Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Staan jy naak voor God in jou sonde of is jy met Jesus gekleed? As jy naak is, wil God jou vandag toemaak met die bloed van Christus ons Verlosser. Ja, in die gees trek ons vir Jesus aan: “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” - Rom.13:14.
EK HET GESTERF ! (5)
Hierdie naby-dood ervaring is in Afrikaans vertaal en neergeskryf deur
Anita Joubert
Toe ek voor Jesus staan, het Hy vir my gevra: “Waarom stuur soveel ouers hulle kinders die lewe in sonder om vir hulle te leer Wie Ek is? Dit is net Ek wat aan hulle die ewige kan lewe gee.”
My naam is Sarah, en ek het nooit gedink dat ek op ʼn dag voor die Here Jesus sou staan en met Hom sou praat en dan nog lewe, sodat ek dit vir ander kan vertel nie.
Ek het ʼn doodgewone lewe as ma van drie kinders gelei en soos talle ander moeders, was ek altyd besig, altyd moeg, altyd probeer om my bes te doen om alles bymekaar te hou en gedoen te kry.
Soggens was my huis gevul met geluide van ontbytborde, skooltasse wat gepak word, stemmetjies wat baklei oor die laaste stukkie roosterbrood.
Die middae het verby gesnel met skoolwerk, eindelose rondryery van die een aktiwiteit na die ander. Saans het ek gedaan in die bed neergeval, vinnig ʼn moeë gebed gefluister wat ek dikwels nie eers klaargemaak het voordat ek aan die slaap geraak het nie.
Ek het my kinders baie lief en sal hulle, sonder huiwering, met my lewe beskerm. Soos baie ander ouers, het ek egter gedink dat ʼn suksesvolle ouer is een wat hulle kinders goed versorg met genoeg kos en klere.
Een aand het alles egter onherroeplik verander. Ek het gegly op die boonste trap van ons dubbelverdieping huis, en tot onder geval. My kop moes baie hard gestamp het. Ek het nog vir ʼn oomblik my man se gesig gesien waar die trane oor sy wange gestroom het. Ek kon die kinders hoor huil en op ʼn afstand, na my roep – en toe was alles stil.
Ek het myself bewegingloos gesien lê op die vloer en skielik, meteens, het ʼn lig, helderder as die son, my boontoe getrek. My liggaam het agtergebly. Op daardie oomblik het ek geweet dat ek gesterf het.
Ek het geen vrees ervaar nie, eerder ʼn vrede wat geen mensewoorde kan beskryf nie. Om my was dit donker, maar voor my was daar helder lig – lewendig, polsend, met liefde en heiligheid. Daar was ʼn warmte wat my nadergetrek het, en toe het Hy voor my verskyn.
Jesus Christus Self, het voor my gestaan. Sy oë het deur my siel gekyk. In sy teenwoordigheid het ek onmiddellik geweet dat ek, alhoewel ek my kinders baie liefhet, ek hulle ewige bestemming in gevaar gestel het.
Hy het vir my gevra: “Waarom stuur soveel ouers hulle kinders die lewe in sonder om vir hulle die woorde wat aan hulle die ewige lewe gee, te leer?”
Ek het geweet dat Jesus se oë alles gesien het, elke verborge gedagte, elke motief, elke woord wat ek uit frustrasie vir my kinders gesê het, elke keer wat ek te besig of te moeg was om vir hulle of saam met hulle te bid.
Ek het voor sy voete neergeval, oorweldig deur sy teenwoordigheid. My hart het sonder woorde uitgeroep: “Here, ek het probeer. Ek wou so graag ʼn goeie ma wees.”
Jesus het sy hand uitgesteek en my aangeraak, sonder veroordeling. Hy het in ʼn stem soos donderweer, maar tog vertroostend, gesê: “Dogter, jy het jou kinders lief, maar liefde sonder wysheid lei na vernietiging. Baie ouers maak foute uit onkunde, en Satan gebruik dit om hulle siele vas te ketting. Ek gaan vir jou hierdie fout wys sodat jy ander kan gaan waarsku.”
Op daardie oomblik het visioene, een na die ander, voor my begin afspeel. Dit was duideliker as die werklikheid self.
Die eerste visioen het op die oog af onskuldig gelyk, selfs mooi. ʼn Moeder het oor haar klein seuntjie gebuk. Sy het sy skoene vasgemaak, sy rugtassie vir hom gedra, namens hom geantwoord wanneer iemand vir hom ʼn vraag gevra het, hom nooit buite laat speel tensy sy by hom was nie. Sy het alles in haar vermoë gedoen om hom teen pyn, teleurstelling en selfs die geringste mislukking, te beskerm.
Ek het geglimlag. Dit is mos wat moeders behoort te doen, maar Jesus het langs my gepraat: “Baie ouers verwar liefde met beheer, Sarah. Hulle dink dat hulle kinders veilig sal wees as hulle hul teen elke stukkie swaarkry beskerm. Die probleem is dat oorbeskerming ʼn kind se siel verswak en dan leer hy nooit om in geloof te lewe nie.”
Ek het dieselfde kind gesien toe hy groter geword het, al ʼn tiener was. Die moeder het steeds alles beheer en vir hom besluit. Sy het sy vriende gekies, sy stokperdjies, selfs sy opinies. Elke keer wanneer daar uitdagings was, het sy toegetree en dit vir hom opgelos. In haar begeerte om hom te beskerm, het sy hom van alle moed beroof. Hy was vol vrees, angstig en afhanklik. Sy geloof in God kon nooit ontwikkel nie, want hy het altyd in háár geglo.
Jesus se oë was hartseer, “Sien jy nou? Satan gebruik die vrees in ouers se harte om geestelike groei by hulle kinders te versmoor. ʼn Kind wat permanent in menslike beskerming toegedraai is, leer om mense meer te vertrou as vir God. Wanneer die storms van die lewe kom, dan verkrummel hulle fondamente.”
Toe die visioen verander, het ek myself gesien. Ek het al die kere gesien wat ek presies dít gedoen het – al die kere dat ek hulle gered het van die gevolge van hulle eie keuses. Trane het langs my wange afgeloop.
“Kinders moet gelei en in my sorg gelaat word. Hulle moet leer om te bid wanneer hulle bang is. Hulle moet leer om uitdagings met moed aan te pak. Wanneer hulle misluk, moet hulle leer om in my krag op te staan. Swak en onontwikkelde innerlikes, is aas vir die duiwel. Wanneer hulle egter leer om te veg in geloof, kan hulle staan as soldate in my koninkryk.”
Ek het gesien hoedat hierdie seun uiteindelik die lewe moes aandurf nadat sy ma weg is. Sonder haar teenwoordigheid was hy verlore. Hy het nie geweet hoe om te bid nie, hoe om te volhard nie. Hy is spoedig deur die duisternis van versoeking verswelg, omdat hy nooit geleer het hoe ʼn mens op God vertrou nie.
Die hele visioen het my soos ʼn swaard in my binneste getref. Ek het besef hoedat ouerlike liefde ʼn valstrik vir die koninkryk van die duisternis kan word as dit nie aan Jesus Christus oorgegee is nie.
Jesus se woorde het diep in my gebrand: “Laat julle kinders sukkel, laat hulle leer, laat hulle in my arms val. Julle liefde is nie genoeg om hulle te red nie. Net myne is.”
Die volgende visioen was vir my selfs nog erger om te sien as die eerste een. Ek het ʼn gesin gesien wat volgens aardse standaarde, baie suksesvol was. Die ouers het hard gewerk om vir hulle kinders te voorsien en hulle het alles wat nodig was, oorvloediglik gehad. Hulle daaglikse skedule was vol – sport, musieklesse, vakansies.
Jesus het egter gefluister: “Kyk dieper.” Ek het gesien wat ontbreek – gebede voor ete. Die Bybel lê vol stof op ʼn rak. Sondae word op sportvelde deurgebring. Albei ouers was baie lief vir hulle kinders en hulle het vir hulle alles gegee wat nodig was, behalwe die heel belangrikste ding in die hele wêreld. Jesus se stem was swaar van hartseer: “Ouers werk só hard om vir hulle kinders te sorg wat die liggaamlike betref, maar hulle word geestelik só verwaarloos. (Matt. 10:28) Hulle vrees armoede en mislukkings.
Onderrig is vir hulle só belangrik, maar hulle het geen vrees vir die hel nie. Hulle vergeet heeltemal om vir hulle kinders van My te leer – Ek is die Een wat aan hulle kinders die ewige lewe kan gee. Wanneer hulle ʼn tragedie beleef, dan het hulle geen anker nie, hulle ken nie die Bybel nie. Daar is geen gebed om hulle te troos nie, geen kennis van ʼn Redder wat hulle help om hulle pyn te dra nie. Wanneer hulle wanhopig is, dan kom fluister Satan leuens in hulle ore.”
Toe die visioen weer verander, het ek ons eie kombuistafel gesien: Ek het gesien hoe dikwels ek opgespring het sonder om saam met my kinders te bid. Ek het al die aande gesien wat ek oorgeslaan het om vir hulle uit die Bybel te lees en te bid, omdat ek te moeg was. Ek het weer al die verskonings gesien en gehoor – môre is nog ʼn dag.
Jesus se oë was deurdringend, tog sag. “Sien jy, dogter? Geloof word nie per ongeluk oorgeërf nie. Dit word geplant en nat gegooi. Julle stuur nie julle kinders skooltoe sonder dat hulle huiswerk gedoen is nie. Waarom stuur ouers hulle kinders dan die lewe in sonder om vir hulle die woorde van die ewige lewe te leer?”
Die erns van Jesus se woorde het my geruk. Ek het besef dat ek my kinders se geestelike onderrig heel onder aan die lysie van hulle daaglikse verpligtinge geplaas het. Ek het besef: “Wat help dit as ʼn kind al hierdie dinge in die wêreld kry en leer, al die prestasies behaal en pryse wen, maar hy verloor sy lewe vir ewig.” (Matt. 6:26)
Jesus het sy hand gelig en ek het ʼn ander prentjie gesien. ʼn Eenvoudige huis met meubels wat beter dae geken het. Daar was nie oorvloediglik kos nie, maar elke aand het die gesin saam Bybel gelees, lofliedere gesing en gebid. Alhoewel die kinders arm was volgens wêreldse standaarde, was daar vreugde en ʼn onbeweegbare krag. Die kontras was onmiskenbaar. Die een gesin se kinders was ryk aan aardse besittings, die ander gesin se kinders was ryk in Jesus Christus. “Ouers is hulle kinders se belangrikste geestelike voorbeeld en onderwysers. Leer hulle aan tafel, oral, elke dag, As ouers dít verwaarloos, laat hulle die deur oop vir die koninkryk van die duisternis om in te sluip en hulle te leer.”
Die volgende visioen wat Jesus vir my gewys het, was vir my pynlik om te sien. Twee kinders het in ʼn voorkamer gesit, een met ʼn sertifikaat in sy hande. Hy het die eerste plek in ʼn wetenskap-kompetisie gekry. Die ander een, ʼn dogter, het doodstil gesit en na die vloer gestaar. Die ma het ingekom, haar hande met trots geklap en vir die dogter gesê: “Kyk na jou broer! Hy is so goed, is so fluks en gaan eendag ver kom in die lewe.” Sy het die broer gesoen, sy sertifikaat op die yskas gesit en weggeloop. Die dogter se glimlag het verdwyn, haar oë was donker, vol hartseer, verwerping, en die saad van verbittering is gesaai.
Jesus het saggies gesê: “Ouers besef dit nie, maar wanneer hulle hul kinders met mekaar vergelyk, is dit soos dolksteke in ʼn kind se binneste. Net een onversigtige woord kan die deur vir Satan oopmaak om te fluister: “Sien jy, jy is nie goed genoeg nie. Hulle het jou nie so lief nie.”
Ek het dieselfde dogter as ʼn tiener gesien. Sy het hard gewerk, haar bes probeer om haar ouers se goedkeuring te wen, maar al haar pogings was onder die skadu’s van vergelyking. Sy was oortuig daarvan dat niemand haar liefhet nie en haar hart het afgekoel. Sy het weggedraai van God af, gedink: “As my eie ouers my nie liefhet en raaksien nie, waarom sou Hy?”
Ek het weer my eie huis en kinders gesien. Al die kere dat ek hulle inwendig verwond het, het my laat ween.
Jesus se woorde was ferm: “Ek het elke kind geskep, uniek – ʼn stukkie van my eie beeld. Wanneer ouers hulle met ander vergelyk, dan word hulle van hul uniekheid gestroop. Kinders word dan gebelgd en opstandig, wanhopig. Dit verblind ʼn kind en verhoed hom om sy ware identiteit in My te ontdek.
Ek het talle Christengesinne oor die hele wêreld gesien waar dit gebeur en die vyand dan vir die kinders fluister: “Jy is niks werd nie; nie goed genoeg nie; niemand sien jou raak nie.”
Net daarna het ek gesien hoedat ʼn ouer langs ʼn kind kniel en vir hom sê: “Jy is baie spesiaal omdat God jou gemaak het. Al kan jy nie al die dinge doen wat jou broer kan doen nie, is daar weer ander dinge wat jy kan doen en die Here het vir jou ander gawes gegee.” Ek kon sien hoedat sy ouer se woorde vir die kind moed gegee het en sy gees het geblom van selfvertroue en geloof. Ek kon sien hoedat die donker gees van bitterheid kwaad wegsluip omdat hy niks kon uitrig nie.
“Ouers moet lewe in hulle kinders inspreek, elke kind prys vir die lewe wat Ek aan hom of haar gegee het. Vergelyking met mekaar, vernietig nie net ʼn kind se vertroue in sy ouers se liefde nie, maar ook in my liefde vir hom of haar. Wanneer jy egter sy Godgegewe waarde vir hom leer, dan versterk jy sy siel teen die vyand se leuens.”
ʼn Volgende visioen was baie bekend, maar ook baie seer om te sien. Ek het ʼn gesin gesien, netjies gekleed vir kerk op ʼn Sondagmôre. Die ouers het vriendelik geglimlag, almal gegroet, saam lofliedere gesing – op die oog af ʼn prentjie van ʼn Godvresende familie. Toe hulle terugkom by die huis, het die hele prentjie verander. Die pa het geïrriteerd vir die kinders geskreeu; die ma het vol bitterheid oor van die ander kerklidmate gekla. Argumente het die huis gevul en harde stemme met skerp kritiek het oor dieselfde lippe gekom wat kort vantevore die Here geloof en geprys het. (Jak. 3:9-12)
Jesus het hartseer gesê: “Dit is sulke skynheiligheid wat ʼn kind se geloof vernietig. In die kerk hoor hulle van my liefde, by die huis sien hulle woede, trots en misleiding. Hulle jong verstandjies kan nie sulke teenstellings verstaan nie. Baie draai later weg van My af – nie omdat Ek hulle in die steek laat nie, maar as gevolg van hulle ouers se dubbele lewenswyses.”
Ek het in die visioen gesien hoedat die kinders ouer word. Hulle het geleer om hulle ouers na te maak – voor te gee op ʼn Sondag, maar in die week te lewe soos wat hulle wou. Uiteindelik het hulle die Christelike geloof heeltemal verlaat, oortuig daarvan dat dit net ʼn leë tradisie is.
My hart het gepyn, want ek het aan talle kere gedink toe dit in ons huis presies dieselfde gegaan het. Ek het besef dat wanneer ouers se geloof net vir die skyn is, dan vergiftig dit ʼn kind se hart. ʼn Bose gees van valsheid fluister dan vir hom: “God bestaan nie regtig nie. Die Bybel is nie waar nie; dit is kragteloos. Die kerk is sommer net ʼn vertoning.”
My visioen het na ʼn ander huisgesin verskuif. Hulle is nie volmaak nie, maak ook foute, word ook soms kwaad en praat met harde stemme. Hulle word ook moeg en misluk, maar hulle erken dit. Ek het die vader gesien wat langs sy seun gekniel en vir hom gesê het: “Ek is so jammer dat ek vandag só met jou gepraat het. Ek was verkeerd.” Ek het die moeder gesien wat haar ongeduld bely en sê: “Kom ons bid, want ons het God se hulp nodig.”
Ek het gesien hoedat die kinders se oë verlig word deur geloof, want hulle ouers se nederigheid, maak die teenwoordigheid van God ʼn werklikheid.
Jesus se stem was vol liefde en deernis: “Heiligheid in die huis, is baie belangriker as om voor ander mense in die kerk voor te gee. Wanneer ouers in opregtheid voor hulle kinders leef, bely, vergeef en my aangesig daagliks opsoek, dan sien kinders dat my genade eg is. Wanneer ouers hulleself as heilig voordoen in die openbaar, maar wreed en agteraf is teenoor mekaar en die kinders, dryf hulle hul kinders van My af weg.”
Die laaste visioen wat Jesus voor my oë laat afspeel het, was só ontstellend omdat dit presies is soos wat dit in die samelewing vandag in huise gaan.
Ek het ʼn jong seun gesien voor ʼn rekenaarskerm. Ure het verby gesnel terwyl sy vingers vinnig oor die kontrolebord beweeg het terwyl hy ʼn videospeletjie gespeel het. In die kamer langsaan het sy suster met haar foon gesit, ure lank die skerm doelloos opgestoot. Sy was verlore in ʼn verbeeldingswêreld van prentjies oor modes, musiek en beïnvloeders wat skaamteloos met God spot. Die ouers sit in die woonkamer, moeg na ʼn dag se harde werk. Hulle kyk televisie en die huis is stil – nie omdat daar vrede heers nie, maar omdat elke hart aan ʼn elektroniese skerm vasgeketting is.
Jesus se stem was hartseer toe Hy sê: “Satan kom nie altyd openlik met vuur en kettings nie. Hy kom dikwels met vermaak, afleiding en geluide. Ouers maak vir hom die deur oop wanneer hulle elektroniese apparate vir hulle kinders gee sonder om toesig te hou en hulle kinders se harte met opvoeding, kennis en gebed te bewaak. ʼn Siel sterf stadig wanneer die oë die dinge van die wêreld indrink.”
Ek het die kinders sien groter word in my visioen. Hulle het elke popliedjie geken, elke filmster en bekende persoon, elke heersende mode. Hulle het egter nie een enkele Skrifgedeelte geken nie, bitter min van die Bybel geweet en van Jesus glad niks. Hulle het ure op die internet spandeer maar sekondes in gebed. Wanneer die versoekinge gekom het, wellus, depressie, woede, het hulle geen geestelike wapen gehad om mee terug te veg nie.
Ek het ook my eie kinders gesien. Ekself het só dikwels ʼn foon of ʼn tablet in hulle hande gegee, net om hulle stil te kry. Ek het al die aande gesien wat hulle voor die televisie aan die slaap geraak het en ek te lui was om saam met hulle te bid.
Jesus se oë het met heilige vuur gegloei. “Ouers dink hierdie dinge is skadelose tydverdryf, maar hulle voed hulle kinders se siele met die wêreld. Musiek wat sonde verheerlik, speletjies wat geweld aanmoedig en films wat onreinheid as die norm voorhou, is oop deure vir die koninkryk van die duisternis. Satan se trawante kom in en bind kinders vas nog voordat hulle volwassenheid bereik. Kan julle nie sien nie? Die grootste geveg in hierdie generasie se kinders, gaan oor aandag.”
Jesus het vir my ʼn huis gewys waar daar ook tegnologie is soos in al die ander, maar daar was dissipline en kontrole. Die ouers het grense gestel en oor elkeen van die elektroniese toestelle gebid. Hulle het hulle kinders se harte en gedagtes met Skrifgedeeltes gevul deur aanhoudend daaroor te praat. Hulle het saamgebid, gelag, geëet, en oor Jesus se liefde gesels. In daardie huis het lig die duisternis teruggestoot en die kinders was sterk in die gees.
Jesus het na my toe gedraai en sy woorde het deur my gesny soos ʼn swaard: “Ouers moet kies. Wil hulle hê dat die wêreld hulle kinders moet grootmaak, of wil hulle dit self doen. As hulle van kleinsaf leer om stilte, gebed en waarheid te waardeer, dan sal hulle na siel en gees lewe.”
Vir die eerste keer het ek besef dat elke besluit wat ʼn ouer neem, ʼn deur oopmaak – òf vir die lig òf vir die duisternis. Ek het weer op my knieë voor Jesus neergeval; ek het gesnik, so hartseer was ek. Ek het nie net oor my eie kinders gehuil nie, maar oor ontelbare gesinne oor die hele wêreld.
Die koninkryk van die duisternis weef die lokvalle vir kinders, nie deur openlike haat vir God nie, maar deur subtiele gewoontes van ouers wanneer hulle hul plig nalaat.
Ek het uitgeroep: “Here, wat kan ek doen? Ek het in soveel opsigte misluk. Ek is só jammer.”
Jesus het sy hand op my skouer gesit. Sy aanraking was ferm, maar tog vol genade. Sy oë het gegloei van dringendheid toe Hy sê: “Jy kan nie nou elke fout wat jy gemaak het gaan uitvee nie, maar jy kan ander gaan waarsku. Ouers moet die waarheid ken. Die vyand wag nie totdat julle kinders groot is nie. Hy mik nou al vir hulle, in hulle jeug, wanneer hulle gemoed jonk en vatbaar is. Hulle is dan die meeste beïnvloedbaar. Jy moet gaan praat, al spot die mense met jou. Al sou hulle dit wat jy sê, weerstaan, onthou dat hulle kinders se ewige bestemming daarvan afhang.”
Ek het gemeentes voor my gesien waar ouers bymekaar kom. Hulle luister, alhoewel hulle verskil. Ek het moeders gesien huil wanneer hulle besef dat hulle sport, loopbane en voorkoms bo gebed gestel het. Hulle het hul eie valsheid en skynheiligheid in die huis besef. Ek het gesien hoedat gesinne verander, heel word, nie deurdat hulle volmaak word nie, maar omdat hulle hul foute erken en hul sonde bely.
Jesus se stem het harder geword – amper soos ʼn trompet weerklink. “Waarsku hulle en vertel vir hulle dat hulle grootste sendingveld nie oorsee in ander ver lande is nie. Dit is binne in hulle eie huise. Die koninkryk van die duisternis is glad nie bang vir julle Sondag-aanbidding wanneer julle lewenswyse op Maandag dit alles weerspreek nie. Doen ʼn beroep op hulle om wakker te word, die geestelike ingange na hulle huise te bewaak, om wagters op die mure te wees vir hulle kinders se siele. Wat help dit as ʼn ouer die hele wêreld vir sy kind wen, maar hy verloor daardie kind aan die hel.” (Matt. 16:26)
Jesus se woorde het diep in my gees vasgesteek. Ek het geweet dat hierdie ʼn boodskap was vir elke moeder, elke vader en elke grootouer. Hy het my nog een maal in die oë gekyk en sy opdrag was só duidelik: “Gaan terug, dogter. Praat, waarsku hulle, want Ek kom gou. Die vyand weet sy tyd is min.”
Ek het gevoel hoedat ek skielik terugbeweeg in my liggaam – met ʼn boodskap wat my hele lewe sou verander, vir altyd.
Toe ek my oë oopmaak, was daar die biepende geluide van hospitaalmasjiene om my, gesigte van dokters en verpleegsters het om my beweeg en my man het langs my gestaan. Sy hand het myne styf vasgeklem, trane het oor sy wange gestroom. “Sy is terug, dankie Here!”
Op daardie oomblik het ek geweet dat ek ʼn tweede kans gekry het, nie net om te lewe nie, maar om te verander. Die visioene het in my soos vuur gebrand. Van daardie dag af het alles in my huis, ons opvoeding en ons huwelik verander. Ek het alles wat Jesus vir my gewys het, probeer regstel en my man en almal met wie ek in aanraking gekom het, het dit raakgesien. Ek was nie dieselfde vrou wat in die hospitaalbed gesterf het nie, maar ʼn ander wat teruggekom het met ʼn opdrag, ʼn boodskap en ʼn vuur in my wat niemand kan blus nie.
Ek het vir almal vertel dat ouers hulle kinders se harte en verstand moet bewaak voordat dit vir ewig te laat is. Ek het ʼn klein Bybelstudie-groepie met ander ouers begin sodat ons mekaar kon ondersteun en oor ons probleme praat. My getuienis het vinnig versprei.
Mag jy wat hierdie getuienis van my lees, ook besef hoe ontsettend kosbaar jou kinders vir God is en hoe lief Hy elkeen van ons het. Hy wil geen mens verlore laat gaan nie.
“Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee” (Ps. 127:3).