Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God help gelowiges om hul lewenskip reg te stuur sodat dit die storms van die lewe suksesvol kan trotseer. Daarom skyn God se reënboog van genade altyd helder in hulle lewe. God gee hulle die genade om ‘n lig aan te skakel eerder as om die donker te verwens. Daarom oorweldig spanning hulle nie maklik nie.
EK HET GESTERF ! (9)
Hierdie naby-dood ervaring is in Afrikaans vertaal en neergeskryf deur Anita Joubert
Jesus was bedroef en hartseer toe ek voor Hom staan. “My mense verstaan nie dat hulle deur tattoeëermerke hulself verbind aan die koninkryk van die duisternis nie.”
My naam is Dylan en ek is 32 jaar oud. Op die middag van 8 Augustus 2025, terwyl ek besig was met liggaamsbou-oefeninge, het my lewe radikaal verander. Ek is ʼn motorwerktuigkundige en tot op daardie dag, was my lewe doodgewoon. Ek het nog altyd van die reuk van ghries gehou en die gevoel wanneer ek iets herstel het wat stukkend was, was vir my baie bevredigend.
My vrou, Lisa, is die wonderlikste mens wat ek ken. Ons het ʼn pragtige dogtertjie met die naam Chloé. Sy het sulke groot, bruin oë wat dwarsdeur ʼn mens kan kyk.
Ek is ʼn verantwoordelike mens, bekommer my oor die rekeninge wat betaal moet word, of ek ʼn goeie pa is en die vreemde geluid wat die motor maak. Ek het baie vriende, ons speel rolbal op Donderdagaande en ek het in God geglo. Ons het kerk toe gegaan op Kersdae en in die Paastyd en ek het gedink dit is heeltemal genoeg.
Op my liggaam is daar ʼn klomp tattoeëermerke. Die eerste een is ʼn simbool van een of ander stam. Dit is op my bo-arm spier aangebring en ek het dit laat doen toe ek 18 jaar oud was. Dit was baie dom van my, ek weet.
Ek het ook die kenteken van my geliefkoosde orkes gehad; ʼn groot arend op my rug wat ek saam met my pa laat doen het voordat hy oorlede is. Dan het ek Chloé se naam, in Lisa se handskrif, regoor my hart laat skryf. Hierdie tattoeëermerke was deel van my lewe en ek het nie twee keer daaroor nagedink nie.
Op daardie spesifieke dag het Lisa en Chloé gaan kruideniersware koop. Ek was in ons woonkamer besig om op een van die tuisvideo’s wat beskikbaar is, strawwe liggaamsbou-oefeninge te doen, toe dit gebeur het.
Daar was meteens ʼn warm drukking in my bors wat my asem uitgeruk het. Ek kon nie ʼn geluid uitkry nie. My knieë het geknak en ek het die mat met ʼn slag getref. Ek onthou dat ek daaraan gedink het dat ek my gereedskapkis buite in die reën vergeet het. My dogter se gesiggie het voor my oë geflits – haar laggie van daardie oggend, en toe was daar niks, net alles swart.
Die klank van die oefeninstrukteur se stem oor die televisie het weggeraak en daar was net ʼn baie diep stilte. Dit was die mees vredevolle stilte wat ek nog ooit ervaar het. Die paniekerigheid was weg, die pyn was weg, en ek het só lig gevoel. Ek het gesweef.
Ek het my oë oopgemaak – ek weet nie hoe nie, want my liggaam se oë was toe en ek het op myself neergekyk. Dit was só vreemd. Daar het ek op die ligte mat gelê met my gesig na onder. My een arm was onder my lyf ingevou. Die televisie, het steeds geblêr. Dit het my egter nie bang gemaak nie, maar eerder laat voel asof ek na ʼn film kyk.
Dit het gevoel asof ek stadig opwaarts getrek word en ek het dwarsdeur die plafon gegaan. Ek het die houtbalke gesien, die isoleermateriaal, bokant die plafon, die dakteëls, en skielik was ek bokant my huis. Ek kon die hele buurt sien, die karre wat beweeg, mense wat met hulle honde stap. Dit was alles so normaal, maar ek was nie deel daarvan nie. Ek het nie koud of warm gekry nie – ek was net daar.
Daar was ʼn sagte dreungeluid. Ek het dit nie met my ore gehoor nie, maar in my siel ervaar. Dit was ʼn klank van volkome vrede. Die wêreld onder my het begin verdwyn soos ʼn foto wat in water weggesak het. Die blou lug het in sagte fluweel verander. Dit was donker, maar in die middel van alles om my, het daar ʼn lig verskyn. Dit het soos ʼn klein, enkele ster begin, gegroei en al hoe groter geword. Dit was nie ʼn verblindende, helder lig nie. Dit was eerder ʼn verwelkomende lig. Dit het so lewendig gevoel. Ek en die lig het na mekaar toe beweeg, en hoe nader ons aan mekaar gekom het, kon ek al hoe meer die liefde daarvan ervaar.
Dit is die enigste woord waarmee ek dit kan beskryf – liefde, alhoewel dit nie voldoende is nie. Dit was ʼn liefde wat absoluut alles van my geweet het. Elke slegte gedagte wat ek ooit gehad het, elke fout wat ek ooit gemaak het, elke geheim wat ek ooit gehad het.
Hierdie liefde het my nie net aanvaar nie, maar verwelkom. Dit was ʼn gevoel asof ek tuis gekom het nadat ek vir ʼn duisend jaar lank weg was. Daar was trane in my oë, alhoewel ek geen trane gehad het nie. Ek het verligting ervaar van elke las wat ek ooit gedra het.
Toe die lig my omring, het dit vorm gekry. Dit was ʼn Man, maar Hy was van lig gemaak. Sy gesig was onbeskryflik volmaak. Dit het gevoel asof ʼn mens na die son kyk en ʼn miljoen vreugdevolle herinneringe almal gelyktydig ervaar.
Sy oë was nie ʼn kleur wat ʼn mens kan beskryf nie. Dit was gevul met vloeibare vreugde en ʼn baie diep hartseer gelyktydig. Hy het na my gekyk met ʼn liefde wat my asem weggeslaan het.
Dit was nie vir my nodig om te vra nie – ek het geweet. My hele wese het sy Naam uitgeroep: “Jesus!”
Sy stem was nie ʼn klank nie. Dit was ʼn gedagte wat in my denke opgekom het, warmer as enige klank. Dit het soos my eie pa se stem, tesame met ʼn duisend ander liefdevolle stemme almal in een, geklink.
“Welkom, Dylan. Ek het vir jou gewag.” Ek het net gehuil, want ek kon nie praat nie. Ek het nie geweet wat om te sê nie. Ek het so klein, so onwaardig gevoel. Ek het gedink aan al die kere wat ek sy Naam ydellik gebruik het – al die Sondae wat ek uit die kerk gebly het om voetbal te kyk. Die skuld wou my oorweldig, maar Hy het dit weggeneem.
Vrede het my oorspoel en Hy het vir my beduie om na myself te kyk, en ek het. Ek was ook van ʼn soort lig gemaak, maar nie so helder soos Hy nie.
Ek het na die tattoeëermerke op my arms en bors gekyk, maar hulle was weg. My geestelike vel was skoon, volmaak. Ek het ʼn volkomenheid ervaar soos wat ek nooit op aarde ervaar het nie. Ek het verward na Hom gekyk, en Hy het geweet wat ek wou vra nog voordat ek dit kon doen.
“Die stories wat jy op jou aardse liggaam geskryf het, is nie die storie van wie jy werklik is nie.” Hy het vir my gebeurtenisse van die verlede gewys – nie soos op ʼn skerm nie. Dit was eerder asof ek ín elke gebeurtenis teenwoordig was. Hy wou my iets laat verstaan wat sy volgelinge op aarde nie verstaan nie.
Eers was ek in ʼn tattoeëersalon. Dit het soos al die ander gelyk waar ek al was. Die geluid van die naald, die reuk van ontsmettingsmiddel, was bekend. ʼn Jong man van ongeveer 19 jaar was in die stoel. Die kunstenaar was besig om vir hom ʼn tattoeëermerk van ʼn grommende wolf, vol woede, te maak. Sy hart was vol woede teenoor sy vader. Hy wou vir die wêreld sy pyn wys, maar ook hoe sterk hy is.
Jesus het vir my gewys wat in die geesteswêreld gebeur. Elke keer wanneer die naald ink in sy vel geplaas het, het ek ʼn klein, rokerige, donker draad uit die beeld sien kom. Dit was dun, soos ʼn spinnekop se web, en dit het met die jongman se gees kontak gemaak. Dit was nie ʼn demoon nie, ook nie ʼn besitreg nie. Dit was ʼn geestelike band. Hy het sy liggaam, wat God se tempel moet wees, met die storie van sy woede gemerk. (1 Kor. 6:19-20) Jesus se stem was vol hartseer.
“Daardie merk gaan nou vir sy woede ʼn tuiste gee, ʼn plek om te lewe en te groei. Dit is ʼn opening wat hyself oopmaak, waarmee hy die gees van woede – innooi om vir hom te fluister, elke keer wanneer hy swak is. Hy dink dit maak hom sterk, maar dit bind hom aan sy eie pyn.” Ek sien ʼn paar tonele in die jongman se lewe in die toekoms. Ek sien hoedat hy sy humeur verloor in die verkeer. Ek sien hoedat hy in gevegte betrokke is. Ek sien hoedat hy sy verhoudings met mense na aan hom verwoes as gevolg van die woede wat gevoed word en ʼn ereplek op sy vel verkry het. Dit was hartverskeurend.
Toe het die toneel verander. Ons was êrens anders, in ʼn skoon, helder studio. ʼn Vrou, so in haar veertigs, het ʼn tattoeëermerk op haar pols gekry. Dit was mooi woorde wat sê: ‘Vir altyd in my hart’, met haar ma se datums van geboorte en dood. Haar hart was vol liefde, maar ook diep, diep hartseer.
“Dit is ʼn merk van liefde”, het Jesus gesê, “maar dit is ʼn liefde wat vasgeketting is aan aardse verlies.” Hy het vir my haar gees gewys. Die tattoeëermerk was soos ʼn klein, geestelike anker wat haar siel aan die begraafplaas vasgebind het. Dit het haar hartseer en pyn vars gehou. Elke keer wanneer sy daarna gekyk het, het sy nie net haar ma se lewe onthou nie, sy het die pyn van haar dood herleef.” Jesus het vir my gewys dat haar moeder in die hemel is, gesond en gelukkig, wagtend op haar dogter. Die dogter se verlies op aarde was egter vasgeketting aan die graf deur ʼn merk van haar eie hartseer. Daardeur maak sy dit moeiliker vir haarself om die lewe te lei wat ek vir haar gegee het. Daardeur hou sy aan om af te kyk na die stof van die aarde, in plaas daarvan om op te kyk na die belofte van hereniging. Haar rouproses word uitgerek en haar genesing stadig, omdat sy haar wond op haar eie liggaam afgeëts het.”
Ek het verstom daar gestaan en gedink aan die arend wat ek vir my pa laat doen het. Ek het gedink ek eer hom. Ek het nie besef dat dit my vasbind aan die pyn van sy afwesigheid nie.
Toe het Jesus vir my ʼn prentjie gewys wat my die heel meeste geskok het. ʼn Jong vrou, vol passie in haar geloof, kry ʼn groot, oordrewe versierde kruis op haar rug getattoeëer. Sy was só trots. Sy het vir die kunstenaar vertel hoedat sy graag ʼn lewende getuigskrif vir Jesus wil wees. Ek het gedink: “Hierdie een is seker reg, nie waar nie?”
Jesus het na my gekyk en sy oë was vol deernis. “My kind, my kind!” Sy gedagte het deur my weerklink. “Dink hulle werklik dat my merk op hulle harte nie voldoende is nie?” Hy het vir my die geestelike werklikheid gewys. Wanneer die kruis op haar vel geteken is, dan word dit die middelpunt van haar trots. Hy het vir my haar toekoms gewys. Sy sou spog met haar kruismerk by kerkbyeenkomste. Sy sou belangrik en verhewe voel bo Christene wat dit nie het nie. Dieselfde simbool wat bedoel is om nederigheid en ʼn baie groot offer te verteenwoordig, word nou ʼn teken van godsdienstige trots.
“Ek het julle nie gevra om my Naam op julle velle in te sny nie.” Jesus se stem het met ʼn diep waarheid weerklink. “Ek vra dat julle my Naam op julle harte insny. Die vyand kan nie die merk op julle harte sien nie, maar hy sien dit op die vel. Daarom gebruik hy dit. Hy sal vir haar fluister: “Kyk net hoe groot is jou offer en jou toewyding.” Later vertrou sy haar simbool meer as haar Redder. Dit word ʼn godsdienstige afgod – iets wat sy vir haar eie glorie dra, en nie vir myne nie.”
My hele innerlike het gebewe. Dit het alles soveel sin gemaak.
Uiteindelik het Jesus my eie lewe vir my gewys. Toe ek 18 jaar oud was, het ek die simbool van die stam gekry. Ek ervaar weer die arrogansie en rebelsheid in my hart wat ek daardie dag ervaar het. Ek wou “cool” lyk. Ek wou my ouers uittart. Jesus het vir my gewys dat ʼn klein weerkaatsing van daardie gees van rebelsheid ʼn plek om te bly, op my arm gekry het vir al hierdie jare.
Hy het vir my die merk van my geliefkoosde orkes gewys – hoe dit my aan die wêreldse trots verbind het, aan die leë kultuur van die tyd waarin ons leef, naamlik roem en eer en belangrikheid. Dit was nie ʼn vreeslike sonde nie maar dit was ʼn band, ʼn anker wat my vasgebind het aan dinge wat geen ewigheidwaarde het nie.
Toe het Hy vir my Chloé se naam gewys wat oor my hart geskryf is. “Jy het jou dogter baie lief,” het Hy gesê. Op daardie oomblik was my liefde vir haar oorweldigend. “Dit is goed, maar jou volkome identiteit lê in My. Díé Een wat jou en jou dogter geskep het en vir julle redding verantwoordelik is, moet jou eerste liefde wees. Deur haar naam oor jou hart te skryf, het jy van haar die wag oor jou hart gemaak. Dit is nét Ek wat werklik jou hart kan bewaar.
Ek het finaal besef dat dit nie oor die ink van die merke gegaan het nie. Dit het ook nie gegaan oor reëls in boeke nie. Dit gaan oor ons gees, oor vryheid. Elke merk wat verkry is in woede, hartseer of misplaasde toewyding, was ʼn klein draadjie wat ons onsterflike gees aan ʼn tydelike gevoel, emosie of identiteit vasbind. God het ons geskep om vry te wees, om ten volle aan Hom te behoort. Ons ketting onsself onwetend aan hierdie wêreld en aan ons pynlike stories, vas.
“Jou liggaam is ʼn tempel, Dylan, nie omdat dit ʼn heilige gebou is nie, maar omdat dit bedoel is vir my Heilige Gees om in te woon. Hierdie merke is ʼn gekrap teen die mure van my tempel. Dit is menslike stories, nie God se stories nie. My storie is ʼn storie van verlossing. Dit is nie met ink geskryf nie, maar met die bloed wat Ek vir jou gestort het. Dit is die enigste merk wat jy ooit nodig sou hê.”
Ek het op my knieë in die lig neergeval, maar daar was geen vloer nie. Ek het net in sy teenwoordigheid gekniel. “Ek is só jammer,” het ek gefluister. “Ek het nie geweet nie.”
“Dit is waarom jy moet teruggaan.” Die woorde het my soos ʼn fisiese hou getref. Moet ek teruggaan na ʼn wêreld van pyn, geraas, rekeninge en gebroke dinge?
Ek het na sy gesig gekyk en my huis gesien. “Nee, ek smeek U! Moet my asseblief nie laat gaan nie. Ek wil hier by U bly. Asseblief.”
Ek het weer begin huil. My hart was stukkend. Dit voel so goed hier. Die liefde is so volkome en volmaak. Om terug te gaan, sal voel soos om ʼn tweede keer te sterf. Hy het nader gekom. Die lig wat Hy uitgestraal het, was heerlik warm. Hy het sy hand op my skouers gesit: “Jou werk is nog nie klaar nie. Baie van my kinders is in kettings en hulle weet dit nie eers nie. Hulle dink hulle versier die tempel, terwyl hulle eintlik sy deure van binne-af toesluit. Jy het die waarheid gesien. Jy moet hulle gaan waarsku.”
Jesus het ʼn rukkie stilgebly sodat die woorde kon insink. Gaan vertel hulle asseblief – nie met oordeel nie, maar met die liefde wat jy hier ervaar het. Sê vir hulle dit gaan nie oor ʼn skande nie, maar oor vryheid. Gaan sê vir hulle hulle moet hul met ink-gemerkte en beskilderde liggame, na My toe bring. Hulle moet hulle stories van woede, hartseer en trots bring en Ek sal ʼn nuwe werk in hulle begin deur ʼn nuwe storie op hulle harte te skryf. Ek sal hulle heelmaak – van binne af buite toe.
Jesus het vorentoe geleun en iets gesê wat net vir my bedoel was. “Lisa en Chloé het jou nodig, Dylan. Jou storie saam met hulle is nie verby nie. Gaan terug en gee aan hulle die liefde wat Ek hier vir jou gewys het. Gaan wees vir haar ʼn vader wat sy dogter na haar hemelse Vader toe wys.”
Toe Jesus hulle name noem, het dit soos ʼn skerp, maar baie mooi, erge pyn gevoel. Ek het Chloé se gesiggie gesien, haar groot bruin oë. Ek het Lisa se glimlag gesien. Die liefde wat ek vir hulle gevoel het, het in my borskas geswel. Ek het geweet dat Jesus reg is.
“Ek wil nie van U af weggaan nie,” het ek gesnik. “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie,” het Hy belowe. Ek sal by jou wees. Gaan nou.”
Met daardie woorde het ek gevoel soos wanneer ʼn rustige rivier skielik in ʼn bruisende waterval verander, en my wegtrek van die lig af. Ek het myself probeer teësit, maar ek kon nie. Die donkerte het my ingesluk en die vrede is vervang met ʼn gevoel asof ek ontsettend vinnig val. ʼn Weerligstraal het deur elke sel in my liggaam geskiet. Daar was ʼn intense pyn in my kop en ek het ʼn diep asemteug gegee wat in my longe gebrand het. My borskas het gevoel asof ʼn groot trok daarop geparkeer het.
“Ons het ʼn pols! Ons het hom terug!” My oë het oopgegaan en die plafon was spierwit. Daar was gesigte bokant my. Mense in blou uniforms. ʼn Suurstofmasker was oor my gesig gebind en die klank om my was ʼn mengelmoes van die gebieb van masjiene en ontstelde stemme. “Dylan, kan jy my hoor? Jy het ʼn massiewe hartaanval gehad. Jy was weg vir ʼn rukkie.” Ek het vir Lisa uit die hoek van my oog gesien. Haar gesig was bleek, haar oë vol trane. Sy het haar foon in haar hand gehad – seker nog soos wat sy hulp ontbied het.
Ons oë het ontmoet. Die verligting het oor haar gesig gespoel en dit was ʼn prentjie wat ek nooit sal vergeet nie. Ek was nog ʼn hele ruk in die hospitaal. Die dokters was oorbluf. Hulle het woorde gebruik soos ‘wonderwerk’, ‘medies onverklaarbaar.’
Hulle het vir Lisa gesê dat ek dood was vir meer as 7 minute – geen pols, geen asemhaling nie. Hulle het gesê dat ek, volgens hulle berekeninge, ernstige breinskade moes hê. Ek het dit nie net oorleef nie, ek was honderd persent normaal. My hart het skade gehad, maar my verstand was meer helder as ooit vantevore.
Ek het probeer om vir ʼn dokter te vertel wat gebeur het, maar hy het net beleefd geglimlag en iets neergeskryf op sy knyperbord. Heelwaarskynlik dat ek hallusineer as gevolg van gebrek aan suurstof. Ek het egter geweet dat dit meer eg was as die hospitaalbed waarin ek gelê het.
Nou is ek hier, en ek weet dit klink soos malligheid, maar ek kan nie stilbly nie. Wat ek gesien het, kan ek nie vir myself hou nie. Ek het nog steeds my tattoeëermerke. Ek kyk elke dag in die spieël daarna, maar hulle lyk nie meer vir my dieselfde as voorheen nie. Dit is nie meer ʼn mooi ontwerp vir my, of ʼn herinnering aan my pa nie. Ek sien net ʼn storie wat nie ooreenstem met dié een wat God vir my wil skryf nie. Ek sê nie vir julle dat julle die tattoeëermerke op julle liggame moet laat verwyder nie. Ek veroordeel niemand nie, want dit is nie wat Jesus gesê het wat ek moet doen nie. Hy het vir my gesê om sy liefde met ander te deel. Hy het gesê dat ek vir julle moet vertel van vryheid. Al wat ek vra is dat julle na die tatoeëermerke op julle liggame sal kyk en julleself eerlik afvra: “Wat is die storie daaragter?”
Het jy dit laat doen in woede, pyn, trots of ʼn poging om in te pas. Selfs al het jy dit met ʼn goeie bedoeling laat doen, kan dit ʼn deel van jou aan hierdie wêreld en hierdie lewe vasbind. Is dit vir jou ʼn herinnering aan ʼn godsdienstige simbool, of herinner dit jou aan ʼn lewende God wat jou liefhet?
Bring jou storie na Jesus toe in jou gebede. Vertel vir Hom waarom jy dit laat doen het en gee dit vir Hom. Vra Hom om jou vry te maak, sodat jy nie meer aan daardie storie vashou nie. Vra Jesus om sy storie op jou hart te skryf. Sy storie is een van genade, onsigbaar vir die wêreld, maar dis is ʼn storie wat jou volkome vry maak. Dit is die enigste merk wat saakmaak – die merk van sy liefde en genade vir jou.
God het sy mense gewaarsku: “Julle mag nie heidense rougebruike navolg deur snye en tattoeëermerke op julle liggame te maak nie.” (Lev. 19:28)