Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Satan sê: Tel jouself op en lê die kruis neer. Jesus sê: Lê jouself neer en tel die kruis op. Wie lg doen, is ’n Christen.
EK HET GESTERF ! (7)
Hierdie ware naby-dood ervaring van pastoor Mario Granados is vanuit Spaans in Engels vertaal. Daarna is dit in Afrikaans vertaal en neergeskryf deur
Anita Joubert
“Toe ek voor Jesus staan, het Hy vir my ges : ‘Kom, Ek wil vir jou, jou lewe wys.’ Ek het toe voor die regterstoel van Christus verskyn. “(2 Kor. 5:10)
In 1991 was ek die pastoor van ʼn gemeente met 580 lidmate. In daardie stadium van my lewe het ek met trots en selfregverdiging gesukkel. Ek het geglo dat daar geen ander prediker soos ek in die hele distrik was nie en ek het vir myself gesê: “As die ander predikers ook net waarlik die Here soek, vas en vroeg opstaan om te bid soos wat ek doen, dan sal hulle net so geseënd wees soos wat ek is.”
Op 12 Februarie 1991 het daar iets met my gebeur wat my oë oopgemaak het. Dit was al na middernag toe ek en my vrou kamer toe gegaan het vir die nag. Ek was nooit vantevore bewus daarvan dat ek hartprobleme gehad het nie, maar skielik, net nadat ons aan die slaap geraak het, het ek ʼn skerp steekpyn, drie maal, in my borskas gevoel. Ek was van die eerste twee pyne net bewus, maar met die derde een, was ek helder wakker. Ek weet nie wat presies gebeur het nie, maar ek was bewus daarvan dat ek nie meer in my bed was nie. Ek het naby die kamerdeur, op die vloer gelê.
ʼn Engel, in skitterwit geklee, het in die kamer ingekom. Hy het gesê: “Staan op, want jy moet êrens heen gaan.” Ek het steeds nie verstaan wat met my gebeur nie, maar ek het opgestaan en in die slaapkamer rondgekyk. Wat vir my so vreemd was, was dat ek twee van myself in die kamer gesien het. Dit het my bang gemaak, want ek het langs die engel gestaan terwyl ek nog steeds op die bed gelê het.
“Wat het met my gebeur?” het ek vir die engel gevra.
“Jy het gesterf en gaan nou na jou bestemming,” het hy geantwoord. Ons het nie weer gepraat nie. Hy het my hand geneem en ons het stadig in die lug begin opbeweeg. Ons is deur die dak en het deur die lug beweeg – ek weet nie teen watter spoed nie. Dit het baie vinnig gevoel.
Êrens vandaan het ʼn helder lig geskyn en ons het daarheen beweeg. Die engel het my versigtig neergesit en ek het rondgekyk. Aan my regterkant het ek ʼn baie groot, baie mooi, wit perd gesien. Die perd het na my gekyk asof hy vir my ʼn geheim wou vertel.
“Dit is die perd wat ons Koning gaan ry op daardie glorieryke dag wat binnekort gaan aanbreek.”
Ek was oorweldig deur wat ek gesien het. Daar was ʼn groot meer met ʼn fontein vol kristalhelder water wat in die meer inloop. In die water was daar iets wat soos diamante geblink het. Ons het langs die oewer van die pragtige meer gestap en na ʼn tydjie, het die engel gesê dat ons in die water moet ingaan. Die water was baie diep, maar tot my verbasing het ons glad nie gesink nie. Aan die oorkant van die meer was daar ʼn groot, stuk oop aarde.
“Is dit my bestemming?” het ek aan die engel gevra. “Nee, nog nie.” Hy het my weer opgetel en ons het weer oor die grond gevlieg. Al die tyd kon ek die leë erwe onder ons sien wat gelyk het asof daar huise gebou gaan word.
Na ʼn rukkie het hy my neergesit en gesê: “Hier is jou bestemming.” Toe ek omkyk na waar hy agter my gepraat het, was hy weg. Ek het skielik besef waar ek was. Voor my was Iemand met blink wit klere aan. Ek wou in sy gesig kyk, maar ek kon nie. Sy lig was te helder en glorieryk.
“Here Jesus, is ek nou by u regterstoel?” Ek het soos ʼn kind begin huil. Ek het besef dat ek werklik gesterf het en voor die God van die hemele staan – Hy wat op Golgota vir ons gesterf het. Dit is Hy wat ontelbare lewens verander en siele red.
Jesus self het voor my gestaan. Ek het al hoe harder gehuil. Hy het vir my gevra: “Waarom huil jy?” Ek kon nie antwoord nie. Ek het só onwaardig gevoel, soos ʼn leerling wat ʼn toets gedruip het.
“Jy moet jou gradering ontvang, maar eers gaan Ek vir jou, jou lewe wys.”
Jesus het vir my ʼn reuse skerm gewys en my hele lewe het daarop begin afspeel, net soos in ʼn film.
Ek het die dag gesien toe ek my lewe aan Hom toegewy het. Ek was ʼn student met baie lang hare. Ek het gesien hoedat ek daardie dag op my knieë neergeval het en Jesus as my Verlosser aangeneem het.
Op daardie oomblik het Hy vir my gesê: “Sien jy hoe bly en gelukkig Ek was daaroor, want jy was ʼn groot sondaar? Nadat jy jou sonde bely het, het jy my Heilige Gees ontvang as my seën. My kosbare bloed het jou skoon gewas daardie dag. Ek is só bly vir elke sondaar, elke dief, owerspelige, onsedelike, afgodsdienaar en dobbelaar wat hulle sonde bely en na My toe kom. Ek verwelkom hulle met liefde soos seuns en dogters en help hulle om van die koninkryk van die duisternis af, wat die ewige dood meebring, oor te gaan na die koninkryk van die lig. Dit beteken vir hulle die ewige lewe.” (Kol. 1:13-14)
“Elkeen wat sy sonde bely, en laat staan (Spr. 28:13) gaan nie in die Groot Wittroon-oordeel verskyn nie,” het Jesus gesê. (Open. 20:11-12)
Ek het ʼn volgende toneel uit my lewe gesien. Daar was ʼn voormalige pastoor wat ek ken op die skerm. Hy het ʼn beurs verower om in LaQuenta, Kalifornia, te gaan studeer. Ek en my vrou was reeds getroud en ons het ons tiendes getrou betaal. Ons het vrygewig offergawes by ons kerk gegee, toe ons gehoor het dat die pastoor Kalifornia toe gaan.
Ek het vir my vrou gesê: “Waarom koop ons nie vir ons pastoor ʼn goeie tas nie? Die arme man het waarskynlik nie eers iets om sy enigste pak klere in te pak nie.”
Ons het saamgestem, vir hom ʼn tas gekoop en hom genooi vir ʼn afskeidsete by ons huis. Nadat ons klaar geëet het, het ons vir hom gesê dat hy sy oë moet toemaak. Toe ons sê dat hy dit maar kon oopmaak, het die tas voor hom gestaan. Hy het in trane uitgebars, ons elkeen ʼn stywe druk gegee en gesê: “Dankie Here! Ek het geweet dat U my nie in die steek sal laat nie.”
Ek kon myself op die skerm sien staan tussen die pastoor en my vrou. “Sien jy?” het Jesus gevra. “Ek was só gelukkig met wat julle gedoen het. Weet jy waarom? Hierdie was ʼn geskenk wat julle aan een van my dienaars gegee het. Daarom was dit ook ʼn geskenk aan My. Selfs al gee julle net soveel as ʼn glas koue water, dan sal julle daarvoor geseënd wees.” (Matt. 25:40)
Tot hiertoe het alles nog goed verloop, maar toe het die beeld op die skerm voor my verander.
Die pastoor vir wie ons so lief was, is weg en ʼn ander, baie welgeklede prediker het as pastoor in sy plek gekom. Die man het verskeie baie duur pakke gedra wanneer hy gepreek het. Ek het vir myself gesê: “Hierdie man het nie ons tiendes nodig nie. Hy het genoeg geld.”
Ek kon myself sien bid op die skerm. “Vader, U weet dat die man mos nie weet hoeveel ek verdien nie, en dat ek, u seun, die geld nodig het.” Wanneer die offergawes opgeneem is, het ek my koevert gegee, maar nie die hele tiende daarin gesit nie. Dit was een van die skandelikste dinge wat ek ooit gedoen het, en ek het sewe maande lank daarmee volgehou. Ek het my optrede vir myself daarmee regverdig dat die pastoor goed doen en beter eet as ons. Waarom sou ek dan ʼn tiende betaal?
Ek kon op die skerm sien dat God my in daardie tyd elke keer getugtig het, want ek het die tiende wat aan die Here behoort, gesteel. (Mal. 3:8-9) Ons mag dalk dink dat God die dinge wat ons doen, nie weet of agterkom nie, maar ons kan geen groter fout in die lewe maak as dit nie. God is alwetend en alomteenwoordig. (Gen. 1:1; Ps. 139:1-16; 1 Joh. 3:20)
Toe Jesus vir my vra of ek dit sien, het ek ellendig sleg gevoel. “Ja, Here, ek sien.”
“Ek was nie gelukkig met wat jy gedoen het nie. Weet jy dat diewe nie plek kry in my koninkryk nie? (1 Kor. 6:10). Jy het nooit met berou vergifnis gevra vir wat jy gedoen het nie. Wanneer Ek vir julle iets gee, dan verwag Ek dít wat aan My behoort, weer terug. Ek het ʼn blymoedige gewer baie lief.” (2 Kor. 9:6-11)
Ek het uitgeroep: “Here, ek wil liewer niks meer van my lewe sien nie! Asseblief.”
Jesus het egter gesê: “Hier kom nog ʼn beeld.” Ek was toe reeds ʼn pastoor van ʼn kerk. Ons het ongeveer sestig lidmate gehad en ek was vriende met ʼn man wat ʼn groot vervoerbesigheid besit het. Hy was baie voorspoedig en ek het hom as ʼn goeie vriend beskou. Ek het hom en sy familie na ons kerk toe genooi en my begeerte vir hulle was om die Here Jesus te leer ken.
Hy het ingestem en gesê dat hy dit sal doen omdat hy voel dat hy en ek regtig iets in gemeen het. Ek het die Here geloof daarvoor.
Die kerk waar ek pastoor was, was in ʼn omgewing naby ʼn besoedelde rivier. Mense wat El Salvador ken, weet dalk ook van die Cañas rivier. Die stad se afval het alles langs die rivier beland en daar het ʼn groep hawelose mense gewoon.
Die volgende Sondag het ek by die ingang van die kerkgebou gestaan om die lidmate te verwelkom soos wat hulle gearriveer het. Die kerkdiens het al begin toe ek die eienaar van die vervoerbesigheid en sy familie sien naderkom, en ek het gebid: “Halleluja! Vader ek bid dat hulle nie die kerk sal verlaat sonder om aan U hulle lewens te gee nie.”
Ek het gretig op hulle gewag om nader te kom. Ek kon die reuk van ʼn baie besondere, duur parfuum in die lug ruik. Toe hulle die trappe van die kerkgebou bereik, het ek elkeen gedruk en hulle vergesel tot by die voorste sitplekke waar hulle gaan sit het. (Luk. 14:7-14)
Omtrent tien minute later het ʼn hawelose gesin vanaf die vuil rivier se kant, nader gekom. Die man was smerig, sy klere geskeur en ʼn onaangename reuk het om hom gehang. Sy hare was lank en vuil en sy vrou, wat net so sleg gelyk het, was by hom. Langs hulle het drie klein seuntjies gestaan, kaalvoet, baie vuil en verwaarloos.
Ek het na hulle gekyk en saggies gesê: “Ag nee! Is hulle regtig oppad hierheen? Kon hulle nie op ʼn ander dag gekom het nie?” Ek was baie vies en het besluit dat hulle moet loop. Hulle sal die hele gebou binne laat stink. Die gesinnetjie het egter nie omgegee dat ek hulle nie verwelkom het nie en het flink die trappe na die kerkdeur geklim.
Ek wou darem gemanierd voorkom en het gesê: “God seën u.” Ek het hulle hande geskud en gesê: “Kom binne.”
Hulle het ingegaan, en dit was opmerklik dat hulle glad nie omgegee het dat niemand vir hulle sitplekke aanwys of enigiets sê nie. Ek kon hulle maklik net so welkom laat voel het soos wat ek met die ryk familie gedoen het.
Dit was vir my baie swaar om daardie gebeure op die skerm te sien. Ek het amper gehuil, maar Jesus het niks gesê nie. Ek het senuweeagtig vir myself gesê: “Wat ʼn skande!” Wat die ergste was, is dat toe hierdie mense uiteindelik ʼn sitplek kry, die mense wat daar naby gesit het, opgespring en op ander plekke gaan sit het. My binneste het gepyn. Waar is die liefde van Jesus Christus? Ek was so skaam om dit te sien – mense wat ryk is word as meer waardevol behandel as ʼn gesin wat haweloos is.
Jesus het vir my gevra: “Sien jy dit alles? Kan jy onthou waarvandaan Ek jou gered het? Weet jy dan nie dat my liefde nie net vir die bevoorregtes bedoel is nie, maar vir die mensdom? (Joh. 3:16). Weet jy nie dat Ek my lewe op Golgota gegee het aan ʼn kruis vir ryk en arm nie – dat my bloed gestort is sodat elkeen wat in My glo, die ewige lewe kan hê nie? Wat maak dit saak hoe mense aangetrek is? Baie van die bevoorregte mense sê hulle behoort aan My, maar hulle het geen liefde nie. Hulle is innerlik dood.”
Met die aanhoor van hierdie woorde, het ek op die grond neergeval. Jesus het weer gepraat: “Staan op, want Ek wil jou punte toeken.”
Ek was amper nie in staat om op te staan nie, maar toe ek dit regkry, is ʼn telbord voor ons verlig en my puntetelling was daarop. My telling was 37,7 persent.
Voordat ek ʼn pastoor geword het, was ek ʼn onderwyser, en sover ek kan onthou, het ʼn leerling met minder as 50 persent, gedruip. En ek het net 37,7 persent!
Ek het nie gewaag om een woord ter verdediging van myself te sê nie. Ek kon nie sê: “Vader, maar ek het goeie dade ook verrig nie.” Voor die regterstoel van Christus bly jy stil (2 Kor. 5:10), want God weet alles, sien alles en niemand kan Hom bedrieg nie. Niemand kan geregtigheid ontduik nie.
Ek het weer na my puntetelling gekyk en desperaat begin huil. Jesus het gevra: “Waarom huil jy so?” Ek het besef dat ek nie ter wille van myself huil nie, maar vir die res van die wêreld. As dit my puntetelling is, wat van mense wat regtig erge sondes pleeg?
Ek het vir Jesus gesê: “Here, as U my toelaat om terug te gaan aarde toe, belowe ek om u Woord tydig en ontydig te preek, aan alle mense. Ek sal vir ander predikers gaan vertel dat hulle hul lidmate van u liefde moet leer. Ek wil hulle gaan vertel dat die regterstoel van Christus ʼn realiteit is. Ek sal vir sondaars gaan waarsku om op te hou sonde doen, want U is waarlik God en U kom binnekort terug.”
Ek het nog steeds aanhoudend gehuil; ek wou só graag gaan regmaak wat ek verbrou het.
Jesus het toe vir my gesê: “Kom saam, agter My aan.”
Ons het teen ʼn heuwel opgegaan en aan die anderkant daarvan, by ʼn pragtige, groot plek gekom. Dit was helder verlig, maar nie deur sonlig of enige kunsmatige lig nie. Dit was verlig deur God se lig. Dit was net ek en Jesus wat daar was. Hy het so ʼn paar meter van my af gestaan. Ek wou só graag na Hom kyk, maar elke keer wanneer ek dit gedoen het, het ek neergeval. Hy het vir my gesê: “Staan op. Sien jy dit alles? Dit is voorberei vir hulle wat my Woord hoor en dit gehoorsaam. Dit is vir hulle bedoel wat My onselfsugtig dien. Dit is vir sondaars bedoel wat smag na redding, wat sonde laat staan en in my koninkryk inkom. Dit is vir hulle bedoel wat skuil onder my bloed wat Ek vir hulle by Golgota gestort het.”
Die Here het vir my strate gewys wat soos spieëls geblink het. Aan die oorkant van die strate, was daar ʼn pragtige grasland. Ek het ook die mooiste tuine gesien, vol blomme wat ʼn wonderlike geur afgegee het. Nog verder aan was daar ontelbare wonings, so wit soos sneeu.
Jesus het weer vir my gevra: “Sien jy dit alles? Dit is voorberei vir hulle wat na My toe kom en my Naam in geloof aanvaar. Dit is bedoel vir hulle wat in my koninkryk inkom, geduldig en gelowig volhard tot die einde toe (Matt. 24:13). Dit is bedoel vir elke sondaar wat erken dat Ek sy of haar Redder is, die Seun van die lewende God.” (Matt.16:16).
Nadat Jesus vir my alles gewys het, het Hy gesê: “Wag hier.” Hy is toe weg en het my alleen gelos. Ek het gaan sit en my omgewing bekyk.
Skielik was daar weer ʼn engel by my wat my moes terugbring aarde toe. Ek het vir hom gesê dat ek baie graag wil terugkeer, omdat ek al die foute wat ek gemaak het, wil kom regstel. Ek wil die Woord van die Here Jesus suiwer kom preek.
Die engel het gesê: “Maak gereed. Jy moet ander klere aantrek.” (Die hoëpriester Jesua moes ook skoon klere aantrek; Sag. 3:3-4)
Ek het so beswaard gevoel, want ek was haastig om onmiddellik te kom preek. Die engel het ook gesê: “Wag hier.” Hy het in dieselfde rigting weggeloop as waarheen Jesus gegaan het.
Ek het ʼn gerammel soos donderweer gehoor, en die volgende wat ek kan onthou, was dat my liggaam gevoel het asof dit teen die grond gegooi word.
Dit was ongeveer 4:45 vm. toe ek op die horlosie gekyk het. Ek het gesukkel om asem te haal. Ek het besef dat ek op die vloer lê, en toe ek my asem terugkry, het ek histeries begin huil.
My vrou het opgespring en geskreeu: “Waar is jy?” Sy was verskrik en verward en kon nie verstaan waarom ek op die vloer lê en huil en hyg na asem nie. Sy het nie besef dat dit net God se genade was dat ek nog gelewe het nie. Sy wou weet: “Wat op aarde is verkeerd?”
Sy het my gehelp om op te staan, maar waar my hart is, het ek ʼn geweldige pyn gehad. Dit het gevoel of ek my verstand verloor het. My vrou het met my probeer praat, maar ek het nie ʼn woord verstaan nie. Ek het net aanhou huil, oorweldigend.
Omtrent 10:30 daardie oggend, het ek vir haar gesê: “Ek gaan kerk toe.” Sy wou my eers nie laat gaan nie en was bang dat ek sou verdwaal. “Jy voel nie goed nie. Miskien het jy hartversaking of ʼn senuweeineenstorting. Moenie gaan nie.”
“Ek is reg, moenie bekommerd wees nie.” Diep in my binneste het iets my geweldig gehinder. Toe ek by die kerk aangekom het, het ek die trappe opgeklim, nog steeds huilend. Ek het ingegaan, die deur agter my gesluit en voor die kansel op my gesig geval en begin skreeu: “Here, as ek werklik u kind is, help my, want ek kan nie só lewe nie. Wees my genadig. Daar moet ʼn rede wees waarom U my teruggestuur het aarde toe.”
Na omtrent tien minute se huil, met my gesig plat op die vloer, het ek ʼn hemelse koor gehoor sing – die mooiste lied wat ek nog ooit gehoor het. Dit het harder en harder geword. Ek het huilend uitgeroep: “Vader, sal U asseblief genade betoon aan hierdie sondige man. Neem asseblief alles weg in my lewe wat U nie gelukkig maak nie.”
Meteens het ek weer ʼn rammelgeluid gehoor, en toe was dit stil. Die koorsang het weggeraak, en ongeveer 11:30 het ek die stem van die Here gehoor. Hy het gesê: “Jy is nou waar Ek jou wil hê – nederig. Die ervaring wat jy gehad het, was my wil sodat jy mense kan waarsku. Ek kom gou en Ek openbaar myself nou aan baie mense, want Ek wil graag hê dat hulle hul sonde moet bely. Dit is die enigste manier waarop hulle gered kan word. Jy gaan hierdie boodskap nou aan die nasies verkondig. Ek het jou nie terug gestuur net uit liefde en genade vir jou alleen nie, maar vir al die predikers en inwoners van die aarde.
Mag elkeen wat hierdie getuienis hoor, besef dat ons enigste redding in God se genade deur die bloed van die Here Jesus is, en dat ons nie op ons eie werke kan staatmaak nie. Ons het almal gesondig en dit ontbreek ons aan die heerlikheid van God. (Rom. 3:23)
Die enigste manier waarop ons rein en sonder sonde voor ʼn heilige God kan gaan staan, is deur gewas te word deur die bloed van die Lam. (Op. 7:14)
“Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad” (2 Kor. 5:10)