Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Niemand is nog ooit vereer vir wat hy ontvang het nie, maar vir wat hy vir ander gedoen en gegee het.
PASOP...
... dat jy nie geestelik veragter nie!
Ds A.E. van den Berg
“Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Open. 2:4,5).
Openbaring is teen ongeveer 95NC deur Johannes op die eiland Patmos geskryf. Hy was ongeveer 90 jaar oud en 'n banneling. Hy het sewe briewe aan 'n skeepskaptein gegee om Klein-Asië (Turkye) toe te neem, onbewus van die kosbaarheid daarvan. Dit was sewe briewe van Jesus aan die kerk van destyds. Hierdie briewe verskil van alle ander Bybelbriewe wat die naam van die sender duidelik vermeld. Die Sender van hierdie briewe is Jesus Christus en vir die kerk van destyds in die geheel bedoel.
Johannes was vir 'n paar jaar leraar van Efese (Klein-Asië) en toe deur die Romeinse owerheid weens sy verkondiging van Jesus as die Verlosser na Patmos verban waar 'n klein Romeinse leer gestasioneer was. Patmos was as te ware 'n oop eilandtronk met net die see as tralies waarvandaan niemand maklik kon ontsnap nie.
Benewens Johannes het al sy mededissipels 'n martelaarsdood gesterf. Die rede hiervoor was dat Jesus 'n laaste taak vir Hom hom gehad nl. om die laaste boek van die Bybel te skryf. Die lewe op Patmos was bitter eensaam. Johannes het seker maar gedink dat hy hier sou sterf. Hy is egter vier jaar later weer terug Efese toe.
Een Sondag word die oggendstilte van die eiland met die klank van 'n basuin verbreek. Johannes het 'n Esegiël-ondervinding gehad. Ongeveer 700 jaar tevore het duisende swaarmoedige Jode op die walle van die Kebarrivier in Babel gewoon. Hulle was toe alreeds vir 30 jaar krygsgevangenes. Die toekoms het vir hulle donker gelyk. Op 'n dag staan 'n jongman op die rivierwal toe iets wonderliks gebeur. “In die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde van die maand, toe ek onder die ballinge by die Kebarrivier was, is die hemele geopen en het ek gesigte van God gesien” (Eseg.1:1).
Bokant hom skeur die hemel as te ware oop en kry hy hemelse gesigte wat net hy kon sien. Wat 'n bemoediging was dit nie! God het toe nie in Jerusalem agtergebly soos wat die meeste bannelinge gedink het nie. Hy was ook daar in die vreemde by hulle!
Op Patmos hoor Johannes die stem van Jesus. Alhoewel hy dit meer as 60 jaar laas gehoor het, het hy dit dadelik herken. Jesus gebruik hom waar hy dit nooit verwag het nie. Op daardie stadium was die lug bokant die Christenkerk vol onweerswolke. Die kerk is vervolg en duisende mense het hul lewe vir Jesus verloor. Dan gaan die lugruim bokant Johannes oop en met sy dowwe oë sien hy onuitspreeklike dinge en hoor hy Jesus wat hom 'n opdrag gee om te skryf wat hy sien.
Voor die groot openbaring laat Jesus hom sewe briewe aan die sewe gemeentes in Klein-Asië skryf. Hierdie briewe het die kerk van destyds verteenwoordig. Die kerk moes hulle sien soos wat Jesus hul gesien het.
Die eerste brief is aan Efese, Johannes se eertydse gemeente. Jesus sê vir hulle: “Ek ken jou werke...” Hy weet van alles wat in die gemeente aangaan; 'n gemeente wat jare gelede deur Paulus gestig is. Voordat die Evangelie hierdie stad bereik het, was dit 'n kookpot van towery. Toe hulle hul tot Jesus bekeer het, het hulle by geleentheid al die toor-boeke wat hulle gehad het as teken van hul nuutgevonde geloof in Jesus, op die stadsplein in die openbaar verbrand.
Die kerk in Efese was egter soos 'n vuurwerkvertoning – skouspelagtig aan die begin maar van korte duur; beslis nie brandend genoeg om iemand met sy gloed warm te hou nie. Wat in Efese gebeur het, het ook deur die eeue in baie ander gemeentes gebeur. Die aanvanklike geesdrif vir God se saak het plek gemaak vir die koue as van ontnugtering en onverskilligheid. Mense het na die goeie ou dae met sy opregte liefde en aansteeklike gemeentelike geesdrif verlang; maar dit was nie meer daar nie.
Kerklik gesproke het Efese 'n goeie getuigskrif gehad. In vers twee sê Jesus dat hulle slegte mense as lidmate verbied het. Almal is nie voor die voet aanvaar nie. Daarbenewens het hulle ook gewaak oor wie op hul kansel die Evangelie bedien. Daar was mense wat gesê het dat hulle apostels was, maar in werklikheid dwaalgeeste en is tereg verhoed om te preek.
Daarbenewens word die eintlike doel van Jesus se brief duidelik. Hulle het nou wel dwaallering teengestaan en oor die suiwere Bybelleer gewaak, maar die toets van die liefde gedruip. Dit laat 'n mens aan 2 Kon.5 se Naäman, leërowerste van die Arameërs dink. Hy was hooggeplaas, 'n skitterende kryger maar melaats. Onder sy indrukwekkende krygsmondering was daar die reuk van die dood sonder dat iemand dit vermoed het. So ook Efese; baie aan die gang, maar van binne besig om dood te gaan! Dit het so sleg gegaan dat Christus op die punt was om die gemeente se lig uit te doof:“ ..... bekeer jou .... Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie”. Efese moes 'n geestelike ommekeer maak.
Wat die probleem was, is nie baie duidelik nie. Dit het waarskynlik iets met die verkoeling van hul onderlinge geestelike liefde te doen gehad. “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het”.
Liefde vir Christus en sy saak is 'n gemeente se grootste bate. Alles wat 'n gemeente doen, moet uit liefde vir God wees. Sodra hierdie liefde verflou, loop dinge skeef en val mense met mekaar vas, 'n ou probleem in kerke: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie?” (Jak.4:1). Dit gebeur as die liefde vir Jesus verflou!
As 'n gemeente se liefde vir Jesus en sy saak verflou, sak alles in mekaar. Liefde vir Jesus is die sement wat 'n gemeente se steenwerk aan mekaar hou. Geen kerkgebou kan bly staan as die sement tussen die stene verdwyn nie. Jesus waarsku Efese dat die geestelike sement besig is om uit haar mure te val. Vandaar die opdrag: Bekeer julle. Druk die sement terug, herstel die skade en moenie wag nie!
Jesus se brief het Efese geskok. Hulle het gedink dat hulle 'n sierlike gebou in God se oë was. In sy oë was hulle bouvallig omdat opregte onderlinge liefde ontbreek het. Liefde vir Jesus en sy kinders is die barometer van 'n gemeente. Waar dit aanwesig is, verloop sake goed en oorlaai God hul met seëninge. Waar dit egter ontbreek, onttrek God sy guns van hulle en gee dit vir ander om te gebruik. Efese het nie geluister nie. Hulle was soos 'n oester met 'n kosbare pêrel in. Hul liefdeloosheid het hulle die skulp laat behou, maar die pêrel verloor!
Jesus het hul wel tyd vir herstel gegee: “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke.” Die gemeente moes tot stilstand kom, omdraai en let waarvandaan hulle gekom het. Hulle was eens duisternis (heidendom) totdat die lig van Jesus oor hulle geskyn het. Die opdrag is om na daardie tyd terug te keer en die dinge te doen wat hulle aanvanklik vir die gemeente gedoen het.
Die opdrag van Jesus was om die broederliefde aan die brand te hou; 'n opdrag vir alle gemeentes. Daar is niks wonderliker as gemeentelede wat mekaar opreg liefhet nie. “En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is” (Hand.2:46.47).
Jesus sê iets baie belangriks: Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het....” Die teenoorgestelde van onthou is vergeet. Jesus sê onthou. Satan sê vergeet. Vergeet om mekaar lief te hê. Vergeet om na mekaar om te sien. Vergeet om mekaar te verdra. Vergeet om vir Jesus te werk. Leef soos wat jy goed dink.
Het Efese onthou of vergeet? Hulle het vergeet. Dis vandag 'n ruïne-stad en die ergste van alles, deel van 'n Islamitiese land! Laat ons onthou waarvandaan ons uitgeval het en terugkeer na dit wat Jesus se wil is vir sy kerk. As ons nie gaan luister nie, kan met ons gebeur wat met Efese gebeur het!