Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy sal leer hoe om God waarlik te aanbid wanneer jy geleer het hoe om lief te hê. Hoe leer jy om lief te hê? Kyk na alles wat aan jou gegee is om te geniet, en weet dit kom van God, en wanneer jy opreg dankbaar word sal jy weet wat liefde beteken.
EK HET GESTERF ! (3)
Hierdie ware naby-dood ervaring is in Afrikaans vertaal en neergeskryf deur
Anita Joubert
“Jesus het voor my gestaan, sy oë hartseer en sy stem sag maar ferm: ‘Ek moet vir jou wys waarom fortuinvertellery soveel mense die hel insleep.’ ”
My naam is Larah, en ek het nooit in my lewe gedink dat ek ooit ʼn storie soos hierdie een sou vertel nie. Ek het in ʼn Christenhuis grootgeword en het in ʼn boekwinkel gewerk. Ek het ʼn stil, rustige lewe gelei en hard gesukkel om my kop weer op te tel na elke verbreekte liefdesverhouding wat ek moes verwerk.
Daar was egter ʼn ander storie wat in my tienerjare begin het, waarvan min mense geweet het. My ouma en my ma het my eenkeer saamgeneem na fortuinvertelster, en van daardie dag af het ek ʼn vreemde beheptheid daarmee gehad. Ek het gedink dat dit skadeloos was, net sommer ʼn tradisie van sommige bevolkingsgroepe en ʼn speletjie vir ander. Dit het gelyk soos prettige maniere om ʼn blik in die toekoms te kry, maar geleidelik het dit ʼn houvas op my gekry en ʼn gewoonte geword.
Teen die tyd dat ek twintig jaar oud was, kon ek nie ʼn dag begin sonder om my sterre te lees nie. Ek het kristalle in my beursie rondgedra en Tarot-kaarte vir my vriende gelees. Mense het my selfs later “die meisie met ʼn gawe,” begin noem. Die waarheid was egter dat ek innerlik absoluut vreesbevange geleef het. Ek het op al hierdie dinge staatgemaak vir elke besluit wat ek geneem het in liefdesake, geld en selfs of ek op ʼn sekere dag die huis kon verlaat. Ek het gedink dat ek op hierdie manier my lewe goed onder beheer het. Intussen was ek ʼn gevangene van vrees. Ek het vir geen oomblik gedink dat elke geluksbringer wat ek dra, elke kaart wat ek omdraai en lees, my verder weg van God af getrek het nie.
Een aand het alles verander. Ek het die boekwinkel gesluit, later as gewoonlik. In my handsak was daar ʼn pak Tarot-kaarte en ek het huistoe gestap, soos gewoonlik. By ʼn besige kruising was ek baie ingedagte en het vinnig begin oorstap. ʼn Vinnig aankomende motor se remme het hard geskree, en dit was die laaste geluid wat ek gehoor het. ʼn Gedagte het deur my kop geflits. My hele lewe lank het ek probeer om my toekoms te bepaal, en nou is dit hier. Niks van al my pogings kan my red nie. Nie die kaarte, die handpalm-lesery, of die gelukbringers het nou iets beteken nie.
Die dood was voor my, en ek was nie gereed nie.
Alles voor my het swart geword. Ek het gedink dat die dood net ʼn ewige stilte sou wees, maar het besef dat ek steeds van dinge om my bewus was. Ek kon hoor, ek kon voel, maar nie soos wat ek altyd gewoond was om te doen nie. My liggaam het op die grond gelê in die pad, maar ek het van bo af daarop afgekyk. Mense het om my saamgedrom, hulle monde het beweeg, maar hulle stemme was dof.
Toe eers het die donkerte skielik gekom. Dit was só swaar, so eg, dat ek gevoel het asof ek dieper en dieper daarin wegsak. Vrees het my oorval en ek wou skreeu, maar ek kon nie.
Daar was skielik ʼn helder, oorweldigende lig wat deur die duisternis gebreek het. Dit was warm, suiwer, lewendig. Die vrees het verdwyn en ʼn vrede het oor my gekom soos wat ek nog nooit vantevore geken het nie. ʼn Figuur het voor my gestaan en ek het onmiddellik geweet dat dit Jesus is. Hy het Homself nie voorgestel nie – sy teenwoordigheid het harder gepraat as woorde. Sy oë was vol liefde, maar ook vol jammerte vir my.
My hele lewe het in sekondes oop en bloot voor Hom gelê. Al my swak keuses, al my verborge vrese, al my sonde. Ek het op my knieë neergeval, al het ek geen liggaam gehad nie. Ek het geween, want meteens het ek alles verstaan – al die jare van agter fortuinvertellers aangaan, die gelukbringers, die sterrevoorspellers. Ek het skadu’s gejaag terwyl die een ware Lig nou voor my staan. Jesus het nie met woede voor my gestaan nie, maar met waarheid.
Hy het sag, maar baie ernstig vir my gesê: “Ek moet vir jou die dinge van fortuinvertelling wys wat só baie siele in die hel laat beland.”
Die atmosfeer het op daardie oomblik verander. Dit was asof ʼn gordyn voor my oë oopgetrek word en ek het ʼn klein, swak verligte kamertjie gesien met flikkerende kerse en die reuk van wierook in die lug. ʼn Vrou het oorkant ʼn fortuinvertelster gesit met haar handpalm uitgestrek voor haar. Die fortuinvertelster het die lyne in haar handpalm bekyk en woorde gefluister wat vertroostend geklink het, maar dit was alles leuens.
Jesus se stem was nie kwaad nie, maar baie gewigtig: “Sien jy, Larah? Dit is Ek wat haar liggaam geskep het, elke lyn, elke vingerafdruk is my ontwerp. In plaas daarvan dat sy my vakmanskap raaksien, soek sy na mening in menslike voorspellings wat niks anders as demoniese leuens is nie.”
Terwyl Jesus gepraat het, het ek donker kettings van rookwalms om die vrou se hand gesien wat al stywer daarom vasgedraai het soos wat sy na die leuens geluister het en dit geglo het. Die fortuinvertelster het geglimlag, en agter haar het demoniese figure gelag van lekkerkry. Hulle voer die vrees en nuuskierigheid van al die mense wat na haar toe kom.
Ek het innerlik geruk toe ek daaraan dink hoeveel keer in my lewe ek presies dieselfde gedoen het. Ek het ook my handpalm uitgestrek, honger vir antwoorde, nooit besef dat ek die demoniese duisternis in my lewe innooi nie.
Die beeld voor my het verander en ek het letterlik miljoene mense gesien wat hulle oggende op dieselfde manier begin. Hulle maak hulle fone oop, soek na die sterrevoorspel-webtuistes om dit te lees. Sommige het daaroor gelag en gemaak asof dit net ʼn grap is. Ander het dit weer so vasgegryp dat hulle hul hele dag daarvolgens beplan het. Agter elke persoon het ek gesien hoedat die demone vinnig hulle notas neerskryf, vir hulle leuens fluister en vrees by hulle wek.
Jesus het hartseer gesê: “Hulle kyk na die sterre asof die skepping hulle kan lei, terwyl hulle die Skepper wat aan elke ster sy plek gegee het, ignoreer. Dit is afgodsaanbidding, en hulle dink dit is net vermaak.”
Toe die visioen voor my weer verander, het ek gesien hoedat die sterre hulself rangskik om ʼn kroon te vorm. Jesus het daarna gekyk en gesê: “Ek het dit geskep om my heerlikheid te vertoon, nie om my stem te vervang nie. Die sterre kan nie met julle praat en julle lei nie. Ek kan.”
Ek het vir die heel eerste keer besef dat hierdie dinge mense se aandag van God af wegtrek. Dit belowe leiding, maar gee verslawing. Daar is sóveel Christene wat Sondae kerk toe gaan, maar deur die week hulle sterre lees, fortuinvertellers en waarsêers besoek. Hulle besef nie dat dit hulle al hoe verder van die werklike Waarheid, van Jesus af, weglei nie.
“Predikante en pastore waarsku hulle nie en hulle lees ook nie hulle Bybels nie,” sê Jesus. “As hulle dit gedoen het, sou hulle geweet het dat Ek die Israeliete daarteen gewaarsku het.” (Deut. 18:9-14; Lev. 19:31)
Ek het skaam gevoel, want ek het presies dieselfde gedoen.
Jesus het na my gekyk, nie met veroordeling nie, maar met hartseer liefde. Hy het gesê: “Larah, elke keer wanneer julle op hierdie dinge vertrou, dan stoot julle my weg.”
Trane het oor my wange gestroom toe ek die diepte van sy liefde besef. Hy kon baie lankal al terug van my af weggedraai het, maar in plaas daarvan, wys Hy vir my hierdie misleiding, sodat ek ander mense ook kan waarsku.
Ek het voor Hom gestaan met vreugde en verligting, maar ook met vrees. Verlig omdat Hy my oë oopgemaak het, maar met vrees vir die miljoene siele wat aan kettings vasgebind word waaraan hulle die ewige verdoemenis ingesleep word, en hulle besef nie wat hulle doen nie.
“Daar is nog baie wat jy moet sien, Larah.” Met hierdie woorde het ek die volgende beeld gesien. Ek het gedink dat my hart nie meer sal kan hanteer nie, maar sy kyk het my dieper getref as wat woorde dit ooit sou kon doen.
“Ek wil vir jou wys wat gebeur wanneer mense die deure oopmaak vir demone om in hulle lewens in te kom wanneer hulle Tarot-kaarte gebruik om te probeer om dooies op te roep.” Voor my was ʼn tafel, bedek met ʼn donker doek. Kerse het geflikker en lang skaduwees teen die mure gegooi. Op die tafel het daar Tarot-kaarte gelê, helder, kleurvol, misterieus. ʼn Vrou het dit geskommel. Haar hande het liggies gebewe terwyl sy iets vir die soekende persoon aan die oorkant van die tafel fluister. Toe sy die eerste kaart omdraai, kon ek sien hoedat die geesteswêreld verander. Dit was soos ʼn deur wat krakend oopgaan. Skaduagtige figure het ingesluip – gedrogte met hol oë, al grinnikende terwyl hulle wag. Met elke kaart se omdraai, het hulle al hoe meer geword. Ek het na my asem gesnak. Ek het gedink aan hoeveel keer ekself hierdie kaartlesings laat doen het. Ek het nooit besef dat ek letterlik die demone in my lewe innooi nie. Trane het oor my wange gestroom.
“Elke kaart is ʼn nagemaakte profesie. Dit is nie skadeloos nie. Dit is ooreenkomste met die koninkryk van die duisternis. My kinders soek by die vyand antwoorde, in plaas van by My. Sodoende gee hulle demone reg op hulle lewens.”
Toe die visioen weer verander, het ek ʼn groep mense gesien wat in ʼn kring staan en hande vashou. Hulle het temerig gedreunsing. Skielik was daar ʼn stem, diep, emosioneel. Die stem sê vir hulle dat dit ʼn geliefde is wat reeds gesterf het. Die familie huil, oortuig daarvan dat hulle met die vader praat wat dood is. Jesus het my aandag gevestig op die donker figuur wat agter die medium verskyn het. Dit was ʼn demoon wat voorgee dat hy die vader is wat verskyn het. Die bose gees maak stemme perfek na, hy ken die familie se persoonlike sake in die fynste besonderhede en kan maklik vir hulle lieg. Die familie huil ontroosbaar en dink dat hulle met die vader gesels.
“Die dooies kan nie terugkeer nie. Dit is ʼn misleidende gees waarmee hulle praat,” het Jesus streng gesê: “Die oproep van geeste word vir my kinders verbied, want dit bind hulle in kettings vas.” (Deut. 18:11)
Jesus het vir my gewys hoedat die familie se verdriet met elke sessie toeneem. Die demoon het sy kloue al hoe stywer om hulle gespan en hy voed homself op hulle hartseer.
Jesus se ohet met meegevoel in myne gekyk. “Larah, so baie mense gaan na sulke plekke toe omdat hulle desperaat is om getroos te word, maar Ek is hulle Trooster. Ek het die dood oorwin. Hulle het nie nodig om dooies te probeer oproep en dan leuens bo die waarheid te verkies nie.”
Ek was oorweldig deur wat ek gesien het. Dit was ondraaglik, maar Jesus se liefde en genade het my hoop gegee. Hy het hierdie dinge openbaar omdat Hy my wou vrymaak en gebruik as ʼn stem vir ander mense.
Soos wat die visioene vervaag het, kon ek sy laaste woorde in my geestesore hoor.
Skielik het ek myself in ʼn plek soos ʼn straatmark bevind. Daar was stalletjies vol juweliersware, kristalle, gelukbringers, droomvangers en allerlei soorte kleurvolle voorwerpe. Mense het daardeur gesnuffel, gelag, probeer om armbande aan te pas en klein steentjies te koop wat hulle in hulle sakke wou dra, sodat dit vir hulle geluk kan bring. Dit het skadeloos gelyk, só mooi.
Toe Jesus egter sy hand uitsteek en my geestesoë oopgaan, toe sien ek agter elke blink kristal ʼn slangetjie wat om die voorwerp gekrul is. Hulle oë het geglinster, wagtende om gekoop te word. Die oomblik wanneer iemand dit gekoop het, het die slangetjie oor die persoon se arm of skouer geseil en begin om hom of haar met onsigbare bande te bind. Die mense het geen idee gehad van wat gebeur nie. “Hierdie voorwerpe kan vir hulle geen geluk bring nie – net Ek kan dit doen. Al wat hierdie goed doen, is om hulle vas te bind,” het Jesus só hartseer gesê. “Ek gaan vir jou nog iets wys, Larah.”
Ek het ʼn vrou gesien wat oorkant ʼn spiritistiese medium sit. Die medium het haar oë toegemaak, die vrou se hand vasgehou en begin praat. Haar eerste woorde was vaag, maar geleidelik het sy meer besonderhede, name en herinneringe vir die vrou kon noem. Dit was alles dinge wat ʼn vreemdeling nie kon weet nie. Die vrou was verstom. Hierdie persoon het verseker ʼn gawe van God ontvang...
Jesus het egter my aandag gevestig op die skaduagtige geeste wat daar rondgestaan het. Hulle was geeste wat afgesonder was vir daardie spesifieke vrou se familie en wat baie goed bekend was met haar familiegeskiedenis, -sake en probleme – al vir geslagte lank. Hulle het die nodige inligting bymekaar gemaak en dra dit aan die medium oor. Hulle voer die medium dan met net genoeg inligting sodat sy die vrou se vertroue kan wen, en dan begin hulle leuens vertel om sodoende die vrou al hoe dieper in verslawing en bindings te lei.
Jesus het gesê, nog steeds met hartseer: “Net ek ken die toekoms, omdat Ek dit in my hande hou. Tog glo baie mense eerder ʼn medium, as vir My.”
Die visioen het al donkerder geword. Ek het gesien hoedat mense aan hierdie mediums verslaaf raak, hulle oor en oor besoek; nie in staat om ʼn enkele besluit te neem sonder om hulle te raadpleeg nie. Hulle was naderhand soos marionette wat deur vrees beheer word.
Ek het met geweldige ontsteltenis vir Jesus gevra: “Here, was ek een van hulle?” Sy antwoord was sag, met deernis. “Ja, Larah. Ek het gekom om die gevangenes vry te maak. Dit is waarom jy nie mag stilbly nie. Jy moet vir die mense gaan vertel.”
Ek het geweet dat Jesus nie net van vreemdelinge praat nie, maar ook van my familie, vriende en ander Christene wat in onkunde hierdie dom dinge doen.
Jesus het sy hand op my skouer gesit en gesê: “Daar is nog een laaste ding wat Ek aan jou moet openbaar. Die vyand versteek altyd gif in dinge wat só skadeloos lyk, maar die waarheid openbaar altyd die leuen.”
Hierdie laaste visioen was vir my die heel ergste. Ek het na ʼn feesviering gekyk, helder kleure en ligte was oral, lanterns, versierings, kos en musiek het die prentjie opgevrolik. Families het gesellig gekuier, kinders het rondgehardloop, mense was uitbundig.
Toe sien ek egter die geesteswêreld om hulle. Mense het in toue gestaan om loterykaartjies te koop, gelukbringers en boompies wat geluk bring. Ander het wierook gebrand, nie uit liefde vir God nie, maar uit tradisie. Hulle vra daarmee vir onbekende geeste om hulle te seën, geld te gee, asook gesondheid.
Soos wat ek skerper gekyk het, het ek donker figure by elke stalletjie gesien staan. Demone het die gelukbringers aan die kopers oorhandig, gefluister oor die loterykaartjies. Demone het die wierook as ʼn offer aan hulleself aanvaar.
My hart was swaar. Hierdie dinge is nie net kultuurgewoontes nie. Dit is geestelike transaksies met die koninkryk van die duisternis. Hoeveel kerke hou nie kermisse om geld in te samel en dan doen hulle presies dieselfde dinge nie? Hoeveel liefdadigheidsorganisasies doen nie al hierdie dinge met die verskoning dat dit vir ʼn goeie doel is nie?
Jesus se stem was swaar van emosie: “My kinders gaan ten gronde weens ʼn gebrek aan kennis” (Hosea 4:6 -1953 - Vertaling) Hulle is nie aan my toegewy nie” (Hosea 4:6 – 1983 -Vertaling) Daarom ken hulle nie die Bybel nie en weet hulle nie dat Ek hulle daarteen gewaarsku het nie. Hulle dink dat dit sommer net speletjies is. Hulle dink omdat hulle nie openlik afgode aanbid nie, dat hierdie dinge nie saakmaak nie. In hulle harte vertrou hulle die afgode van fortuinvertellery en waarsêery. Hulle dink my bloed is nie voldoende om hulle te beskerm nie en dan reik hulle na vals beloftes en leuens van die vyand. Deur dit te glo, maak hulle die deur vir demone in hulle lewens oop.”
Jesus het vir ʼn paar oomblikke stilgebly en sy gesigsuitdrukking het meer intens geword.
“Dit is waarom Ek jou nou terugstuur, Larah. Jy moet vir my mense gaan vertel wat jy gesien het. As hulle dit nie bely en om vergifnis vra nie, gaan hierdie praktyke vir hulle dieselfde vernietiging bring as vir diegene wat in heksery en satanisme betrokke is. Die vyand gee nie om of die deur wyd oop is, of net op ʼn skrefie nie. Elke opening wat aan hom wettige toegang gee, sal hy gebruik.”
Op daardie oomblik het ek nog ʼn visioen gehad. Miljoene mense het op ʼn baie breë pad gestap. Hulle het gelag, gelukbringers en kristalle gedra, vrolik na die sterrevoorspel gekyk en voort gestap op die pad wat na vernietiging lei. Demone het weerskante gestaan en hulle aangemoedig. Hulle het die waarheid vir hulle verbloem deur musiek en deur hulle aandag af te trek.
Ek het weer op my knieë geval en uitgeroep: “Here, asseblief! Stop hulle! Wys vir hulle die waarheid.”
Jesus het na my gekyk met die hartseerste oë wat ek nog ooit gesien het. “Dit is waarom ek jou terugstuur. Jy moet teruggaan en hulle gaan waarsku. Sommige sal jou spot en sê jy is belaglik. Ander sal luister en die bande wat hulle so vasbind, breek deur my vergifnis te vra.” (Ps. 129:4).
Toe die visioen dof word, was ek terug in my liggaam, binne in ʼn hospitaalbed. Alles in my en aan my het gepyn. Ek het my oë oopgemaak en hospitaalpersoneel om my sien skarrel. “Sy haal asem!” het een vrouestem uitgeroep. Ek het ʼn ontsaglike hoofpyn gehad.
“Jy was dood, vroutjie, jou hart en asemhaling het gestop,” het ʼn man wat soos ʼn dokter gelyk het, vir my gesê.
My ma en my broer het by my bed gesit, selfs ook een van my vriendinne. Almal was in trane. Ek kon kwalik praat.
Tot die dokters se verbasing, het ek buitengewoon vinnig herstel. Ek het net kwaai kneusplekke van die stamp gehad en toe my familie een aand by my hospitaalbed sit, het ek geweet dat ek nie langer kan stilbly nie. Ek het hulle alles vertel – dat my gees my liggaam verlaat het, dat ek voor Jesus gestaan het. Ek het van die skrikwekkende visioene vertel wat Hy vir my gewys het.
Ek sal nooit my ma se gesigsuitdrukking vergeet nie. “Larah, miskien is dit net ʼn droom van die medikasie, of dalk hallusinasies van die harde stamp teen jou kop. Jy was nog altyd baie sensitief.”
My broer het senuweeagtig gesê: “Ja, sus, jy lees heeltemal te veel boeke oor die geesteswêreld.”
Ek het hulle in die oë gekyk en gesê: “Nee, dit was verseker nie net ʼn droom nie. Ek het gesien hoedat die demone handeklap terwyl hulle die kettings rondom die mense draai. Ek het gesien hoedat die sterrevoorspel se leuens en fortuinvertellery mense in die hel laat beland. Ek het gesien hoe hierdie praktyke deure oopmaak vir die duisternis om in te gaan.”
“Ma, jy en Ouma het my na fortuinvertellers toe geneem en gedink dit is skadeloos, maar dit was nie. Dit het die duiwel wettige toegang in ons lewens gegee.”
My ma was vir ʼn rukkie stil, trane het haar oë volgeskiet: “Ek het nie geweet nie. Ek het gedink ek kan jou beskerm as jy weet wat in jou toekoms gaan gebeur.”
“Ons moet dit bely en die Here Jesus om vergifnis vra, Ma,” het ek sag gesê.
Toe ek gesond was, het ek begin om in die kerk en oral waarheen mense my uitgenooi het, te getuig en my storie te vertel. Sommige mense het met groot oë geluister, ander was aggressief, het hulleself verdedig. Ek het sag, dog ferm geantwoord: “Ek het ook gedink dit is net ʼn grap, onskuldig, maar ek het gesien wat werklik in die geesteswêreld daaragter skuil. Jy gee die koninkryk van die duisternis wettige reg op jou lewe, want God waarsku ons daarteen in sy Woord.”
In ʼn groep het ʼn man eenkeer woedend geword en wou weet of ek dan nou sê dat sy ouma, wat al hierdie dinge gedoen het, demone gevolg het? Hoe durf ek so iets sê?
My stem het gebewe toe ek geantwoord het: “Ek veroordeel nie jou ouma nie. Ek vertel jou net wat ek gesien het.”
Sommige mense het my bespot, ander het my vermy, agter my rug gefluister dat ek my verstand verloor het. Ander het in trane na my toe gekom en erken wat hulle alles gedoen het – my gevra om vir hulle te bid. Hulle het gevra hoe hulle kan vry kom en ek het vir hulle gesê wat Jesus vir my gesê het: “Bely dit as sonde, verwerp alles wat daarmee te doene het en verwyder elke voorwerp wat daaroor gaan uit jou huis en jou lewe. Bid in die Naam van Jesus en sluit elke deur wat jy geopen het, in die Naam van Jesus Christus. Sy bloed is baie sterker as enige ketting en sy outoriteit is volkome.”
Ek het gesien hoedat mense huil wanneer hulle vrykom uit die kettings wat hulle vasgebind het. Mense het hulle Tarot-kaarte verbrand, hulle kristalle en gelukbringers stukkend geslaan, en hulle boeke oor die onderwerp verbrand. (Hand. 19:19)
Ek het ook geweldige teenkanting gekry en ek is nou nog skrikkerig wanneer ek in die openbaar getuig. Die dringendheid in my is egter veel sterker as die vrees vir verwerping. Ek hoor nou nog Jesus se woorde toe Hy gesê het: “Gaan waarsku hulle.” Daarom kan ek eerlik sê: Ek praat die waarheid. Luister asseblief. Draai weg van hierdie dinge af en draai na Jesus toe. Hy is die enigste Persoon wat ons kan red en vrymaak. Die dag toe ek uit die hospitaal gekom het, was ek ʼn ander mens as dié een wat daar ingegaan het. Iets in my het gesterf en iets nuut is gebore. My familie het die verskil dadelik raakgesien. Ek kon nie ophou om oor Jesus te praat nie. Ek het nie meer nodig gehad om oor die waarheid te wonder en daarna te soek nie. Ek het die Waarheid leer ken.
Jesus het vir Tomas gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh. 14:6)
“Daar mag nie nie ʼn towenaar of iemand wat voortekens lees of ʼn goëlaar of ʼn slangbesweerder of iemnd wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg by julle wees nie. Die Here het ʼn afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen” (Deut. 18:10-12).