Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Net ‘n huigelaar bid vir ‘n lang lewe maar vrees die ouderdom. Moenie sê: “Nou is ek oud” nie. Sê liewer: “Ek het ‘n lewe wat nooit gaan ophou nie”.
EK HET GESTERF! (6)
Hierdie naby-dood ervaring is in Afrikaans vertaal en neergeskryf deur
Anita Joubert
Toe ek voor Jesus staan, het Hy vir my gesê: “Jy het vrede gesoek op plekke waar daar geen vrede is nie – in jogaklasse en meditasie. Hierdie gebruike is nie neutraal nie. Dit is openinge vir die koninkryk van die duisternis, en miljoene mense word daardeur mislei.”
My naam is Rachel Monroe, en as jy my ʼn jaar gelede ontmoet het, sou jy gedink het dat ek ʼn toonbeeld van balans is – geestelik sowel as liggaamlik. Ek was toe 41 jaar oud, ʼn eggenote, ʼn moeder van twee tienermeisies en ʼn gekwalifiseerde fiksheidsinstruktrise wat ʼn florerende aanlynbesigheid opgebou het deur vroue te leer hoe om hulle geloof, fiksheid en verstandelike skerpheid te kombineer. Ek was lief vir Jesus, of so het ek gedink. Ek het gedink dat ek ander mense help om nader aan Hom te kom deur vir hulle heilige, holistiese lewenswyses te leer. Alles het so reg gelyk en geklink. Ek het duisende volgelinge op sosiale media gehad, ʼn kerk wat my bediening ondersteun het en ʼn huwelik, alhoewel nie perfek nie, maar wat stabiel genoeg was. Mense het my om raad kom vra oor die hantering van spanning en selfs ʼn dieper geestelike verhouding met die Here. Vrouens het my beny omdat dit gelyk het of ek alles onder beheer het.
Tog het ek, agter al die plasings op sosiale media en praatjies by groot byeenkomste, krake in my siel gehad wat geen joga of meditasie kon heelmaak nie. Die krake het gewys op maniere wat ek nie kon ignoreer nie.
My man, James, was ʼn ingenieur. Hy was logies-denkend – iemand wat feite bo gevoelens verkies het. Vir jare het hy my gesondheidsbesigheid ondersteun, selfs vir my ʼn logo help ontwerp. Toe ek egter met die jogaklasse by ons kerk begin het, was James ongemaklik daarmee. Hy het my een aand by ons kombuistafel laat sit en gevra: “Rachel, weet jy dat die posisies van jou jogabeoefening nie onskuldig is nie? Dit is aanbidding van afgode.”
Ek het sy bekommernis weggelag: “James, dit is net oefening. Almal doen dit, en ek leer die mense anders. Ek bid voor elke sessie. Ek vervang die chanting met Bybelverse. Ek noem dit Christenjoga.” James het nie geglimlag nie, maar net na my gestaar met so ʼn ernstige gesig dat dit my benoud gemaak het.
“Jy kan dit noem wat jy wil – die wortels bly dieselfde. Jy open deure wat jy nie verstaan nie.” Ek kon sy woorde nie verdra nie, want dit het my ontstel. Ek het my ongemak begrawe deur meer artikels te lees oor die voordele van joga. Wetenskap kan tog nie lieg nie. Ek het alles in Christentaal toegedraai; dit kan tog nie gevaarlik wees nie.
Die kloof tussen my en James het al hoe breër geword. Elke nuwe advertensie wat ek geplaas het met ʼn foto van myself in ʼn jogaposisie met ʼn teksvers by, het James al hoe stiller laat word. Wat as ʼn meningsverskil begin het, het tot ʼn harde wantroue gegroei.
Die spanning het my ook in ons kerkverhoudings agtervolg. Ons pastoor was ʼn gawe, maar versigtige man. Hy het lidmate aangemoedig om bedieninge in die gemeente te begin en sodoende hulle gawes te gebruik. Toe ek hom genader het met die versoek om ʼn groepie by die kerk te begin waar mense oor die Woord kon mediteer, het ek verwag dat hy opgewonde sou wees. In plaas daarvan het hy gehuiwer. “Watter soort meditasie praat ons van?” het hy gevra.
“Die goeie soort,” het ek vinnig met ʼn geforseerde glimlag geantwoord. “Om denke stil te maak, op God se teenwoordigheid te fokus. Ek het selfs asemhalingsoefeninge geskryf wat met Psalms gekombineer word.”
Pastoor Williams het teruggesit in sy stoel, bekommernis duidelik sigbaar op sy gesig. “Rachel, ek moet baie versigtig wees. Meditasie wat van Oosterse gelowe afkomstig is, is nie skadelose ontspanning nie. Die Bybel praat wel daarvan dat ons oor God se Woord moet mediteer, maar om jou gedagtes skoon te maak, te chant, is openinge vir die koninkryk van die duisternis. Is jy seker jy vermeng nie dinge wat nie bymekaar hoort nie?”
Ek het aggressief en beledig gevoel. “Ek help vroue om met God kontak te maak. Mense is deesdae so gespanne en angstig. Is dit nie beter dat hulle hierheen kom in plaas daarvan om na die wêreld toe te gaan daarmee nie?’
Hy het nie verder geargumenteer nie, maar sy stilswye het boekdele gespreek. Sommige kerklidmate het gretig aangemeld, ander het waarskuwings gefluister dat ek met vuur speel. Ek het beleefd geglimlag, maar hulle misnoeë het my gegrief. As James en die pastoor my dan nie wil aanmoedig nie, dan het die internet dit ten minste gedoen.
My sosiale media-gevolg het ontplof nadat ek video’s geplaas het van die joga-oefening gekombineer met inspirerende Bybelverse. Vroue het van oraloor vir my boodskappe gestuur en vertel hoe kalm, gelukkig en geestelik hulle voel.
“Jy is ʼn lig,” het een vrou geskryf en ek het gevoel dat ek uiteindelik vir Jesus, tesame met vrede, het. Elke like, share en stukkie kommentaar het vir my soos brandstof gevoel.
Wanneer dit egter stil geword het om my, was ek rusteloos, my gebede vlak en kragteloos, my Bybellees meganies.
Een aand, na ʼn lewendig-gestroomde oefensessie, het ek op ons slaapkamervloer in trane neergesak. James het my daar gekry waar ek al rukkende opgekrul gelê het.
“Rachel,” het hy gefluister, terwyl hy langs my gekniel het. “Waarom is jy steeds so angstig as al hierdie dinge veronderstel is om vir jou vrede te gee?”
Ek kon hom nie antwoord nie. Dit was ironies. Alles wat ek gedoen en aan ander geleer het, was bedoel om spanning te verlig. Tog het my paniekaanvalle al meer geword. Soms het dit my selfs gedurende ʼn klas getref.
Op ʼn keer het ek ʼn groep vroue deur diep asemhalingsoefeninge gelei, toe my eie asemhaling skielik gestop het. My hart het gefladder soos ʼn vasgekeerde voël. Ek het dit probeer wegsteek, geglimlag deur die vrees, probeer om beheer te behou totdat ons klaar was. By my tuiskoms, het ek verkrummel. Ek was alleen en het myself oortuig dat ek net moeg was.
Ek is toe genooi om een naweek by ʼn vroue-wegbreek te praat. Dit was ʼn naweek wat bedoel was vir vroue om te rus, nuwe energie te kry en kontak met God te maak. Die organiseerders het my gevra om die oggendsessies te lei, en natuurlik het ek joga en meditasie as onderwerp gekies. Die kamer was warm, die lug gevul met ʼn laventelgeur en sagte, instrumentale musiek het gespeel. Dertig vroue het met geslote oë op hulle matte gesit, hulle hande op hul knieë, terwyl ek hulle deur asemhaling en visualisering gelei het.
“Maak julle gedagtes leeg”, het ek gefluister. “Laat elke gedagte gaan. Maak jouself oop vir vrede.”
Terwyl ek gepraat het, het ek ʼn vreemde duiseligheid ervaar en ʼn drukking op my bors. My stem was onduidelik, maar niemand het iets agtergekom nie. Die kamer het vinnig begin draai en ek het op die vloer neergeval. Duisternis het my oorweldig en op daardie oomblik het ek besef dat ek nie meer op ʼn jogamat lê nie, maar in ʼn uitgestrekte ruimte staan wat met waarheid gevul was.
Toe het ek Hom gesien – vir Jesus. Hy was nie die saggeaarde Persoon soos wat die prentjies in die Sondagskoolboeke Hom voorstel nie. Hy was skitterend, sy oë soos vuur, sy gesig so blink met heerlikheid dat ek op my knieë neergeval het, sonder om ʼn woord te sê. “Rachel” het Hy gesê: “Jy het vrede gesoek waar daar geen vrede bestaan nie.” My hart het gebons en ek wou protesteer, verduidelik dat alles in sy Naam toegedraai is – al die Bybelverse; hoe al die meditasie Christelik geklink het.
Hy het egter sy hand gelig en wat ek gesien het, het my laat snak na asem. Miljoene Christene, mans en vrouens, in kerkklere met Bybels in die hand, sing aanbiddingsliedere. Tog kniel hulle in joga-posisies, dreunsing slagspreuke, iets wat uit Oosterse godsdienste kom, maar in Bybelverse verbloem word. Hulle het gedink dit is skadeloos. Ek het hulle sien mediteer met leë gedagtes, gedink hulle rus in God, maar in werklikheid maak hulle hulself oop vir die duisternis. Agter hulle het die skaduwees, versigtig maar gevaarlik, vir hulle leuens gefluister oor vrede terwyl hulle siele in kettings gebind word.
“Hierdie praktyke,” het Jesus met hartseer in sy stem gesê, is nie neutraal nie. Dit maak die deur vir die koninkryk van die duisternis oop, omdat dit uit die afgodsaanbidding kom. Miljoene van my mense is mislei. Hy het reguit na my gekyk: “So is jy ook.”
Toe Jesus weer sy hand lig, het alles rondom my geskuif. Ek was nou in ʼn skitterende ruimte op die rantjie van ʼn groot, oop area. Miljoene mense, mans, vroue en tieners, het met gekruisde bene op matte gesit met toe oë en oop handpalms. Sommige het kristalle vasgehou, ander Bybelverse op hulle hemde en bloese. By die eerste blik het hulle rustig gelyk, so asof hulle die sleutel tot vrede ontdek het.
Jesus het my oë aangeraak en die illusie het gekraak. Hulle was almal gebind met bande om hulle borskaste en koppe. Aanvanklik liggies, maar met elke asemhaling het die bande dikker geword. Onsigbare kettings was hoorbaar, terwyl donker skadufigure agter hulle gekniel en woorde gefluister het soos: “Laat gaan die waarheid. Maak jouself leeg. Jy is genoeg.”
Ek het verstom gestaan. “Here, hulle dink dat hulle rus. Hulle dink dit is vrede.”
Jesus se stem het swaar van verdriet, soos donderweer geklink. “Vrede lê nie in leegheid nie, Rachel. Vrede is by My te vinde. Wat jy sien, is nie vrede nie. Dit is ʼn susmiddel. Dit verdof die pyn vir ʼn rukkie, maar maak dit nie gesond nie. My mense verruil my vrede vir ʼn namaaksel wat hulle vasbind.”
Jesus wys vir my twee vroue langs mekaar. Een kniel by haar bed en fluister in trane, “Here, ek het U nodig.” Daar skyn so ʼn helder lig om haar dat geen donker skadu dit naby haar waag nie.
Die ander vrou sit met gekruisde bene, herhaal aanhoudend: “Ek laat gaan, ek laat gaan.” Haar Bybel lê toe langs haar. ʼn Misleidende kalmte omring haar, maar bokant haar draai ʼn donker rookwolkie soos ʼn spiraal op, ongemerk.
“Dit is die verskil,” het Jesus gesê. “Die een mediteer oor my Woorde, die ander oor niks. En niks is ooit neutraal. Dit is ʼn oop deur vir die duisternis.”
Die grond onder die mediterende massa mense bewe meteens en die kalmte versplinter soos dun ys. Ek sien hoedat ontelbare aantal siele die ewigheid in glip – ʼn ewigheid sonder God. Ek het geween.
“Here, hoe kan hulle gered word?” Sy oë het in myne gekyk. “Vertel vir hulle die waarheid. Vrede is nie ʼn metode nie. Dit is nie die afwesigheid van ʼn gedagte nie. Vrede is my Teenwoordigheid. Dit is die vrede wat alle verstand te bowe gaan en oor julle harte en gedagtes die wag hou.” (Fil. 4:7)
Sy woorde het in my siel gebrand, al die jare van leuens ontbloot. Ek het vrede verkoop asof dit ʼn formule is. Op daardie oomblik het ek geweet dat vrede nie iets is wat ek vir ander kan leer nie. Dit is Iemand wat mense moet leer ken.
Die visioen het weer verander en ek het myself binne in ʼn joga-studio bevind. Sagte ligte, flikkerende kerse, rustige musiek. Vrouens het op hulle matte uitgestrek gelê, hulle bewegings was grasieus, met stadige asemhaling. Vir enigeen wat verbyloop, lyk dit onskuldig, selfs gesond.
Maar toe Jesus sy hand lig, het die sluier ook gelig en elke skadu agter elke joga-posisie was sigbaar. Die soldate-posisie openbaar die figuur van ʼn vals oorlogsgod. Die kind-posisie wat vooroor buk, openbaar die godin van vrugbaarheid. Die son se begroetinge laat ʼn vlammende afgod van die hemele verskyn. Wat ek as net oefeninge beskou het, se wortels was in aanbidding van afgode geleë.
Ek het gesteier. “Here, maar ek het voor my klasse gebid, die Bybelverse gebruik. Het dit nie die afgode gekeer nie?”
Jesus het my deurdringend aangekyk. “Jy kan nie dinge heilig maak wat Ek nie heilig verklaar het nie. My Naam is nie ʼn plakkertjie wat bo-oor afgodery geplak kan word nie.”
Sy Woorde het my diep getref. Ek het onthou hoedat ek die vroue van ons kerk daarin gelei het. Moenie bekommerd wees nie, dit is Christen-joga. Hulle het my vertrou, terwyl donker magte vir hulle leuens gefluister het.
Ek het op my knieë geval. “Here, ek het gedink dat ek hulle help.” Jesus het met hartseer, maar ook outoriteit gepraat. “My mense kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van bose geeste nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van bose geeste nie.” (1 Kor. 10:21)
Jesus het my nog iets gewys: Een prentjie van ʼn vrou wat draf om fiks te word. Sy fluister gebede sover as wat sy gaan. Lig omring haar. ʼn Ander prentjie van ʼn vrou wat in ʼn joga-posisie sit en dink dat sy net strek, maar haar liggaam buig onwetend in afgodsaanbidding en die skadu’s versamel naby haar.
Jesus het teruggedraai na my toe. “Oefening is goed. Ek gee aan julle liggame krag en asem, maar bewegings wat afgode aanbid, is besoedel. Die vraag is nie of jy aanbid nie, maar wie jy aanbid.”
Romeine 12:1 het in my gedagtes opgekom. “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.”
Ek het inmekaar gekrimp van hartseer en skuldgevoel. Jesus se stem, alhoewel streng, was ook genadig. “Ek wys dit nie vir jou om jou te oordeel nie, maar om jou te stuur. Gaan waarsku hulle, Rachel. Vertel vir hulle dat hulle liggame aan My behoort, nie aan afgode wat vermom is as fiksheid nie.”
Ek het skielik binne in kerke gestaan – nie tempels van ander gode nie. Ek het gesien hoedat mense in stilte sit met toe oë, stadig asemhaal, leiers met kalm stemme sê: “Maak leeg julle gedagtes.” Dit lyk en klink só geestelik, maar Jesus het gesê: “Kyk mooi.”
Ek het die geesteswêreld gesien en my maag het op ʼn knop getrek. Oor hierdie mense was daar geen glans van God se Gees nie. Die stilte het ʼn vakuum veroorsaak. Fluisteringe, sag en misleidend, was hoorbaar. “Jy het nie woorde of Skrifgedeeltes nodig nie. Rus in jouself.” Die mense het geglimlag, gedink hulle beweeg nader na God toe. Hulle stilte was nie kommunikasie nie. Dit was afwesigheid.
“Here, het ek bewend gevra, “Is stilte dan nie goed nie. Die Bybel sê dan: ‘Wees stil en erken dat Ek God is.’ ”
Jesus het ferm geantwoord. “Ja, maar stilte is nie die doel nie; om My te ken is. My Woord roep my mense op om te mediteer, nie oor niks nie, maar oor my Wet, dag en nag.”
Nog twee tonele het voor my verskyn. Die een ʼn vrou wat by haar bed kniel, met haar Bybel oop. Sy is fluisterend in gebed: “Here, ek weet nie hoe om te bid nie, help my asseblief.” Rondom haar sweef skitterende engele wat haar brose gebed bewaar.
Aan die ander kant het ek ʼn man gesien sit, gekruisde bene, oop handpalms. Hy het herhaal: “Ek laat gaan. Ek is genoeg.” Hy lyk kalm, maar donker skadu’s sweef om hom, al fluisterende.
Jesus het na albei gewys. “Een is swak, maar haar swakheid word deur my krag bedek. Die ander een is vol selfvertroue, maar sy stilte word gevul met homself, nie deur My nie.
“Jy het gebed met tegnieke vervang. Jy het vir vroue vertel om hul asem uit te blaas, in plaas daarvan om te huil. Jy het vir hulle stilte, in plaas van die Bybel geleer, metodes in plaas van wie Ek is.”
Die waarheid was onbetwisbaar. My Christelike meditasie het nie mense nader aan God gebring nie. Dit het Hom vervang.
Jesus se stem het hartseer en dringend tegelyk geklink: “Leegheid is nie kommunikasie nie. Ware gebed is eerlik, ontbloot alles wat lelik en mooi is, dit is gevul met my Woord en teenwoordigheid. Enigiets anders is ʼn namaaksel.”
Die visioen van die massa mense met hul gekruisde bene vervaag, en skielik staan ek alleen, of so het ek gedink. Jesus kyk na my met vlammende oë wat elke masker wat ek ooit gedra het, verbrand. Ek wou wegkruip, maar daar was geen plek waarheen ek kon gaan nie.
“Rachel” het Hy gesê: “Jy het ander gemaan om hulle gedagtes te laat gaan, maar jy het nooit jou trots laat vaar nie. Jy het vir almal van vrede geleer, maar dit nooit self ervaar nie. Weet jy waarom?”
Voordat ek nog kon antwoord, het tonele uit my lewe voor my afgespeel. Ek sien myself by die kombuistafel waar ek na James hap omdat hy die joga bevraagteken het. Ek het dit verdedig, my woorde was mooi gepoleer, maar my motief was trots. Ek wou eerder reg wees, as wat ek heilig wou wees.
Ek het myself in pastoor Williams se kantoor gesien. Hy het ongemaklik gelyk, maar ek het net harder gedruk. Ek het hom in toestemming in gemanipuleer. My glimlag was vriendelik, maar my hart was koppig. My bediening was vir my meer werd as die waarheid.
Toe het ek my plasings op die sosiale media-blaaie gesien, een na die ander – elegante poserings met Bybelverse daaroor versprei. Ek het die likes, die kommentaar en die toejuiging gesien. Dit het my daardie tyd so ʼn warm gevoel gegee.
Onder dit het ek die kettings gesien – hoedat ek goedkeuring meer begeer het as vir God. Uiteindelik het ek die alleennagte gesien, my beklemde bors gedurende die paniekaanvalle. In plaas daarvan dat ek op my knieë neergeval het in oorgawe, het ek asemhalingstegnieke beoefen. In plaas daarvan dat ek uitgeroep het: “Here, help my, red my!” het ek spreuke van selfbeheersing gefluister. Ek het metodes bo oorgawe gekies.
Ek het neergeval en desperaat gehuil. “Here, ek het gedink dat ek U dien. Ek het gedink ek help mense.”
Jesus het by my gekniel, sy hand met ʼn litteken op die pols, het my ken opgelig. Sy oë was vol geregtigheid, maar ook vol genade. “Jy het vrede, goedkeuring en genesing, alles gesoek sonder My. Dit is afgodediens, Rachel. Afgodediens in Christelike Taal.” Sy woorde het my deurdring. Ek het altyd gedink afgodery is beelde en vals godsdienste. Nou sien ek dat ʼn afgod enigiets is waarheen ʼn mens hardloop om dit te kry wat God ons kan bied.
Jesus se stem het sag geword. “Ek het jou steeds lief en dit is waarom Ek jou alles wys, nie om jou te veroordeel nie, maar om jou terug te roep. Miljoene mense loop dieselfde pad as jy. Gaan waarsku hulle. Ontbloot hierdie leuen. Vertel vir hulle vrede sonder My, is geen vrede nie.”
Hy het sy hand gelig. “Rachel, Ek is jou vrede, jou rus. Ek is genoeg. Sal jy alles los en my volg?”
Al wat ek kon doen was om in trane te fluister: “Ja, Here. Ja.” Op daardie oomblik het al die visioene vervaag, maar sy finale woorde het in my siel weerklink: “Vrede is nie iets wat jy skep nie. Dit is Iemand aan wie jy oorgee. Gaan vertel dit vir hulle.”
Toe ek in die hospitaal wakker geword het, was my liggaam swak, maar my gees brandend.
James het langs my gesit met sy oë vol trane. “Rachel, jy was weg. Jou hart het gestaan.” Hy het my hand vasgegryp.
“Ek het vir Jesus gesien, James. Hy het vir my die waarheid oor joga en meditasie gewys.”
Nadat ek tuis gekom het, het ek die keuse gemaak wat baie mense geskok het. Ek het my hele gesondheidsbesigheid gesluit, my joga-video’s verwyder, al my praatjies gekanselleer en ʼn aanlyn-belydenis gedoen.
Ek het geskryf: “Ek het myself en ander mislei deur joga en meditasie in Christelike taal toe te draai. Jesus het vir my gewys dat dit nie neutrale praktyke is nie, maar openinge vir afgodsdiens. As jy my lering vertrou het, vergewe my asseblief. Ek bely dit en smeek jou om ten volle na Christus toe te draai vir vrede.”
Die reaksie was oorweldigend. Sommige het my toegejuig, ander het gesê dat hulle ongemaklik gevoel het, maar nie geweet het waarom nie. Ander het my bespot en melodramaties genoem, wetties, selfs gebreinspoel. My volgeling-getalle het dramaties gedaal, my borgskappe het oornag verdwyn. Tog, vir die eerste keer in my lewe, het ek vry gevoel, waarlik vry. Ek het vir pastoor Williams om vergifnis gevra, met trane in my oë vir die vrouegroep die waarheid vertel. “Jesus het my teruggeroep. Wil julle saam met my kom?”
Sommige het gehuil en bely, ander was kwaad en het uitgeloop. Saam met die verdeeldheid het ook herlewing gekom. Die kragtigste daarvan was in my familie. My oudste dogter het een aand gesê: “Ma, jy weet, ek het altyd gedink dat jy meer begaan is oor jou volgelinge as oor ons. Maar nou is jy anders, eg.”
Haar woorde was meer werd as enige kontrak wat ek verloor het. Ek reis nie meer as ʼn gesondheidsafrigter nie, maar as ʼn getuie. Ek vertel in kerke, kleingroepe – soms kry ek goedkeuring en soms kry ek weerstand.
Joga en meditasie is nie paaie na God toe nie – Jesus is.
Ek is nie meer bekend en populêr nie, maar ek is getrou, en dit is genoeg.
Die dokters noem dit ʼn wonderwerk, want ek moes eintlik breinskade gehad het, maar ek het met my volle geheue en helderheid bygekom.
Tuis is die jogamatte weggegooi en in die plek daarvan het ʼn oop Bybel en familiegebed gekom.
Ons huwelik het geleidelik herstel en my dogters het geleer dat hulle ma meer begaan is oor gehoorsaamheid as oor voorkoms.
My liggaam dra nog die letsel van die binne-aarse naald, maar my siel dra die teken van vuur – die vuur van waarskuwing.
“Julle mag nie die Here julle God nie dien op die manier waarop hulle hul gode dien nie, want wat hierdie nasies doen, is afskuwelik vir die Here.” (Deut.12:31)