Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde só dat hy ander ook daardeur kan leer. Net 'n dwaas besin nie oor sy woorde aan ander nie – hy maak dus nie die keuse om wyse dinge te sê nie en ploeter net voort.
DIE DOOD VAN 'N HELD
M T STEYN STERF OP 28 NOVEMBER 1916
"Die Afrikaner onder die Afrikaners,” so het mense president Steyn genoem. Maar hy was ook ’n groot Suid-Afrikaner. Soos Louis Botha was hy ’n man met die ideaal om alle gemeenskappe in die land in vrede en harmonie te sien lewe. Hy het geregtigheid vir almal nagestreef: vir Afrikaner, Engelssprekende, Kleurling, Swarte en Indiër. Maar hy wou dat elke groep sy eie identiteit, sy eie kultuur, en alles wat vir hom heilig en dierbaar is, behou sodat elk met trots en waardigheid sy eie plek kan volstaan. Die Afrikaners is verpletter. Slegs deur weer op te staan, met volkstrots en waardigheid, kon hulle hul regmatige plek inneem. Alle Engelssprekendes wat lojaal aan Suid-Afrika was en wat hul Afrikaanse landgenote met regverdigheid, vriendelikheid en respek behandel het, was na aan Steyn se hart.
In Europa het die oorlog steeds voortgeduur, die grootste slagting in die geskiedenis van die mens. In Suid-Afrika het die stryd tussen Botha en Hertzog ook voortgeduur. Elkeen was oortuig dat hy reg is. Hertzog is in sy beleid sterk deur Steyn beïnvloed, maar hy was nie so diplomaties as die president nie. Steyn het aangevoel dat sy einde naby was, en die skeuring in die volk het sy einde verhaas. Tibbie het dikwels nagedink oor ’n gesprek wat hulle in die tweede helfte van 1916 op die stoep van Onzerust gehad het. Hulle het gesels oor ’n nuwe dam wat Steyn wou laat bou.
"Ek wonder of ek gespaar sal word om die dam te sien,” het hy opgemerk. "Ek dink nie so nie.” Tibbie het hom verbaas aangekyk. "Ek wens ek kan sommer doodgaan,” het Steyn vervolg. "Ek bedoel, stil, skielik, wanneer ek moet. Dit sal makliker vir jou wees as ek nie ’n lang siekbed het nie. Ek hoop werklik dat ek voor jou gaan, ou vrou, want as ek weer hulpeloos moet wees, sal ek nooit sonder jou kan regkom nie."
Tibbie neem toe sy hand. "Nee, my ou man. Ek het ook eens so gedink, maar nie meer nie. Jy is die sterke, en ek is die swakke.”
"Wanneer ek te sterwe kom, wil ek nie weggeneem word nie. Ek wil begrawe word waar ek doodgaan.” Hy het reeds tevore in dieselfde trant gepraat. Aangesien hy besonder fiks gelyk het, was Tibbie verbaas dat hy weer die onderwerp aanroer.
"Jy sal tog seker maar hier sterwe, op Onzerust.”
"Ek hoop so. Weet jy waar ek begrawe wil wees ?”
"Ja, naby die koppie.”
"Net onder daardie koppie waar ons die byekorwe het, daar wil ek wees. Net gras en bossies moet my graf bedek.”
"Theuns, ek kan niks belowe nie. Jy behoort tog aan die volk. Dis nie vir my of die kinders om te besluit nie. Die volk moet besluit.” Dit het sy ook al voorheen gesê. Toe sit hulle stil na die lug, na die bome en veld en kyk.
Steyn het nog steeds uitnodigings na allerlei byeenkomste ontvang. Hulle is egter almal beleef van die hand gewys. Toe hy na ’n groot Geloftedagviering op Senekal genooi word, het Steyn die uitnodiging as ’n uitdaging beskou. Dit sou ’n geleentheid wees om weer sy volk toe te spreek, miskien vir die laaste keer. Tibbie en die kinders het hom afgeraai, maar Steyn was vasbeslote. "Ek moet dit doen, al beteken dit ook my dood.” Hy het dadelik sy Senekal-toespraak begin skryf, met albei hande, en nie in Nederlands nie, maar in Afrikaans. Daarin het hy liefde teenoor die medemens en die uitbreiding van kennis en kulturele ontwikkeling bepleit. Hy het ook gevra dat almal in die na-oorlogse periode moes saamstaan. Broers moes weer broers omhels, "want ons is tog een vlees en bloed, een volk”. Mag hulle daardie Dingaansdag weer ’n verenigde volk wees. Steyn se pleidooi is met verbasende vuur vir so ’n siek man geskryf, maar hy sou dit nie kon lewer nie.
Hy het ook ’n uitnodiging ontvang na ’n kongres van die Oranje-Vrouevereniging wat op 28 November in Bloemfontein gehou sou word. Hierdie uitnodiging het Tibbie baie meer aangestaan. Dit was nie so ver as Senekal nie en sou minder vermoeiend wees. As hy dit uitputtend vind, moes hy belowe om sy besoek aan Senekal af te stel. Steyn het ingestem, want die vroue van die Vrystaat was baie na aan sy hart. Op hulle beurt het die vroue hom vereer vir al sy werk vir die Vrouemonument, vir sy vaderlandsliefde en standvastigheid. Vir die Vrystaters was daar geen groter en meer geliefde man in Suid-Afrika nie.
Hy het ’n goeie nagrus gehad en het die oggend van 28 November 1916 heeltemal goed gevoel. Hulle sou Onzerust per motor verlaat. Tibbie het met vreemde voorgevoel wakker geword. Toe sy gereed was, het sy in die motor gaan sit, en Steyn was baie geamuseerd toe hy haar daar sien sit en wag. Dit was winderig, en op pad het Tibbie hom gevra om nie te praat nie, want sy was besorg oor sy keel. In Bloemfontein het hulle eers by ’n dogter aangery en is toe na die Gedenksaal waar die kongres die oggend om elfuur sou open. Dit was bekend dat president Steyn aanwesig sou wees en die saal was stampvol. In die verlede was dit sy gewoonte om op dergelike byeenkomste belangrike verklarings te doen, en almal was nuuskierig om te hoor wat die president gaan sê. Daar was ook heelparty lede van sy eertydse personeel teenwoordig.
Almal was baie opgewonde toe Steyn, sy lang baard oor sy bors, opstaan om te praat. "Ek is bly om te sien dat hier ander mans ook is,” het hy begin, "anders was ek Maljan onder die hoenders.” Almal het lekker gelag. "Ek en my vrou is baie bly om hier te wees. Ek is ten volle bewus van die grootse werk wat die vroue die afgelope jaar verrig het.” Hy het verwys na die vroue se belangrike bydrae tot die Helpmekaar en die wonder van die beweging self. Steyn se rede was geskoei op die lees van sy Senekal-toespraak, en hy was net lekker aan die praat toe hy meteens ophou, sy hand na sy voorkop lig asof hy iets vergeet het, en stadig inmekaar begin sak. Almal het opgestaan en Tibbie was dadelik aan sy sy. President Steyn was bewusteloos.
Sy ou makkers het die swaar man opgetel en tussen die wenende vroue deur uitgedra. Dr. Krause was gou op die toneel, maar dit was nie eens nodig om Steyn te ondersoek nie. "Die president,” het hy verdrietig verklaar, "is dood.” Tibbie het haar man nie weer gesien nie, net sy kis. Sy het altyd gehoop dat hulle saam sou sterf, maar nou moes sy alleen deur die lewe gaan - en baie jare lank, want sy sou baie oud word. Soos sy verwag het, is daar dadelik besluit dat Steyn by die Vrouemonument begrawe moes word.
Die roudiens is gelewer deur Steyn se groot vriend, ds. Kestell, en die kis het gestaan op dieselfde plek waar Steyn twintig jaar tevore as staatspresident ingesweer is. Baie mense het teruggedink aan daardie dag toe die forse jong man onder die Vrystaatse vlag gestaan het. Daar was ook die besef dat ’n era tot sy einde gekom het.
Kestell het in sy rede gesê daar is geen rede vir wanhoop nie, want president Steyn se gees sou voortlewe. "Ons dink aan hom as ’n mens, ’n man van God en ’n groot patriot. Hy was die Afrikaner onder die Afrikaners. Suid-Afrika het alles vir hom beteken, maar hy was nie onverskillig teenoor die res van die wêreld nie. Die wêreldwye lyding het sy hart gebreek. Maar boweal was hy ’n Suid-Afrikaner, en die Vrystaat was sy lewe. Altyd het hy die swakkes verdedig teen die sterkes . . .”
By die Vrouemonument was daar weer die gedreun van perdepote, die gebulder van kanonne. Dit was ’n staatsbegrafnis, en groot manne het hul plekke ingeneem: genl. Louis Botha, genl. Barry Hertzog, genl. Christiaan de Wet, oud-president Frank Reitz, se¬nator C. W. Marais, regter-president De Villiers. Daar was ook lede van al die ou Vrystaatse families, die pioniers en krygsmanne, armes en rykes, bekendes en onbekendes. Ook die nie-blankes het hul hulde gebring. Dit was ’n nasionale roudag. "Vir my persoonlik is dit die verlies van ’n liewe vriend,” het die Eerste Minister, Louis Botha, gesê. "Dit voel soos gister toe ons nog albei jonk en boesemvriende was.” Genl. De Wet, grys en sieklik, het van Steyn gepraat soos van ’n geliefde vader. Genl. Hertzog het verwys na Steyn se harmonieuse lewe, sy standvastigheid, sy pragtige gees.
Soos Tibbie geluister het, het sy gemoedsvrede gevind. Sy het besef dat sy ook eendag daar sou rus. Die flouheid wat haar wou oorval, het gewyk. Saluutskote is afgevuur, en die reuse-skare het uitmekaar gegaan. Die Vrystaat het sy grootste seun op ’n paslike wyse begrawe. Die aand nege-uur is Tibbie terug na die stil Onzerust. Haar man se bril was nog waar hy dit neergesit het, so ook die boek wat hy besig was om te lees. Oral kon sy nog sy teenwoordigheid aanvoel. Selfs die lug, die voëls en die bome het haar aan hom herinner. Honderde telegramme en briewe is afgelewer. Mettertyd sou sy hulle almal beantwoord. Soos Tibbie van sy lessenaar na sy stoel gestap het, en uit op die stoep, was dit wonderlik om te voel dat hy nog daar is.
Steyn se lewe getuig van liefde en somtydse pret, van die goeie wat oor die kwaad triomfeer, van absolute lojaliteit, van diens en arbeid. Hy het alles gegee wat hy kon gee en het nooit sy plig versuim nie. En tog was hy ook so menslik, so na aan die harte van die Afrikaners sowel as die Suid-Afrikaners. As ’n seun van die veld het hy nie net die storms trotseer nie, maar ook gewys met hoeveel krag en geloof die mens onheil die hoof kan bied. Hy het nie gesoek na helde of martelare nie, maar na diegene wat bereid was om hul beste in diens van die mensdom te stel. En as ’n seun van die veld het hy ’n voorbeeld gestel.