droog, maar dít was nie wat vir my die swaarste was nie. Dit was die afwesigheid van die heerlikheid. Ek was in die teenwoordigheid van Jesus en nou was ek terug – swaar, menslik, sterflik. Tog was dit nie dieselfde as voorheen nie. Die dokters het gesê ek het ineengestort van ʼn skielike hartaanval en ek is baie gelukkig dat ek nog leef. Hulle het egter nie geweet dat ek nie sommer net teruggekom het om te lewe nie. Ek was terug, omdat ek gestuur is.
Nadat hulle my teruggestoot het na die herstelkamer, het ek vir ʼn spieël gevra. Soos wat ek na my weerkaatsing daarin gekyk het, het ek dieselfde gesig, dieselfde vel, dieselfde tattoeëermerke gesien. Tog het ek anders gelyk. Hulle is nie langer my identiteit nie. Hulle is net deel van ʼn storie, want ek dra nou ʼn merk wat niemand anders kan sien nie, maar die hel kan dit voel. Dit is deur Jesus gedoen. ʼn Merk van oorgawe, ʼn seël van genade, ʼn vuur wat nie gou sal blus nie.
Elke keer wanneer iemand my nou uitvra oor my tattoeëermerke, dan gee ek nie meer die gebruiklike verduideliking van die verlede nie. Ek vertel die waarheid vir hulle van díé Een wat verby inkmerke kyk. Die Een wat ons roep vir hoër dinge en wat ons merk, nie met gekleurde ink nie, maar met heerlikheid. Daarom vertel ek my storie ook nou. As jy jou lewe aan Jesus gegee het, dan is jy reeds gemerk deur God. Moenie sy seël verruil vir iets waarvoor Hy nooit gevra het nie.
“En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag” (Ef. 4:30).