Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Niks is so vernietigend as om nie te kan vergewe nie. As jy die skerp klip van wrok en haat in jou hart dra sal jy bedruk en magteloos voel. Om te vergewe is 'n vorm van kreatiwiteit. En dat jy kán vergewe, is genade, die bewys van oorwinning – oor die vlees, groter as alle ander soorte oorwinnings!
VOLKSVERRAAIERS WAS DAAR ALTYD (4)
BRAM FISCHER
...KOMMUNIS, ATEÏS, OPPORTUNIS, BOMPLANTER EN VOLKSVERRAAIER
Fischer se finale verhoor
In Clingman se werk word Fischer geprojekteer as 'n beteuterde, gefrustreerde, platsakmannetjie wat deur sy kamerade wat knus in Londen weggekruip het, versaak is en wat, versteek agter 'n mombakkies, en met hoofsaaklik die bystand van 'n groepie bang vrouens (teen die einde het hy dit selfs oorweeg om sy dogter, Ilse, deeglik bewus van die gevare wat dit vir haar sou inhou, te betrek as lid van die Sentrale Komitee van die party), probeer het om die Kommunistiese Party weer in Suid-Afrika op dreef te kry. 'n Patetiese prentjie, om die minste daarvan te sê.
Volgens Pike se boek, daarenteen, is Fischer deur die polisie, wat tot op die datum van sy herarrestasie bykans 'n volle jaar regdeur die land na hom gesoek het, steeds beskou as die gevaarlike Kommunis wat die vermoë gehad het om die regering met wapengeweld te laat oorneem. Derhalwe is daar dan ook 21 polisiebeamptes onder die bevel van 'n kolonel gestuur om Fischer in hegtenis te neem. Party van hulle het in bosse en op 'n huis se dak in die omgewing geskuil om seker te maak dat Fischer (en wie ook al by hom was om hom te beskerm) nie kon wegkom of teenstand sou kon bied nie.
Die prokureur-generaal het klaarblyklik die polisie se evaluasie van Fischer as landsgevaarlike Kommunis gedeel, te oordeel na die aard en omvang van die aanklagte wat teen hom ingebring is — aanklagte wat selfs kon lei tot die doodvonnis of gevangenisstraf vir die res van sy lewe. Dit is duidelik dat Fischer tot op daardie tydstip betreklik sagkens deur die owerheid behandel is — moontlik omdat hulle nie graag ou koeie uit die sloot wou grawe nie, moontlik omdat hulle gehoop het dat die swaar vonnisse wat in die Rivoniasaak op die geswore terroris Mandela en sy meelopers gelê is, Fischer sou beweeg om sy weë te verander, of moontlik bloot omdat mense nie regtig kon glo dat 'n fyn beskaafde en gesiene Afrikaner soos hy wapengeweld met Kommunistiese hulp teen sy land sou beplan nie. Hoewel die owerheid minstens reeds tydens die Rivonia-verhoor moes besef het dat Fischer self by Operation Mayibuye betrokke was, het hulle (so wil dit voorkom) hul oë daarvoor gesluit en hom aanvanklik, soos reeds tevore genoem, slegs van oortredings van die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme aangekla — wat hom net sowat vyf jaar gevangenisstraf kon besorg het — en hom boonop op borgtog laat vrygaan sodat hy na Londen kon gaan wat die moontlikheid natuurlik ook vir hom geopen het om die wyk te neem.
Maar nadat Fischer al hierdie toegewings versmaai en met sy ondermynende bedrywighede voortgegaan het (en selfs deur sy eie Balieraad, wat as baie liberaal bekend gestaan het, verwerp is) het die prokureur-generaal besluit dat die tyd aangebreek het dat ook Fischer se ou "sondes" na vore gebring, afgestof en teen hom gestel moes word sodat hy desnoods finaal uit die omgang geplaas kon word.
'n Voorondersoek is derhalwe in Januarie 1966 in die Johannesburgse landdroshof gehou. Streeklanddros S.C. Allen was die voorsittende beampte terwyl adv. J.H. Liebenberg van die prokureur-generaal se kantoor die getuienis gelei het. Adv. George Bizos het namens die beskuldigde verskyn.
Daarna is Fischer voor regter W.G. Boshoff in die Pretoriase hooggeregshof — wat in teenstelling met die streekhof bevoeg was om die uiterste straf op te lê — van die volgende misdrywe aangekla:
Die eerste aanklag wat verband gehou het met Operation Mayibuye was dat Fischer persoonlik of as lid van die SAKP in die tydperk 1962 tot 1964 deel was van 'n sameswering met die ANC, Umkhonto we Sizwe en sekere mense genoem in die klagstaat, om spesifieke dade van sabotasie in stryd met artikel 21 van die sabotasiewetgewing te pleeg; dade wat gelei het tot besering, beskadiging, vernietiging, onbruikbaarmaking of in gevaarstelling van onder meer die gesondheid en veiligheid van die publiek; die handhawing van wet en orde; die voorsiening en distribusie van lig, krag of brandstof; pos-, telefoon- of telegraafdienste of -installasies; die vrye beweging van verkeer; en eiendom behorende aan die staat of private persone.
Die beweerde spesifieke dade van sabotasie was die volgende:
1. Die werwing van mense vir opleiding, binne sowel as buite die Republiek, in die voorbereiding, vervaardiging en gebruik van springstof, met die doel om dade van geweld en vernietiging in die Republiek te pleeg; die kuns van oorlogvoering, insluitende guerrillaoorlogvoering, en militêre opleiding in die algemeen bevorder het, met die doel om 'n gewelddadige revolusie in die Republiek teweeg te bring.
2. Dade van geweld en vernietiging —
(a) wat ontploffings by of op staatseiendom, geboue en installasies veroorsaak het; en
(b) wat woonplekke van werknemers van die staat aan die brand gesteek het.
3. Dade van deelneming aan 'n gewelddadige revolusie in die Republiek.
Die tweede aanklag het Fischer dit ten laste gelê dat hy gedurende die tydperk 1 Januarie 1962 tot 2 Julie 1964 (die datum van sy eerste arrestasie) 'n ampsdraer, beampte of lid was van 'n onwettige organisasie, naamlik die SAKP.
Die derde, vierde, vyfde en sewende aanklag het voortgespruit uit Fischer se bedrywighede as 'n ampsdraer en lid van die SAKP. (Aanklag 3 het die tydperk 1 Januarie 1962 tot 2 Julie 1964 (die datum van sy eerste arrestasie) gedek terwyl die 4de, 5de, 6de en 7de aanklagte die tydperk 24 Januarie 1965 (die datum waarop Fischer sy borgvoorwaardes verbreek en ondergronds gegaan het) tot 11 November 1965 (die datum waarop Fischer weer gearresteer is) gedek het.
* Die derde aanklag het behels dat Fischer, synde 'n ampsdraer van die SAKP, handelende in samewerking met sekere genoemde mense ter bevordering van 'n gemeenskaplike doel, deelgeneem het aan sekere bedrywighede van die SAKP ('n onwettige organisasie) of in belang van die SAKP opgetree het.
Die vierde aanklag het wesenlik op dieselfde neergekom as die derde aanklag met die verskil dat dit bedrywighede gedek het waaraan Fischer as ampsdraer van die SAKP gedurende die tydperk wat hy ondergronds was, deelgeneem het.
Die vyfde aanklag het betrekking gehad op die artikel onder die opskrif "Problems and Perspectives — Discussion Statement" wat Fischer geskryf het, terwyl die sesde aanklag gegrond was op 'n geskrewe pleidooi van die SAKP se Sentrale Komitee onder die opskrif "Rally and Unite Anti-Imperialist Forces". Albei hierdie stukke is gepubliseer in The African Communist, no. 22,3de Kwartaal, 1965.
Die sewende aanklag het betrekking gehad op die dokument getitel "Draft Discussion Statement, 24/8/65".
In elk van hierdie aanklagte is beweer dat Fischer, handelende in samewerking met sekere genoemde mense, ter bevordering van 'n gemeenskaplike doel, sekere dade gepleeg het wat bereken was om die oogmerke van Kommunisme te bevorder, onder meer, die instelling in die Republiek van 'n despotiese regeringstelsel gebaseer op die diktatorskap van die proletariaat waaronder slegs een politieke organisasie erken en alle ander politieke organisasies onderdruk of uitgeskakel word, deur die opstel, voorbereiding of verspreiding van die geskrifte waarna reeds verwys is.
Die oorblywende aanklagte teen Fischer (8-15) het gespruit uit sy gedrag en optredes toe hy, tydens sy ondergrondse bedrywighede, sy identiteit verander het. Dit het ses aanklagte van bedrog ingesluit.
Die verhoor het op 23 Maart 1966 in die Paleis van Justisie, Pretoria begin. Adv. Sydney Kentridge SC het namens die beskuldigde opgetree en adv. J.H. Liebenberg van die prokureur-generaal se kantoor het namens die staat verskyn.
'n Menigte dokumente wat op Lilliesleaf, in die beskuldigde se skuilplek en in sy persoonlike besit gevind is, is by die hof ingedien. Daarby het die staat talle mense geroep wat mondelinge getuienis gelewer en onder meer die betekenis van die dokumente toegelig het. Onder die mense wat namens die staat getuig het, was polisiespioen Gerard Ludi en etlike oudkamerade van Fischer soos Piet Beyleveld en Bartholomeu Morn Hlapane. Sodoende is 'n baie sterk saak teen Fischer opgebou.
Aan die einde van die staat se saak het Fischer, net soos Nelson Mandela in die Rivonia-verhoor gedoen het, besluit om nie getuienis onder eed af te lê en hom sodoende aan kruisondervraging bloot te stel nie. Soos Mandela, het hy ook 'n onbeëdigde verklaring in die hof voorgedra wat, soos in daardie hoofstuk verduidelik, nie veel gewig gedra het nie.
In 'n weloorwoë uitspraak van 79 bladsye waarin die getuienis deeglik in oënskou geneem is, het regter Boshoff die beskuldigde op 6 Mei 1966 skuldig bevind op aanklagte een tot sewe, sowel as op agt aanklagte wat verband gehou het met bedrog of vervalsings wat deur hom gepleeg is gedurende die tydperk dat hy ondergronds geskuil het.
Kommunisme per sè was wel ter sprake in die Rivonia-saak maar dit was egter nie van oorwegende belang nie. In die Fischer-saak was dit wel van oorwegende belang in soverre dat Fischer se betrokkenheid by die SAKP direk verband gehou het met sy beweerde deelname aan 'n sameswering om die regering omver te werp en te vervang met 'n despotiese regeringstelsel wat gebaseer sou wees op die diktatorskap van die proletariaat.
Kommunisme, veral vanweë die outokratiese en onmenslike optredes van die Sowjet-premier Chroesjtsjof en sy voorganger Stalin, was gedurende die tydperk waaroor dit hier gaan 'n bron van vrees en afsku dwarsdeur die Westerse wêreld, met inbegrip, en in die besonder, van Suid-Afrika, gegewe sy kwesbaarheid vir 'n oorname deur die Kremlin en sy aantreklikheid (sy strategiese ligging, sy ryk hulpbronne, sy uitgestrektheid, en so meer) vir die Oosbloklande. En aangesien Fischer, die jare lange voorsitter van die SAKP se magtige Sentrale Komitee en vertroueling van Moskou, as die voorste Kommunis in Suid-Afrika beskou is, was dit belangrik vir die regering en Suid- Afrika se mense (swart mense inkluis) om te bepaal wat die uitslag sou wees van die staat se konfrontasie met Kommunisme in die Fischer-saak.
Twee belangrike vrae moes derhalwe in die saak uitgepluis word:
(a) Was dit werklik die Kommuniste se bedoeling om die regering omver te werp? en
(b) Indien die antwoord op (a) bevestigend was, was dit die Kommuniste se bedoeling:
(i) om die omvergewerpte regering te vervang deur 'n gewone demokraties verkose regering (waarin gewone swart mense vanselfsprekend die meerderheid sou uitmaak); of
(ii) om die omvergewerpte regering te vervang met 'n despotiese regeringstelsel gebaseer op die diktatorskap van die proletariaat waaronder (soos in die Sowjetunie en sy satellietstate soos Kuba en andere) slegs een politieke organisasie erken en alle ander politieke organisasies onderdruk of uitgeskakel word? (Implisiet in geval van (ii) hierbo, sou 'n stelsel soos byvoorbeeld private eiendomsreg deur openbare eiendomsreg vervang word.)
Volgens die hof se uitspraak het die verdediging toegegee dat Umkhonto we Sizwe gestig is om dade van sabotasie In pleeg en dat hy wel sodanige dade gepleeg het, maar betwis dat die getuienis aangetoon het dat Fischer en die SAKP met Umkhonto saamgesweer het om die dade te pleeg. Verder blyk dit uit die uitspraak dat die verdediging toegegee het dat dit een van die oogmerke van die SAKP was om 'n revolusie te bewerkstellig ten einde wit oorheersing te vernietig, maar het betwis dat hy beoog het om 'n despotiese regeringsvorm in die plek van die heersende wit regering tot stand te bring.
Na diepgaande ontleding van die getuienis het die hof tot die volgende gevolgtrekkings gekom:
* Umkhonto we Sizwe het onder die politieke leiding van die SAKP gefunksioneer. J.B. Marks wat lid was van die Sentrale Komitee van die SAKP, maar wat nie lid van Umkhonto was nie, en Joe Slovo wat lid was van albei organisasies, is kort na die begin van Operation Mayibuye na die buiteland gestuur op 'n missie om die beoogde revolusie te verduidelik, om geld vir die operasie in te samel en om te vra om wapens en enige ander hulp wat verleen kon word. Rusland, Rooi China en sekere state in Afrika sou genader word. Dit sou eienaardig gewees het — het die hof bevind — dat so iets sou gebeur het terwyl Operation Mayibuye deur die beskuldigde, soos hy beweer het, verwerp was.
Die hof het die beskuldigde se verklaring dat Umkhonto we Sizwe heeltemal afsonderlik en verskillend van die SAKP was en dat die Sentrale Komitee van die SAKP niks van Umkhonto se sake geweet het nie, verwerp. Umkhonto, volgens die hof se bevinding, is deurgaans beskou as die militêre vleuel van die vryheidsbeweging waarvan die Kommunistiese Party die leier was. Joe Slovo het gedien as skakel tussen Umkhonto en die SAKP.
Die hof het bevind dat die beskuldigde die mening gehuldig het dat 'n revolusionêre situasie in Suid-Afrika bereik is, met ander woorde, dat die tyd ryp was om so 'n revolusie te loods. Die hof het ook die belangrike bevinding gemaak dat dit wel die SAKP se bedoeling was om 'n despotiese regeringstelsel in Suid-Afrika, gebaseer op die diktatorskap van die proletariaat, te vestig. Dit was so dat, volgens sekere dokumentere getuienis, die vryheidsbeweging voorlopig gewerk het in die rigting van 'n nasionale demokratiese staat, maar soos gestel deur die beskuldigde en soos aangedui in die program van die SAKP, sou so 'n werklike demokratiese bestel (soos Suid-Afrika in die apartheidsjare gehad het) slegs 'n onmiddellike doelstelling en 'n oorgangsfase tot sosialisme gewees het.
Die hof se uiteindelike gevolgtrekking was dus dat die staat bo enige redelike twyfel bewys het dat die beskuldigde uit hoofde van sy lidmaatskap van die SAKP, met die ANC en Umkhonto we Sizwe saamgesweer het om behulpsaam te wees met die pleging van die dade (en die bedoeling gehad het) soos vermeld in die klagstaat. Hy is dus skuldig bevind op die eerste aanklag.
Die hof het vervolgens die oorblywende aanklagte teen Fischer behandel en hom skuldig bevind soos reeds hierbo aangetoon.
Soos opgemerk sal word, het die hof se bevindings neergekom op bevestigende antwoorde op die vrae gestel in (a) en (b)(ii) hierbo. Hierdie hooggeregshofuitspraak, gelees tesame met die hof se uitspraak in die Rivonia-verhoor, was van fundamentele belang in die verdere verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Teen geeneen van die uitsprake is appèl aangeteken nie en daar moet dus aanvaar word dat minstens wat die feitelike bevindings betref, die verdediging nie fout daarmee kon vind nie.
Vervolg... Die Johannesburgse stasiebom